Skip to main content

Daniël 11-12

God hou wag oor sy kinders deur die verdrukking tot aan die einde toe

Ons sluit vandag die leeswerk in Daniël af met die inhoud van die Boek van die Waarheid wat ’n sekere man vir Daniël gegee het. Dit beslaan 2 hoofstukke van intriges en stryd waarvan sommige aspekte maklik geïdentifiseer kan word en ander moeiliker. Dit is steeds 536 vC, al verwys die man eers terug na die eerste regeringsjaar van Darius, die koning wat bemoedig en beskerm is, waarskynlik om sy voorneme om die Godsvolk na hulle land toe terug te laat keer, uit te voer.

Omdat die gebeure waaroor Daniël hier berig ooreenkom met dié van hoofstuk 9, kan hoofstuk 11-12 as ’n verdere verduideliking gesien word van wat in die tydperk van die sewentig sewes gaan gebeur. Om dit makliker te maak om die draad van die storielyn te volg, kan ’n mens die inhoud soos volg opsom (op voetspoor van James Smith se Old Testament Survey Series: The Major Prophets):

  • Die afloop van die Persiese ryk – Daniël 11:2
  • Die opkoms van die Griekse ryk – Daniël 11:3-4
  • Die stryd tussen die Ptolemeërs en Seleukiede ryke – Daniël 11:5-20
  • Die opkoms van Antiochus – Daniël 11:21-24
  • Die Egiptiese veldtogte – Daniël 11:25-30a
  • Die vervolging van die Jode – Daniël 11:30b-35
  • Die arrogante koning – Daniël 11:36-39
  • Die einde van die koning – Daniël 11:40-45
  • Die groot verdrukking – Daniël 12:1
  • Die groot ontwaking – Daniël 12:2-4
  • Die vernietiging van die mag van die gewyde volk – Daniël 12:5-7
  • Die onderskeid tussen die goddeloses en verstandiges – Daniël 12:8-12

Teks en konteks

Die afloop van die Persiese ryk – Daniël 11:2

Vier van die konings van die Persiese ryk wat mekaar opvolg word hier genoem: Darius (Cambyses), Smerdis, Darius die Grote, en Ahasveros (Xerxes – die man van Ester – 486-465 vC) waarvan ons weet dat hy ’n mislukte veldtog teen die Grieke onderneem het wat die tafel gedek het vir die uiteindelike oorheersing van die Grieke.

Die opkoms van die Griekse ryk – Daniël 11:3-4

Dit is waarskynlik dat hier na Alexander die Grote se ryk verwys word (334-323 vC), wie se koninkryk uiteindelik in vier (volgens die vier windstreke) opgedeel is. Cassandra het in Masedonië regeer, Lysimachus in Klein-Asië. Seleukus in Sirië en Ptolemeus in Egipte.

Die stryd tussen die Ptolemeërs en Seleukiede ryke – Daniël 11:5-20

Laasgenoemde twee koninkryke – die Ptolemeërs suid van Israel, en die Seleukiede noord – se stryd word nou in redelike detail beskryf, veral omdat hulle die lewe in Israel omvattend beïnvloed het. Daar is vier “pare” konings wie se stryd beskryf word:

  • Ptolemeus Soter van Egipte versus Seleukus van Sirië wat mekaar eintlik onderling ondersteun het tot Seleukus se voordeel.
  • Ptolemeus Philadelphus versus Antiochus II Theos wat probeer het om hulle stryd met ’n huwelik van Philadelphus se dogter Bernice (“’n besondere meisie”) met Antiochus by te lê. Antiochus het egter sy vrou na net 2 jaar gelos. Hy is egter kort daarna deur sy nuwe vrou vermoor en Bernice is ook doodgemaak.
  • Ptolemeus III Euergetes versus Seleukus II Callunicus wat Bernice se moordenaars uitgewis het, maar ’n soort ewewig in mag gehandhaaf het.
  • Ptolemeus V Epiphanes versus Antiochus III waarin Antiochus die hef in die hand gekry het, maar toe oorwin is deur die Romeine en sy seun in Rome gevange gehou het, die latere Antiochus IV Epiphanes.

Die opkoms van Antiochus – Daniël 11:21-24

Die veragtelike persoon in die teks is niemand anders nie as Antiochus IV Epiphanes (175-163 vC), dié een wat onder andere vir Onias III, die priester-leier van die volk, vermoor het.

Die Egiptiese veldtogte – Daniël 11:25-30a

Antiochus IV het Egipte in 170 vC ingeval en Ptolemeus VI oorwin en op sy terugtog het hy die tempel gestroop. In 168 vC het hy weer Egipte binnegeval, maar met geen sukses nie, en hy moes terugkeer na Sirië.

Die vervolging van die Jode – Daniël 11:30b-35

Die Jode moes daarom sy toorn en frustrasie verduur wat tot die afskaffing van die offerkultus gelei het, soos volledig in die boeke van die Makkabeërs beskryf is. Dit “bietjie hulp” van vers 35 verwys waarskynlik na Judas Makkabeus, die Joodse priester, wat in opstand gekom het en die Jode bevry het.

Die arrogante koning – Daniël 11:36-39

Sommige geleerdes dink dat dié gedeelte steeds van Antiochus IV Epiphanes praat, ander dat dit moontlik op Herodes die Grote dui en nog ander dat dit op die Antichris dui. Dit kan wees dat hier ‘n dubbele betekenis is; dat aan die een kant daar steeds van Antiochus of Herodes gepraat word, maar aan die ander kant hulle as ‘n simbool van die Antichris gebruik word wat dus op die eindtyd slaan, ‘n tyd wat nog moet aanbreek.

Die einde van die koning – Daniël 11:40-45

Al wat ons verseker kan sê, is dat hier iemand na vore kom wat met alle geweld teen God en sy volk optree en gelukkig uiteindelik aan sy einde kom.

Die groot verdrukking – Daniël 12:1

In daardie tyd sal Migael, die groot engel wat oor die Gods volk waghou, op die toneel verskyn, want dit sal ’n swaar tyd wees. Almal wat egter in die boek (van die waarheid) opgeskryf is, sal gered word.

Die groot ontwaking – Daniël 12:2-4

Twee goed sal in dié tyd gebeur: 1) sommige dooies sal opstaan (vgl. wat met Jesus se kruisiging gebeur het met ’n aantal gelowiges wat opgewek en uit hulle grafte gegaan het – Matt. 27:51-53), 2) die verstandige leiers sal eer ontvang deurdat hulle baie mense op die regte pad gelei het.

Die vernietiging van die mag van die gewyde volk – Daniël 12:5-7

Daniël sien twee verdere persone by die Tigris wat vra hoe lank hierdie onbegryplike gebeurtenisse sal aanhou. Die antwoord kom van die man van hoofstuk 11 wat sê: ”’n Tyd, tye en ’n halwe tyd,” d.w.s. drie en ’n halfjaar, wat moontlik dui op die eindtyd wat genadiglik net ‘n beperkte tyd sal duur.

Die onderskeid tussen die goddeloses en verstandiges – Daniël 12:8-12

Alhoewel Daniël egter nie die verduideliking mooi verstaan nie, wil die man die sluier nie verder lig op die toekoms nie, behalwe vir die mededeling dat daar ’n al hoe groter onderskeid sal kom tussen die goddeloses en die verstandiges. Dit laat ’n mens dink aan Openbaring waar dieselfde gedagtes gebruik word vir die eindtyd (Openb 22:12 – “Wie kwaad doen, moet voortgaan om kwaad te doen en wie vuil is, moet vuil bly; maar wie doen wat reg is, moet voortgaan om reg te doen en wie heilig is, moet heilig bly.”).

Tog gee hy nog ’n aanduiding van die tydsduur van dié verdrukking, hoewel dit eintlik net sin maak op simboliese vlak – 1290 dae (3 en ’n halfjaar) – waarna gewaarsku word om nog ’n klein rukkie verder uit te hou – nog 45 dae (altesaam 1335 dae) – totdat die gevaar heeltemal verby is.

Jesus haal dié deel in Daniël aan in sy profetiese rede en raai die gelowiges aan om te vlug wanneer dit gebeur, want dit sal bitter swaar wees (Matt. 24:15). Vir Jesus dui dit onteenseglik op die eindtyd wanneer die uitverkorenes vir sy koninkryk ingesamel sal word.

Boodskap en betekenis

Soos die man vir Darius bemoedig en beskerm het en Migael oor die Gods volk die wag gehou het, só kan ons uit die gedeelte die hoop skep dat God self oor ons die wag sal hou en ons sal red tot die ewige lewe, al loop ons pad deur groot verdrukking.

Ons roeping is daarom ook om soos die verstandige leiers alles in die stryd te werp om baie mense op die regte pad te lei, sodat hulle dié vreugde van God se guns en seën saam met ons kan ervaar. Al verstaan ons nie alles wat hier gesê word nie.

Mag dié boodskap jou ook onderskraag en ondersteun!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…