Skip to main content

1 Korintiërs 9

Om soos Paulus met passie jou roeping na te jaag

Paulus keer terug na die tema van sy eie apostelskap wat hy in die eerste deel van die brief aangeraak het. Hy het in hoofstuk 1 oor die roeping gepraat wat hy van God self ontvang het. In hoofstuk 3 het hy uitgewei oor die fondament van Christus waarop hy gebou het. In hoofstuk 4 was hy baie eerlik oor die feit dat apostelskap nie glansryk is weens die talle uitdagings wat hulle moet trotseer nie: “Soos die vullis van die wêreld het ons geword, soos die skuim van die samelewing – tot nou toe.” (1 Kor. 4:13).

In hoofstuk 9 skryf hy nou oor die passie waarmee hy sy roeping najaag waarin hy selfs kies om self vir die voorreg daarvan te betaal. Dit is ‘n voorbeeld vir almal in die geloofsgemeenskap om na te volg.

Teks en konteks

Paulus het die reg om op gemeentes vir sy onderhoud staat te maak – 1 Korintiërs 9:1-8

Paulus begin deur te reageer op mense wat kritiek lewer op sy bediening met ’n reeks retoriese vrae waarmee hy bevestig dat hy ’n apostel is en die voorregte daaraan verbonde sou kon geniet, soos inderdaad al die ander apostels, baie keer saam met hulle eggenotes. In die proses noem hy ’n paar riglyne van hoe apostels van ander gawes in die kerk onderskei is in sy tyd, bv, dat hulle Jesus persoonlik na sy opstanding gesien het (1 Kor 15:5-8). In 2 Korintiërs 10-13 sal hy dit nog uitvoeriger doen.

Let op hoe hy voorbeelde uit ’n wye reeks lewensverbande gebruik om sy punt te staaf, en dit dan ook in die wet van Moses begrond: “Jy mag ‘n bees wat graan trap, nie muilband nie.” (Deut 25:4; vgl sy raad aan Timoteus wat hy ook uit hierdie vers kry: 1 Tim 5:18). Weereens sien ’n mens die lering van Jesus weerspieël in sy beredenering: “’n Arbeider is tog geregtig op onderhoud.” (Matt 10:10; Luk 10:7).

Tog het Paulus (en Barnabas) besluit om dié voorregte nie te gebruik nie, sodat niemand beswaar kon maak dat hulle hulleself verryk deur die bediening nie of ‘n groter las op die gemeentes plaas deur vroue te laat saam reis vir ondersteuning.

Die evangelie is vir Paulus belangriker as sy eie belang (let weer op die kruis-evangelie wat deurkom). Trouens dit is sy roem en eer dat hy dit kosteloos doen, al het hy die reg om van hulle afhanklik te wees vir sy lewensonderhoud. Hy gaan liewer dood as om vir iemand ‘n las te wees in die bediening!

Paulus gebruik nie sy voorregte in die passievolle uitvoering van sy roeping nie – 1 Korintiërs 9:19-27

Dan brei Paulus uit op sy passie vir sy roeping in die lewe, om soveel mense as moontlik vir Christus te wen, en dat hy dit met alles in hom najaag, net soos ’n atleet op die baan (in die tweejaarlikse Istmiese spele in Korinte) of ‘n bokser in die kryt.

Sy roeping word breed uitgespel: vir Jode (wettiese mense), vir heidene (hy gebruik nie die woord nie, maar praat van mense wat sonder die wet lewe, wat die betekenis duidelik maak), en vir swakkes (vgl die vorige hoofstuk, 1 Kor. 8; In Rom. 14; 15 sal hy hierop uitbrei). Trouens “vir almal het ek alles geword om in elk geval sommige te red.” Geen wonder dat sy bediening en uiteindelik skryfwerk die hele Christelike wêreld beïnvloed het en steeds doen.

Let op dat hy nie sy eie menings en oortuigings prysgee nie, nooit die liefdesgebod van Christus bv. verlaat nie, maar tog aanpas by die mense wat hy op ‘n gegewe tyd bedien, sodat hy iets vir hulle kan beteken. Hy het bv. die sabbat nagekom ter wille van die Jode, anders sou hulle hom nooit toegelaat het om by hulle in die sinagoge op te tree nie. Vergelyk bv. Handelinge 16:3 waar Timoteus besny is; Handelinge 18:18 waar Paulus ‘n gelofte afgelê het; Handelinge 21:20-26 waar Paulus ‘n reinigingshandeling ondergaan ter wille van die Jode.

Soms het hy egter ook baie skerp verskil van mense wie se oortuigings die hart van die evangelie aangerand het. Dit het hy gedoen teenoor gelowiges uit die Jode (Gal. 2:11-14 – waar hy Petrus en Barnabas teengestaan het) en teenoor gelowiges uit die heidene (baie keer in hierdie brief, waar hy verkeerde idees oor allerlei aanvat). Ander kere het hy egter sensitief opgetree teenoor mense wat nie die kennis gehad het wat hy het nie, soos hy in die vorige hoofstuk uitgespel het (1 Kor. 8).

Boodskap en betekenis

Die hoofstuk laat my net weer besef hoe belangrik ‘n bewussyn van jou roeping (doel) is, dat dit jou passie in die lewe moet wees, en dat jy dit met alles in jou moet najaag, sowel in voorbereiding as in uitvoering, sodat jy nie ander uitnooi tot hulle roeping om dit met passie na te jaag nie, en self nie kwalifiseer nie.

Neem daarom ‘n tyd vandag om na te dink oor jou roeping (doel) en passie in die lewe. Wat het die Here op jou hart gedruk wat jy ten alle koste moet najaag: jou roeping, jou doel? Wat is jou passie in die lewe – die ding wat net so ‘n belangrike rol speel dat jy nie anders kan as om dit te doen nie? En hoe staan dit met jou fokus – is jy nog met alles in jou gefokus daarop?

Lewensbelangrike vrae en lewensveranderende vrae!

En as jy nie só ‘n roeping of passie het nie – die Here gee dit aan dié wat Hom soek!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…