Skip to main content

Drie vaste gebedstye vir elke dag

Ons lees in Handelinge 3 dat Petrus en Johannes tempel toe is vir die gebedstyd. Dit was die gebedstyd om 15:00 die middag (die negende uur van sonop af), een van die drie vaste daaglikse gebedstye van die Jode.

Die Here gebruik dié dag hierdie gebedstyd op twee besondere maniere. Op pad daarheen lei Hy hulle eerstens om ’n verlamde man in sy Naam te genees. Dit word tweedens ’n kragtige getuienis aan die volk by die tempel waarop nog 2 000 mense tot bekering gekom het. Die tempel was nie verniet die huis van gebed genoem nie (2 Kron 6:19-21; Jes 56:7; Mark 11:17; Matt 21:13; Luk 19:46)! Die getal Christene is só deur die Here aangevul tot 5 000 gelowiges (Hand 4:4).

Dit is ook waarskynlik onder andere hierdie vaste gebedstye wat as een van die vier vernaamste geloofsgewoontes van die vroeë Christene genoem word. Lukas skryf dat hulle gefokus het op die gebede saam met die leer van die apostels, die onderlinge verbondenheid, en die gemeenskaplike maaltyd (Hand 2:42). Die gebede het hierdie vaste gebedstye ingesluit.

Regdeur Handelinge lees ons daarom dat die vroeë kerk in gebed volhard het (Hand 1:14; 2:42; 3:1; 4:23-31; 6:4,6; 9:11; 10:4,9,31; 12:12; 13:3; 14:23; 16:25; 20:36; 21:5; 28:8). Dit was ’n lewensbelangrike verbintenis aan God, mekaar en hulle roeping in hierdie wêreld.

Benewens die vaste gebedstye was daar natuurlik ook vaste Bybelse gebede wat hulle gebruik het:

  • Uit die Skrifte het hulle byvoorbeeld die Psalms gebid en gesing (Mark 14:26; Matt 26:30 [Een van die Hallel Psalms, Ps 113–118]; Kol 3:16).
  • Uit Jesus se onderrig het hulle die Ons Vader as modelgebed gebruik (Matt 6:5-15; Luk 11:1-13).
  • Uit Paulus se briewe kon hulle vier van die lewensveranderende gebede gebruik wat Hy vir en namens hulle gebid het (Ef 1:17-19; 3:14-21; Fil 1:9-10; Kol 1:9-12).

Daar was natuurlik ook spontane gebede soos ons op talle plekke lees (bv Hand 4:23-31).

Al hierdie tipe gebede het dus Bybelsgesproke hulle plek in die Christelike lewe. Soos Paulus ons aanraai: “Doen dit alles biddend en smeek God by elke geleentheid deur die Gees. Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges.” (Ef 6:18).

Beproef drie vaste gebedstye

Ek wil jou dus aanmoedig om die idee van vaste gebedstye te beproef. Vir dié wat op reis is met die geloofsgewoontes is dié ‘n bonus!

Ek gee hier my eie drie voorbeelde daarvan met die volledige Bybelteks wat jy kan gebruik. Jy kan dit in hierdie bydrae op jou selfoon lees of die pdf aflaai om uit te druk.

Laai dit hier af in pdf formaat: Drie vaste gebedstye.pdf

Die Jode het drie gebedstye gehad, soos ons in Daniël se lewe geïllustreer sien. Hy het drie maal per dag voor God gekniel en Hom geprys, aanbid en gedank (Dan 6:11). In die Joodse tradisie is daar mettertyd ’n uitgebreide aantal voorskrifte vir dié gebede ontwikkel wat vandag nog nagevolg word.

Jy kan egter jou vaste gebedstye inrig soos jy wil. Die voorbeelde wat ek hieronder gee, is my eie riglyne, met ’n paar raakpunte met van die Joodse gebedsriglyne, veral in terme van die Bybeltekste wat gebruik word.

Ek stel voor dat jy jou Bybel oophou soos jy van die een gedeelte na die ander blaai om dit in jou gebede te gebruik. Jy kan die gedeelte net so lees en as ’n gebed vir die Here gee. Of jy kan elke frase of vers lees en dan in ’n spontane gebed omskakel in jou eie woorde. Só kan jy die hele Psalm of gedeelte deurbid.

Dit sal jou ook interesseer dat die drie vaste gebedstye tradisioneel verbind is aan die aartsvaders: die oggendgebed aan Abraham, die middaggebed aan Isak en die aandgebed aan Jakob. Dit kan jou verbeelding stimuleer in jou eie vaste gebedstye.

Die oggendgebed (Shacharit)

Dit word met Abraham verbind waar hy die oggend vroeg opgestaan en na die plek toe gegaan het waar hy die vorige dag in die teenwoordigheid van die Here gestaan het in sy voorbidding vir Sodom en Gomorra (Gen 18). Toe Abraham die oggend in die rigting van Sodom en Gomorra en van die hele vlaktestreek kyk, sien hy oor die hele wêreld rook optrek asof dit ’n steenoond is. Maar die wonder is, dat hy toe kon sien dat die Here aan hom en sy gebede gedink het en vir Lot laat wegkom uit die plek waar die verwoesting plaasgevind het. (Gen 19:27-30).

Jy kan dié tyd só inrig (dit sal ongeveer ’n halfuur duur):

  1. Loof die Here vir sy wese en sy werke. Bid een van die Hallel Psalms: Psalm 113-118.
  2. Dank die Here vir sy sorg. Bid Psalm 136 in jou eie woorde. Jy kan dit in vyf dele opdeel as dit te lank is. Eerste dag: vers 1-9 (skepping). Tweede dag: vers 10-15 (verlossing). Derde dag: vers 16-22 (oorwinning). Vierde en vyfde dag: vers 23-26 (voorsiening).
  3. Aanbid die Here vir wie Hy is. Bid Deuteronomium 6:4-6 in jou eie woorde.
  4. Bely jou skuld voor die Here. Bid Psalm 51:11-15 in jou eie woorde.
  5. Doen voorbidding. Gebruik beloftes van die Here in jou gesprek met Hom oor dít wat die Here op jou hart lê, bv Lukas 11:9-13. Skryf dit neer in ’n joernaal sodat jy die antwoorde kan byvoeg soos dit gebeur.
  6. Bid om God se seën. Bid Numeri 6:24-26 in jou eie woorde.
  7. Sluit af met die belydenis dat die Here alleen God is: “Die Here is God. In die hemel daarbo en op die aarde hieronder is daar nie nog ’n god nie.” (Deut 4:39).

Die middaggebed (Mincha)

Dit word met Isak verbind waar hy laatmiddag in die veld gaan stap het om te “peins” (in Hebreeus śûaḥ), soos dit in die OAV weergegee word. Sommige vertaal die Hebreeuse woord met “gebed”. Terwyl hy dan nadink en met die Here in gesprek is, kom Rebekka hom tegemoet van waar Abraham se slaaf haar gaan haal het. Hy het met haar getrou en haar liefgehad, sê die skrywer, die eerste persoon in die Bybel waarvan ons dit só pertinent lees (Gen 24:62-67).

Dit is ’n korter gebedstyd. Jy kan die tyd só inrig:

  1. Loof die Here vir sy wese en sy werke. Bid een van die Hallel Psalms, Psalms 113-118.
  2. Loof die Here vir sy grootheid en goedheid. Bid Psalm 145 in jou eie woorde.
  3. Aanbid die Here vir wie Hy is. Bid Deuteronomium 6:4-6 in jou eie woorde.
  4. Sluit af met die belydenis dat die Here alleen God is: “Die Here is God. In die hemel daarbo en op die aarde hieronder is daar nie nog ’n god nie.” (Deut 4:39).

Die aandgebed (Maariv)

Dit word met Jakob verbind toe hy van Berseba af weg is na Haran toe om van sy broer Esau af weg te kom ná sy bedrog om die seën van sy pa te verkry. Teen sononder, sê die skrywer, het Jakob by ’n plek gekom waar hy kon oornag. Hy het daar ’n klip vir ’n kopkussing gebruik en gaan lê en slaap. Dit is dan ook die plek waar hy in ’n droom ’n leer gesien het met die engele van God wat op en af daarmee klim. Hy ontmoet dié nag die Here wat aan hom ’n aantal beloftes gee wat sy lewe hierna radikaal sou verander (Gen 28:10-22).

Dit is ’n vryer gebedstyd waarin jy nadink oor die dag en die Here loof vir sy sorg en seën, terwyl jy ook vir genade vra vir dié dinge wat verkeerd geloop het. Jy kan die tyd só inrig. Ná jou nadenke:

  1. Loof die Here vir sy wese en sy werke. Bid een van die Hallel Psalms: Psalms 113-118.
  2. Bid vir die Here se bystand en beskerming. Bid Psalm 121 in jou eie woorde. Jy kan ook Psalm 27 as alternatief gebruik. Die Ons Vader sal ook goed hier pas (Matt 6).
  3. Aanbid die Here vir wie Hy is. Bid Deuteronomium 6:4-6 in jou eie woorde.
  4. Sluit af met die belydenis dat die Here alleen God is: “Die Here is God. In die hemel daarbo en op die aarde hieronder is daar nie nog ’n god nie.” (Deut 4:39).

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.