Skip to main content

Spreuke 11:1-31

Die gemeenskap floreer met die regte waardes en lewenstyl

Spreuke 11:1-3 

Spreuke leer ons in vers 1 dat oneerlike besigheidspraktyke afstootlik is vir die Here. Eerlikheid dra sy goedkeuring weg gebaseer op die wet (vgl Lev 19:35-36; Deut 25:13-16). Vers 2 leer ons dat selfverheffing jou in die skande bring. Wysheid spruit voort uit bedagsaamheid (dieselfde Hebreeuse stam ṣnʿ word hier gebruik as in Miga 6:8 wat daar dui op gedrag wat op respek vir God gebaseer is). Vers 3 leer ons dat integriteit ‘n kompas is vir opregtes, maar die valsheid van oneerlikes vernietig hulle. Eerlikheid is per definisie wysheid.

Spreuke 11:4

Spreuke leer ons dat geregtigheid baie meer werd is as jou goed. Jou welvaart beteken niks as God se oordeel jou tref nie. Net ’n regte verhouding met Hom kan jou van die (ewige) dood red. “Righteousness sees a man through.” (Kidner). In die NT is dit die geregtigheid van Christus wat ons van die oordeel van God red. Jesus nooi ons uit om op Hom te vertrou en aan Hom gehoorsaam te lewe. Dan kom ons nie in die oordeel van God nie (Rom 8:1-4).

Spreuke 11:5-6

Spreuke leer ons dat opregte gehoorsaamheid aan God se wil jou pad in die lewe gelyk maak, maar ongehoorsaamheid daaraan laat jou struikel. Dit is wat die Bybel bedoel met die woord geregtigheid. ’n Mens kan dit só opsom: Gehoorsaamheid stel jou vry. Ongehoorsaamheid vang jou vas.

Spreuke 11:7

Spreuke waarsku die goddelose dat die dood die einde van al sy verwagtinge is, selfs vir sy nageslag. Die Griekse vertalers het bygevoeg: “As die regverdige sterf, vergaan die hoop nie.” Hulle het rekening gehou met ’n lewe na die dood vir die regverdige.

Spreuke 11:8

Spreuke laat ’n mens glimlag oor die ironie dat die goddelose opdaag om die moeilikheid te ontvang waarvan die Here die regverdige verlos het. “The wicked are caught in their own trap.”

Spreuke 11:9-11

Spreuke waarsku jou teen ’n Godlose mens wat roekeloos is met sy lasterlike woorde. Hy laat sy naaste deur sy korrupte woorde ten gronde gaan. Die enigste verweer van die regverdige is kennis wat die skynheiligheid daarvan kan ontbloot. Die regverdige se voorspoed bring vreugde vir almal en gee ’n stad ’n goeie naam. Almal is egter bly as die goddelose vergaan, want alles wat hulle doen, is afbrekend.

Spreuke 11:12-13

Spreuke leer ons om ’n wag voor ons mond te sit. Sê liewer niks as om iemand anders te minag, want dit kan wys voel om iemand so af te kraak, maar kan jou diep in die moeilikheid bring. Betroubare mense lap niks uit nie. ’n Geheim is by hulle veilig. Wees dus uiters versigtig vir skinderbekke.

Spreuke 11:14

Spreuke verwoord die bewese waarheid dat leierskap noodsaaklik is vir ’n volk om te floreer. Die woord wat hier met leierskap vertaal kan word, is taḥbulôṯ. Dit dui op beide oorwoë begeleiding as op strategiese oorleg. Die krag van die leiding lê egter nie in ’n enkele individu opgesluit nie, maar in ’n veelheid van raadgewers. Peterson sê dit so goed: “Without good direction, people lose their way; the more wise counsel you follow, the better your chances.” (The Message).

Spreuke 11:15

Ons word hier gewaarsku soos in Spreuke 6:1-5 (vgl ook Spr 22:26) om nie borg te staan vir ’n vreemdeling nie, ’n “ander” (zār), dws ’n persoon wat jy nie ken nie, of wat nie saam met jou die Here aanbid nie. “Whoever makes deals with strangers is sure to get burned; if you keep a cool head, you’ll avoid rash bargains.” (The Message). “Handslag” in die 1933/53-vertaling dui op die handdruk of “handslaan” (soos ’n high five vandag) om die ooreenkoms te bekragtig.

Spreuke 11:16-17

Spreuke kontrasteer genade met geweld. ’n Genadige vrou – soos dit letterlik in die Hebreeus staan – verdien eer by ander. ’n Gewelddadige man gryp sy rykdom by ander. Die kontras is tussen ’n vrygewige, genadige en grasieuse vrou en magtige, gewelddadige en ongenaakbare mans. Soos Moffatt briljant vertaal: “A charming woman wins respect: high-handed men win only wealth.” (Vers 22 sal later sê die “charm” moet darem dieper as “skin-deep gaan!)

Spreuke 11:18-19

Spreuke kontrasteer die goddelose se werk vir korttermyn wins en die regverdige se saai vir langtermyn opbrengs. Die goddelose se wins is bedrieglik, want sy boosheid bring die ewige dood. “It is not real, what a bad man gains.” (Moffat). Die regverdige se opbrengs is betroubaar, want die lewe lê voor vir wie aanhou reg doen.

Spreuke 11:20-21

Spreuke herinner ons aan God se regverdigheid. Mense met geslepe harte en perverse gedagtes is vir die Here afstootlik. Mense wat onberispelik doen wat God vra, is vir die Here ’n plesier. Jy kan seker wees – die Hebreeuse uitdrukking: “hand aan hand” kan in Engels vertaal word met “let’s shake hands on it” – dat God die bose sal straf, maar selfs die nageslag van die regverdige daarvan sal verlos. Watter wonderlike belofte!

Spreuke 11:22

Spreuke leer ons dat skoonheid dieper moet gaan as die uiterlike. Skoonheid sonder diskresie is soos ’n goue ring in ’n vark se snoet. Dit pas eenvoudig nie (vgl Spr 11:16).

Spreuke 11:23

Spreuke kontrasteer die begeertes van die regverdige en die verwagting van die goddelose. Die regverdige begeer net die goeie. Die goddelose kan net straf verwag (vgl Spr 10:24,28). Die tweede deel van die vers kan ook so verstaan word dat die goddelose ander gestraf wil sien: “Troublemakers hope to stir up trouble.” (CEV).

Spreuke 11:24-26

Spreuke onderstreep die paradoksale wysheid dat vrygewigheid vir jou self voordeel bring, maar dat suinigheid jou seermaak. ’n Gulhartige persoon geniet oorvloed, en wie ander se dors les, word self gehelp. Die daad baat die doener die meeste. Dit geld selfs in besigheid, want waar iemand koring terughou om die prys op te jaag, word God se hulp in terme van vloek en seën ingeroep.

Spreuke 11:27

Spreuke verwoord die waarheid dat wat jy soek, jou vind. Jy verander in die rigting wat jy jou lewe rig. Dié wat die goeie met hulle volle aandag soek, vind die guns van mense en God. Dié wat die kwade soek, sal vind dat die kwade maar alte gewillig is om gevind te word. Trouens, die kwaad sal die kwaadwilliges inhaal. Soos Kidner sê: “What you seek for others, you will get yourself.”

Spreuke 11:28

Spreuke kontrasteer vertroue op rykdom met vertroue op God. Dié wat op rykdom vertrou, kom tot ’n val. Dié wat op God vertrou – die regverdiges – floreer soos groen blare aan ’n boom.

Spreuke 11:29-31

Spreuke waarsku jou om nie jou familie te verwaarloos of die lewe vir hulle moeilik te maak nie. Dit sal hulle van jou vervreem en jou verhouding met hulle verbreek. Trouens, sulke dwaasheid kan jou alles laat verloor, selfs jou vryheid.

Die vrug van ‘n regverdige se lewe is egter soos ‘n boom wat lewe gee. Dit laat ander ook wysheid begeer. ‘n Gewelddadige lewe daarteenoor vernietig mense (soos die tweede deel van vers 30 ook vertaal kan word).

Moenie dink dat goddeloosheid en sonde nie gestraf sal word nie. Selfs die regverdige kry hier op aarde wat hom toekom. “If good people barely make it, what’s in store for the bad!” (The Message)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar