Skip to main content

Jesaja 1

Julle ken My nie

Jesaja se profetiese bediening strek oor ’n tydperk van meer as vyftig jaar. Hy is as profeet geroep in die sterfjaar van koning Ussia (Jes 6:1 – Asarja [2 Kon 15:1]), ongeveer 742 vC. Toe die Assiriese koning Sanherib in 701 vC die land binneval en Jerusalem beleër, was Jesaja nog steeds op sy pos (Jes 37:5), selfs met Sanherib se dood in 681 vC (vgl Jes 37:38; 2 Kon 19:37).

Ons weet nie hoe lank hierna hy nog opgetree het nie. Daar is ‘n Joodse tradisie dat hy in die tyd van koning Manasse (696-642 vC) ‘n marteldood gesterf het en middeldeur gesaag is (vgl Hebr 11:37). Interessant genoeg word daar nêrens van enige literêre aktiwiteit van Jesaja in die boek gepraat nie, net van sy oratoriese aktiwiteit. Hy skryf wel op ‘n stuk leer ‘n kort boodskap (Jes 8:1), en skryf Ussia se verhale neer (2 Kron 26:22).

Jesaja se naam beteken: “die Here bewerk redding.” Hy word die seun van Amos genoem, waarskynlik om hom te onderskei van ander persone met dieselfde naam (vgl 1 Kron 3:21; 25:3, 15). In teenstelling met die vroeëre profeet Amos (sy naam word anders gespel as Jesaja se pa s’n) wat ‘n boer was, was Jesaja ’n stedeling. Hy woon en werk as profeet in Jerusalem (vgl Jes 7:3; 22:15; 37:2; 38:1; 39:3). Behalwe dat hy getroud was (Jes 8:3) en ten minste drie kinders gehad het (Jes 7:3, 14; 8:3, 18), is daar baie min verder oor hom bekend.

Jesaja tree in ‘n baie moeilike tyd as profeet op. Die wêreldmag van die Assiriërs het vir Israel en Juda bedreig. Geen wonder dat die kleiner volkere koalisies probeer vorm het om hulle te beskerm nie. Maar dit is juis die aanleiding tot die boodskap van Jesaja. God sal vir sy volk sorg, maar dan moet hulle op Hom vertrou en nie hulle toevlug neem tot die ander volke nie: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie” (Jes 7:9).

In die eerste deel van die boek, hoofstuk 1-39, fokus Jesaja ons aandag op die mislukte roeping van Israel om in ’n lewende verhouding met God te leef as pelgrimsbestemming vir die nasies (vgl Jes 2:1-4). Hulle keuse om eerder alliansie-politiek te bedryf teen die groot wêreldmoondhede as om God se raad deur sy profeet te volg (Jes 7), het onvermydelik gelei tot Sy oordeel oor hulle deur die einste wêreldmoondhede, eers deur die bedreiging van die Assiriërs wat tot die ballingskap van Israel gelei het (7de eeu vC), en later ook tot die ballingskap van Juda in Babilon (6de eeu vC).

Die volk se mislukking was veral te wyte aan hulle gebrek aan vertroue op Jahwe (Jes 30:15) wat hulle verlei het na afgodery (Jes 2:6) en politieke alliansies (Jes 7), sowel as hulle gebrek aan sosiale deernis met behoeftiges soos die wese en weduwees: “Die stad wat die tuiste van die reg was … is nou vol moordenaars.” (Jes 1:21-23).

Hierteenoor word God in sy heilige teenwoordigheid geteken (Jes 6) wat die oordeel oor sy volk Juda sal voltrek (Jes 8) … en tog ’n oorblyfsel (Jes 6:13) sal laat oorbly, waarin die belofte van ’n toekoms gesien kan word. Ook die nasies word deur God geoordeel (Jes 13-23), juis dié nasies op wie Israel hul vertroue geplaas het.

Benewens die historiese aanduidings in die boek (Jes 1:1 – Ussia, Jotam, Agas en Hiskia van Juda; 2:1 – Juda; 6:1 – Ussia van Juda; 7:1-25 – Agas van Juda en Peka van Israel; 14:28 – Agas se dood; 20:1-6 – Sargon van Assirië; 22:14-25 – Sebna in Jerusalem, en 36:1-39:8 – Hiskia van Juda) word drie verhale midde in die profesieë geplaas om dit histories binne die meer as 50 jaar lange aktiewe bediening van die profeet Jesaja te plaas:

  1. Die verhaal van koning Agas in gesprek met Jesaja tydens die Siro-Efraimitiese oorlog teen die Arameërs en Israeliete van die Noordryk wat teen Jesaja se raad in ’n verdrag met die opkomende wêreldmag van die Assiriërs gesluit het (Jes 7-9 – vgl 2 Kon 16; 2 Kron 28) wat voor die val van Samaria in die jaar 722/1 vC gedateer moet word;
  2. Die verhaal van Jesaja se liggaamsprofesie teen Egipte en Kus (Jes 20:1-6) in die tyd van koning Sargon van Assirië waarskynlik ongeveer in 711 v C;
  3. Die verhaal van koning Hiskia, Agas se seun, wat dit weer reggekry het om stukkie vir stukkie die volk se onafhanklikheid terug te wen van Assirië en die Filistyne, en uiteindelik die bedreiging van Sanherib van Assirië in 701 vC kon afweer. Ook die verhaal van die siekte en herstel van Hiskia word vertel wat in daardie tyd plaasvind (Jes 36-39 – vgl 2 Kon 18-20; 2 Kron 29-32).

In die tweede deel van die boek, hoofstuk 40-66, fokus Jesaja ons aandag op die verlossing wat God vir sy volk bring, onder andere deur die bediening van die Dienskneg van die Here (Jes 42; 49; 50; 52‑53) wat sy klimaks vind in die belofte van ’n nuwe hemel en aarde (Jes 65-66).

Daar word aangesluit by vorige heilsbeloftes in die eerste deel van die boek (Jes 2:2-5; 4:2-6), en ’n visie van ’n volkome nuwe begin geteken wat histories, internasionaal en kosmies van aard is.

Aan die een kant is dit ’n troosboodskap vir die verstrooide volk (Jes 40). Aan die ander kant konfronteer dit ook diegene wat nie wil deelneem aan die nuwe Uittog wat God vir sy mense belowe nie (Jes 46) en nie tot inkeer wil kom nie (Jes 56-59). Tog belowe die Here dat die nuwe toekoms onafwendbaar heerlik sal deurbreek. En die nasies sal ook daarin deel (Jes 56; 60).

Jesaja 1-5 vorm ’n eenheid en handel oor die saak wat die Here teen sy volk het. Jesaja 6 handel oor die roeping van Jesaja as profeet, wat terugverwys na die eerste deel en ook die tweede deel, Jesaja 7-12 inlei. Daar word gefokus op die belofte aan Agas, ’n belofte wat hy verspeel het, maar wat op uitnemende wyse in Jesus eeue later vervul is. Ons hanteer daardie deel van Jesaja dus ná ons die verhaal van Agas in Konings en Kronieke gelees het.

Teks en konteks

Vers 1 noem die woorde van Jesaja ’n openbaring (chazoon – visioen), ’n woord wat byna altyd vir ’n Goddelike openbaring of visioen gebruik word. (Vergelyk Spreuke 29:18 wat praat oor impak van die gebrek aan só ’n openbaring: “Waar die wil van die Here nie bekend gemaak word nie, verwilder ’n volk”).

In drie perikope word God se saak met sy volk uitgespel. Die Here roep die hemele en aarde, die hemelraad, as getuies vir die saak wat Hy met sy volk het (vgl Deut 30:19 waar Moses dieselfde doen). Hy spreek hulle aan oor die feit dat hulle Hom nie ken nie, en nie weet wie hulle is en aan wie hulle behoort nie. Dit sit agter:

  1. die rebellie van die volk Israel teen God, wat daarom deur Hom gestraf is deur die verwoesting van hulle land – Jesaja 1:2-7 (dit verwys heel moontlik na die veldtog van Sanherib in die tyd van Hiskia – Jesaja 36 en 2 Konings 18 – in Assiriese annale word vertel dat Sanherib 36 Judese stede verwoes het en 200 000 mense weggevoer het);
  2. die tempeldiens in Jerusalem wat teen God se wil gepaard gaan met onreg en geweld in die samelewing waaroor die Here hulle aanspreek en tot bekering roep – Jesaja 1:8-20 (Jesaja gebruik hier dieselfde uitspraak oor offers as Samuel – 1 Sam 15:22);
  3. die ontrouheid van die stad Jerusalem wat in opstand is teen die Here en wat daarom deur die Here met streng optrede gestraf sal word, hoewel Hy tog steeds oordeel as ’n instrument tot vrymaking gebruik – Jesaja 1:21-31 (die perikoop lees soos ’n begrafnislied waarin getreur word oor die dood van die reg en waardes waar niemand meer vir minderbevoorregtes omgee nie).

Let op hoe God se oordeel altyd met die hoop op een of ander bekering uitgevoer word – Hy los ’n oorblyfsel (Jes1:9 – ’n kenmerkende aspek van Jesaja se boodskap: Jes 4:2-6; 6:13; 11:1); Hy belowe voorspoed as hulle gehoorsaamheid sou kies (Jes 1:19); Hy belowe nuwe leiers (Jes 1:26); Hy belowe vrymaking juis deur die oordeel (Jes 1:27).

Boodskap en betekenis

God se vervreemde kinders in Israel en Juda word hier aangekla omdat hulle nie weet wie hulle is of aan wie hulle behoort nie. “Julle ken My nie,” is God se klag!

Jesaja spel vir hulle die ontoereikendheid van offers en gebed uit as ‘n mens nie tot bekering kom en jou lewenswyse verander nie. Dit is nie ‘n gebrek aan aanbidding wat die probleem is nie, maar ‘n gebrek aan geregtigheid wat hulle onder God se oordeel gebring het.

Die Here is bereid te vergewe, maar dan is die regte gesindheid nodig. Wanneer ons “gewillig” en “noukeurig” God se wil soek en doen, is sy beloftes vir ons geldig. Die beloftes kom eerste, maar sonder bekering kan dit nie vervul word nie.

Vir die een wat konsekwent en hardnekkig sondig, is daar dus geen ruimte vir genade nie.

Jesus praat ook daaroor in die gelykenis van die verlore seun (Luk 15:11- 32) en in die gelykenis van die opstandige boere en die wingerd in Markus 12:1-9. Die seun is verlore uit eie keuse. Die boere is skuldig uit eie keuse. Dit het nie per toeval gebeur nie. Hulle het doelbewus daardie keuse uitgeoefen.

Dit is slegs wanneer die verlore seun reageer op die herinnering aan wie hy en veral wie sy vader is, én hy omdraai en teruggaan, dat die verhouding met sy pa herstel kan word.

Die boere in die gelykenis sinspeel op die Joodse leiers van Jesus se tyd wat egter nié hierdie pad van bekering wou kies nie, en is daarom onder die oordeel van God vernietig.

Soos John Watts sê:

Isaiah calls Israel “rebellious children” who need to repent. Jesus (Matt 10:6) called his people “the lost sheep of the house of Israel” and instructed the apostles to go to every town to preach to them. Israel’s rebellion was not just a fact in the eighth century. It continued in postexilic Judaism and indeed among the Christians who claimed to be heirs of all that the Torah and the Prophets had taught about the people of YHWH. (Word kommentaar)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Comments

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…