Skip to main content

Hou sinvolle Bybelstudie saam met jou huisgesin

Ek het ‘n navraag gekry oor hoe om sinvolle Bybelstudie saam met jou huisgesin te hou. Hier is die metodiek wat ek voorstel, en ‘n paar opsies vir Bybelboeke om deur te werk aan die hand van my bydraes. Dit is alles gratis.

METODIEK

STILTETYD

Ek gebruik die volgende basiese metodiek as ek die Bybel lees.
Lees, luister, leef

  1. LEES – Raak stil voor die Here. Lees die gedeelte deeglik deur. Wat tref jou? Let op vir temas in die gedeelte. Wat sê dit van God? Wat sê dit van mense? Wat sê dit van die wêreld? Soek vir een of meer sleutelgedagtes wat jou besonderlik tref. Skryf dit in jou joernaal neer. Lees dan wat ek geskryf het oor die hoofstuk in die Bybel en dink na oor wat jou daarin tref.
  2. LUISTER – Dink na oor wat God vir jou deur die sleutelgedagte(s) wil sê. Waar raak hierdie gedagtes jou lewe in die praktyk? Wat moet jy dink of doen daarmee (insigte)? Wat belowe dit vir jou (beloftes)? Wat vra dit van jou (opdagte)? Wat is die kern van die boodskap daarvan vir jou dag en lewe?
  3. LEEF – Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed. Skryf dit in jou joernaal. Laat die boodskap wat God jou gee met jou saamgaan deur die dag. Leef dit uit in sy teenwoordigheid.

HUISGODSDIENS OF KLEINGROEPE

As ‘n mens dan saam kom vir huisgodsdiens of in ‘n kleingroep (na elkeen stiltetyd gehou het), kan ‘n mens met mekaar deel wat jou bybly – insigte, beloftes, opdragte – en dan ‘n tyd van gebed gee waar julle die Here aanbid, voorbidding doen, en Hom loof vir gebedsverhoring.

BYBELBOEKE

1. Prontuit die Waarheid – die vier evangelies

Werk die vier evangelies saam deur.

2. Die verhaal van die kerk – Paulus versit berge

Volg die verhaal van Paulus in Handelinge en sy dertien briewe, want dit is die verhaal van die kerk. Só sal dié verhaal ook jou verhaal word.

3. Ek kom gou – Die boek Openbaring

Werk Openbaring deur.

4. Klaagliedere van Jeremia

Jeremia help ons om sin te maak van die Covid-19 tyd.

5. Werk die Bybel deur

Gebruik die Bybelskool materiaal om enige boek in die Bybel deur te werk. Daar is inligting oor elke hoofstuk in die Bybel. Lees dit kronologies deur, of soos die Here jou lei.

Tien jaar se werk voltooi by Bybelskool.com

www.taemen.co.kr

Ek voel bevoorreg. Ek het vandag tien jaar se werk voltooi. Met die boek Rigters het ek vandag my hoofstuk-vir-hoofstuk deurlees van die Bybel voltooi. Dit was Geduld en Genade, soos my titel vir die boek van Rigters dit sê. En dit is ook hoe ek voel oor dié geseënde tyd!

Die bydraes sal nog kom soos dit moet tot en met die 20ste Maart 2018. Jy sal dit dus nog op die regte tyd elke weeksdag ontvang.

Ek wil net graag baie dankie sê vir die ondersteuning deur die jare. Dit was nie net van onskatbare waarde vir my nie, maar ‘n onontbeerlike deel van dié pad waarop die Here my geplaas het.

Daar is nie regtig woorde om te beskryf hoe ek voel nie. Net dankbaar. Tevrede. ‘n Bietjie oorstelp.

Groete en tot aan die einde julle metgesel in Christus​.

Kort inleidings op Levitikus, Numeri, Deuteronomium, Josua en Rigters

Ek kry gereeld navraag oor die res van my bydraes oor die Pentateug, Josua en Rigters.  Ek het besluit om die kort inleidings uit 2008-2009 wat nie op bybelskool.com verskyn nie nou alreeds te plaas.  Josua en Rigters het ‘n bietjie meer om die lyf.  Die ander is net ‘n paar riglyne vir die lees van die onderskeie boeke.

Jy kan hierdie skakels gebruik as jy vooruit wil werk.  Ek gee ook die datums (DV) waarop ek beplan om met die hoofstuk vir hoofstuk lees daarvan te begin:

Beplanning 2017-2018

Bybelboek hfste. Aanvangsdatum Einddatum
Numeri 36 26 Julie 2017 13 September 2017
Deuteronomium 34 11 Oktober 2017 29 November 2017
Josua 24 24 Januarie 2017 21 Februarie 2018
Rigters 21 28 Februarie 2018 28 Maart 2018

Die toekoms van Bybelskool.com

Bybelskool.com bydrae grafika
Bybelskool.com bydrae

Ek het 15 Oktober 2008 begin met die deurlees van die Bybel in ons gemeente, NGK Somerstrand.  Na sewe en ‘n half jaar nader ek nou die eindpunt van die projek.  Daar is 13 hoofstukke van Job oor, soos julle goed weet!  Op 9 Maart 2016 DV bereik ek dus die eindpunt.  Daardie aand lees ons die laaste van die 1189 hoofstukke van die Bybel in die gemeente.

Uiteraard hoop ek dat ek dit sal regkry; dat die Here my enduit sal neem!  Die pas is vinnig met ‘n hele aantal dinge wat my aandag verg.  Maar, ek is ongelooflik dankbaar.

  1. Een, dat die gemeente dit saam met my gedoen het.  Ons behoort aan ‘n kosbare gemeenskap.
  2. Twee, dat die Here my deur die dik en die dun van die leeswerk gelei het. Ek het ongelooflik baie geleer.  Die proses van luister en leef het my verder gevorm om die mens te word wat die Here van my gemaak het.
  3. Drie, dat jy, waar jy ook al in die wêreld jou bevind, die pad saam met my geloop het, hoe kort of hoe lank dit ook al is/was.  Ons is ‘n gemeenskap van meer as 1300 ingeskrewenes: van China af in die ooste regdeur Europa tot in Amerika in die weste, van Australië en Nieu-Zeeland regdeur tot in Afrika, en ‘n hele paar ander plekke!  Ek waardeer elkeen se bybly en meelewing.

Ek moet binnekort ‘n besluit neem oor die toekoms van Bybelskool.com.

  1. Sommige van my gemeentemense wil hê dat ek die sewe boeke wat nog nie op die web is nie (Genesis tot Rigters), moet aanpak saam met hulle, om die projek ook vir die meer as ‘n duisend driehonderd ingeskrewenes op die Internet te voltooi. Dit was ook aanvanklik my gedagte.  Ek sal graag wil hoor by julle of dit van waarde sou wees?
  2. Ek is egter ook oop vir suggesties uit die gemeente dat ons Woensdae in ‘n gebedsgeleentheid vir die gemeente verander, of dat ons soms fokus op leer en aktuele sake, of dat ons van tyd tot tyd kort kursusse aanbied: Alfa, Alfa Huwelikskursus, Immergroen Ouerskap, Tall Trees, Ontdek-jou-gawes ensomeer.  Dit sal uiteraard my betrokkenheid by Bybelskool.com beperk tot die antwoord van vrae, publikasies ensomeer.  Ek sou die leeswerk wat ek in die gemeente gedoen het rondom Genesis tot Rigters – voor ek met Samuel dit ook op die web begin plaas het – ook net onverwerk op die web kon plaas vir dié wat daarin belang sou stel.

Julle is welkom om saam te dink en bid daaroor.  Ek is ongelooflik dankbaar. Psalm 27:4 bly my by: Een ding het ek van die Here begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die Here.” (OAV).

En julle weet wat dié vers vir my beteken as julle die motto van die Bybelskool in herinnering roep: Die Woord is ‘n huis om in te woon.  Soli Deo Gloria.

Onlangse kommentaar