Skip to main content

1 Samuel 27; 1 Kronieke 12:1-22

‘n Hele aantal helde sluit by Dawid aan in Siklag

Ons lees in 1 Samuel 27 dat Dawid besluit om weer na Filistynse gebied te vlug om só van Saul se vervolging ontslae te raak. Dit het die gewenste uitwerking. Saul het sy agtervolging gestaak. Omdat Dawid hierdie keer met ‘n groot groep soldate daar aankom, gee koning Agis vir hom ‘n plek om te bly, die stad Siklag. Dit word nou Dawid se basis vanwaar hy steeds namens die Jode optree, net aan die anderkant van die Jordaan in die ooste sodat Agis in die weste nie onraad sou vermoed nie. In hierdie tyd sluit nog dapper manne uit Benjamin en Juda by Dawid aan, sowel as uit Gad en Manasse, soos ons in 1 Kronieke 12:1-22 lees.

Teks en konteks

Dawid gaan bly net meer as ‘n jaar in die land van die vyand, by dieselfde Agis waar hy hom tevore kranksinnig gehou het, dié keer met sy 600 man by hom sowel as sy groeiende familie. Hy wil wegkom onder die vervolging van Saul. Hy soek daarom asiel by Agis. Omdat hy nou ‘n mag is om mee rekening te hou, aanvaar Agis sy teenwoordigheid en gee selfs vir hom ‘n plek om te woon in Siklag, een van hulle buitedorpe. ‘n Plek wat van hierdie tyd af dan ook aan Juda behoort het.

Hy mislei Agis egter deur steeds teen Israel se vyande op te tree, maar dié keer aan die anderkant van die Jordaan in die ooste, die mense van Gesur, ‘n onafhanklike koninkryk in die gebied van Manasse, die mense van Geser net suid daarvan, en die Amalekiete op die grens met Egipte.

Dawid het ook telkens gesorg dat niemand van sy veldtogte vrykom nie. Hy het net die vee as buit teruggebring. So kon hy Agis om die bos lei.

In wese is Dawid besig om ‘n deel van die land te verower vir sy toekomstige koningskap. Daarby kom die kennis wat hy in dié tyd van die Filistyne opdoen hom uiteindelik goed te staan om die Filistyne vir goed uit die weg te ruim wanneer hy koning word na Saul se dood.

In dié tyd sluit daar nog meer helde by Dawid in Siklag aan wat hom bystand kon verleen in die oorlog. 1 Kronieke 12 noem spesifiek ‘n aantal bedrewe vegters van Saul se stamgenote uit Benjamin. Die gety het dus begin draai vir Dawid deurdat Saul se eie mense nie meer die pad met hom wou loop nie.

Ook mense van Gad het oorgeloop na Dawid. Kronieke sê dat dit in sy tyd in die bergvesting in die woestyn was, wat kan dui op sy tyd onder die Sifiete óf selfs vroeër by die grot van Adullam. Dit pas egter ook goed by sy tyd in Siklag. Dit was dapper manne met: “gesigsuitdrukkings soos dié van leeus”, en so vining: “soos gaselle op die berge.” Onder hulle was daar ook briljante swemmers wat die Jordaan kon oorsteek in vloed.

Dawid het hulle aanvaar en hulle as hoofde van die troepe aangestel, omdat hulle in vrede na hom toe gekom het om ‘n bondgenootskap te sluit. Die Kroniekeskrywer voeg by dat die Gees van God van Amasai besit geneem het om hom te help. Amasai was ‘n sleutelfiguur, die leier van “die dertig”, uiters vaardige soldate.

Ook uit Manasse het mense na Dawid oorgeloop in hierdie tyd in Siklag: “totdat dit ‘n groot leër was, inderdaad ‘n geweldige leër.”

Boodskap en betekenis

Dit is duidelik dat Dawid se strategie verander na gelang van die uitdagings wat hy ervaar. Toe hy vroeër alleen in Filistynse gebied was, was hy in groot gevaar en kon net met moeite ontsnap. Dit het beter gegaan in Adullam waar nie net sy familie nie, maar ook van die dapper helde by hom aangesluit het. Vandaar is hy na Moabitiese gebied waar hy sy ouers kon versorg.

Die profeet Gad het hom egter aangeraai om in Judese gebied te kom om duidelik te wys dat hy hulle belange op die hart dra. Hoewel hy telkens in gevaar van Saul was, het hy steeds oorlog gevoer namens die verbondsvolk, al was dit vanuit die woestyn. Dit het sy aansien onder selfs Saul se manne verhoog.

Toe die vervolging egter net te groot geraak het, het hy sy basis weer na Filistynse gebied by Siklag versit met Agis se toestemming, maar steeds voortgegaan met sy bevryding – die “skoonmaak” operasie wat deur Josua begin is, maar aan die volk opgedra is om te voltooi – van sy volk. Dit het nog meer dapper helde by hom laat aansluit.

Die tyd vir sy koningskap was besig om aan te breek met Saul se koningskap wat al hoe meer gewankel het, al was dit ‘n tyd van uitmergelende konflik en uitdagings.

Siklag sou ook nog die toneel word vir ‘n groot inval deur die Amalekiete soos ons in 1 Samuel 30 gaan lees. Dit het Dawid se vermoëns tot die uiterste toe beproef. Maar, dit was ook die tyd waarin Saul deur die Filistyne doodgemaak is. Die koninkryk wat God vir Dawid sou gee, sou deur baie verdrukkinge gestalte kry.

Presies wat ons ook lees van die NT koninkryk. Paulus en Barnabas versterk aan die einde van hulle eerste sendingreis die “siele” van die nuwe dissipels in Listra, Ikonium en Antiogië en moedig hulle aan om in die geloof te volhard met die boodskap: “Ons moet deur baie ontberings heen in die koninkryk van God ingaan.” (Hand 14:22)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…