Skip to main content

Spreuke 18:1-24

Kommunikasie maak saak

Spreuke 18:1

Spreuke 18 lê weer baie klem op die waarde van woorde, meer spesifiek in terme van die kommunikasie patrone wat dit vestig. Kommunikasie maak saak! Dit kan soos diep waters wees, ‘n bron van wysheid (vers 4) óf dit kan rusie veroorsaak (vers 6), en jou eie (vers 7, 13) en ander (vers 3, 5, 8) se ondergang beteken.

Vers 1 beklemtoon dat wysheid in oorlegpleging lê. Die teks sê letterlik: “hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte” – dws tree anti-sosiaal op. Hy soek net sy eie belang en nie dié van die gemeenskap nie. Hy verwerp die voordeel van oorlegpleging. Lot se verhaal in Genesis 13 is ‘n uitstekende voorbeeld hiervan. Hy het hom afgeskei van Abram – dieselfde Hebreeuse woord vir afskei (niprād) word gebruik – en die beste deel gekies. Maar, moes toe vlug vir die oordeel oor Sodom en Gomorra.

Spreuke 18:2-3

Vers 2. ‘n Dwaas stel nie belang om tot groter insig te kom nie, maar net om almal van sy eie opinie te oortuig. Sy oorvloed woorde openbaar eintlik ‘n gebrek aan insig. Wyse mense luister eers voor hulle praat (vgl Spr 18:15). Vers 3. Iemand wat verkeerd doen – ‘n goddelose of bose mens – beledig mense oral waar hy kom. Hy verneder hulle en laat hulle sleg voel deur hulle te spot en met geen respek te behandel. Die keersy is natuurlik dat dit dan ook met so iemand gebeur.

Spreuke 18:4-5

Vers 4. Wysheid bring lewe. Meer letterlik vertaal: “Diep waters is die woorde uit ’n man se mond, ’n bruisende stroom, ’n fontein van wysheid.” Spreuke 20:5 verbind “diep waters” aan ’n “oorwoë mening”. Die punt is dat wyse woorde ’n permanente verkwikkende effek op ons sal hê. Vers 5. Partydigheid verwoes lewens. Dit is nie goed om partydig te wees vir die skuldige en so die onskuldige sy reg te ontsê nie (vgl Spr 17:15).

Spreuke 18:6-7

Hierdie verse skets die dilemma van die dwaas. Hy praat homself telkens in die moeilikheid in. Sy woorde veroorsaak rusie en geweld. Dit bring sy ondergang. Sy eie woorde is dus ’n dodelike strik.

Spreuke 18:8

Die 1983-vertaling vertaal besonder goed: “Skinderstories word gretig verslind; mense sluk dit so maklik.” (vgl Spr 26:22 waar dit herhaal word).

Die interessante agtergrond hiervoor is die idee in daardie tyd dat die maag – metafories gesproke – gedagtes opberg. Die antieke Egipte wysheid was dat gedagtes as’t ware in die maag opgegaar word totdat jy besluit watter van die gedagtes die moeite werd is om “op te bring.”

Die gedagtes lê waarskynlik ook agter die spreuk wat beskryf hoe lekker dit is as jy wyshede inneem en enige tyd kan weergee (Spr 22:18). Elifas, een van die vriende van Job, verwys ook moontlik hierna deur spottenderwys na Job te verwys as iemand wat net onsin praat, en daarom “vol wind” is. (Job 15:2).

Job val egter nie vir dié valse perspektief nie, en wys later dat sy gedagtes in hom “gis” soos wyn wat nog nie klaar is nie (Job 32:18-19). Elifas word aan die einde van die boek tereggewys deur God en Job uitgewys as die een wat reg gepraat het oor God (Job 42:7).

Spreuke 18:9-10

Vers 9. Luiheid en laksheid is gewelddadig. Dit verwoes nie net die kanse op die lewe vir jouself nie, maar vir almal wat met jou te make het. Vers 10 is ‘n baie bekende teks met die boodskap dat God die regverdige beskerm wat by Hom skuil. Die lied Blessed be the Name of the Lord van Clinton Utterbach gebruik onder andere dié vers: “The Name of the Lord is a strong tower, the righteous run into it, and they are saved.”

Spreuke 18:11-12

Vers 11 is duidelik in kontras met vers 10. Ryk mense dink hulle welvaart beskerm hulle soos ’n sterk stad of ’n hoë muur, maar dit is ’n lugkasteel. Dit bestaan net in hulle verbeelding. Die enigste ware beskerming is van die Here. Vers 12. Hoogmoed kom voor die val. Nederigheid kom voor die eer (vgl Spr 11:12; 15:33; 16:18). Jesus is die perfekte voorbeeld daarvan (Fil 2:5-11).

Spreuke 18:13

Om te antwoord voor jy die vraag gehoor het, is dwaas en kan jou maklik in die skande laat kom. Selfs as jy reg is, kan dit baie arrogant en onbeskof oorkom.

Spreuke 18:14-15

Vers 14 meer letterlik vertaal: “Die gees van ’n mens dra hom deur siekte, maar ’n neerslagtige gees – wie kan dit opbeur?” (BDV). Die woord vir “neerslagtig” (nĕkēʾâ) kan ook met terneergedruk (vgl Spr 15:13; 17:22), moedverlore, gebroke (“crushed”) of platgeslaan (vgl Ps 109:16) vertaal word. Daar is ’n innerlike krag wat nodig is om deur krisisse kop bo water te hou. Iets wat in die NT in Jesus vir ons beskikbaar raak wat ons na gees, siel en liggaam kan bewaar (1 Tes 5:23). Vers 15. ’n Verstandige en wyse mens stel hom in op die uitbreiding van sy kennis in wat hy dink en waarna hy luister.

Spreuke 18:16-18

Vers 16. Geskenke het groot mag. Dit gee jou toegang tot belangrike mense. Daar is natuurlik ook ’n gevaar daaraan verbonde. ’n Geskenk raak maklik ’n omkoopgeskenk (vgl Spr 17:8). Vers 17. Die regsbeginsel “audi alteram partem” (luister na die ander kant) kom uit Spreuke. As jy net na een kant luister, klink dit baie oortuigend, totdat iemand onder kruisverhoor geplaas word, en die ander kant van die saak ook aangehoor word. Vers 18. Deur die Here se wil te vra – hier deur die gooi van die lot – kan geskille besleg word en sterk opponente uit mekaar gehou word. Want, dit is die Here wat die uitkoms bepaal (Spr 16:33).

Spreuke 18:19

Iemand – ’n familielid of naby vriend – wat te na gekom is, is so ontoeganklik soos ’n ommuurde stad. Rusies is soos die sluitbalk wat toegang tot daardie stad toesluit en die persoon daarbinne onbereikbaar maak. Dit verklaar die belang van die tweede liefdesgebod, om jou naaste lief te hê soos jouself. Dit is die enigste manier waarop verhoudings ’n kans op herstel het.

Spreuke 18:20-21

Vers 20. Woorde maak saak. Woorde kan vir jou inkomste en voorspoed verseker. Vers 21. Woorde het gevolge. Woorde kan die lewe of die dood beteken. Jou voorkeur bepaal die gevolge ook vir jouself.

Spreuke 18:22

Hierdie vers stel die diep skeppingswaarheid dat ’n vrou ’n goeie gawe van die Here is (Gen 2:18-25). Let op hoe die spreuk beide die soektog na en die gawe van die vrou beklemtoon. Om ’n vrou te vind, word boonop in dieselfde terme gestel as die vind van wysheid (vgl Spr 8:35).

Spreuke 18:23-24

Vers 23 beskryf die harde werklikheid van die wêreld soos dit baie keer is, nie soos dit behoort te wees nie. Arm mense moet ligloop met wat hulle sê, want hulle is afhanklik van die guns van ander. Ryk mense probeer met ’n harde houding die onophoudelike versoeke om hulp van hulle afweer. Vers 24. Kies jou maats met oorleg uit, want maats kan jou breek. Maar, daar is ook vriende wat nader aan jou kan kom as wat ‘n broer is. Kies eerder een goeie vriend uit as baie vriende wat jou kan ruïneer.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda