Jeremia 24
Die ballinge van Juda is goeie vye
Ons kry in hoofstuk 24 die begin van Jeremia se boodskap ook aan die ballinge in ballingskap. Dit beslaan hfst. 24-29. Ons het reeds aandag gegee aan hoofstuk 25 se boodskap rondom die tydperk van sewentig jaar wat die ballingskap sal duur, omdat dit vroeër gedateer is. Ons het ook reeds aandag gegee aan hoofstuk 26 se boodskap by die tempel dat die oordeel onafwendbaar is om dieselfde rede.
Hoofstuk 24 beskryf nou die visioen van die Here aan Jeremia wat in skerp kontras staan met die ander profete wat hulle eie drome as God s’n probeer verkoop het aan die volk. Hy gebruik die mandjie goeie vye as positiewe metafoor vir die ballinge en die slegtes as negatiewe metafoor vir dié wat agterbly in die land.
Dit is in die tyd van Sedekia, Jehoagas se broer en oom van Jojagin (maar omtrent dieselfde ouderdom), wat op 21 jarige ouderdom koning word, die laaste koning van Juda. Sy naam was eintlik Mattanja (2 Kon. 24:17), maar is deur Nebukadnesar verander na Sedekia om die feit van Juda se onderdanigheid te onderstreep.
Hy regeer 11 jaar tot en met die ballingskap in 586 v.C. toe Nebukadnesar finaal vir Jerusalem en Juda in ballingskap weggevoer het. Volgens die oordeel van Kronieke was Sedekia – wat ons eers later gaan lees – ’n slegte koning wat nie net gedoen het wat verkeerd was in die oë van die Here sy God nie, maar spesifiek ook nie geluister het na die profeet Jeremia nie, toe dié op bevel van die Here na hom gestuur is nie.
Teks en konteks
Die bekende gesig van Jeremia oor die twee mandjies vye word kort ná die ballingskap van Jojagin, d.w.s. met die aanvang van Sedekia se regering, ontvang en as ’n oordeelsprofesie téén die regering van Sedekia uitgespel: “Ek sal oorlog, hongersnood en pes onder hulle loslaat totdat hulle uitgeroei is uit die land wat Ek aan hulle en hulle voorvaders gegee het.” Ons lees nie van enige reaksie van koning Sedekia nie wat sy weifelende karakter goed illustreer (vgl. verder in Jer. 37-38).
Die visioen wat die Here vir Jeremia laat sien, is van twee mandjies vye wat as offers na die tempel gebring is. Die kontras is tussen uitsoek (voor)vye wat uitermate goed is en oneetbare vye wat uitermate sleg is. Die Here interpreteer die visioen vir Jeremia dat die ballinge die goeie vye is en dié wat agterbly die slegte vye. Daarmee bedoel Hy dat die ballinge wat saam met Jojagin, die seun van Jojakim, weggevoer is die goeie vye is. En dié wat agtergebly het saam met Sedekia, sy oom, Jojakim se jongste broer, dat hulle die slegte vye is. Die ballinge geniet sy guns. Die agtergeblewenes sy gramskap.
Die betekenis van hierdie openbaring van die Here was regtig gemik op die kern van wat die Joodse volk oor hulleself geglo het. Ballingskap was in terme van die Noordryk se ervaring daarvan in 722 v.C. ’n volslae oordeel. Dié wat agtergebly het, Juda die Suidryk, het God se guns geniet. Tot dusver het hulle ook die boodskap van die ballingskap net as ’n oordeelswoord gehoor, hoewel hulle hulle nie baie daaraan gesteur het nie. Hier kom nou ’n visioen wat hulle verstaan van God en van die betekenis van ballingskap omkeer. Die ballinge word nou beskryf as dié wat God se guns sal geniet. Die agtergeblewenes word daarenteen beskryf as dié wat God se gramskap sal beleef.
Boodskap en betekenis
God se genade selfs IN oordeel staan vir my hier uit. Ballingskap is ‘n uiters ontwrigtende ervaring vir almal wat daardeur geraak word. Dit bring ongekende ontbering en ontworteling en laat ‘n mens ook twyfel aan God se goedheid en voorsiening.
Maar, daar is genade ook in sy oordeel. Dit is wanneer sy oordeel aanvaar word, en die uitdagings steeds met die hoop op God se goedheid en voorsiening aangepak word, wat daar ‘n toekoms gebore word wat uiteindelik ook kan vasgryp aan God se belofte van verandering.
Discover more from Bybelskool
Subscribe to get the latest posts sent to your email.