Skip to main content

Efesiërs 3

God vervul ons met krag, geloof, liefde, insig, ervaring en sy volheid

In hoofstuk 2 het ons drie van Paulus se vier gevolgtrekkings oor die kerk gelees, wat voortvloei uit die baie belangrike stelling oor die kerk in hoofstuk 1:22-23: dat God Jesus oor alles in hemel en aarde aangestel het, en dat die kerk sy liggaam is: “die volheid van Hom wat alles in almal vervul”.

Ons lees vandag die vierde gevolgtrekking: “Alle mense kan deel word van die Godsvolk deur Christus Jesus” in Efesiërs 3:1-13, waarna ons een van die mooiste gebede in die Bybel – Efesiërs 3:14-21 – sal lees, waarin Paulus vra dat die hele gemeenskap van gelowiges heeltemal vervul sal word met die volheid van God, as ‘n getuienis aan alle mense dat hulle in Christus Jesus vrede met God kan geniet.

Teks en konteks

Alle mense kan deel word van die Godsvolk deur Christus Jesus – Efesiërs 3:1-13

Let op dat Paulus die gelowiges uit die heidene nie net bemoedig van vers 2 af nie, maar dit in ‘n konteks van ‘n gebed doen: “Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie…”.  Dit is vanuit sy perspektief op wie God is en wat Hy doen, dat Hy die boodskap van insluiting bring.  Hy wil hulle dus aanmoedig om nie te luister na mense wat moontlik ‘n ander boodskap aan hulle bring, dat hulle tweedehandse burgers van die koninkryk, of nog erger, steeds buite die koninkryk is nie.

Die geheimenis wat aan Paulus openbaar is, is die goeie boodskap wat hy aan hulle verkondig: in Christus kan alle mense deel word van die Godsvolk.  Om die waarheid te sê, presies dít is Paulus se opdrag, om aan alle mense hierdie goeie nuus te bring, om die misterie aan almal bekend te maak, dat hulle in Christus Jesus in verhouding met God kan leef.  Let op hoe hy die boodskap ook fundeer in God as Skepper van alle dinge (Ef. 3:9) en dat dit ‘n boodskap is wat selfs aan elke mag en gesag van die kosmos bekend gemaak moet word.

Paulus wil hulle verder bemoedig om nie moedeloos te word, omdat hy om hulle ontwil ly en in die tronk sit nie.  Hulle moet dit eerder as ‘n eer beskou.  Die agtergrond hiervan is dat Paulus juis nou in die tronk is weens die aanklag dat hy die tempel in Jerusalem ontheilig het deur ‘n Griek saam met hom daarheen te neem (Hand. 21:27-29).  Hoewel dit onwaar was, het dit waarskynlik die Efesiërs ontstel, want dié Griek was Trofimus, wat juis van Efese afkomstig was.  Paulus wil hulle bemoedig deur hulle te wys daarop dat in die uitvoering van sy opdrag gebeur het, en dat hulle God se hand daarin moet raaksien.

Mag Christus in julle harte woon, gewortel en gegrondves in die liefde – Efesiërs 3:14-21

Die gevolgtrekking dat alle mense deel kan wees van die Godsvolk, dring Paulus op sy knieë om van God self te vra dat dié rykdom van hierdie boodskap in sy volheid nie net deur hulle nie, maar deur alle gelowiges en nog wyer besef sal word.  Hy sal in hoofstuk 4 weer terugkeer om die gelowiges aan te spoor om self ernstig daaraan te werk om die eenheid wat die Gees tussen hulle gesmee het, te handhaaf.  Hier is sy fokus egter om dit van God te vra.

Let op hoe Paulus hier oor die gemeenskap van gelowiges met praat.  Hy beskou hulle as ‘n familie – dit is wat die woord gemeenskap (patria) in vers 14 eintlik beteken.  Dit is ‘n familie wat die grense van tyd oorskry – hulle is in die hemel en die aarde.  Dit is ook ‘n familie wat deur die geslagte heen EEN gemeenskap bly – vers 21.

En sy droomgebed vir hierdie familie van gelowiges is dat hulle almal werklik heeltemal vervul sal word met die volheid van God – soos hy al in Efesiërs 1:23 God se droom vir die kerk uitgespel het.  Hy spel dit in ses  bedes uit:

  • Hulle het in die eerste plek innerlike krag nodig – iets wat die Gees doen in ons harte en wat die hoop in ons brandend hou.
  • Hulle het in die tweede plek geloof nodig, want dit is hoe Christus ‘n woonplek in ons harte kry, sodat Hy ‘n werklikheid in elkeen word.
  • Daardeur sal hulle hele lewe in die derde plek in die liefde gewortel en gegrondves wees, wat onontbeerlik is om werklik vrug te kan dra.
  • Paulus bid ook dat hulle in die vierde plek sal groei in hulle insig in hoe ver die liefde van Christus strek, want dit sluit alles en almal in. Let op hoe Paulus letterlik die liefde van Christus as ‘n soort driedimensionele kubus beskryf wat ons hele werklikheid insluit.  Paulus se dimensies van wyd, ver, hoog, en diep beskryf ‘n driedimensionele werklikheid, die  breedte, lengte, hoogte, en diepte daarvan.
  • Maar insig is nog nie alles nie! In die vyfde plek bid Paulus dat hulle Christus se liefde sal ken, d.w.s dit sal ervaar, ‘n liefde wat eintlik ons begrip en insig te bowe gaan.
  • En Paulus sluit in die sesde plek af met ‘n gebed dat hulle heeltemal vervul sal word met die volheid van God, presies dít wat hy bely het van die kerk in Efesiërs 1:23.

En dit is wat God in hulle sal bewerk, om die waarheid te sê, Hy kan ook nog meer doen as wat Paulus (of ons) kan bid of dink – oneindig meer!  Daarom kom alle eer aan God toe, in die kerk, in ons persoonlike lewens, in die wêreld, en tot in alle ewigheid.

Boodskap en betekenis

Efesiërs 3 wys dat God se plan nog altyd was dat alle mense – Jood en nie-Jood – deel kan word van sy volk deur Christus. Hierdie insluiting is nie ’n menslike idee nie, maar ’n goddelike geheimenis wat aan Paulus geopenbaar is en nou aan die wêreld verkondig word. Paulus bid dat die kerk as God se familie vervul sal word met krag, geloof, liefde, insig, ervaring en uiteindelik met die volheid van God self.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda