Skip to main content

1 Korintiërs 1

Christus is die krag van God en die wysheid van God

Paulus skryf hierdie brief tydens sy verblyf in Efese (1 Kor. 16:8) op sy derde sendingreis, waarskynlik ongeveer 53/54 n.C. Dit is eintlik sy tweede brief aan die Korintiërs, want hy praat in hierdie brief van ‘n vorige brief – wat nie bewaar gebly het nie – waarin hy vir hulle geskryf het om nie met gelowiges wat steeds hoereerders is om te gaan nie (1 Kor. 5:9). Hulle het ook in ‘n eie brief daarop geantwoord met ‘n aantal vrae oor verwante sake (1 Kor. 7:1). Hy brei nou daarop uit in hierdie brief om misverstande daar rondom aan te spreek.

Uit 2 Korintiërs kom ‘n mens agter dat daar ook ‘n derde brief was van Paulus aan hulle, die sogenaamde “trane”-brief (2 Kor. 2:4) voordat hy die vierde brief, 2 Korintiërs, aan hulle geskryf het. Daar was dus ten minste vier briewe van Paulus aan hulle, en ten minste een brief terug aan hom.

In 1 Korintiërs raak Paulus ‘n hele aantal groot vraagstukke aan, meesal sake wat oor die Christelike lewenswandel gaan, waaroor Paulus hulle wil onderrig en wat antwoorde op hulle vrae is.

Dat dit nodig was, spruit onder andere uit die voortslepende impak van die heersende kultuur en godsdiens van die stad Korinte op die nuwe bekeerlinge. Julius Caesar het in 44 v.C. die stad weer opgebou, nadat dit vir meer as ‘n eeu dormant gelê het (Rome het dit in 146 v.C. verwoes). Die strategiese posisie van die stad, op die 5 km breë landengte tussen Ooste en Weste, het beteken dat dit in ‘n groot handelstad ontwikkel het, met ‘n groot kosmopolitaanse samestelling van mense van reg oor die Romeinse ryk.

Nie net was daar dus groot rykdom nie, maar ook baie gode en godsdienste, waarvan sommige moreel dekadent was, die vernaamste waarvan die Afrodiete was, die godsdiens van die liefde, met ‘n groot altaar op die Akrokorinte berg.

Sommige historici bereken dat daar in hulle hoogbloei meer as ‘n duisend prostitute in tempeldiens was. Die term “meisies van Korinte” het ‘n idiomatiese uitdrukking in ander stede geraak wanneer mense na prostitute verwys het. Geen wonder dat een van die roerendste gedeeltes in die Korintiërbrief juis die verheerliking van die liefde was, ‘n liefde wat van God kom, in direkte opposisie met die leerstellings van die heersende godin van die liefde van Korinte.

Sport was ook ‘n geliefde tydverdryf met die tweejaarlikse Istmiese spele wat as teenvoeter vir die Olimpiese Spele in Olympia gehou is. Paulus sinspeel heel moontlik op hierdie spele in 1 Korintiërs 9:24-27.

Wat veral opmerklik is, anders as wat die geval was in Tessalonika, is dat hierdie kulture en godsdienste se idees nie net van buite af op die gemeente ‘n impak gehad het nie, maar van binne af, omdat dit deur sommige lidmate van die gemeente aangehang is. En hierdie mense het Paulus direk aangevat omdat hulle nie met hom saamgestem het nie, onder andere ook as gevolg van (doelbewuste?) misverstande wat uit sy eerste brief gespruit het (1 Kor. 5:9-11).

Paulus kan dus nie hierdie alternatiewe leringe en perspektiewe ongebreideld laat aangaan nie. Vandaar die berispende emosionele toon van sy brief. Let bv. op na die taal van konfrontasie (1 Kor. 4:18-21), appèl (1 Kor. 10:31 vv), sarkasme (1 Kor. 6:5) en ironie (1 Kor. 1:26-27) wat hy gebruik. En 2 Korintiërs wys dat dit eers slegter met hulle verhouding gegaan het, voor dit uiteindelik herstel is!

Dit is ook duidelik dat sommige van hierdie lewenswandel sake deur die huisgesin van Chloë (1 Kor. 1:11) aan Paulus gerapporteer is, moontlik met die besoek van Stefanas, Fortunatus en Agaïkus (1 Kor. 16:17). Dit is sake soos: verdeeldheid en wysheid (1 Kor. 1:10-4:21), moontlike bloedskande (1 Kor. 5:1-13), hofsake (1 Kor. 6:1-11) en prostitusie (1 Kor. 6:12-20), waarskynlik ook die vraag na die hoofbedekking van vroue, wat saamhang met die vraag na die algemene rol van vroue in die gemeente (1 Kor. 11:2-16) en die Nagmaalviering (1 Kor. 11:17-34).

Maar daar is ‘n hele klomp ander sake wat Paulus verder aan in sy brief aanraak, wat heel waarskynlik in antwoord is op die vroeëre brief van die Korintiërs aan hom (1 Kor. 7:1). Telkens lei hy dié sake in met die frase: “En nou …” en dan hanteer hy die sake waaroor hulle vrae gehad het. Dit gaan oor sake soos seks en die huwelik (1 Kor. 7:1), ongetroudes (maagde – 1 Kor. 7:25), offers aan afgode (1 Kor. 8:1), geestelike gawes en die erediens (1 Kor. 12:1), offergawes (1 Kor. 16:1) en oor Apollos (1 Kor. 16:12).

Die enigste saak wat nie oor die Christelike lewenswandel gaan nie, is die lering wat Paulus oor die opstanding gee in 1 Korintiërs 15, hoewel dit ook duidelik iets is waaroor die Korintiërs afwykende idees gehad het, en Paulus hulle daarin wou onderrig.

Die teologiese perspektief op die opstanding verteenwoordig waarskynlik ook ‘n korrektief nie net op hulle idees oor die geestelike gawes en wat dit beteken om geestelik te wees nie, maar ook op hulle idees oor die Christelike lewenswandel. ‘n Mens se gedrag hier en nou word immers onder andere bepaal deur hoe jy dink oor die toekoms. As jy nie in die opstanding glo nie, kan jy eintlik in hierdie lewe mos maak wat jy wil. Dit maak dan nie saak nie, volgens sommige Korintiër gelowiges, of jy asketies lewe (1 Kor. 7) of immoreel (1 Kor. 5), solank jy net geestelik is, en bv. in tale praat (1 Kor. 14).

In tandem met sy aanvanklike beklemtoning van die kruisteologie (1 Kor. 1:17-2:16) begrond hy met hierdie twee teologiese perspektiewe – die kruis en die opstanding – die Christelike lewenswandel, en spel dit as die raamwerk uit waarbinne hulle dissipelskap uitgelewe moet word. Dit is ook die basis van die eenheid wat hy bepleit onder almal wat deel is van die gemeenskap van Christus.

1 Korintiërs 16 sluit die brief af met ‘n paar praktiese sake.

Teks en konteks

Ons is geroepe heiliges – 1 Korintiërs 1:1-3

Let op hoe Paulus sy brief begin met ’n verantwoording van sy roeping as apostel van Jesus Christus, die eerste keer dat hy die benaming begin gebruik. Hy begrond sy apostelskap in God se wil, waarvandaan ook sy gesag kom om met “God se gemeente” in Korinte in gesprek te tree. Hulle is “geroepe heiliges”, in Christus Jesus geheilig deur God, soos dit met alle gelowiges die wêreld oor die geval is.

Sostenes, waarskynlik die voormalige hoof van die sinagoge in Korinte (Hand 18:17), maar nou ’n gelowige en medebedienaar van die Woord, en werksaam saam met Paulus in Efese, word nie net saam met Paulus as outeurs van die brief aangedui nie, maar dit kan wees dat Paulus dit moontlik aan hom as sekretaris gedikteer het, afgelei uit die feit dat Paulus net een vers met sy eie hand skryf (1 Kor 16:21).

Paulus dank God vir die genade van God wat aan hulle gegee is – 1 Korintiërs 1:4-9

Let op hoe Paulus God dank vir die wyse waarop sy genade onder hulle posgevat het, veral in die gawes van woord en kennis. Net so is die getuienis oor Christus stewig onder hulle gevestig. Hy is ook opgewonde dat hulle vol verwagting uitsien na die wederkoms (al gaan hy in 1 Kor. 15 tog weer hieroor gesels). Geloof en hoop is goed gevestig in hulle gemeente.

Hy sal hulle ook tot aan die einde standvastig maak, sodat hulle sonder blaam sal wees op daardie dag. God is immers getrou.

Paulus bid dat hulle eenstemmig sal wees – 1 Korintiërs 1:10-17

Let op hoe Paulus oor eenstemmigheid of volkome eensgesindheid praat. Dit is om dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging te handhaaf! Heeltemal anders as die heersende gedagte by baie in die Christelike kerk dat elkeen sy eie waarheid kan handhaaf.

Paulus kan hulle dus nie loof vir hulle gebrek aan eenstemmigheid nie, want dit wys dat die onderlinge liefde vir mekaar sowel as vir die waarheid by hulle ontbreek. Vergelyk dit met sy dankwoord aan die Tessalonisense waar hy hulle geprys het vir hulle geloof, liefde en hoop (1 Tess. 1:3; 2 Tes 1:3-4).

Hy spreek hulle daarom skerp aan oor die verdeeldheid wat veral in groepvorming en partyskappe onder hulle na vore kom, soos Chloë se mense aan hom kom oordra het, waarmee ook hulle eenheid met Christus in gedrang gekom het. Dit is immers hulle roeping, om saam met mekaar: “verenig te lewe met sy Seun, Christus Jesus, ons Here.”

Die gemeente het hulle identiteit verkeerdelik in vier groepe gesoek, dié vir Paulus (die stigter van die gemeente), dié vir Apollos (die uitstekende redenaar uit Aleksandrië wat Paulus daar opgevolg het), dié vir Sefas (Petrus, die leier van die apostels in Jerusalem) en dié vir Christus (waarmee moontlik ‘n anti-leier standpunt ingeneem is).

Christus is die krag van God en die wysheid van God – 1 Korintiërs 1:18-31

Paulus gaan dan oor tot ’n diepsinnige Christologiese verantwoording van hulle identiteit: Ons is Een in Christus, die krag van God en die wysheid van God. Hy is die enigste leier wat in die middelpunt van ’n gemeente mag staan met erkenning natuurlik van die gawes van leierskap wat Hy deur sy Gees vir die gemeente gee. Maar die gawes is ondergeskik aan die Here.

Met verwysing na Jesaja 29:14 bevestig Paulus in vers 19 en verder die OT gedagte dat God Hom nie aanpas by die heersende wysheid van mense nie, maar ontferm oor dié wat glo. Dit is nie wat jy weet wat God se aandag trek nie, maar dat jy glo.

Hiermee rig Paulus hom teen beide die Joodse en Griekse weersin in die boodskap van die kruis. Die Jode neem aanstoot in die kruis self omdat hulle eerder ’n wonderteken sou wou sien (ironies dat hulle die wonder van die opstanding geïgnoreer het en net op die dood aan die kruis gefokus het). Die Grieke weer dink die prediking daarvan is onsin omdat dit menslike denke uitgesluit het, en net afhanklik was van geloof in God om effektief in die lewe van mense te wees.

Vir diegene wat geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God. Want die dwaasheid van God is wyser as dié van mense, en die swakheid van God is sterker as dié van mense.

Trouens, die dwaashede van die wêreld het God uitgekies om die wyses te beskaam, en die swakhede van die wêreld het God uitgekies om die sterkes te beskaam, sodat geen mens iets het waarop hy hom voor God kan beroem nie.

Christus Jesus is vir ons die wysheid wat ons beide in die regte verhouding met God bring (regverdiging) en ‘n regte lewe laat lei (heiliging en bevryding). Hy alleen is die een in wie ons moet roem.

Hoewel Paulus in 1 Korintiërs 2 eers verder gaan uitbrei oor hoekom God die weg van die prediking en die openbaring van die Gees kies om sy boodskap aan mense oor te dra, gaan hy in hoofstuk 3 terugkom na die betekenis van hierdie gedagte – dat God se wysheid en menslike wysheid teenoor mekaar staan – en dit van toepassing maak op die “wyse” idee van groepvorming, en uitwys hoe dwaas dit in die oë van God is. Groepvorming kom na vore uit jaloesie en twis en skaad die gemeente, wat die gebou van God is.

Boodskap en betekenis

Die ding wat my dus uit hierdie eerste hoofstuk by bly, is die klem op eenstemmigheid. Dit is doodgewoon onaanvaarbaar dat daar groepvorming en partyskappe in ’n gemeente rondom leiers ontstaan, hetsy uit jaloesie of uit ’n getwis. En elkeen van ons moet ons eie lojaliteite in die gemeente ondersoek of ons nie ook hieraan skuldig is nie, hoe onskuldig dit op die oog af ook al vir ons kan voorkom. En dan praat ek nie eers van die breër Christelike prentjie in ons stede en dorpe nie…

Daarby is Christelike eenstemmigheid nie om jou eie waarheid in die gemeente of in die geloof te handhaaf nie, maar om dieselfde denkwyse en dieselfde oortuiging te handhaaf!

Dit is waarom ons ons eenheid moet soek in Christus, in die krag en die wysheid van God, want dit is sy waarheid, soos Hy deur sy Woord en Gees dit in ons aktiveer, wat ons lewe Hom behaag. Die Here Jesus Christus is die enigste Leier in wie ons regverdiging, heiliging en bevryding sal hê.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar