Skip to main content

Handelinge 13

God stuur Saulus en Barnabas na die wêreld

Ons fokus vervolgens op die gebeure van die vierde fase van die uitbreiding van die evangelie oor grense heen. Waar die evangelie:

  1. aanvanklik Jerusalem stormenderhand verower het – 1:1-6:7,
  2. versprei het na Judea en Samaria, hoewel net na Jode en Samaritane (dieselfde voorvaders) toe – 6:8-9:31,
  3. oor die Joodse grense gebars het na heidene in die breër Judese gebied – 9:32-12:24,
  4. stuur die Heilige Gees die leiers van die kerk nou na Asië (Turkye) toe – 12:25-16:5, waarna
  5. Europa – 16:6-19:20 en
  6. Rome aan die beurt sou kom – 19:21-28:30.

Die wêreld is al meer in die visier van die Gees en die kerk.

Saulus-hulle se eerste sendingreis duur ongeveer van 47-49 n.C. Saulus vertrek vanuit Antiogië in Sirië saam met Barnabas en Johannes Markus en verkondig die evangelie in Ciprus en die suid-sentrale dele van Klein-Asië (moderne Turkye).

Teks en konteks

God stuur Paulus en Barnabas op hulle eerste sendingreis uit die gemeente in Antiogië– Handelinge 13:1-3

’n Belangrike wending gebeur reg aan die begin van hierdie vierde fase, met Antiogië wat die sentrum van hierdie nuwe ontwikkeling word, steeds natuurlik in ’n noue verband met die gemeente in Jerusalem, wat steeds ook ingetrek word wanneer belangrike beleidsbesluite geneem moet word (hfst. 15).

’n Verdere ontwikkeling is dat waar Barnabas aanvanklik die toon aangee in hierdie evangeliese uitreik, Paulus (Saulus is die Hebreeuse weergawe van sy naam, en Paulus die Italiaans-Romeinse weergawe) al hoe sterker op die voorgrond tree en aan die einde van hierdie fase die primêre leier word wat die evangelie na Europa en Rome neem.

Die hoofstuk begin met die verwysing na Johannes Markus wat waarskynlik so aangegryp was deur Petrus se verlossing en die beantwoording van hulle gebede, dat hy, ietwat voortvarend, saam is op die terugreis na Antiogië. Hy sou egter nie lank by hierdie voorneme hou nie en verlaat die evangelie-reisgeselskap in Asië (Turkye), hoewel Barnabas hom wel later sou begelei tot versoening met Paulus en die volvoering van sy roeping as evangelieskrywer.

Let op dat die samestelling van die leierskap in Antiogië multi-kultureel is wat waarskynlik een van die primêre redes vir hulle effektiewe uitreik na ander volkere toe was.

Let veral op na die feit dat hierdie 5 leiers saam as leiers besig was in gebed om die Here te dien en te vas, en dat dit die ruimte skep waarin die Here hulle, en sy kerk, verder kan inspan in die koms van die koninkryk in hierdie wêreld.

Die woord leitourgeō (waarvan ons woord liturgie afgelei is) word gebruik om hulle “diens” te beskryf en kan beter met aanbid (worship) vertaal word. In die OT is die woord vir die priesterlike diens in die kultus gebruik, dws alles wat in die tabernakel-tempel gebeur het om die volk met God in kontak te bring (wat natuurlik veral die offers ingesluit het). In die sinagoge is die woord leitourgeō vir die bediening van die Woord en die gebede gebruik, wat ’n groot impak gehad het op die kerk se ontwikkeling van die Christelike erediens (liturgie).

Maar omdat dit net die 5 leiers is wat hier bymekaar is, beskryf Lukas waarskynlik hier hulle gemeenskap in gebed en hulle aanbidding van God namens en ter wille van die gemeente. Terloops, in Hebreërs word die woord in sy OT betekenis gebruik en onder andere op die soenoffer van Jesus van toepassing gemaak – kyk bv Hebr 8:6.

En dit is juis dan wat die Heilige Gees vir Barnabas en Saulus roep uit die geledere van die leiers om deur die gemeente uitgestuur te word om die verdere werk wat Hy vir hulle het, te gaan doen.

Let ook op die gebede (saam met vas) van die gemeente wat daarmee nie net van die Here bevestiging ontvang nie, maar ook hulle seën op die werk van die leiers kan plaas.

Paulus-hulle verkondig die evangelie in Siprus: Salamis en Pafos – Handelinge 13:4-12

Saulus se eerste reis neem hom na ‘n hele paar plekke, ongeveer 2 000 km te voet, ongeveer in die jare 47-49 n.C.

Lukas vertel vir ons hier die storie van ten minste sewe gemeente wat in die proses gestig is (Handelinge 13 vertel van die eerste vier, en Handelinge 14 van die laaste drie).

Saulus begin sy reis in Antiogië in antieke Sirië – vandag Antakya, Hatay Provinsie, Turkye – naby die mond van die Orontes rivier so 12 km van die grens tussen Turkye en Sirië.

Hulle reis na Seleukië aan die kus in antieke Sirië – vandag Çevlik in dieselfde Turkse provinsie. So 25 km van Antiogië af. En vaar na Siprus, so 160 km per boot.

Dit is natuurlik die streek waar Barnabas gebore is! Hy was ‘n Leviet wat reg aan die begin van die ontstaan van die Christelike kerk tot bekering gekom het. Die dissipels het in sy suster, Maria, se huis bymekaar gekom. Barnabas het grond besit in Siprus, grond wat hy verkoop het om die armes in Jerusalem te help (Hand. 4:36).

Die eerste plek wat Saulus-hulle bedien is Salamis op die eiland Siprus – naby Famagusta vandag. Hulle vestig ‘n patroon deur eerste van alles na die Joodse sinagoge te gaan en die woord van God daar aan die Jode te bring.

Ons hoor nie van enige reaksie – goed of sleg – in Salamis nie, maar lees dat Saulus-hulle Siprus deurkruis het tot in Pafos. Uiteraard het hulle langs die pad die evangelie verder verkondig, want dit is so ‘n 160 km te voet.

By die stad Pafos – vandag Kouklia – is daar egter groot reaksie. Die goewerneur Sergius Paulus, ’n verstandige man, laat Barnabas en Saulus roep en versoek om die woord van God te hoor.

Onmiddellik is daar egter ook teenstand, want ‘n towenaar, Elimas, wat die goewerneur wou keer om te glo, staan Saulus – dit is Paulus, sê Lukas, want van hierdie punt af gebruik Lukas sy Latynse naam – hom teë.

Die teenstand van Elimas (ook genoem Bar-Jesus, wat ironies genoeg, “Seun van Jesus” beteken!) kom ooreen met Simon die towenaar wat die evangelie vir eie gewin probeer inspan het in Samaria (Hand 8:9-24).

Paulus tree egter sterk op die voorgrond en bestraf die Bose wat tot ’n deurbraak vir die evangelie in die politieke sfeer in die persoon van die goewerneur lei.

Die wonder is dus dat hierdie teenstand nie hierdie goewerneur gekeer het nie: “Toe die goewerneur dan sien wat daar gebeur het, was hy verslae oor die leer van die Here en het geglo.”

Dit is hoe die evangelie werk. God stuur iemand om die woord van God te bring. Die woord roer die hart van ‘n soekende mens. En die verandering kom diep binne in hulle hart. Hulle glo en raak ‘n volgeling van die Here Jesus Christus, die Een wat deur sy Gees die agent van verandering in hierdie wêreld is.

Dit kan ook nie anders dat die pad waarop die Here hulle lei deur erge teëstand van die Bose ontmoet word nie,

Paulus-hulle verkondig die evangelie in Turkye: Perge en Antiogië – Handelinge 13:13-52

Daarna vaar Paulus-hulle die 280 km per boot na Pamfilië in Klein-Asië en bedien in Perge, ‘n dorpie so ‘n entjie van die kus af – vandag ’n ruïne in Antalya, Turkye.

Dit is natuurlik in die omgewing waar Saulus gebore is! Hy het wel sy opleiding in Jerusalem aan die voete van Gamaliël gekry, maar sy wortels het gelê in Tarsus – ‘n stad wat vandag deel van ‘n groot metropool in Turkye is, met drie miljoen inwoners. Te voet so 230 km van Antiogië in Sirië. Maar hulle het gekies om nie daardie roete te volg nie. Paulus sou dit wel volg met sy volgende reise saam met Silas en Timoteus.

Lukas vertel nie vir ons van enige reaksie in Perge nie.

Paulus-hulle reis die 160 km deur die Touros berge noord waar ‘n groot deurbraak vir die evangelie by die mense van Antiogië in Pisidië – naby Yalvaç vandag – plaasvind.

Paulus begin weereens in die Joodse sinagoge. Na die voorlesing van die wet en die profete kom hy aan die woord en verkondig op grond van die boodskap van die OT vir Jesus as die Verlosser wat God nie net vir Jode gestuur het nie, maar ook vir die godvresendes uit die heidene wat daar saam met die Jode in die erediens was.

In hierdie Joodse konteks kontrasteer Paulus ook die verlossing deur die wet met die verlossing deur Christus en lewer ’n sterk appèl dat hulle God nie moet verag nie, iets waarop hy later in sy brief aan die Romeine sal terugkom en breër uitbou.

Let op hoe dit beide die Woord van God (die OT Skrifte) en die woord van God (die prediking deur die apostels) is wat geloof bewerk by die gehoor. God se Woord en ons woorde werk saam om die koninkryk te laat kom.

Die woorde het hulle harte geroer en regdeur daardie week het Paulus en Barnabas met die mense van Antiogië gesels oor die evangelie en die vryheid wat Jesus bring deur die vergifnis van sonde.

Die volgende Sabbatdag gaan Paulus verder om die Woord van God te verkondig. Hy begrond dit in hulle eie verhale – die verhale van die Uittog uit Egipte, die tyd van die Rigters, die tyd van die profete en konings, met Dawid die een uit wie die Messias gebore is. Hy haal talle kere uit die Skrifte aan wat hulle so goed ken (Ps. 2:7, Jes. 55:3, Ps. 16:10 en Hab. 1:5).

Dan maak Paulus ‘n sterk appèl op hulle om die woord van God in geloof te ontvang, sodat die vergifnis wat Jesus gebring het ook hulle lewe kan verander.

Dit bring egter weereens groot teenstand, hierdie keer nie net van een mens, ‘n towenaar soos in Siprus nie, maar hierdie keer van ‘n hele aantal van die Joodse leiers. In plaas daarvan om bly te wees dat daar soveel mense in die sinagoge bymekaar gekom het om die woord van die Here te hoor, word hulle met afguns vervul en begin hulle Paulus onderbreek in sy verwoording van die evangelie en tree baie beledigend op.

Dit bring ‘n wending in Paulus-hulle bediening. Die verwerping het hulle oortuig om nou na die mense toe te gaan wat nie Jode is nie, en die evangelie aan hulle te verkondig: “want so lui die Here se opdrag aan ons: Ek het U gegee as ’n lig vir die nasies, sodat U verlossing kan bring tot in die uithoeke van die aarde.” (Jes. 49:6)

Die keersy van hierdie teenstand is dat dieselfde woorde soos salf in die ore van die heidene was wat na hom geluister het. Ons lees: “Toe die heidene dit hoor, was hulle baie bly oor die woord van die Here en het hulle dit toegejuig. Almal wat vir die ewige lewe bestem was, het gelowig geword. Die woord van die Here het dwarsdeur die hele streek versprei.” (Hand. 13:48-49)

Lukas se perspektief hierop is dat aan die een kant die Jode se teëstand duidelik uitwys dat hulle die ewige lewe nie werd is nie (hulle spreek ’n oordeel oor hulleself uit!), met aan die ander kant die geloof wat onder die heidene posvat ’n bewys van God se verkiesing wat nie meer grense ken nie. God se werk word sigbaar in die keuses wat mense maak.

Daarmee word as’t ware ’n historiese blik, en nie ’n dogmatiese een nie, gegee op ’n tergende teologiese probleem, naamlik hoekom Israel, die Godsvolk, die evangelie teëstaan, en die heidene dit aanvaar. Later sou Paulus verder ook dogmaties hieroor reflekteer in die brief aan die Romeine (Rom. 9–11).

Iets wat ’n mens maklik mis in die huidige Afrikaanse vertaling, is dat Lukas van die gelowiges as dissipels praat. In vers 52 word eintlik van die “dissipels in Antiogië” gepraat (en nie van die “gelowiges in Antiogië” nie) waarmee Lukas onomwonde uitwys dat die verkondiging van die evangelie op dissipelmaking uitloop (Matt 28:19) en dat geloof in Jesus in dissipelskap tot sy reg kom.

Boodskap en betekenis

Wat ons uit hierdie verhale leer, veral die verhaal van Antiochië in Pamfilië, is die volgende:

  • Aan die een kant wys die Jode se teëstand duidelik uit dat hulle die ewige lewe nie werd is nie (hulle spreek ’n oordeel oor hulleself uit!).
  • Aan die ander kant wys die geloof wat onder die heidene posvat dat geloof ‘n gevolg is van God se verkiesing. God se werk word sigbaar in die geloof al dan nie van alle mense.

Verandering kom in die harte van diegene wat God van altyd af gekies het om positief op die boodskap van Jesus te reageer. En op hulle beurt raak hulle dissipels, draers van die boodskap van verandering wat regdeur hierdie wêreld moet gaan.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar