Skip to main content

Psalm 58

Daar is tóg ’n God wat reg laat geskied in die land

Steeds op die wysie van “Moenie verwoes nie”, spreek Dawid die wydverspreide probleem van ’n korrupte regstelsel aan. Dit sluit dus mooi aan by die boodskap van beide 1 Samuel 24 en Psalm 57.  Dawid vra van God in Psalm 58 om optrede sodat: “Die mense sal sê: “Daar ís beloning vir die regverdige, daar ís ‘n God wat reg laat geskied in die land.” (vers 12). Die goddelose regters se mag, invloed, nalatenskap en lewe moet verwoes word, sodat die regverdiges bevestig kan word in hulle lewenskeuse en, belangrik, God weer kan raaksien.

Teks en konteks

Die Psalm val natuurliker wys in vier dele uiteen:

  1. ’n Beoordeling van die onbillike uitsprake van die regters – vers 2-3.

Hulle mislei hulleself deur te dink dat hulle regverdig is. Hulle optrede is gewelddadig en korrup en is duidelik uit die manier wat hulle lewe.

  1. ’n Beskrywing van die oorsprong van hulle slegte, verkeerde en bedrieglike pad – vers 4-6.

Let op hoe hulle in karakter as giftige slange en adders beskrywe word wat doof is vir of hulle doof hou vir die stem van die slangbesweerder, hoe vernuftig hy ook mag wees.

  1. ’n Beroep op God om hulle mag, invloed, nalatenskap en lewe te vernietig – vers 7-10.

Met treffende metafore beskryf Dawid die tipe aksies wat Hy van God verlang. Telkens is daar in elke vers ’n dubbele metafoor wat ’n aspek van die goddeloses se invloedsfeer aanspreek wat Dawid vra dat God moet vernietig – hulle mag, hulle invloed, hulle nalatenskap en hulle lewe:

  • Mag God hulle mag verbreek – vers 7:
    • soos ’n brutale tandarts hulle tande uit hulle monde te ruk, sodat hulle “pap mond” nie meer skade kan aanrig nie;
    • soos ’n vreesaanjaende leeutemmer hierdie “leeu-mense” se slagtande uit te slaan sodat hulle niemand meer kan verskeur nie;
  • Mag God hulle invloed laat verdwyn – vers 8:
    • soos water wat wegsyfer;
    • soos droë gras wat fyngetrap word;
  • Mag God hulle nalatenskap vernietig – vers 9:
    • sodat ’n mens hulle nalatenskap kan sien vir wat dit is: as net maar die slym wat wegraak as die slak verby is;
    • sodat hulle nalatenskap uitgewis kan word: dat dit is soos misgeboortes wat geen lewe of invloed meer het nie en slegs weggegooi word;
  • Mag God hulle lewe beëindig – vers 10:
    • deur hulle uit te roei soos onkruid;
    • deur hulle in die fleur van hulle lewe te verskroei en weg te waai soos in ’n gloeiende wind.
  1. ’n Beskrywing van die impak wat dit op die lewenskeuse en Godsbelewenis van regverdiges sal hê – vers 11-12.

Op grusame wyse word die blydskap van die regverdige wyse beskryf as vergelding gebeur en die bloed van die goddelose oor sy voete loop. Hoewel ons dié beskrywing nie meer só sal gebruik in ons gebede nie, bly die punt van vers 12 steeds geldig: wanneer regverdigheid seëvier, bevestig dit regverdiges in hulle lewenskeuse en NB word hulle Godsbewussyn versterk: “Daar is tóg ’n God wat reg op die aarde laat geskied!”

Vers 12 is die spits van die gebed wat ons rondom onreg moet bid:

  1. “Daar ís beloning vir die regverdige” – om te bid dat regverdiges bevestig sal word in hulle lewenskeuse – om nie self te bedrieg nie, om nie self geweld as opsie te kies nie, en om billik te wees in alle sake tussen mense, om rekening te hou met God in alles;
  2. “Daar ís ‘n God wat reg laat geskied in die land” – om te bid dat regverdiges se Godsbewussyn versterk moet word deur hulle ervaring dat daar tóg ’n God is wat reg op die aarde laat geskied.

Dít is wat ons kan en moet bid oral waar ons met onreg te make het.

Boodskap en betekenis

Soos reeds by Psalm 57 opgemerk is, hierdie tipe sentimente “gee woorde aan ons woede”. Let ook op dat dit teenoor God uitgespreek word. Vir Sy optrede word gevra.

“When bitterness and pain are poured out to God, the way may be cleared for a fresh vision of reality and new trust in God. These psalms help to purify us of feelings of rage, and also of dereliction and abandonment.” (Tate, Word Biblical Commentary : Psalms 51-100)

In die NT word hierdie verwagting meer genuanseerd uitgespreek, maar die beroep op ’n God wat reg laat geskied, is steeds deel van ons geloofswêreld, soos steeds grafies in ’n boek soos Openbaring uitgespreek word.

‘n Paar verdere opmerkings oor wraak in die OT:

  1. Soos Tate (Word Biblical Commentary) sê: “In the appropriation of this language into the life of faith it is well to begin with a framework of understanding rather than with an apology in the sense of an effort to explain away the disturbing elements.” Ons moet eerder probeer verstaan as verdedig. Die Psalms bevat eerlike taal wat werklike emosies uitdruk en glad nie probeer om die woede en afgryse weg te steek nie. Die Psalms gee hiermee vir ons: “freedom of expression to those raw edges in our life that do not easily submit to the religious conviction we profess on good days” (Brueggemann, The Message of the Psalms).
  2. Die waarde van die Psalms vir ons geestelike gesondheid is dat dié woede wat ons ervaar nie verberg hoef te word nie, maar teenoor God uitgespreek kan word waarmee ook vir Sy optrede gevra kan word. Dit sluit in dat in NT sin ons Jesus kan navolg in vyandsliefde en vergifnis, terwyl ons steeds op God se regverdigheid kan staatmaak wat sal sorg dat daar reg op die aarde en ook teenoor ons sal geskied. Weer Tate (Word Biblical Commentary) “When bitterness and pain are poured out to God, the way may be cleared for a fresh vision of reality and new trust in God. These psalms help to purify us of feelings of rage, and also of dereliction and abandonment. They lead toward a catharsis of faith and a renewal of the soul. They also help us to realize that there is no place or condition of life where God is not.” Wraak en vergelding is iets wat volledig by God berus, soos ons in Romeine 12 ook gereflekteer sien.
  3. Die woedende worstelende woorde van die Psalms moet ons ook roer tot identifisering met mense wat aan onreg en geweld blootgestel is, sodat ons nie net hulle lot voor God sal bring nie, maar ook as God se verteenwoordigers betrokke sal raak in die verlossing wat nodig is vir dié wat uitgelewer is aan die magtiges van hierdie wêreld.
  4. Nog dieper, dié Psalms moet ons ook oortuig van ons eie skuld, want ons is baie keer self onbillik en onregverdig, al is dit nie op só ’n groot skaal of met dieselfde afgryslike impak as wat mense in groter magsposisies kan uitoefen nie. Ons is baie keer ook sélf die vyand en dié Psalms moet ons help om voor God te gaan staan en te vra dat die impak van ons lewens gesuiwer word van eie belang en geweld. Daar is ook ’n voor-Christus houding by ons in sekere lewensituasies wat om bekering vra, soos John Bright geskryf het (The Authority of the Old Testament).
  5. Die vyande is natuurlik uiteindelik ook nie net die menslike agente nie, maar die bose magte soos Efesiërs daaroor skryf. Oral waar hulle egter ontmasker word in die houdings en optrede van werklike mense en gekies word om daarteenoor in geloof, liefde en hoop te lewe (1 Tes 5:8) en te kies om self die waarheid te praat, op God se vryspraak te vertrou en nie op eie vermoëns nie, bereid is om die evangelie van vrede te bly verkondig en ons vertroue op God in alle lewensituasies uit te leef, die Woord van die Here op alle maniere te leef en te gebruik en dit alles in ’n lewe van gebed te doen, dáárin lê die oorwinning oor die vyande opgesluit, dáár kom die koninkryk van God (Ef. 6:14-20).
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar