Skip to main content

Esra 4:1-5, 24

Die volk van die land bied sterk weerstand teen die bou van die tempel

Esra 4 bou voort op die gebeure van die vorige hoofstuk deur te fokus op die teenstand wat die teruggekeerde Jode van hulle “vyande” en die “volk van die land” ervaar het. Esra vertel eintlik van gebeure wat in drie tydvakke gebeur het.

  • In vers 1-5 beskryf hy die teenstand teen die bou van die tempel vanaf die terugkeer onder Kores (538 vC).
  • In vers 6 beskryf hy die teenstand teen die bou van die mure van Jerusalem tydens die regering van Ahasveros (Xerxes – 486-465 vC).
  • In vers 7-23 beskryf hy dieselfde teenstand tydens die regering van Artasasta, sy seun (Artaxerxes – 465-424 vC).
  • In vers 24 keer Esra dan weer terug na die teenstand in die tyd van Kores wat geduur het tot sy seun, Darius, die troon bestyg het (522-486 vC), en in wie se tyd die tempel uiteindelik ten spyte van die teenstand voltooi is (vgl Esra 5:1-2; 6:13-15; Haggai 1-2; Sag 1:1-17; 4:9).

Ons lees vers 1-5 en 24 vandag en dan later vers 6-23 wat as ‘n parenteses (“tussen hakies”) funksioneer.

Teks en konteks

Dat die nie-Israelitiese inwoners (letterlik: “die volk van die land”) hier as vyande beskryf word – ’n mens kan hulle na alle waarskynlikheid die Samaritane noem – hou verband met die beskrywing in hfst. 3:3 van die Jode se vrees vir die ander bevolkingsgroepe in die land.

’n Mens moet onthou dat die Jode nou na die ballingskap weer hulle intrek geneem het in hulle eie huise en woonplekke, maar dat dié plekke amper ’n eeu laas bewoon was. Dat daar dus konflik was met die huidige inwoners van die land, selfs oor die Jode se eie eiendom, was dus onvermydelik.

Dit val op dat die aanbod van die mense van die land om saam met die Jode te bou aan die tempel baie afwysend hanteer word. Let op dat die Jode praat van ons God waarmee hulle die aanspraak van die mense van die land dat hulle dieselfde God aanbid, afwys.

Die argument van die Samaritane dat hulle offers aan dié God gebring het van die tyd van die Assiriese koning Esarhaddon af (681-669 vC) as motivering om nou saam met die Israeliete te aanbid, maak ook nie hond haaraf by die leiers van die Jode nie.

Daarmee bevestig die volk van die land ironies genoeg dat hulle hulleself as ’n aparte volk beskou, want hulle het nie dieselfde toenadering gesoek by die Jode in die rofweg 100 jaar, toe gesamentlike aanbidding nog moontlik was, voor die Babiloniese ballingskap aangebreek het nie. Waarom dan nou?

2 Konings 17:24-41 brei uit oor dié Samaritaanse geskiedenis waarin die Assiriese koning Esarhaddon verskillende volke in die stede van Samaria – die voormalige noordryk – gevestig het in die plek van die Israeliete wat in die eerste ballingskap van 722 vC weggevoer is in die tyd van sy voorganger Salmaneser.

Dit het tot gemengde huwelike gelei, sowel as ’n dien van afgode, hoewel daar ook pogings was om “die regte verering van die God van die land te leer.” Selfs van die priesters het teruggekom uit ballingskap om die mense in Bet-El te leer hoe hulle die Here moet vereer. Volgens Konings was dié pogings egter vrugteloos omdat elke nasie nog maar sy eie afgodsbeelde gemaak en dit gaan neersit het in die tempels op die hoogtes wat deur die mense van Samaria gebou is.

Hoe dit ook al sy, hierdie weiering tot samewerking deur die Jode met hulle terugkeer uit ballingskap bring ’n groot verwydering en ’n groeiende vyandskap met die Samaritane wat lei daartoe dat die volk van die land die bouwerk met intimidasie en omkopery in die wiele wou ry.

Die konflik het twee dekades lank aangehou van die tyd van koning Kores af (539 vC) tot met die tyd van koning Darius (522 vC).

En dit sou nog twee keer tydens die regerings van Ahasveros en Artasasta opvlam, totdat Esra self op die toneel sou kom met die terugkeer in die middel van die 5de eeu vC en daar ‘n wending onder hom en Nehemia gekom het.

Wat ons hieruit leer, is dat daar tog wel pogings was om die mure te herbou, voordat Nehemia op die toneel verskyn het, maar dat dit nie geslaagd was nie. Eers in 444 v.C. sou Nehemia by koning Artasasta verlof kry om die mure te gaan herbou, hoewel hy steeds deeglik rekening moes hou met die vyandskap van die nie-Israelitiese inwoners van die land.

Boodskap en betekenis

Op ’n geestelike vlak leer ons hieruit dat geen opdrag van die Here ooit uitgevoer kan word sonder dat daar nie ook teenstand sal wees nie. Dié teenstand kan baie vorms aanneem en selfs uitmergelend lank die werk vir en van die Here kortwiek en selfs tot stilstand bring.

’n Mens moet ook in die proses baie seker maak met wie jy hande vat in die werk van die Here en nie net mense aanvaar op onvaste gronde nie. Geduld, gehoorsaamheid en onderskeiding ten spyte van gevaar en bedreiging – selfs van oënskynlik gewillige vennote – is dan nodig om te volhard en te wag op die uitkoms wat die Here sal bring.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar