Skip to main content

2 Konings 15:8-31

Die boodskap is duidelik: die konings Sagaria, Sallum, Menahem, Pekahia, Peka en Hosea faal die Here

Ons keer terug na die situasie in Israel voor ons weer die verhaal van Juda in terme van sy konings en profete verder neem.  Die profesieë van Jesaja vervolg weer wanneer ons die verhaal van Agas van Juda in behandeling neem.

In ’n vinnige opeenvolging van ses konings word die verhaal van Israel se wel en wee vertel wat op ‘n tragiese wyse eindig met die ballingskap in 722/1 vC:

  • Sagaria (6 maande – 746 vC)
  • Sallum (1 maand – 746 vC)
  • Menahem (10 jaar – 746-736)
  • Pekahia (2 jaar – 736-735 vC)
  • Peka (20 jaar – hy moes saam met van die vorige konings regeer het om die kronologie te laat inpas – tot min of meer 731 vC)
  • Hosea (9 jaar – 731-722 vC)

Teks en konteks

In teenstelling met Ussia, het Sagaria, seun van Jerobeam, net 6 maande geregeer in Samaria voor hy deur Sallum vermoor is, net soos die Here voorspel het aan Jehu: “Daar sal vir jou seuns tot in die vierde geslag op die troon van Israel sit.” Dit was toe so.

Sallum is op sy beurt na net meer as ’n maand deur Menahem vermoor, ’n besonder wrede koning, wat selfs swanger vroue laat oopsny het.

Hoe treffend beskryf die profeet Hosea dié tyd: “Waar is jou koning dan nou? Laat hy jou help in al jou stede! Waar is jou regeerders van wie jy gesê het: ‘Gee vir my ’n koning en amptenare’? ‘Ek gee vir jou ’n koning in my toorn en Ek vat hom weg in my woede!’” (Hos 13:10-11)

En die oordeel van die Here word in geen onsekere taal uitgespreek nie: “Hulle het hulle eie konings aangestel sonder my goedkeuring, hulle het leiers aangestel wat Ek nie erken nie. Hulle het vir hulleself afgodsbeelde gemaak van hulle silwer en goud, maar dit sal vernietig word. Samaria, jou goue kalf is afstootlik! My toorn het losgebreek teen Samaria. Hoe lank sal hulle voortgaan om onrein te bly as hulle dan deel is van Israel? En daardie ding, dit is deur ’n ambagsman gemaak, dit is nie ’n god nie! Van die kalf van Samaria sal daar net splinters oorbly.” (Hos 8:4-6).

’n Groot wêreldmag was egter aan die opstaan, die Assiriërs, onder leiding van Pul (2 Kon 15:19) of Tiglat-Pileser III (2 Kon 15:29), wat ’n ander beleid as vorige maghebbers gevoer het. Hulle het telkens mense in ballingskap weggevoer om die gebiede wat hulle verower het, onderdanig te hou.

Menahem moes aan hom belasting begin betaal wat eintlik die skrif aan die muur was vir die Noord-ryk.

Sy seun Pekahia is na net twee jaar deur ’n sameswering van sy koningskap beroof deur ’n adjudant van hom, Peka, wat 20 jaar in Samaria geregeer het. In sy tyd het Tiglat-Pileser, die koning van Assirië, alreeds ‘n klomp gebiede verower (Ijon, Abel-Bet-Maäga, Janoag, Kedes, Gasor, Gilead en Galilea), en die hele gebied van Naftali, en die inwoners weggevoer na Assirië.

Totdat ook Peka vermoor is in ’n sameswering deur Hosea (die koning, nie die profeet nie), in wie se tyd die finale wegvoering in ballingskap gebeur het, waarvan ons verder in 2 Konings 17 sal lees.

Boodskap en betekenis

Hulle sê van bankrotskap dat dit eers stadig gebeur… en dan baie skielik. Dit is ook wat met Israel gebeur het. Oor ‘n tydperk van net meer as 200 jaar (930-722/1 vC) het die maat van die sonde van die Noordryk só vol geraak dat die tyd vir die ballingskap aangebreek het om die ergste straf van die verbond finaal in werking te stel, soos Moses hulle toentertyd gewaarsku het:

“In plaas daarvan dat julle so baie soos die sterre aan die hemelruim is, sal daar min van julle oorbly, omdat jy nie na die stem van die Here jou God geluister het nie. Soos die Here daarin vreugde gevind het om julle goed te behandel en julle te laat vermeerder, so sal Hy vreugde daarin vind om julle tot niet te maak en julle uit te delg. Julle sal weggeruk word van die grond waarheen jy op pad is om dit in besit te neem, en die Here sal jou verstrooi onder al die volke, van die een einde van die aarde tot by die ander einde van die aarde. Daar sal jy ander gode dien, hout en klip, wat jy of jou voorouers nie geken het nie. By daardie nasies sal jy nie rus vind nie. Daar sal nie ‘n rusplek vir jou voetsool wees nie. Die Here sal daar vir jou ‘n hart vol angs, kwynende oë en ‘n lewe van wanhoop gee. Jou lewe sal voor jou aan ‘n draadjie hang; jy sal dag en nag in vrees leef en nie jou lewe seker wees nie. Oor die vrees waarmee jy in jou hart leef en oor die toneel wat hom voor jou oë afspeel, sal jy in die oggend sê, ‘Ag, was dit maar aand!’ En teen die aand sal jy sê, ‘Ag, was dit maar oggend!’ Die Here sal jou na Egipte laat terugkeer in skepe, die pad waarvan ek vir jou gesê het, ‘Jy sal dit nooit weer sien nie.’ Daar sal julle julleself as slawe en slavinne te koop aanbied aan jou vyande, maar daar sal geen koper wees nie.” (Deut 28:62-68)

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…