Kom en volg Hom – ’n 23-week leesplan deur Matteus
Op 10 September 2026 begin my nuwe leesplan op Bybelskool.com: ’n 23-week reis deur die Evangelie van Matteus.
Matteus vertel die verhaal van Jesus op ’n besondere manier. Hy verweef die verhale oor Jesus met Jesus se verkondiging – sy woorde oor die koninkryk van God, dissipelskap en die lewe van sy volgelinge.
Ons lees daarom van Jesus se geboorte en voorbereiding vir sy bediening, sy wonderwerke, roeping van dissipels en konflik met teenstanders; van die Bergrede, die gelykenisse van die koninkryk en sy onderrig aan sy dissipels; van sy bediening in Judea en Jerusalem; en uiteindelik van sy lyding, kruisdood, opstanding en die Groot Opdrag.
Matteus se vyf groot toesprake van Jesus vorm telkens ’n belangrike deel van hierdie verhaal:
- Matteus 5–7: Die Bergrede – die geregtigheid van die koninkryk
- Matteus 10: Onderrig aan die dissipels – die koninkryk het naby gekom
- Matteus 13: Gelykenisse van die koninkryk
- Matteus 18: Verhoudinge in die koninkryk
- Matteus 23–25: Die koms van die koninkryk
Matteus merk hierdie toesprake telkens af met ’n afsluitende sin, soos: “Toe Jesus klaar gepraat het…” (Matt. 7:28) en “Nadat Jesus oor al hierdie dinge klaar gepraat het…” (Matt. 26:1).
Hierdie verwewing van verhaal en verkondiging is belangrik. Matteus wil ons nie net help om in Jesus te glo op grond van wat Hy gesê het nie, maar om Hom na te volg in alles wat Hy gedoen het.
Dit is immers presies wat Matteus self gedoen het.
23 weke – 162 perikope
Ek het die Evangelie van Matteus in 162 perikope opgedeel. Ons lees elke dag een perikoop en beweeg so oor 23 weke deur die hele Evangelie.
Die volledige Bybelteks uit die Afrikaanse Standaard Vertaling (ASV) is by elke leesgedeelte ingesluit. Jy kan dus primêr op die Bybelteks fokus en my kommentaar slegs as ’n leeshulp gebruik.
My kommentaar wys op dinge wat my self getref het in my besig wees met Matteus – dinge in die teks, die konteks en die betekenis daarvan vir ons lewe.
Maar daar is iets wat vir my belangriker is:
Wat jy self gaan lees, luister en leef, is belangriker as wat ek skryf.
Kom reis saam deur Matteus. Lees stadig. Luister aandagtig. En laat Jesus se woorde en voorbeeld jou telkens weer roep:
Kom en volg Hom.
Ontvang die leesplan
As jy die bydraes elke week in jou Inbox wil ontvang, kan jy hier inskryf:
As jy dit eerder per WhatsApp wil ontvang, kan jy hier aansluit:
Sluit by die WhatsApp-leesplan aan
Die reis begin 10 September 2026.
Kom en volg Hom.
Vorige bydraes
View all posts in this series
- Kom en volg Hom – ’n 23-week leesplan deur Matteus - August 27, 2026
- Inleiding - September 10, 2026
- Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17 - September 11, 2026
- ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25 - September 12, 2026
- Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12 - September 13, 2026
- Josef-hulle vlug van Betlehem na Egipte - September 14, 2026
- Herodes die Grote pleeg kindermoord - September 15, 2026
- Die Engel van die Here praat in ‘n droom met Josef om terug te keer na Israel - September 16, 2026
- Josef word gewaarsku in ‘n droom om nie in Judea nie, maar in Galilea in Nasaret te gaan woon - September 17, 2026
- Johannes die Doper preek in die woestyn van Judea en kondig die doop van bekering aan - September 18, 2026

Onlangse kommentaar