Skip to main content

2 Kronieke 36:22-23; Esra 1

God beweeg Kores en die volk om na Juda terug te keer

Ons sluit die leeswerk in die tweede deel van Kronieke af met die gedeelte in 2 Kronieke 36:22-23 en Esra 1 wat die terugkeer van die volk van Juda na Jerusalem beskryf in 539 vC.

Voordat ons na Esra 1-4 ook die boek van Daniël afsluit met sy laaste visioen in hoofstuk 10-12 (536 vC), eers ‘n bietjie agtergrond oor die boeke Esra en Nehemia.

Inleiding

Die boeke Esra en Nehemia handel oor die tyd van die eerste terugkeer na die land Juda in 539 vC in die tyd van die Persiese koning Kores (vgl. die profesie in Jes. 45:1) tot by die bou van die mure van Jerusalem in die tyd van koning Artaxerxes (444 v.C. – Hebreeus Artasasta).

Die boek Esra

Die boek Esra fokus in die eerste ses hoofstukke op die verhaal van die terugkeer van die volk van Juda tot by die voltooiing en inwyding van die tempel in 515 vC in die tyd van koning Darius (seun van Hystaspes, wat Cambyses, seun van Kores opgevolg het) onder leiding van Serubbabel, een van Dawid se afstammelinge wat as goewerneur opgetree het.

Daar is ook ‘n gedeelte in hoofstuk 4 ingevoeg (vers 6-23) wat uit ’n later tyd kom.  Dit is daar geplaas as getuienis van ’n soortgelyke teenstand van nie-Israelitiese inwoners in die tyd van Nehemia, hoewel dit eers ongeveer 80 jaar later gebeur het. Ons sal dit later lees om by die kronologie te hou.

Die laaste vier hoofstukke van die boek Esra fokus dan op die aankoms en bediening van die geleerde priester Esra – gebaseer op die memoires van Esra self soos die 1ste persoon styl aantoon – waarin veral gefokus word op die poging om die volk weer aan die wetboek en die wil van God te verbind.  Dit vind plaas in die tyd van koning Artaxerxes (Artasasta in Hebreeus), ongeveer in 458 vC (Esra 7:7).  Daar is dus ’n gaping van ongeveer 80 jaar tussen hfst. 1-6 en hfst. 7-10.  Nehemia kom op die toneel so 14 jaar later, soos ons in die boek Nehemia lees, veral om die mure van Jerusalem te herbou.

Interessant is ook om te let op die gebruik van Aramees, die wêreldtaal van daardie tyd, vir gedeeltes in Esra – hfste. 4:8-6:12 en 7:12-26 – waarskynlik omdat dit amptelike korrespondensie was.  Die res is in Hebreeus geskrywe.

Esra lig saam met die boek van Nehemia die werk van vier leiers ná die ballingskap uit wat drie groot bewegings aan die gang gesit het:

  • Serubbabel (Sesbassar) en Jesua wat die verhouding met God herstel deur die bou van die tempel en die herstel van die liturgiese omgang met God;
  • Esra wat fokus op die regte en reflekterende lees van die Bybel sodat dit die hele lewe kan deursuur;
  • Nehemia wat op die herstel van die mure van Jerusalem fokus sodat die geloofsgemeenskap kan gedy in ‘n veilige ruimte waarin lewe kan floreer.

Dit gee vir ons prentjies van hoe ons met God kan saamwerk in ons eie tyd wat uiters inspirerend is, veral omdat dit duidelik is in die twee boeke dat God se soewereiniteit selfs sy invloed op heidense konings insluit.

Dié boodskap word verder ondersteun deur die drie profete, Haggai, Sagaria in hierdie tyd en later Maleagi, wie se profesieë direk met hierdie opbou tydvak te make het. Ons sal hulle boodskap ook kronologies aan die orde bring.

Teks en konteks

Dit bly ’n wonderlike werklikheid van die geskiedenis dat Kores, die koning van Persië, met ’n hele ander strategie begin werk in sy koninkryk wat tot groot vrede in sy gebied gelei het.  Hy het die voortou geneem om alle volkere toe te laat om nie net hulle eie kultuur en godsdiens te beoefen nie, maar dit ook in hulle eie land te doen.  Daarmee het hy ’n tradisie van respek vir ander kulture en godsdienste ingevoer wat tot groot voordeel van onder andere die Jode was.

Terselfdertyd het hy verseker dat hulle sy koningskap met respek sou bejeën uit dankbaarheid vir die lewensruimte wat hy vir almal gegun het.  Lees meer uit Kores se eie opsomming van sy aksies in die sogenaamde Kores Silinder wat in die 19de eeu in Irak opgegrawe is.

Dat dié manier van doen reeds jare tevore deur die profeet Jesaja (Jes 45:1) voorspel is en die tydperk wanneer dit sou gebeur deur die profeet Jeremia voorspel is (Jer 25:12), maak dié ontwikkeling dubbeld so spesiaal vir ons as Christene.

Nie dat Esra (en die laaste deel van 2 Kronieke) baie maak van dié feit nie.  Ons lees net terloops dat die belofte vervul is wat die Here by monde van Jeremia uitgespreek het dat die Here koning Kores van Persië laat besluit het om dwarsoor sy ryk ‘n proklamasie vir hulle terugkeer te laat afkondig. Dit vind plaas in sy 1ste regeringsjaar in 539 vC.

Hoewel dit dus ’n wonderwerk is, word dit meer as ’n stille getuienis van wat agter die skerms gebeur, weergegee, as in ’n jubelende verheerliking van God se werk in die geskiedenis.  Dieselfde werkswyse word gevolg in die mededelings oor God se werk in die lewe van koning Artaxerxes wat Esra en Nehemia se bedieninge radikaal beïnvloed het (Esra 7:27; Neh 2:6).

Die skriftelike proklamasie maak gewag van die feit dat Kores in opdrag van die Here – die God van die hemel – optree, omdat Hy al die koninkryke van die aarde aan Kores gegee het.  Dit gaan verder oor die meer spesifieke opdrag om vir God ‘n tempel in Jerusalem in Juda te bou wat dan insluit dat enigiemand van die Jode kan gaan help om die tempel te bou vir die Here die God van Israel.

In ’n optrede wat herinner aan die eerste Uittog uit Egipte (vgl. Eks. 11 – die Egiptenare moes goud en silwer as voorsiening vir hulle Uittog aan die Jode verskaf), word die Jode deur hulle bure van middele voorsien vir hulle terugreis sowel as vir die bou van die tempel. Koning Kores het ook die goed laat haal wat in die huis van die Here was en wat Nebukadnesar uit Jerusalem weggevat en in die tempel van sy god gesit het.

Die verskil in getalle – 2 499 voorwerpe in vers 9-10 en 4 500 in vers 11 – kan moontlik verklaar word deurdat vers 9-10 die belangrikste voorwerpe noem, en vers 11 die groottotaal, of dat vers 9-10 die voorwerpe lys wat Nebukadnesar weggevoer het, en dat vers 11 dan die groottotaal noem wat die Joodse gawe in vers 4 en 6 insluit.

Die eerste mense wat op hierdie vrygewige aanbod gereageer het, was die familiehoofde van Juda en Benjamin, asook die priesters en die Leviete, presies die geslagte wat so prominent in die eerste 9 hoofstukke van 1 Kronieke gelys word.

Interessant genoeg word ook dié reaksie aan God se stille werking gewyt: “elkeen in wie God die voorneme gegee het, het toe klaargemaak om die huis van die Here in Jerusalem te gaan bou.”

Sesbassar (vgl. ook 5:14-16), die hoof (prins) van die stam van Juda, neem die leiding in die terugkeer van ’n kleinerige groep mense.  Sommige geleerdes dink dat hy dieselfde persoon as Serubbabel is (vgl. Esra 2:2; 3:8; 4:2; 5:2 asook Haggai 1:1) wat ook soos Daniël en sy drie vriende Hebreeuse en Babiloniese name gehad het. Dit kan ook wees dat die een ander opgevolg het.

Boodskap en betekenis

Die betekenis van hierdie gedeelte kan nie oorskat word nie. ‘n Mens sien hier die vervulling van God se beloftes van terugkeer in die profesieë van veral die drie groot profete, Jesaja, Jeremia en Esegiël. ‘n Mens sien hier ook die verhoring van die gebed van Daniël wat nog steeds aktief was in Babilon.

Die werk van God agter die skerms in die harte van mense – selfs heidense konings soos Kores – het ‘n direkte uitwerking in die lot van sy mense. Hy kan vertrou word dat Hy sy beloftes waar maak en dat Hy reageer op gebed.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar