Skip to main content

Matteus 28

Jesus staan op uit die dood en gee die Groot Opdrag aan sy dissipels

Matteus 28 vertel van die hoogtepunt van die evangelie: Jesus se triomfantelike opstanding, sy verskyning aan die vroue en dissipels, en sy opdrag aan hulle om die evangelie aan die hele wêreld te verkondig. Die hoofstuk beklemtoon God se krag oor die dood, die vervulling van Jesus se beloftes, en die universele sending van sy kerk om dissipels te maak.

Teks en konteks

Jesus verskyn aan die vroue teen dagbreek die Sondagmôre (Matteus 28:1-10)

Na die uitgebreide en gedetailleerde fokus van Matteus op die Lydenspad wat Jesus in Jerusalem gestap het – 141 verse lank – beskryf hy in drie kort episodes die slot van sy verhaal – in net 20 verse! Hy fokus op die volgende:

  • Jesus se opstanding en die vroue wat getuies daarvan was (Matt 28:1-10).
  • Die gekonkel van die Joodse leiers en die bedrog van die Romeinse soldate (Matt 28:11-15).
  • Die laaste opdrag aan sy dissipels wat as die Groot Opdrag bekend geword het (Matt 28:16-20).

Hy vertel ook van die besoek aan Galilea wat waarskynlik in die omgewing van die berg waar Jesus die Bergrede gelewer het, was.

28:1 Die Sondagmôre vroeg, toe dit begin lig word, het Maria Magdalena en die “ander Maria” gegaan om na die graf te kyk. Dit is waarskynlik Maria, die moeder van Jakobus, die dissipel, ook onderskei met die bynaam: die “Jongere”.

28:2-3 Terwyl hulle op pad was soontoe was daar skielik ’n groot aardbewing met ’n engel van die Here wat uit die hemel neergedaal het om die steen voor die graf weg te rol. Hy het daarop gaan sit.  Dit was duidelik dat hy ‘n hemelse wese was, want sy voorkoms was soos weerlig en sy klere was so wit soos sneeu.

28:4-7 Sy teenwoordigheid was vreesaanjaend met die wagte wat hulle bewussyn verloor het en soos dooies geword het. Dit is ironies dat die wagte soos dooies word, terwyl Jesus juis uit die dood opgestaan het en lewe.

Die vroue was uiteraard ook vreesbevange, maar die engel het hulle gerusgestel. Die gekruisigde Jesus wat hulle soek, is nie meer hier nie. Hulle kon dit sien in die leë graf. Hy is egter opgewek (deur God – let op die passiewe rede), soos Hy vroeër vir hulle gesê het, en gaan hulle vooruit na Galilea toe waar hulle Hom sal sien. Die engel bevestig sy rol as boodskapper van God deur doodgewoon die waarheid van wat hy sê aan sy status as engel van die Here te koppel.

28:8 Hulle het met gemengde gevoelens van vrees en vreugde terug begin hardloop om dit vir Jesus se  dissipels te vertel.

28:9-10 Jesus het hulle egter op pad terug voorgekeer en gegroet. Hulle het onmiddellik nader gekom, sy voete gegryp en Hom aanbid. Jesus herhaal dan dieselfde woorde van die engel dat hulle die dissipels moet aansê om Hom in Galilea te gaan ontmoet. Daar sal hulle Hom sien.

Die is duidelik uit die res van Matteus se Evangelie dat hy net op die begin van die verskynings aan die vroue en op die laaste verskyning aan al die dissipels fokus. Hy laat al die ander verhale waarvan Lukas, Markus en Johannes vertel uit. Hy vertel hierna net nog van die wagte wat die Jode gaan inlig oor wat by die graf gebeur het, ‘n unieke bydrae van Matteus, en eindig daarna met die Groot Opdrag in Galilea, waarskynlik op die berg van die Bergrede.

Boodskap en betekenis

Die boodskap van die opwekking van die Here Jesus Christus begin onmiddellik met die getuienis van die vroue, dissipels en ander ooggetuies wat die nuus verder versprei. Die graf is leeg. Die Here Jesus leef! Dit is iets wat almal moet weet. Vandaar dat Matteus met die Groot Opdrag afsluit. Ook ons moet daardie boodskap verder dra.

Dit is ook betekenisvol dat dit juis vroue is wat die wonder van die opstanding eerste aanskou.  Dit onderstreep die historisiteit van die gebeure, want Matteus vertel dit net soos dit gebeur het, sonder om te skroom, al was vroue nie gereken as getuies in daardie tyd nie.

Die Jode koop die soldatewag om om te sê die dissipels het die liggaam gesteel (Matteus 28:11-15

28:11-13 Let op waarvandaan die leuens oor die opstanding kom. Dit kom nie in die eerste plek van die politieke leiers nie, maar van die godsdienstige leiers, die leierpriesters en familiehoofde. Toe sommige van die Romeinse wagte wat diens gedoen het by die graf hulle inlig oor wat by die graf gebeur het – en onthou hulle het geweet iets buitengewoon het gebeur, hulle het die aardbewing en die lig gesien, en die graf was inderdaad daarna leeg – het die Joodse leiers besluit om ‘n valse berig die wêreld in te stuur dat die dissipels in die nag gekom het om Jesus se liggaam te steel. Hulle koop die wagte om met ‘n groot som geld.

28:14-15 Die Joodse leiers sou vir die wagte instaan – want Pilatus sal uiteraard vir hulle daaroor wou straf – en Pilatus oorreed om nie teen die wagte op te tree nie, maar in te koop by die valse storie dat Jesus se liggaam gesteel is terwyl die wagte geslaap het. En dit is die valse storie wat onder die Jode versprei is, en selfs vandag nog deur sommige valse teoloë versprei word.

Boodskap en betekenis

Wat die Joodse leiers dus gevrees het – dat daar ’n leë graf sou wees; dat Jesus sou opstaan soos Hy voorspel het – het toe inderdaad plaasgevind.  Maar in plaas daarvan om ordentlik ondersoek in te stel, besluit hulle om aktief die waarheid te onderdruk deur die soldate om te koop sodat daar ’n leuen oor die leë graf versprei sou word.  Hulle volgehoue verwerping van Jesus se opstanding sluit dus selfs die ontkenning van die werklikheid in. En baie volg hulle selfs vandag nog na.

Jesus gee aan die dissipels die opdrag om dissipels te maak van al die nasies (Matteus 28:16-20)

28:16 Jesus ontmoet die elf oorblywende dissipels op die berg in Galilea waarheen Hy hulle ontbied het, waarskynlik na die episode by die see. Dit kan die berg wees waar Hy langs die See van Galilea die Bergrede gelewer het (Matt 5-7). Let op dat dit nie die berg is vanwaar Hy hemel toe is nie. Matteus vertel nie vir ons daarvan nie. Die berg van die Hemelvaart was die Olyfberg tussen Jerusalem en Betanië soos Lukas en Markus vertel.

28:17 Sommige van die dissipels het Hom aanbid, terwyl sommige egter steeds getwyfel het.

28:18-20 Maar dit keer Jesus nie om aan hulle almal die Groot Opdrag te gee om die evangelie aan die hele wêreld te gaan verkondig nie. Hulle was nou getuies van die feit dat Jesus uit die dood opgestaan het en daarom gestuurdes wat deur God ingespan gaan word om die hele wêreld in te lig.

Jesus verklaar dan dat Hy alle mag in die hemel en op aarde ontvang het en gee. Hy stuur hulle om drie dinge te gaan doen:

  • Om dissipels van al die nasies te gaan maak.
  • Om hulle te doop in die Naam van die Drie-enige God – Vader, Seun en Heilige Gees.
  • Om hulle te leer om alles te gehoorsaam wat Jesus die dissipels beveel het.

En Jesus voeg daaraan by dat Hy met sy dissipels sal wees tot aan die einde van die wêreld.

Boodskap en betekenis

Matteus sluit dus sy Evangelie af met die Groot Opdrag aan die dissipels om dissipels van alle nasies te gaan maak. Alle mag behoort nou aan Jesus. En Hy werk deur sy dissipels om sy koninkryk te vestig. Die doop in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees word die onderskeidingsteken van die volgelinge van Jesus wat alles onderhou wat Hy hulle beveel het.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar