Skip to main content

Inleiding: Geestelike lees van die Bybel

‘n Geestelike lees van die Bybel is om jou biddend aan God oor te gee sodat jy die lewende stem van God in die Woord van God kan hoor. In plaas daarvan dat jy net die Bybel ontleed en bestudeer om ’n greep op die betekenis daarvan te kry – wat natuurlik ook  ʼn belangrike rol in jou lewe speel – laat jy God eenvoudig toe om deur sy Woord met jou te praat.

Deur sy Woord kry Hy ’n greep op jou lewe. Dit veronderstel natuurlik ’n ingesteldheid van leerbaarheid en vertroue, van luister en oorgawe, sodat jou hele lewe deur God verlig kan word. Só kry jy ook ‘n “luisterende hart” soos Salomo voor gevra het (1 Kon. 3:9).  Dit gebeur deur die Woord en die betekenis daarvan te herkou totdat dit deel word van jou manier van dink en leef.  Só word die Woord vir jou ’n huis om in te woon.

Jy kan hierdie geloofsgewoonte deur die volgende geloofspraktyke beoefen (die skakels sal mettertyd op die webtuiste bygevoeg word, soos ek dit publiseer – jy sal dit ook in jou Inbox kry). Onthou, werk eers vir twee weke met die eerste een, Eenvoudige luistersiklus. Daarna die Volledige luistersiklus en die Geloofsonderskeiding:

  1. Eenvoudige luistersiklus
  2. Volledige luistersiklus
  3. Geloofsonderskeiding

Eenvoudige luistersiklus

Kies vir jou ‘n teks of ‘n Bybelboek wat jy gaan gebruik. Dit is beter om ‘n korter gedeelte te gebruik of ten minste net op ‘n vers of selfs frase te fokus uit die gedeelte wat jy lees. Dit sal ook goed wees as jy op een gedeelte fokus vir die hele twee weke. Deur elke dag vir twee weke lank op een gedeelte te fokus, sal jou ‘n diep begrip gee van wat God daarmee in jou lewe wil doen.

Ek gee vir jou Psalm 27 aan die onderkant van hierdie bydrae, asook veertien beloftes uit die Bybel, afhangende van jou keuse. Jy kan natuurlik enige gedeelte gebruik.

Gebruik dan die vyf stappe van hierdie eenvoudige weergawe van die geestelike lees wat op die luistersiklus van die Seisoen van Luister gebaseer is.

1. OPENINGSGEBED

U nooi my uit en ek kom nou opnuut by U rus. U praat met my en ek is oop om U weer te hoor.

2. RUS

Raak bewus van jou diepste behoeftes.  Dit kan ’n vraag, ’n behoefte, ’n seer, ’n dankbaarheid … wees.  Gee dit in gebed aan God.

3. LEES

Lees ’n Skrifgedeelte, hardop indien moontlik.  Raak bewus van watter gedagtes, beelde of vrae by jou opkom terwyl jy lees.  Hoe ruk en/of troos hierdie gedeelte jou? Soms hou dit verband met jou behoeftes.  Soms is dit nuwe gedagtes wat God jou gee.

4. LUISTER

Kies een gedagte om oor na te dink.   Wat beteken dit prakties vir jou?  Watter moontlikhede maak God vir jou oop?

5. LEEF

Wat lê die Here nou op jou hart?  Watter van dié moontlikhede voel jy wil God hê moet jy laat vaar of ontgin?  Besluit op ‘n gepaste reaksie en sluit met gebed af, bv: “U roep en stuur my en ek sal nuut leef.” Dit is hoe ons God se genade uitleef en vir ander aangee.

Psalm 27

Die Here my lig en my heil!

 ’N PSALM van Dawid.
1Die Here is my lig en my heil: vir wie sou ek vrees? Die Here is die toevlug van my lewe: vir wie sou ek vervaard wees?

2As kwaaddoeners teen my nader kom om my vlees te eet—my teëstanders en my vyande, ja, myne—struikel hulle self en val.

3Al word ’n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan ’n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek.

4Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here, om die lieflikheid van die Here te aanskou en te ondersoek in sy tempel.

5Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op ’n rots.

6En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my, en ek wil in sy tent offerandes offer saam met trompetgeklank; ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die Here.

7Hoor, o Here, ek roep luid; en wees my genadig en antwoord my.

8Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o Here!

9Verberg u aangesig nie vir my nie, wys u kneg nie af in toorn nie: U was my hulp! Verstoot en verlaat my nie, o God van my heil!

10Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die Here sal my aanneem.

11Here, leer my u weg en lei my op ’n gelyk pad, vanweë my vyande.

12Gee my nie oor aan die begeerte van my teëstanders nie, want valse getuies het teen my opgestaan, en hy wat geweld uitblaas.

13o, As ek nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie … .

14Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!

Jy kan my kommentaar by Bybelskool op die Psalm hier bereik.

14 Beloftes van die Here

  • Dag 1:Hoeveel beloftes van God daar ook mag wees, in Jesus Christus is hulle ja en in Hom amen, tot heerlikheid van God deur ons.” (2 Korintiërs 1:20).
  • Dag 2:As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.” (Johannes 15:7).
  • Dag 3:Julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom en julle sal my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria en tot aan die einde van die aarde.” (Hand 21:8).
  • Dag 4:My God sal ruimskoots in al julle behoeftes voorsien in ooreenstemming met sy heerlike rykdom in Christus Jesus.” (Filippense 4:19).
  • Dag 5:Geloofd sy die Here wat aan sy volk Israel rus gegee het net soos Hy gespreek het: geen enkele woord het onvervuld gebly van al die goeie woorde wat Hy deur die diens van sy kneg Moses gespreek het nie.” (1 Konings 8:54-61)
  • Dag 6:As my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees.” (2 Kronieke 7:14).
  • Dag 7:Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” (Spreuke 3:6).
  • Dag 8: “Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt 6:33).
  • Dag 9:En ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” (Romeine 8:28).
  • Dag 10:Ek stel my vertroue in die Here, ek vertrou op Hom, ek wag op die vervulling van sy woord. Ek wag op die Here meer as wat die wagte op die môre wag, wagte op die môre.” (Psalm 130:5-6).
  • Dag 11:U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.” (Psalm 5:4).
  • Dag 12:Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde skud, en berge in die hart van die see wankel nie; sy golwe kan maar onstuimig wees en skuim, berge kan maar bewe in die bruisende watermassa. Sela” (Psalm 46:2-4).
  • Dag 13:Ja, ‘n son en skild is die HERE God; genade en eer is wat die HERE skenk. Hy hou wat goed is nie terug van hulle wat onberispelik leef nie.” (Psalm 84:12).
  • Dag 14:Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, vir die mens wat na sy wil vra; dit is goed om geduldig te wag op die hulp van die Here.” (Klaagliedere van Jeremia 3:25-26).

Volle luistersiklus

Hier is ‘n meer volledige weergawe van geestelik lees (Alice Fryling – The art of listening) wat meer uitgebreid met ses bewegings werk. Jy kan die tekste gebruik wat ek die eerste rondte gegee het:

1. Silencio

Kom tot rus by God en aanvaar die uitnodiging om in sy teenwoordigheid te wees. Gebruik musiek, ’n psalm, ’n meditasie-oefening, of raak net stil in jou omgewing. Dink na oor alles wat die afgelope dag (of week) sleg was. Vra die Here vir vergifnis, verandering en vertroosting. Dink na oor alles wat die afgelope dag (of week) goed was. Sê vir die Here dankie daarvoor. Bid vir insig wanneer jy die Bybel lees.

2. Lectio

Lees ’n Skrifgedeelte hardop, indien moontlik (of prewel dit soos die Jode dit in die tyd van die Ou Testament gedoen het). Fokus op dié verse of gedagtes wat jou tref. Dink na oor temas in die spesifieke gedeelte. Wat sê dit vir jou oor God? Wat sê dit vir jou oor mense? Wat sê dit vir jou oor die wêreld? Soek na een kerngedagte wat jou besonder diep tref. Skryf dit in jou joernaal neer.

3. Meditatio

Kies een gedagte en oordink die praktiese implikasies daarvan vir jou lewe. Dink na oor wat God vir jou deur die kerngedagte wil sê. Waar raak die gedagtes van die Bybel jou lewe prakties? Wat vra dit van jou? Wat belowe dit vir jou? Wat moet jy dink of wat moet jy daarmee doen? Wat is die boodskap van hierdie gedagte vir jou dag en lewe? Besluit hoe jy daarop gaan reageer.

4. Oratio

Antwoord God in gebed. Dink aan alles wat jy ervaar het die Here nou aan jou geopenbaar het. Bid ook vir ander mense. Skryf jou gebede in jou joernaal neer.

5. Contemplatio

Geniet God se teenwoordigheid sonder om te praat. Hierdie beweging kan ’n paar minute of langer duur. Staan een keer per week ’n bietjie meer tyd hieraan af.

6. Incarnatio

Wees gehoorsaam aan wat God sê. Neem die boodskap wat God vir jou gee met jou saam deur jou dag. Leef dit uit.

Geloofsonderskeiding

Geloofsonderskeiding is om God se wil in die praktiese lewe te herken. ’n Ander woord hiervoor is wysheid (Fil 1:9-10; Jak 1:5). Dit sluit in om te luister na die getuienis van God se werk in ander mense se lewe, om aan almal die geleentheid te gee om hulle perspektief daarop te deel, en om na die Bybel te luister en alles daaraan te toets totdat daar ’n algemene instemming is oor wat God se wil is. Dit sluit ook in om by God tot ruste kom, om na ander stemme as net jou eie te luister, om as individue en gesamentlik te bid, en om bereid te wees om te gaan leef wat jy hoor.

Ons sien geloofsonderskeiding in aksie in die verhaal in Handelinge 15 waar die kerk moes onderskei wat die beste pad sou wees om te volg ten opsigte van die vraagstuk oor die insluiting van gelowiges uit die heidendom by die Christelike geloofsgemeenskap. Uit hierdie eerste geloofsonderskeidende vergadering kry ons die volgende riglyne:

Continue reading

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.