Skip to main content

Deuteronomium 4:1-43

Moet niks byvoeg of wegvat van God se wet nie; gehoorsaam Hom

Teks en konteks

Moses kom in hoofstuk 4 by die punt wat hy met hierdie herinneringe wil maak in sy eerste preek. Hy wil helder die boodskap onderstreep dat hulle na die Here moet luister in beide die wyse waarop God Homself aan hulle geopenbaar het in hulle eie lewe en geskiedenis tot hier, sowel as in die wet, voorskrifte en bepalings wat Moses die afgelope paar dekades aan hulle deurgegee het.

Die hoofstuk is in wese ‘n “preek binne ‘n preek”, soos ‘n mens uit die inhoud agterkom. Moses fokus op die sleutelbelang van die wet sowel as die verbond in hulle luister na God. Dit is in die gehoorsaamheid aan God se voorskrifte (Deut. 4:1-8), hulle nougesette lewe in die verbondsverhouding met God (Deut. 4:9-20) in onverdeelde trou aan Hom wat God se beloftes van seën en beskerming in ontvangs geneem sal word (Deut. 4:21-40).

Moses sal dit alles weer saamvat vir hulle in die herhaling van die Tien Gebooie in hoofstuk 5 waarmee hy sy tweede preek sal inlui. Die Tien Gebooie en die voorskrifte wat daarmee saamhang, sal ook verder tot by hoofstuk 11 uitgelê word. En meer spesifieke bepalings sal in die tweede helfte van daardie preek aan die orde kom word van hoofstuk 12 tot 26.

1. Julle moet luister dan sal julle bly lewe en die land in besit neem – Deuteronomium 4:1-8

Moses begin deur die voorskrifte en die bepalings te beklemtoon waarin hy hulle onderrig het. Dit is dié dinge wat hy hulle geleer het wat hulle lewe moet bepaal. As hulle dit die uitgangspunt maak van hulle lewe, as hulle nougeset daarvolgens sal lewe, dan sal hulle nie net die lewe met God geniet nie, maar sy beloftes in besit kan neem, in dié geval die land wat die Here, die God van hulle voorvaders, vir hulle sal gee.

Let op dat Moses helder is daaroor dat hulle niks mag byvoeg of wegvat daarvan nie, want dít is die geïnspireerde woorde van God self. Geen wonder dat Jesus later in sy Bergrede by hierdie woorde van Moses aansluit en self beklemtoon dat die wet van krag bly soos dit in sy lewe helderder geïnterpreteer is (Matt. 5-7).

Dié voorskrif geld uiteindelik ook die hele OT en NT wat die wil van God helder en genoegsaam aan ons bring, sodat Jesus aan die einde van sy Openbaring aan Johannes sê: “Ek betuig aan almal wat die woorde van hierdie profetiese boek hoor: As iemand iets hieraan byvoeg, sal God vir hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is; en as iemand een van die woorde van hierdie profetiese boek wegneem, sal God sy deel aan die boom van die lewe en aan die heilige stad wegneem waarvan in hierdie boek geskrywe is.” (Openb. 22:18-19).

Moses onderstreep dit verder deur die gebeure by Baäl-Peor in herinnering te roep waar die Here almal verdelg het wat geval het vir die afgodery en onsedelikheid waartoe die leer van Bileam hulle verlei het. Dit was net die lojaliteit en moed van Pinehas wat ‘n groter ramp afgeweer het. Lees meer daaroor in my bydrae by bybelskool.com: Numeri 25 – Pinehas se passie vir God stop die plaag as straf vir afgodery en onsedelikheid.

Die doel daarmee is natuurlik nie net om God se beloftes in besit te neem nie, maar om die wysheid en insig daarvan sowel as die billikheid daarvan aan die nasies te demonstreer. Dit sluit in dat dié God hulle gebede verhoor!

2. Wees versigtig om niks van God se openbaring te vergeet of te verontagsaam nie – Deuteronomium 4:9-20

Dit is egter nie net die dinge wat in die wet geskryf is wat hulle in gedagte moet hou en gehoorsaam nie. Dit is ook die dinge wat hulle gesien het, dié dinge waarin God Homself aan hulle geopenbaar het. Dit mag hulle nie vergeet of verontagsaam nie, so lank as hulle leef nie.

Die opdrag was veral belangrik in die lig van die feit dat die ander godsdienste afgodsbeelde gehad het. Israel se God het Homself egter in die geskiedenis en deur sy woorde aan hulle geopenbaar. Daarom moet hulle let op die oorvertel daarvan waarin dit ook veral die oordrag van geslag tot geslag was waarop gefokus moes word: “Julle moet dit alles vir julle kinders en julle kleinkinders inskerp.

Die groot verhale van Sinai (Horeb) moet lewend gehou word vir hulle kinders deur nie net die woorde nie, maar ook die gebeure lewendig in herinnering te roep. Die verbeeldingryke woord sou hulle godsdiens en geloof stempel, nie afbeeldings van skepsels nie, maak nie saak of dit van voorwerpe op die aarde of in die hemel gemaak is nie. Hulle moenie die gebruike van die ander volke hier rondom volg nie.

3. Wees versigtig om nie die verbond te vergeet nie – Deuteronomium 4:21-40

Moses herinner hulle weer aan die feit dat hy die land nie binne kan gaan nie, omdat hy nie na die Here geluister het nie. Hulle moenie in dieselfde strik trap deur in hulle gehoorsaamheid te verslap nie. Hulle moet versigtig wees om nie die verbond wat die Here met hulle gesluit het, te vergeet nie, veral nie deur Hom met ’n afgodsbeeld meer sigbaar te probeer maak nie. Die Here het hulle dit verbied. God kan nie beperk word deur enige voorstelling van Hom nie.

Die Here eis onverdeelde trou aan Hom. Ongehoorsaamheid sal hulle ondergang beteken as hulle Hom tart met afgodsbeelde. Hulle sal verstrooi word oor die aarde. Moses roep die hemel en die aarde tot getuie teen hulle om die waarheid hiervan te onderstreep. Hulle sal beslis uitgeroei word as hulle gode dien wat deur mense gemaak is: “hout en klip wat nie kan sien of hoor, eet of ruik nie”.

Onverdeelde trou lei tot die verhoring van gebede as hulle in die nood sou kom in die land. Selfs as hulle dislojaal was en in die nood kom, sal die Here hulle verhoor as hulle: “terugkom na die Here hulle God, en sy woord gehoorsaam”. God se genade sal hulle deurdra. Hy sal hulle nie in die steek laat of om die lewe bring as hulle die verbond met Hom sal nakom nie.

Die feit dat God sy woorde aan hulle toevertrou het, het hulle ‘n unieke volk gemaak. Die feit dat Hy hulle van Egipte gaan afvat het met wonders en tekens, het sy almag onderstreep. Dit bewys dat Hy God is en niemand anders nie. Sy liefde vir hulle voorouers het Hy in die konkrete geskiedenis van die Uittog ten toon gestel: “om nasies, groter en sterker as julle, voor julle uit te verdryf en om julle in hulle land in te bring en dit aan julle te gee as julle besitting.” En die redakteur voeg daarby dat dit nou nog so is.

Moses sluit sy preek af deur dit weer te onderstreep: “Weet dan nou en neem dit ter harte: die Here is God. In die hemel daarbo en op die aarde hieronder is daar nie nog ’n god nie. Gehoorsaam sy voorskrifte en sy gebooie … sodat dit goed kan gaan met julle en julle nageslag en julle lank kan woon in die land wat die Here julle God vir altyd aan julle wil gee.

Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse kry drie asielstede – Deuteronomium 4:41-43

Die laaste drie verse van hierdie gedeelte is tegnies nie deel van Moses se eerste preek nie, maar ‘n reëling wat hy tref rondom asielstede vir die gebied wat hulle nou sou agterlaat, die stamgebied van Ruben, Gad en die halwe stam van Manasse. Dit was stede waarheen iemand kon vlug as hy ’n ander doodgemaak het sonder voorbedagte rade en sonder dat daar voorheen vyandskap tussen hulle was. As hy na een van hierdie stede toe vlug, sou hy kon bly lewe (vgl. Num. 35:9-14). Die Leviete kry ook stede en weiveld. Moses sal ook weer terugkom hierop in Deuteronomium 19:1-13.

Boodskap en betekenis

Aan die een kant wil ek jou herinner aan die Hebreërskrywer wat ons in hoofstuk 12 op dieselfde wyse as hier in Deuteronomium 4:24 waarsku dat ons God ‘n verterende vuur is, ‘n boodskap wat steeds in die NT van krag bly en in die OT begrond word (Deut. 4:24; Hebr. 12:29). Iets wat ons gerus kan onthou in ‘n tyd waarin die ontsag vir God getaan het.

Aan die ander kant wil ek jou uitnooi om juis in ontsag vir hierdie God tot Hom tot nader in gebed. Die Jode het in hulle drie vaste gebedstye deur die dag – soos ons bv by Daniël sien (Dan 6:11) – die vers uit Deuteronomium 4:39 telkens as afsluiting van die drie gebede – die oggendgebed (Shacharit), die middaggebed (Mincha – vgl Petrus en Johannes wat vir hierdie gebedstyd tempel toe is, soos ons in Handelinge 3 lees) en die aandgebed (Maariv) – gebruik. Lees meer by my bydrae oor drie vaste gebedstye.

Gebruik daarom Deuteronomium 4:39 as ‘n belangrike deel van jou gebede, hetsy as ‘n element daarvan, of as ‘n afsluiting daarvan: “Daarom moet jy vandag weet en ter harte neem dat die Here God is, bo in die hemel en onder op die aarde; daar is geen ander nie.”

  • Wat is die kern van die boodskap van dié hoofstuk vir jou dag en lewe – insigte, beloftes, of opdragte?
  • Besluit hoe jy daarop gaan reageer. Sê dit vir die Here in gebed.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…