Skip to main content

Maleagi 1:1-2:16

God het die volk lief ten spyte van hulle liefdeloosheid

Ons kom by die laaste profeet in die OT, Maleagi. Dit  is duidelik dat die tempel al herbou en in gebruik geneem is (Mal 1:10; 3:1). Die aanvanklike opgewondenheid daaroor het egter begin taan. Ons lees dat die altaardiens herstel is (Mal 1:7), maar dat die priesters laks geraak het en die Here met minagting behandel is (Mal 1:6). Daarom minag ook die volk die Here deur blinde, siek, lam of verminkte diere, en soms selfs gesteelde diere (kan jy glo!) te offer (Mal 1:8, 13-14) en daarby nie hulle volle tiendes te bring na die tempel toe nie (Mal 3:6-12).

Ironies genoeg beteken dit dat die Leviete en priesters ook daaronder ly deurdat daar geen voorsiening vir hulle is nie. Hulle is egter in die eerste plek aandadig daaraan deurdat hulle self die Here minag in hulle dienswerk.

Die omstandighede waarbinne dié boodskap van Maleagi dus gelewer word, lyk dus na die tyd van Nehemia, waarskynlik sy tweede termyn in Jerusalem van ongeveer 432 v.C. af. Dit lei ons af onder andere uit die feit dat Maleagi van ‘n Persiese goewerneur praat (Mal 1:8 – die Persiese woord vir goewerneur word gebruik) en weens die feit dat Nehemia dieselfde tipe priesterlike nalatigheid en godsdienstig-gemengde huwelike aanvat (Neh. 13) as waaroor Maleagi kla.

Maleagi roep die volk op deur God se antwoorde weer te gee op twee basiese probleme wat hulle met Hom het.

Die twee probleme wat hulle met Hom het, is:

  1. dat Hy hulle nie liefhet nie (1:2-5 – Hulle kla: “Hoe het U ons lief?”), en
  2. dat Hy niks doen aan boosheid en onreg nie (2:17 – Hulle kla: “Almal wat verkeerd doen, is goed in die oë van die HERE, met húlle is Hy ingenome.” En: “Waar is die God wat oordeel?“).

Daarop antwoord die Here:

  1. dat hulle Hom minag en dat dit aan die basis lê van hulle ervaring van ‘n gebroke verhouding (1:6-2:9; 2:10-16), en
  2. dat hulle self onreg doen met onder andere toordery, egbreuk, godsdienstig-gemengde huwelike, vals eedswerings, die uitbuiting van weerloses in die samelewing, en halfhartige godsdienstige handelinge (offers en tiendes). Dit is dinge wat God veroordeel. (2:17-3:5; 3:13-4:3).

God het dus nie verander nie – hulle het!

Met hierdie boek roep Maleagi hulle dus op om die verbondsverhouding met God heelhartig te handhaaf en Hom nie te minag met oppervlakkige godsdienstigheid nie en Hom boonop op die koop toe op allerhande maniere te verkwalik nie. God sal sy kant van die verbond handhaaf. Daarop kan hulle staatmaak. Wat in gedrang is, is hulle eie gehoorsaamheid aan Hom.

Maleagi berei hulle ook voor om die deurlugtige, maar nog toekomstige, “dag van die Here” te verwag, wanneer die langverwagte Messias te voorskyn sal kom wat versoening in die gemeenskap sal bring. Dan sal: “die son van redding deurbreek met genesing in sy strale.” (4:2).

Dit is ‘n gepaste noot om nie net die Twaalf Kleiner Profete mee af te sluit nie, maar die hele OT boodskap in afwagting van die Messias-Koning wat die “dag van die Here” in vervulling laat gaan, soos die NT met die vier Evangelies se boodskap van Jesus, die Messias, aankondig.

Teks en konteks

Hierdie twee hoofstukke fokus op die eerste basiese probleem wat die volk met God het – sy oënskynlike gebrek aan liefde (1:2-5). Die Here wys in sy eerste reaksie op die basiese rede vir dié ervaring wat hulle interpretasie van wat aan die gang is in ‘n heel ander lig stel. God het nie verander nie – hulle het! Hy het hulle lief ten spyte van hulle liefdeloosheid.

Die priesters het Hom egter met minagting hanteer in die godsdiensbeoefening van offergawes en die volk het hulle daarin nagevolg (1:6-2:9). Daarby voeg Maleagi dat dié minagting verder gevoer is deurdat die volk gemengde-godsdiens huwelikke sowel as egskeidings goedkeur. Beide aksies verbreek egter die verbond met die Here (2:10-16).

Let op hoe die stem van die Here in al drie perikope sterk deurkom, maar dat die eerste perikoop veral die probleem van die volk, die tweede veral die reaksie van die Here daarop en die derde perikoop veral die reaksie van die profeet, Maleagi, daarop verwoord.

Maleagi 1:2-5 – Die volk: U het ons nie meer lief nie.

Die Here begin met die stelling: “Ek het julle lief.” Op die volk se vraag: “Hoe het U ons lief?” antwoord Hy deur na sy liefde vir Jakob en sy haat, d.w.s. verwerping, van Esau en die Edomiete, hulle aartsvyande, te verwys. Edom se grondgebied is verlate en sal ook nooit weer sy vorige glorie bereik nie. Daarvoor sal die Here sorg. God is groot ook buite die grense van Israel. In die volgende perikoop sal die Here sy hantering van die Jode verduidelik.

‘n Bietjie agtergrond: die Here het reeds in Genesis 25 sy veroordeling van Esau oor sy minagting van sy eersgeboortereg te kenne gegee, en net voor die ballingskap deur Jeremia (vgl. Jer 49) en Obadja  sy straf oor hulle verwaandheid en afsydigheid aangekondig.

Daar is dus ‘n hele geskiedenis agter dié stelling van die Here. Die Edomiete het nie net die seën van Isak in die wind geslaan aanvanklik nie, maar regdeur hulle bestaan as nasie aktiewe teenstanders van die Here en sy volk gewees. Die Here se verwerping het dus nie uit die lug uit geval nie, maar was ‘n reaksie op Esau se gebrek aan geloof en gehoorsaamheid.

In die NT verwys Paulus na die verkiesing van Jakob bó Esau as bevestiging van God se soewereiniteit wat kan doen wat Hy wil, sonder dat iemand ‘n vinger na Hom kan wys (Rom 9-11). Die skrywer van die Hebreërbrief verwys ook na Esau en Edom as voorbeeld. Aan die een kant is hy positief oor die seën wat die Here vir Edom op grond van Isak se geloof aan hulle beloof het (Hebr 11). Dit is egter net so duidelik dat hulle dié seën verkwansel het vir ‘n pot lensiesop, by wyse van spreke. Die Hebreërskrywer gebruik daarom die straf op hulle sedelose en goddelose lewe, iets wat begin het by Esau se minagting vir sy eersgeboortereg, as aanmoediging vir die geloofsgemeenskap om in die geloof en gehoorsaamheid te volhard sodat dieselfde lot hulle nie te beurt val nie (Hebr 12).

Maleagi 1:6-2:9 – Die Here: Julle hanteer My met minagting in die offergawes

Die rede vir die Jode se ervaring dat dinge nog net nie lekker werk nie – al is die tempel herbou in Haggai en Sagaria se tyd, al het Esra met sy hervormings begin, en al het Nehemia die mure herstel – is te wyte aan hulle eie ongehoorsaamheid. Daar is geen eerbied vir die Here nie. Die priesters behandel die Here met minagting.

Op die vraag van die volk: “Hoe het ons U met minagting behandel?” antwoord die Here uitvoerig en verwys na laksheid van die priesters. Hulle laat toe dat die volk blinde, siek, lam of verminkte, en soms selfs gesteelde diere offer (1:8, 13-14). Later sal nog bygevoeg word dat die volk daarby nie hulle volle tiendes bring na die tempel toe nie (3:6-12).

Só ‘n toedrag van sake sal nie maklik in die publieke lewe geduld word nie, sê die Here. Hulle sal immers nie vriendelik ontvang word deur die goewerneur as hulle sulke swak diere sou lewer nie.

Ironies genoeg beteken dit dat die Leviete en priesters ook daaronder ly deurdat daar gebrekkige voorsiening vir hulle is nie. Die sisteem het só gewerk dat hulle kon deel in die opbrengs van die huis van die Here (Deut. 10:19; Jos. 13:14). Die priesters ly nou egter gebrek, omdat die opbrengs swak is. Sommige van hulle het volgens Nehemia 13 ander bronne van inkomste gaan soek, wat die situasie vererger het. Hulle kan eintlik egter net hulleself verkwalik, want die priesters is in die eerste plek aandadig aan die swak toedrag van sake deurdat hulle die volk toelaat om die Here te minag met hulle offers. Bootjie kry dus op ‘n vreemde manier eintlik sy loontjie.

Dit help dus nie die volk vra: “Maak God dan tog nou goedgesind dat Hy ons genadig kan wees!” Hy sal nie hulle versoeke toestaan as hulle só optree nie. Trouens, die Here wens dat hulle liewer die tempel se deure sal toesluit, sodat Hy nie aan hulle minagting blootgestel sal word nie. Selfs vreemde volke dien Hom (soos Paulus ook in Hand. 17:23-24 skryf). Hoekom moet Hy sulke gedrag van sy eie mense verduur?!

Die Here belowe daarom dat Hy diegene wat Hom minag, sal straf, want Hy is die Grootkoning, die een wat eerbied toekom. Die priesters word opgeroep om dié boodskap te verkondig, want ongehoorsaamheid lei tot ‘n einde van enige voorspoed, omdat dit die verbond met God deurbreek.

Hoewel Maleagi hier meer direk van die verbond met Levi praat (waarskynlik op grond van Deut. 18:5; vgl. egter ook Deut. 33:9), is dit iets wat vir die hele volk geld. Waar God se wil nie uitgevoer word nie, bring dit die verbond in gedrang. Maar, die priesters het die dure plig om die volk die wil van God te leer, en daarom moet hulle nie net met kennis praat nie, maar hulle moet dit self nakom. Hulle sal daarom die gevolge van verwerping dra, nie net deur God nie, maar ook deur die volk.

Maleagi 2:10-16 – Maleagi: Julle hanteer God met minagting in julle huwelike

Maleagi vervolg met sy eie perspektief op die uitwerking van die ontrou aan God op die gehalte van die verhoudinge wat hulle in hulle huwelike met mekaar handhaaf. Omdat die Jode die verhouding met God nie na waarde geskat het en in stand gehou het nie, doen hulle dit ook nie in hulle huwelike nie. “Ons het tog almal een Vader, ons is tog deur een God geskep! Waarom is die een dan ontrou aan die ander en ontwy hulle die verbond van God met ons voorvaders?” Die verhouding met God behoort die verhouding met die naaste te bepaal. Dit is soos vinkel en koljander. Die een is soos die ander.

Aan die een kant het Joodse mans met vrouens getrou wat in diens van ‘n ander god gestaan het, waarskynlik veral Moabitiese en Ammonitiese vroue, soos Esra en Nehemia dit aandui. Gemengde-godsdiens huwelikke word dus skerp veroordeel, omdat dit nie net die geloof van die Joodse eggenoot bedreig nie, maar veral die kinders blootstel aan ‘n ander godsdiens.

Omdat dien kinders dus nie van moederskoot af Hebreeus kon leer praat nie, kon hulle gevolglik ook nie die Bybel van hulle tyd verstaan nie. Daarsonder sou hulle doodgewoon verheidens en nie weet wat dit beteken om die Here te dien nie. Vir meer detail kan jy Nehemia en Esra se veroordeling daarvan lees (Neh 13; Esra 10).

Aan die ander kant het Joodse gelowiges – dit is moontlik dat hier in die eerste plek na die priesters verwys word, maar dit geld uiteraard vir almal wat die Here regtig wil dien – te maklik hulle jeugliefdes verlaat en in ontrou van hulle geskei. Maleagi gebruik hier die frase: “die vrou van jou verbond,” wat dui op die plegtige verbintenis in die teenwoordigheid van die verbondsgemeenskap waar trou aan mekaar gesweer is. Geen wonder dat die Here nie hulle offers, of offerdiens in die geval van die priesters, aanvaar nie, want hulle is nie getrou in die huwelik aan mekaar nie. Die verhouding met ander beïnvloed die vehouding met God.

  • In die eerste plek verwys Maleagi dan na God se skeppingsbedoeling wat van die begin af duidelik is: “Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees.” (Gen 2:24).
  • Hy lê in die tweede plek die bedoeling van dié skeppingseenheid nie net uit dat daar ‘n nageslag sal wees nie, maar spesifiek: “dat daar ‘n nageslag sal wees wat Hom eer.
  • Sy bevel aan die Jode is dat hulle hulleself moet beheers, nie allerlei verskonings moet soek om te skei as dinge swaar gaan in die huwelik nie, en eerder getrou te bly aan hulle vroue. Want, in die derde plek: “Egskeiding is niks anders as geweld nie.” ‘n Tydige woord – al beteken dit natuurlik nie dat iets soos fisiese geweld in die huwelik geduld kan word nie.

Egskeiding is nie die bedoeling van die Here nie. Getrouheid aan mekaar is. Só het Jesus dit ook op twee plekke in die NT uitgelê.

  • In die Bergrede het Hy gefokus op ontrou in die huwelik (egbreuk en egskeiding) wat ongeluk en ‘n gebrek aan seën bring (Matt. 5:31-32).
  • In die gesprek oor watter waardes geld in die koninkryk het Hy op soortgelyke wyse getrouheid in die huwelik as ononderhandelbare beginsel van God uitgespel (Matt 19:4-9).

Boodskap en betekenis

Dié boodskap van Maleagi roer nie net sy tydgenote se binneste nie. Dit het ‘n direkte appèl ook op ons eie geloofsgemeenskap vandag. Die eerste aspek raak ons geestelike verbintenis aan die Here. Niks moet in die weg staan om Hom bó alles te dien. Dit is nie verbasend nie. Daar is niks wat belangriker is as om die Here met jou hele hart en al jou kragte te dien nie. In OT het gelowiges dit gewys met die verskillende offers wat hulle gebring het. In die NT wys gelowiges dit met ‘n lewe van dankbaarheid wat uiteraard fisiese offers insluit, maar veel wyer gaan. Ons behoort in alles aan die Here en moet Hom dien met alles wat ons is en besit.

Die tweede aspek van die boodskap aan ons is miskien meer verrassend, want dit raak ons huweliksverbintenisse in die geloofsgemeenskap. Ons het gewoond geraak daaraan dat godsdienstige gemengde huwelike algemeen raak, en ons praat nie eers van die toename in egskeidings nie. Dit het ‘n geweldige impak aan die een kant op die wyse waarop ons as geloofsgemeenskap ons geloof aan volgende geslagte kan oordra. Godsdienstig gemengde huwelike steek te maklik ‘n stokkie voor die vrymoedige verbintenis aan die Here wat só noodsaaklik is vir ‘n gesonde geloof van ons kinders.

Maar, dieselfde geld natuurlik die te maklike keuse vir egskeiding. Die feit dat daar geldige redes vir egskeidings bestaan, soos fisieke geweld en ontrou, het die uitsonderings die reël gemaak. Egskeiding is egter steeds nie iets wat die Here se goedkeuring wegdra nie. Trouens, dit is iets wat Hy haat. En dit behoort ons standpunt oor egskeiding in die geloofsgemeenskap te bepaal. Soos huwelike in die geloofsgemeenskappe en onder gelowiges se begeleiding plaasvind, só behoort egskeidings op soortgelyke wyse in geloofsgemeenskappe en onder hulle begeleiding plaas te vind.

Soos ek al ‘n keer of wat ervaar het, wat vir almal betrokke ‘n groot seën was.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar