Skip to main content

Jesaja 51:1-52:12

Luister mooi na My; My verlossing is op pad

Jesaja 51:1-52:12 is ‘n wisseling van eerstepersoon (Jahwe) en tweedepersoon (Jesaja) gedeeltes waarin die Here en sy profeet die volk oproep om na God te luister, want sy verlossing is op pad. Let op die herhalende gebruik van “luister” en “word wakker” wat die perikope struktureer. In Jesaja 52:13-52:13 sal dan op die sleutelrol van die Dienskneg van die Here in hierdie verlossing gefokus word.

Jesaja 51:1-8

Die Here praat in vers 1-2 met almal wat geregtigheid nastreef, wat na die Here soek, om te luister. Soos Hy in die verlede hulle oerouers uitgekies het om hierdie nasie mee te begin, soos Hy hulle toe geseën het, gaan God dit nou weer vir Sion, vir die volk, doen.

Dan kom die profeet in vers 3 self aan die woord met ‘n trooswoord dat die Here hulle woestyn, die Araba (suid van die Dooie See) weer soos Eden, die tuin van die Here, sal maak. Hulle sal weer die vreugde van verandering beleef.

Die Here vervolg in vers 4-8 nog twee keer met sy oproep dat hulle na Hom moet luister, dat hulle sy onderrig sal aanvaar, want dit sal ook die lig vir die nasies wees, soos Hy reeds in die vorige hoofstuk aangekondig het.

Sy verlossing is op pad. Dit sal geregtigheid vestig onder al die volke , en dit vir altyd, al beteken dit ook ‘n oordeel vir dié wat nie luister nie.

Die volk wat sy wet in hulle harte het, hoef nie te vrees vir die bespotting en beledigings deur mense nie, want hulle sal verdwyn soos wol wat deur motte weggevreet word.

Jesaja 51:9-11

Dan rig Jesaja hom tot die Here met die frase: “Word wakker, word wakker!” Die Here se talle wonderwerke in die verlede veral met die trek deur die Rooi See word in herinnering geroep as ‘n basis vir sy wonders ook nou vir die volk om hulle uit ballingskap te bring.

Die verwysing na die seemonster Rahab vermeng twee Bybelse motiewe met mekaar. Aan die een kant word verwys na die draak wat verslaan is ten tyde van die skepping (Ps 89:10; Job 9:13; 26:12) wat ‘n metafoor is vir die orde wat God in chaos geskep het. Aan die ander kant word Rahab ook gebruik as ‘n metaforiese verwysing na Egipte (Ps 87:4) soos ook reeds vroeër in Jesaja (Jes. 30:7).

John Barry wys daarop dat die skeppingsmotief van God se oorwinning oor die seemonster hier met die Rooi See-oorwinning oor Egipte vermeng word as ‘n metafoor vir die terugkeer uit ballingskap (Faithlife Study Bible).

Wie deur die Here vrygekoop is, sal dus terugkeer na Sion en met “ewige vreugde” gekroon wees: “Blydskap en vreugde sal hulle oorweldig; verdriet en gesug sal wegvlug.”

Jesaja 51:12-16

Dan antwoord die Here met ‘n troosboodskap, dat Hy inderdaad wakker is, dat Hy die Een is wat hulle troos, en hulle gevolglik nie hoef bang te wees vir sterflike mense nie. Hy wat die Skepper is, skrik verseker nie vir onderdrukkers nie. Die Here gaan sy volk binnekort verlos uit hulle mag.

Hy gee daarvoor sy woorde in die mond van sy profeet dat hulle oortuig kan word van die stelligheid van God se beloftes.

Jesaja 51:17-23

Dié verandering vir die ballinge het uiteraard ook ‘n effek op Jerusalem en dié wat daar agtergebly het. Die Here roep dus eerder hulle almal op om self wakker te word – Hy is lankal reeds wakker! – sodat hulle die boodskap van verandering kan omhels. Al het hulle leiers hulle in die steek gelaat, sal God as hul leier optree en die oordeelsbeker wegneem en vir die verdrukkers gee.

Jesaja 52:1-10

Die oproep aan Sion word herhaal, om wakker te word, en hulle reg te maak, mooi klere aan te trek, want hulle is in beginsel losgekoop. Hulle moet gereedmaak vir die verlossing, want dit is naby.

Die boodskapper wat ‘n boodskap van vreugde, en vrede bring, moet geprys word, ‘n uitspraak waarby Paulus in die NT aansluit en met die boodskap van die evangelie verbind (Rom 10:15). Die inhoud van die boodskap is: “Jou God heers as koning!”

Daarom moet die volk luister na die wagte wat hulle uitgesit het om juis dié boodskap te hoor. Dit is ‘n boodskap wat nie net vir hulle in vervulling sal gaan nie, maar ook vir al die uithoeke van die aarde. Die Verlosser is hier.

Jesaja 52:11-12

Die oproep aan die ballinge word herhaal om uit Babel pad te gee, hulleself te reinig, en agter God aan terug te keer na Israel toe. ‘n Woord wat Johannes in sy Openbaring aanhaal om die geloofsgemeenskap van die eindtyd aan te spoor om hulleself rein te hou en die Here se pad te volg uit die gevaar van besoedeling (Openb 18:4).

Boodskap en betekenis

Verandering – en veral die bereidheid om ja te sê vir verandering – kom baie keer as ‘n mens met nuwe oë na die verlede kyk. Pat Keifert sê: “Look for a usable future in your past”. Dit wil sê tussen al die sleg uit die verlede, soek na dié dinge wat lewe gegee het en dit weer kan doen – ‘n bruikbare toekoms in jou verlede.

Dit is waarom Jesaja hierdie raad rig aan dié onder die volk wat reg wil doen, om na God te luister. Om moed te skep uit die Here se roeping van Abraham en Sara. Net soos Hy hulle in die verre verlede geseën het, gaan God dit nou weer vir hulle doen. Trouens, vir al die volke en nasies.

Hulle rol in die verandering is soos volg:

  1. om te luister na die Here – Jesaja 51:1, 4, 7;
  2. om vasberade vas te hou aan God en sy beloftes ten spyte van die bespotting en belediging van mense – Jesaja 51:7;
  3. om te bid om redding waar spesifiek die dade van die Here in die verlede voor Hom gebring word – Jesaja 51:9-10.
  4. om hulleself rein te hou om die nuwe bedeling vrymoedig binne te gaan – Jesaja 52:1-12

Dit is goeie raad ook vir elke kind van God vandag nog: om te luister, om aan God vas te hou, om te bid om redding, en jouself rein te hou in die verwagting van wat God gaan doen.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar