Skip to main content

Genesis 45

Josef omhels sy broers en verklaar dat alles God se werk was

Teks en konteks

Die broers se eerlike ontbloting van hulle skuld aan die verlede roer Josef só diep dat hy dit nie meer kan regkry om homself te bedwing nie. Hy stuur alle diensknegte weg en bars uit in trane in sy eie selfontbloting aan hulle: “Ek is Josef. Leef Pa werklik nog?

Hy sien egter hulle vrees en laat hulle nader kom om self te kan agterkom dat dit werklik hy, Josef, is. Die opgekropte spanning in Josef borrel oor in ‘n stortvloed van woorde waarin hy soveel as moontlik probeer inprop van alles wat die afgelope twee dekades sedert hulle hom verkoop het, gebeur het. Hy brei ook uit, met amper te veel detail, van wat hy voorsien vir die toekoms.

Josef beklemtoon tussen die baie detail oor die hongersnood en sy planne vir die toekoms twee baie belangrike goed.

1. Die eerste klem is dat hulle nie moet sleg voel of bang wees omdat hulle hom verkoop het nie, want dit was alles deel van God se planne vir hulle almal. Hy gaan sover as om te sê: “Dis nie júlle wat my hierheen gestuur het nie, maar God.” Vier keer beklemtoon hy God se werk in die gebeure tot dusver: “God het my voor julle uit gestuur om lewens te red.

Dat hulle hom verkoop het, is so. Maar, dié slegte bedoelings het in God se planne ‘n goeie uitkoms gehad. Die hele familie het daarby baat gevind deurdat hulle nou in Egipte aan die lewe gehou sou kon word sodat: “baie aan die dood sal ontkom.

Waar Juda se offer in die vorige hoofstuk Messiaanse trekke gehad het, is dié verklaring van Josef eweneens ‘n aanduiding van wat die Here Jesus met sy kruisdood jare later sou vermag, ‘n ewige toekoms verseker waardeur baie aan die ewige dood sal kan ontkom.

Watter ongelooflike geestelike insig. Dit gee ‘n mens ‘n nuwe perspektief op wat Paulus in Romeine 8 skryf oor God se planne met ons in Christus Jesus. Nie net kan ons saam met hom bly wees oor die feit dat God alles ten goede laat meewerk nie: “Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.” (Rom. 8:28).

Ons kan in die lig van die Josefverhaal met groter waardering die boodskap van die volgende vers ook aangryp: “Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is.” (Rom. 8:29). Soos Josef sy broers as ”eerste” vooruitgegaan het, sodat “baie broers” uiteindelik nie net aan die lewe gehou kon word deur die kos in Egipte nie, maar in die proses ook geestelike volwasse kon word, só het Jesus dit ook vir ons gedoen.

Ons is ook besig om te groei om soos Jesus te word. En Hy doen dit op ‘n besondere wyse deur presies die onontwykbare lyding waaraan ons in hierdie lewe blootgestel word. Sommige daarvan verdiend, soos dit die geval was met Juda en sy broers. Sommige daarvan onverdiend, soos dit die geval was met Josef.

Dat alles ten goede meewerk, dra dus nie net die boodskap dat alles aan die einde uitwerk nie, maar dat ons in die proses die tipe mense word wat God van ons wil maak. Lyding – verdiend en onverdiend – is die smeltkroes van geestelike groei.

Wat ons daaruit moet leer, is dat sonder lyding min van waarde ooit in ons eie lewe tot stand kom. En daarmee saam, dat ons moet toelaat dat dié geestelike proses in ander se lewe sy loop neem. Ons moet ander nie te gou afskryf, omdat hulle nie op dieselfde plek in hulle geestelike lewe as ons is nie.

2. Die tweede klem is op die gemeenskap van die familie wat herstel moet word. Soos Juda dit in die toespraak in hoofstuk 44 gedoen het, só fokus Josef op sy pa Jakob en verwys dertien keer na hom. Hy kan nie ‘n sekonde langer wag dat sy pa na hom in Egipte toe moet kom sodat hy vir hom kan sorg in die laaste deel van sy lewe nie. Hy wil hulle almal as familie rondom sy pa verenig: “Dan is Pa naby my: Pa en Pa se seuns en kleinseuns, die kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. Ek sal vir Pa daar onderhou … So sal Pa nie verarm nie: Pa en Pa se familie en almal by Pa … Maak gou en bring vir Pa hierheen.

Met dié het Josef sy broers omhels en hulle kon hulle harte skoon huil. Toe eers het die broers tot verhaal gekom en self begin om met Josef te praat en hulleself te vergewis dat hulle nie droom nie. Die nagmerrie van die verlede het nou ‘n beter toekoms gebring as wat hulle self sou kon droom.

Die wedersiens het die broers nie net met mekaar versoen nie, maar ook tot ‘n groot welwillendheid aanleiding gegee sodat hulle deur die farao met groot gasvryheid ontvang is en ‘n vrugbare deel van Egipte in die Nyldelta aangebied is.

Let op hoe Josef hulle egter telkens gerus stel dat die verlede regtig agter hom lê: “Moenie langs die pad bang word en begin twyfel nie.” Die sleg van die verlede was regtig sleg, maar Josef kon die doel wat God daarmee gehad het, omarm, en daarom sy broers omhels en vergewe, veral ná die belydenis van Juda wat hom oortuig het dat hulle verander het.

Jakob se hart het gaan stilstaan toe die nuus aan hom oorgedra is – hy was stomgeslaan – maar hy het hulle aanvanklik nie geglo tot die nuus deur die werklikheid van die waens bevestig is nie. Sy reaksie is roerend. Hy het hom met sy seuns se reis na Egipte op die barmhartigheid van die Here beroep dat Benjamin behoue sou terugkeer, maar nou het hy sy verlore seun, Josef, op die koop toe teruggekry. God se barmhartigheid was meer as oorvloedig: “Ek verlang niks meer nie. My seun Josef leef, en ek wil hom net sien voor ek sterf.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda