Skip to main content

Inleiding – ‘n reisverhaal

Numeri vertel die verhaal van Israel se veelbewoë veertig jaar trek deur die woestyn tot by die vlaktes van Moab vanwaar die Intog in Kanaän plaasgevind het.  Die verhale van hulle wel en weë word telkens op betekenisvolle wyse aangevul deur verdere voorskrifte vir hulle reis en die uiteindelike Intog in die land, sowel as met twee sensuslyste wat die militêre, sosiale en geestelike ordes van die volk vaslê.

Die Griekse titel van die boek Arithmoi is afgelei van die Hebreeuse woord Syfers na aanleiding van dié twee sensuslyste.  Die naam Numeri kom van die Latyn daarvoor.  Die Hebreeuse titel van die boek is gepas: “ In die woestyn” (בְּמִדְבַּר).

‘n Reisverhaal

Die boek is saamgestel rondom twee dele van hierdie reisverhaal.

  • Die eerste deel (hfst. 1-14) vertel die verhaal van die trek van die eerste generasie van die volk van Sinai tot by die oostekant van die beloofde land. Dit eindig met die gebrek aan vertroue in God om die land in te neem en is die begin van die gevolglike verdere dekades lange omswerwinge in die woestyn.
  • Die tweede deel (hfst. 15-36) fokus op kwessies van leierskap en priesterskap, met die gepaardgaande voorskrifte, ‘n aantal oorwinnings in die woestyn en eindig met die aankoms van die tweede generasie van die volk in Moab, oos van die Jordaan, gereed om die beloofde land in te neem.

Die eerste generasie verspeel hulle kanse

Die boodskap van die boek is aan die een kant dat die eerste Eksodus generasie hulle kanse verspeel het om die beloofde land in te neem, dat dit hulle daarom ‘n leeftyd in die woestyn gekos het.  Dit sou eers die tweede woestyn generasie wees wat die Intog sou beleef.

Drie verhale onderstreep die omvang van die verspeelde kanse.

  1. Die eerste verhaal is die eerste generasie se onvermoë om die Here te vertrou om die land in te neem (Num. 14). Daarmee word die land vir hulle toegesluit.
  2. Die tweede verhaal is die opstand van Korag, Datan en Abiram teen die geroepe priesterlike leierskap van Moses en Aäron (Num. 16). Daarmee ontbrand die toorn van die Here teen ‘n groot deel van die mense in aansien en wis Hy hulle uit.
  3. Die derde verhaal is die sonde van arrogansie en ongeduld van Moses en Aäron wat die rots slaan vir water eerder as om die Here se voorskrifte te volg (Num. 20). Daardeur  verbeur hulle as geroepe leiers die kans om die land saam met die tweede generasie binne te gaan.

Daar is uiteindelik net twee persone wat uit Egipte weggetrek het wat saam met die tweede generasie die Intog meemaak: Josua en Kaleb.

In ‘n sekere sin help die boek ons dus verstaan hoe ‘n mens nie as volk van God moet optree nie.  Dit is ‘n versameling van “slegte voorbeelde” wat in die NT tereg as ‘n waarskuwing vir die geloofsgemeenskap voorgehou word.  Ek brei daarop uit in ‘n gedeelte oor die gebruik van Numeri in die NT.

Wat dus uitstaan van hierdie reis is die Israeliete se voortdurende klagtes en ongehoorsaamheid.  Dat die tweede generasie dit wel maak om by die land Kanaän aan te kom, het meer met God se beloftes en voorsiening te make, as met die getrouheid en gehoorsaamheid van sy volk.

‘n Mens kan ook in die konflikte met die Edomiete (Num. 20), Moabiete (Num. 21), Amoriete (Num. 21), en Midianiete (Num. 31) die begin van die latere verhale van konflik tussen Israel en hulle omliggende bure raaksien.  Die wrywing tussen hierdie verwante volke kom ‘n lang pad.

God bly getrou aan sy beloftes

Maar van ‘n ander kant gesien, is Numeri ‘n perspektief op die God wat sy doel met hulle deurvoer al beproef die eerste generasie sy geduld tot die uiterste toe.  Hy gee eenvoudig nie bes nie, en bring die volk in Kanaän, in vervulling van sy beloftes, al is dit met die tweede generasie.

Daarmee bewys God dat Hy getrou is aan sy verbondsbeloftes in Genesis aan Abraham, Isak en Jakob.  Sy verbond met die aartsvaders is dus die dryfkrag agter die Uittog uit Egipte én die uiteindelike Intog in Kanaän. Abraham se “saad” sal die beloofde land in besit neem al bars die bottel.

God is die Bevelvoerder en Begeleier

Waar God in Genesis hoofsaaklik as die God van Beloftes geteken is, in Eksodus as die God van Bevryding, in Levitikus as die God van Bevele, word Hy in Numeri as die God van Begeleiding geteken.  Hy gee nie net sy Gees, saam met die fisiese tekens van die wolk, die vuurkolom, die silwertrompette en die engel van die Here wat met hulle saamtrek nie. Hy is ook die Bevelvoerder en Begeleier van die Heilige Oorlog wat vir die Intog in Kanaän geantisipeer word, waarvoor die volk, anders as in Egipte, nou self ingeoefen word in die oorlog.

Daarom word die twee sensuslyste van die twee verskillende generasies (hfst. 1-2 en 26) in die eerste plek aan die hand van hulle militêre geskiktheid saamgestel met die oog op die Intog wat deur geweld sal plaasvind.  Daarna volg die sosiale en geestelike ordes.

Die oorloë word ook in die “Boek van die Oorloë van die Here” neergeskryf (Num. 21:14; vgl. Eks. 17:14).  Daar is ook sprake van “digters” wat in liedvorm die oorloë herdenk het (Num. 21:27).  Dit is benewens die sensuslyste wat Moses moes neerpen (Num. 1:2).

Maar, dié gewelddadige kant van nie net die opdragte aan die volk nie, maar ook van God self wat die volk tot oorwinning oor ander volke aanvoer, kan ‘n mens ongemaklik laat met die prentjie wat dit van God teken.  Ek maak ‘n paar opmerkings daaroor in ‘n gedeelte oor geweld in die OT.

Israel is ‘n priesterlike teokrasie

Dit is ook opmerklik hoe die Tabernakel die sentrum van die volk vorm, beide in terme van die militêre weerbaarheid as in terme van hulle familieverband.  Daarom word die volk baie presies in die regte orde rondom die tabernakel opgestel.  Israel is duidelik ‘n priesterlike teokrasie.  Die priesters gee leiding aan die volk op alle gebiede soos die Here deur sy Gees en sy leier Moses die voortou neem.

Let ook op hoe die primêre fokus steeds, soos in Levitikus, op die regte verhouding met God en met mekaar geplaas word.  Hulle is immers nog steeds by die berg Sinai waar hulle die wet ontvang het, totdat hulle die reis verder neem na Kanaän, soos hoofstuk 10 en verder vertel.

Hierdie perspektief help ons om sin te maak van die boek, want al is baie van die rituele en voorskrifte in hierdie priesterlike teokrasie vir ons vreemd, is dit die sleutel om hulle fundamentele waardes te kan begryp.  Die vasgryp aan hierdie voorskrifte openbaar die diepste vlak van die waardes waarop die geloofsgemeenskap van Israel gebou is.  ‘n Mens sien juis die diepte van hulle oortuigings oor die verhouding tussen God en sy volk, en tussen elke lid van die volk, in die presiese rites en rituele soos dit hier en in die res van die Pentateug vasgepen is, selfs in die twee sensuslyste wat ons in die boek aantref.

Al lees die sensuslyste swaar en al klink die voorskrifte vir ons vreemd op die oor – en dit mag maar vreemd klink, want dit was bedoel vir ‘n ander tyd! – moet ons ook besef dat as ons nie dié dinge van die Israeliete verstaan nie, ons ook nie gaan verstaan wat hulle gemeenskap laat werk het nie.  Dit is dié dinge: “that made their society tick.” (Wenham).  En dit is dié dinge wat as voorbeelde vir ons opgeteken is in die NT sodat ons nie noodwendig die presiese detail daarvan hoef na te kom nie, maar verseker dieselfde graad van gehoorsaamheid en getrouheid in die verhouding met God en sy mense sal handhaaf.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Numeri


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on EENJAAR BYBELLEESPROGRAM 2020Welkom, stuur sommer vir my die aangepaste een ook, asb. Laai dit hier af:Eenjaar Bybellees program 2020
  • Elmarie Allies on EENJAAR BYBELLEESPROGRAM 2020Goeiemore Ons wil graag die Bybel in 1 jaar deurlees. Ek kry dit slegs op pdf. Kan dit asb vir my in wordformaat stuur sodat ek die datums kan aanpas asb. Ons is 'n nuutgestigte gebedsgroep. Baie dankie
  • Chris van Wyk on SpreukeHi Retha, ek kan jou nie self terugsit nie. Jy kan dit hier doen: https://wordpress.com/reader/subscriptions. Kies Bybelskool.com daar.
  • Retha Roux on SpreukeSal graag weer gereeld die Bybelstudie per epos wil ontvang. Groot asseblief. retharoux@telkomsa.net My epos het op stadium probleme gegee en ek kon niks ontvang nie, masr is nou weer herstel. Baie dankie. Retha Roux
  • Chris van Wyk on Psalm 6Hi Japie, uit die konteks van vers 8-9, en 11 in die Psalm lyk dit asof Dawid verwys na verlossing van vyande wat met Absalom se opstand of Saul se vervolging te make kan hê.
  • Japie Martin on Psalm 6Hi Ds Chris: is daar meer inligting rondom vers 10 van die Psalm
  • Chris van Wyk on Genesis – Die oorsprong van alle dingeHi, ek verkies om met die skriftelike bronne te werk wat die geskiedenis beskryf. Die skriftelike bronne van die Sumeriërs beskryf die geskiedenis tot so 3 000 jaar v.C. Die skriftlike bronne van die Jode, dit wat ons as die OT ken, bevat geslagsregisters, wette en verhale wat die vroeëre geskiedeni…
  • Louis Scheun on Genesis – Die oorsprong van alle dingeEk het sopas aangesluit. Wat my nog altyd pla is dat daar byvoorbeeld van inwoners in die Amerikas 10.000 of 20.000 daar aangekom het. Hoe sinkroniseer ons dit met die Bybelse tyd. Baie dankie. Louis Scheun.
  • Chris van Wyk on Inleiding op JakobusJesus en Jakobus is halfbroers deur Maria. Hulle het dieselfde ma, maar nie dieselfde pa nie. Josef was Jakobus se pa. God was Jesus se Vader.
  • Betsy Bester on Inleiding op JakobusHoekom word daar verwys Na Jakobus as Jesus Se halfbroer in die 83 vertaling
  • Chris van Wyk on Hosea 4:1-5:7Juda is op hierdie punt gewaarsku (ongeveer 740 vC), en hulle het veral onder koning Hiskia 'n paar dekades later die Here weer gedien. Maar, uiteindelik het hulleself onder die oordeel gekom weens die wydverspreide sondes van die konings, priesters, en gewone mense, en is in ballingskap weggevoer i…
  • Renier on Hosea 4:1-5:7Goeie more. Verstaan ek reg? Die Juda-lyn was gewaarsku, nie ook veroordeel nie? En wat beteken dit vir ons wat daarna verwek was?
  • Chris van Wyk on Lukas 23Ek stuur.
  • Elma Bosch on Lukas 23Baie dankie, ek doen die bybelstudies saam met u en lees ook die bybel kronologies saam, ek waardeer dit werklik.. Ek stel baie belang in die elektroniese lêer van die 4 Evangelies langs mekaar. Kan u dit asb vir my email na elmab0708@gmail.com
  • Trudie Vorster on Nuusbrief Mei 2025Prys die Here🙏🙏🙏