Skip to main content

1 Konings 22:52-54; 2 Konings 1

Ahasia sterf omdat hy die Here tart

2 Konings 1 begin met ’n verwysing na Moab wat hom teen Israel verset, maar die verhaal word eers in 2 Konings 3 verder aangeroer. Daar word gefokus op die kort regering van Ahasia, wat reeds in 1 Konings 22:52-54 begin is, en nou afgerond word met die klem op sy dwaasheid om die Here te ignoreer en eerder vir Baäl-Sebub te raadpleeg toe hy homself in ‘n val beseer het. Die Here laat hom nie onbetuig in die proses nie en deur die profeet Elia se “vurige” teenwoordigheid handhaaf God sy eer teenoor die goddelose koning. Ahasia word as net so ‘n dwase koning as sy voorgangers in Israel beskryf. Hy regeer net 2 jaar (853-852 vC). Hy sterf, omdat hy die Here getart het, soos sy pa Agab.

Teks en konteks

Ahasia, die seun van Agab, word in Samaria koning oor Israel in die sewentiende regeringsjaar van Josafat, die koning van Juda. In sy kort regering kry hy dit reg om die Here werklik te vertoorn deur in die weë van sy voorouers te wandel en die Here te tart met sy aanbidding van Baäl.

Dat hy dus val deur die traliewerk van sy bovertrek in Samaria en beseer word, lyk nie na ‘n toevalligheid nie. Dit is waarskynlik ‘n poging van die Here om hom tot inkeer te bring.

Ahasia stuur egter boodskappers na Baäl-Sebub, die god van Ekron, een van die vyf Filistynse stede aan die kus, om te verneem of hy van die besering sal herstel.

Die Engel van die Here – wat regdeur die verhaal by Elia is, en moontlik by Elia bly tot sy hemelvaart– het egter vir Elia opdrag gegee om die boodskappers te onderskep, en ‘n boodskap van die lewende God deur hulle aan Ahasia te stuur dat hy sal sterf van sy besering.

Ahasia besef dat dit Elia is wat dié boodskap aan hom gestuur het, en probeer op arrogante wyse rang trek op Elia deur hom te gebied om na Ahasia te kom. Hy misgis hom egter met die Here self, want twee keer verteer vuur uit die hemel die afvaardigings wat na Elia gestuur word.

Dit is eers met die derde groep van vyftig wat die Engel van die Here Elia oortuig om hulle genade te bewys en saam met hulle te gaan om die boodskap dat Ahasia gaan sterf persoonlik aan hom oor te dra.

Dit is dan ook presies wat gebeur. Ahasia sterf soos die Here deur sy profeet aangekondig het. Sy broer, Joram (852-841 vC), het in Ahasia se plek koning geword, want Ahasia het nie ‘n seun gehad nie. Interessant genoeg is dit dus naamgenote wat in dié tyd oor beide Israel en Juda heers, want Josafat se seun wat hom opvolg het dieselfde naam, Jehoram (848-841 vC). Joram is ‘n verkorte spelling van Jehoram, wat op verskillende wyses in vertalings weergegee word.

Boodskap en betekenis

Die Here is in beheer soos ons nou al talle kere in die geskiedenis van die konings en profete van Israel en Juda, selfs ook in die wel en weë van die nasies gesien het. Ahasia moes dit tot sy eie skade agterkom. ‘n Arrogante uittarting van die Here baat niemand ooit nie. Dit kos doodeenvoudig jou dood.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.