Skip to main content

2 Kronieke 35; 2 Konings 23:4-30

Josia hou die grootste Paasfees, maar sneuwel in oorlog weens sy koppigheid

Ons lees vandag die laaste drie perspektiewe op die regeringstyd van Josia. Die eerste twee verhale is baie positief, die laaste een teleurstellend:

  • Josia gaan verder met sy bestryding van afgodery reg deur die gebied – 2 Konings 23:4-20; 24-27;
  • Josia stel weer die Paasfees in met een van die grootste feeste ooit – 2 Kronieke 35:1-19; 2 Konings 23:21-23;
  • Josia laat Egipte nie met rus nie en sterwe in die oorlog – 2 Kronieke 35:20-26; 2 Konings 23:28-30.

Teks en konteks

Josia gaan verder met sy bestryding van afgodery reg deur die gebied

Josia gaan voort met sy diepgaande hervormings in die stad gefokus op die tempel en tempel-diens, sowel as in die ander stede van Juda gefokus op die hoogtes. Hy betrek ook die priesters van die ander stede by sy hervormings, hoewel hy ‘n onderskeid tussen hulle en die priesters by die tempel in Jerusalem tref.

Onder die diverse afgode en altare wat hy laat afbreek, is ook die altaar in Be-El, die een wat Jerobeam opgerig het. En in vervulling van die profesie van die naamlose man van God (1 Kon 13) word mensbeendere op die altaar verbrand. Josia reinig dus nie net sy eie land, Juda, van afgode nie, maar ook dele van die grondgebied van Israel, so ver as Samaria. Dit alles mond uit op ‘n grootse Paasfees.

Josia stel weer die Paasfees in met een van die grootste feeste ooit

Dié Paasfees word in dieselfde 18de regeringsjaar van Josia gevier. Hy is steeds maar net 26 jaar oud! Anders as Hiskia kan hy dit op die normale tyd op die 14de van die eerste maand begin.

Let op hoe Josia die priesters nie net indeel in diensbeurte nie, maar hulle ook moed inpraat vir hulle dienswerk. Net so neem hy leiding om die Leviete familiegewys in te deel en opdrag te gee om hulle onderrig werk te doen, veral om die volk te leer hoe om die Paasfees te vier. Dit is ’n rol wat met die verloop van tyd al hoe belangriker sou word (Neh 8) en die rol as draers van die ark vervang het. Die ark het immers sy rusplek in die tempel gekry en is nie meer rondgedra nie.

Na Josia die priesters en Leviete onder hande geneem het, sorg hy dat daar genoeg kleinvee en beeste is sodat almal met oorgawe die Paasfees kan vier. Sy amptenare volg sy voorbeeld en help ook vrywillig om voorsiening vir die volk, die priesters en die Leviete te maak.

Hoewel dié Paasfees net die normale 7 dae geduur het en nie so lank soos die fees van 14 dae wat Hiskia gehou het nie, beskryf die Kronis dit as die grootste Paasfees wat ooit van Samuel se dae af gehou is in Israel. Geen wonder nie, want daar was kos om te eet, te kus en te keur, dubbeld so veel as in die tyd van Hiskia. Wonder hoe lyk 30 000 stuks lammers bymekaar en dan nog 3 000 beeste?

Interessant is vir my die verwysing na die vinnige diens (vers 13) wat waarskynlik ’n manier was waarop die Leviete uitdrukking gegee het aan die opdrag in Eksodus 12:11 om die Paasmaaltyd haastig te eet.

Josia laat Egipte nie met rus nie en sterwe in die oorlog

Die verhaal spring van sy 26ste jaar na die jaar van sy dood, toe Josia 39 jaar oud was (609 vC). Josia word die slagoffer aan die een kant van die internasionale konflik tussen Egipte en die Galdeërs (Babilon) en aan die ander kant van sy eie koppigheid.

Met die opkomende mag van die Galdeërs het hulle Assirië as wêreldmoondheid begin teenstaan. Met die aanvang van hierdie oorlog wou die Egiptiese leër onder leiding van Neko deur Judese gebied trek op pad na dié veldslag. Josia het geweier en Neko nie met rus gelaat nie, met tragiese gevolge vir homself. Interessant genoeg maak Neko staat daarop dat hy met God se goedkeuring optree en waarsku vir Josia: “Moenie in God se pad kom nie.”

Dit blyk ’n egte woord van God te wees, omdat dié woord bewaarheid is met Josia se dood in die Egiptiese stryd. Dit was ’n tragiese dag vir Juda, met Jeremia wat veral swaar gekry het daaronder. Hy het ’n treurlied oor Josia gedig wat opgeneem is in Die Treurliedere, ’n boek wat ongelukkig vir ons onbekend is.

Egipte is ook hierna by Karkemis in 605 vC verslaan en die Galdeërs onder leiding van Nebukadnesar sou hierna die onbetwiste groot wêreldmoondheid word en Juda in ballingskap wegvoer.

Boodskap en betekenis

Die Konings skrywers vind Josia doodgewoon onbesproke: “Daar was nie voor hom nog so ‘n koning soos hy wat hom tot die Here bekeer het met sy hele hart en siel en met al sy kragte in ooreenstemming met die hele wet van Moses nie”.

Tog laat die Here sy toorn oor Juda nie vaar nie, spesifiek oor Josia se pa, Manasse, nie. En die skrif is aan die muur vir die ballingskap, met vier slegte konings wat een na die ander doen wat verkeerd is in die oë van die Here: Joahas, Jojakim, Jojagin en uiteindelik Sedekia, die laaste koning van Juda.

Die rol van die Skrifprofete in hierdie tyd word nie deur Kronieke of Konings by Josia se verhaal betrek nie, buiten vir die profetes Gulda.

Ons kan egter uit Sefanja en Jeremia se boeke agterkom dat hulle wel ’n beduidende rol gespeel het. Ek gee hier ’n kort oorsig daarvan om aan die een kant die raakpunte met Josia se hervormings aan te dui en aan die ander kant, veral in die perspektief wat Jeremia op Josia gee, die gebreke daarvan uit te lig.

Sefanja spreek hom skerp uit teen die Baäl- en hemelliggame aanbidding (Sef 1:4-5; vgl 2 Kon 23:4-7) en die selftevredenheid van die amptenare, prinse en handelaars wat dink dat die Here hulle nie sal straf oor hulle bygeloof en ongehoorsaamheid nie (Sef 1:7-11).

Jerusalem is vir die Here ’n opstandige besoedelde stad wat mense verdruk en waarin korrupsie gedy: “Die amptenare in die stad is brullende leeus; die regters is wolwe wat snags aas soek en tot die môre nie genoeg kry om aan te knaag nie.” Selfs die profete en priesters spring die oordeel van die Here nie vry nie (Sef 3:1-4).

Daarom kondig Sefanja aan dat die dag van die Here naby is, dié dag waarop Hy sy toorn oor Juda en Jerusalem sal uitgiet oor hulle afgodsdiens (Sef 1:14-16) en korrupsie (Sef 3:1-4). Sefanja hou wel nog vas aan die hoop dat die volk hulle kan regruk en raai die volk aan om te vra na die wil van die Here (Sef 2:3), soos Josia inderdaad uiteindelik gedoen het (2 Kron 34:21). “Miskien bly julle die straf gespaar.” (Sef 2:3).

Tog is Sefanja realisties oor die waarskynlike reaksie op sy waarskuwings en kyk hy ’n bietjie verder as die huidige chaos en sien ’n tyd waarop die Here self verandering sal bring, die volk se lot sal verander en hulle na Hom toe en hulle land toe sal terugbring (Sef 3:19). Dit is Sefanja wat daardie pragtige woorde gemunt het: “Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde! (Sef 3:17).

Jeremia gaan nog verder as Sefanja en verpak sy boodskap in twee oorhoofse perspektiewe: ’n boodskap van oordeel (afbreek, uitroei, vernietig, platslaan) en ’n boodskap van herstel (bou, vestig), soos die Here vir hom reg aan die begin van sy bediening in 627 vC die opdrag gee (Jer 1:10).

Die oordeel oorheers egter in Jeremia se prediking (Jer 1-38) omdat die volk en sy opeenvolgende leiers net te ver afgedwaal het in hulle verhouding met God (“my volk [het] My jare gelede al vergeet” – Jer 2:32), wat die besef by Jeremia laat groei het dat die ballingskap onafwendbaar aan die kom is (“Maar Ek gáán jou straf” – Jer 2:35).

In die tyd van Josia, waarskynlik van die 13de jaar van sy regeringstyd af (Jer 25:3), het Jeremia spesifiek die volk oor die afgodsbeelde wat die land verontreinig aangespreek, maar sy ervaring was dat die hervormings wat aangebring is oppervlakkig was (Jer 3:6 vv). Net so was sy oordeel oor die herstel van die tempel dat dit ’n vals vertroue geskep het dat hulle veilig is, en hulle gevolglik nie hulle lewens en dade regmaak nie (Jer 7:1 vv).

Die harde woorde van die Here aan Jeremia in dié tyd is dat hy nie verder moet bid vir die volk nie, want Hy gaan nie luister nie (Jer 7:16 – vgl Jer 15:1: “Al het Moses en Samuel self by My gepleit, sou Ek geen gevoel vir dié volk gehad het nie. Stuur hulle weg van my teenwoordigheid af, laat hulle gaan.”).

Die Judeërs het net te ver gegaan met hulle sonde en die Here kon net nie langer wag dat die situasie verbeter nie. Die smeltkroes van die ballingskap is al raad (Jer 9 vv). Hy gaan hulle uit hulle land verdryf (Jer 10:17-18), omdat hulle die verbond verbreek het (Jer 11 vv).

Jeremia was dus waarskynlik baie ambivalent oor die verbondsluiting van Josia. Dit lei tot roerende gesprekke tussen Jeremia en die Here, omdat Jeremia net nie kon aanvaar dat die situasie nie beredder kan word nie (Jer 12 vv). Ons lees nie van soortgelyke gesprekke met Josia nie.

Jeremia moes egter uiteindelik die knie buig voor die Here se oordeel: “U was te sterk vir my, U het gewen.” (Jer 20:7), maar nie sonder dat hy die dag berou waarop hy gebore is om dié boodskap vir die volk te moes oordra nie (Jer 20:14-18: “Vervloek is die dag waarop ek gebore is, die dag waarop my ma my in die wêreld gebring het … Vervloek is die man wat vir my pa die berig gebring het: ’Jy het ‘n seun’ … Waarom is ek gebore net om ellende en pyn te beleef en my lewe lank verneder te word?”)

Die belofte wat Josia se hervormings ingehou het, het dus net nie ver genoeg gegaan nie, en is in elk geval deur sy opvolgers tot niet gemaak wat tot verdere oordeelsprofesieë teen hulle lei (téén Sallum [Joahas] – Jer 22:11; téén Jojakim – Jer 22:13-19; téén Jojagin – Jer 22:24-30; téén Sedekia – Jer 25 vv)

Met groot teleurstelling en smart raai Jeremia uiteindelik die volk aan om die ballingskap as ’n feit te aanvaar, want die ballingskap was onafwendbaar (Jer 21 vv.). Hy wou hê dat hulle besef dit is God se straf, maar ook dat in die straf daar alreeds uitkoms geleë is, want die Here sal hulle seën in ballingskap en weer terugbring (Jer 29). Daarvoor is Jeremia egter verguis as verraaier en in ’n stadium deur koning Sedekia in ’n put gegooi (Jer 37:11 vv). Jeremia se woorde het egter waar geword soos ’n mens lees vanaf Jeremia 39.

Natuurlik was daar ook die belofte van herstel in Jeremia se bediening, wat beide die onvergelyklike belofte van ’n nuwe verbond (Jer 30-31) – bevestig deur die grondkooptransaksie (Jer 32) – as ’n belofte van ‘n nuwe koning (Jer 23) ingesluit het. Maar dit was ’n kleiner deel van Jeremia se boodskap.

Ná die aanvang van die ballingskap het Jeremia ook volskaals losgetrek teen die nasies, met ’n oorhoofse boodskap van oordeel, soos ’n mens veral lees in Jeremia 46-51, afgewissel met enkele hoopvolle elemente van herstel (bv Jer 46:26). Daar was natuurlik ook profesieë teen die nasies in die eerste deel van sy bediening (Jer 25:15-38) met ’n paar spatsels hoop (Jer 16:19-21). Die boodskap teen Israel het egter in daardie deel van sy bediening oorheers.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…