Skip to main content

Josua 3:1 – 5:1

God lei Israel met ‘n wonder deur die Jordaan

Teks en konteks

Die volgende fase van Josua se veldtog breek aan met die vertrek die môre vroeg van Sittim af. Hulle het tot by die Jordaan getrek en daar oorgebly in voorbereiding vir die Intog in Kanaän. Dit was ‘n groot groep, want dit het drie dae geneem om almal daar te kry.

Die Leviete kry die opdrag om met die ark van die verbond – ‘n simbool van God wat die stryd voer – omtrent ‘n kilometer voor die Israeliete uit te trek, sodat die Here so self die pad kon aanwys. Só was dit ook die geval met hulle reis deur die woestyn waar die Here op dié manier vir hulle oorbly plekke aangewys het (Num 10:33).

Trouens, die Here het hulle gestraf as hulle dit gewaag het om sonder sy leiding te beweeg (Num 14:44). Hierdie begeleiding van die Here deur die ark sou egter nooit ‘n magiese of outomatiese karakter aanneem nie, soos die Israeliete in die tyd van Samuel sou uitvind. Daar is hulle verslaan ten spyte van die ark se teenwoordigheid, want hulle het die Here nie geraadpleeg nie (1 Sam 4). Gehoorsaamheid aan die Here bly die vereiste wat Hy stel vir elkeen wat Hom wil volg.

Ná hierdie instruksies is die volk gereinig in voorbereiding vir die Here se teenwoordigheid wat wonders gaan doen met hulle deurtog deur die Jordaan. Die riglyne daarvoor is natuurlik alreeds gegee in die riglyne wat Moses deurgegee het, en in Levitikus opgeteken is.

Met die reiniging voltooi, bevestig die Here vir Josua in die oë van die volk deurdat Hy soos Moses die voorreg kry om ‘n mondstuk vir die Here te raak. Josua se aansien sou aansienlik versterk word daardeur, sowel as deur die wonders wat by die Jordaan en verder in Kanaän sou gebeur. Sy status as Godsman onder sy tydgenote was vir altyd gevestig.

Op bevel van die Here kan die Israeliete – met Ruben, Gad en die halwe Manassestam vooraan! – daarom droogvoets deur die Jordaan trek, gewapen vir die oorlog, deurdat die Here sorg dat die water van die rivier opdam by Adam, ‘n stad ‘n entjie boontoe in die Jordaan, ‘n plek waar aardbewings voorkom en die rivier op sy nouste is. Soos die tog deur die Rietsee Moses se bediening gekenmerk het, só sou die tog deur die Jordaan Josua se bediening kenmerk.

Maar die gebeure sou uiteindelik ten diepste tot God se verheerliking dien. Wat Hy vir Josua gedoen het, dien tot ‘n bevestiging van sy goddelikheid, en dat Hy bó alles aanbid moet word.

Twaalf man uit die volk, een uit elke stam, neem op bevel van die Here twaalf klippe uit die Jordaan en pak hulle as herinneringsteken anderkant die Jordaan by hulle oornagplek, Gilgal vanwaar die Heilige Oorlog gevoer sou word. Josua het dieselfde binne-in die Jordaan gedoen, iets wat latere geslagte kon nagaan, soos die redakteur(s) ons meedeel.

Hulle slaan kamp op by Gilgal op die tiende dag van die eerste maand, presies dieselfde dag 40 jaar tevore wat hulle begin regmaak het om uit Egipte uit te gaan deur ‘n lam vir die Paasfees gereed te kry (Eks 12:3 – dieselfde dag wat Esra eeue later die priesterlike geslag sou suiwer – Esra 10:16). Die paasfees viering sou vier dae later plaasvind, presies soos dit in die wet beskryf is.

Aanvanklik sou Gilgal ‘n belangrike geestelike rol speel in die lewe van Israel, met talle besoeke van Samuel daaraan in die era van koning Saul (1 Sam 7:!6; 10:8; 11:!4-15). Met Dawid skuif die geestelike sentrum na Jerusalem op bevel van die Here, en verander Gilgal se funksie. Ongelukkig raak dit mettertyd ‘n plek waar afgode gedien is (Hos 9:15; 12:11; Amos 4:4; 5:5).

Die wonder van die Here se mag deur die Israeliete droogvoets deur die Jordaan te kry, het die moed van die Amoriete en Kanaäniete gebreek. ”Hulle harte het van angs verstyf.

Boodskap en betekenis

Die land Kanaän word beskrywe as die land van die Kanaäniete, Hetiete (van wie Abraham die grot Makpela as graf vir sy vrou Sara gekoop het), Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, almal nasate van Gam, die middelste seun van Noag (Gen 10 – vgl Eks 3:7 se belofte).

In terme van huidige politiese grense, het Kanaän ‘n gebied beslaan wat die hele moderne staat van Israel, die hele gebied van Jordanië, ‘n groot deel van Saoedi-Arabië, die helfte van Irak, die hele Libanon, ‘n deel van Sirië, en die hele Koeweit beslaan.

Die Egiptiese ryk se invloed was gelukkig aan die taan, sodat die stadstate in Kanaän meer onafhanklik kon bestaan, en die Israeliete nie met ‘n super-moondheid moes rekening hou met hulle inname van die land nie.

Omdat die Uittog waarskynlik in die 15de eeu (1446 vC) plaasgevind het op grond van berekenings aan die hand van 1 Konings 6:1 se inligting, vind die Intog gevolglik 40 jaar later plaas, ongeveer van 1400 vC af.

Die inname van die land moet uit twee hoeke beskou word, soos twee kante van een munt.

Aan die een kant word die inname van die land beskrywe uit die hoek van die volk Israel wat die land in besit neem deur oorlog teen die ander volke wat daar woon, te maak. Dit kan as die historiese perspektief beskrywe word wat gebaseer is op die belofte aan die voorvaders, Abraham, Isak en Jakob (soms met die Gilgal heiligdom verbind vanwaar die onderskeie veldslae van die aanvanklike inname geskied het).

Maar telkens is die oorwinning aan die ander kant afhanklik van God se ingrype. Daarmee word God ook as die God van die geskiedenis beskrywe, anders as die Kanaänitiese gode wat as natuurgode of geografiese gode beskrywe is. (God word ook as Skepper geteken – vgl Jos 2:11; 4:24.)

Dit hang saam met die feit dat die land immers as God se land beskou en beskryf is (Lev 25:23). Dit kan as die kultiese perspektief beskrywe word wat onder andere beteken het dat die land se verdeling en wyse van besit deur die priesters gereël is (soms met die Sigem heiligdom verbind waar Josua sy afskeidsboodskap lewer, hoewel Silo ook ‘n rol gespeel het). ‘n Belangrike verskil met die Kanaänitiese Baäl godsdiens kom hiermee na vore, deurdat God nie net as die baäl (heerser) van die land beskrywe word nie, maar as die besitter daarvan.

Daarom is die tema van gehoorsaamheid aan God al dan nie so ‘n belangrike deel van die verhaal, wat eintlik regdeur die Ou Testament tot in die Nuwe Testament ‘n hooftema bly, en selfs in die lewe van Jesus ‘n deurslaggewende rol speel. Israel en die land is net aan mekaar verbind in terme van die verhouding wat hulle met God het.

Israel se verhouding met die land is dus nie ‘n bloed-en-bodem verhouding nie. Die land is ook nie ‘n “heilige land” in ‘n kosmiese of materiële sin nie, alleen in ‘n afgeleide sin, as ‘n gawe van God wat deur ongehoorsaamheid verloor kan word. Die volk is ook nie in ‘n hieros gamos (‘n heilige huwelik) aan God verbind nie, soos wel in ander godsdienste die geval was nie.

In Josua word hierdie gehoorsaamheid veral beskrywe in terme van hulle verhouding met die land. Waar hulle gehoorsaam is aan God, neem hulle die land in besit deur hulle oorwinnings. Waar hulle ongehoorsaam is aan God, bly die ander volke in besit van die land en verloor hulle die oorlog.

Die land het dus ‘n besondere plek in Israel se verhouding met die Here.

Dit is aan die een kant die sigbare simbool van hulle verhouding met die Here. Die besit van die land word as ‘n gawe van God gesien en is daarom afhanklik van hulle gehoorsaamheid in hulle verhouding met Hom.

Aan die ander kant maak die land ‘n integrale deel uit van hulle identiteit as volk. Die belofte van die land het aan hulle ‘n gemeenskaplikheid gegee en aan mekaar as stamme verbind. Hulle identiteit as volk was dus gebou op die belofte en besit van die land.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…