Skip to main content

Kolossense 1:15-23

Jesus is die Eersgeborene in die skepping en herskepping

Paulus se waardering vir hulle geloof, liefde en hoop – uitgebrei in die sewe dinge waarvoor hy vir hulle bid – mond uit in ‘n lofgebed, hierdie keer ‘n gedig oor die voorrang van die Seun, wat baie geleerdes as ‘n loflied uit daardie tyd identifiseer (Kol. 1:15-20). Paulus verwoord hiermee die kern van die geloof van die vroeë kerk oor Jesus. Hy is die Here wat nie net die Eersgeborene oor die Skepping is nie, maar ook die Eersgeborene uit die dood wat alles op die aarde en in die hemel met God versoen. Dié gebed word opgevolg met ‘n uitleg van die versoening waarin die gelowiges van Kolosse deel deur die evangelie wat aan hulle verkondig is (Kol. 1:21-23).

Teks en konteks

Christus is die Here van die skepping en herskepping – Kolossense 1:15-20

Let op hoe God en sy Seun as verhewe bo die Skepping geteken word. God en sy Seun is dus nie deel van die Skepping nie, maar skep dit as iets wat onder hulle beheer en versorging staan. Let ook op dat daar van sigbare en onsigbare wesens gepraat word, dat dit alles deur God geskep is, en dat hulle daaroor heers.

As die Seun van God is Jesus die beeld van God wat Hom as die onsigbare sigbaar gemaak het. Hy is die Eersgeborene oor die hele skepping wat beteken dat Hy saam met God soewerein is daaroor. Trouens, God het die skepping deur en vir die Seun geskep sodat Hy daaroor kan heers en dit in stand kan hou.

Paulus beklemtoon dit onder andere omdat daar van die gelowiges in Kolosse was wat bv. engele aanbid het. Hiermee wys Paulus dat hierdie wesens ondergeskik is aan God en die Seun, deur hulle gemaak is, en daarom nie voorwerpe van aanbidding kan wees nie.

Na sy dood en opstanding is Jesus ook die Een vir Wie die lof van die Herskepping bedoel is, want Hy is ook die Eersgeborene uit die dood. Let op dat dit juis deur die kruis-evangelie is wat Jesus dus nou nie net Here van die Skepping is nie, maar ook Here van die Herskepping, d.w.s van gelowiges wat hulle op God se versoening verlaat.

Jesus is daarby die Hoof van die liggaam, die kerk, in wie die hele volheid van God woon sodat Hy vrede kan bring tussen God en mens en alles op aarde en in die hemel met God  kan versoen.

Staan daarom vas in die geloof – Kolossense 1:21-23

Hierdie verlossing- en versoeningswerk sluit die gelowiges in Kolosse in. Let egter op hoe Paulus nie net die wonderlike verandering wat by hulle deur geloof in Christus gekom het, besing nie, maar hulle ook oproep om vas te bly staan in die geloof en hulle nie te laat losruk van die hoop op verlossing, soos wat kon gebeur deur die mense wat hulle met verkeerde idees mislei.

Jesus het hulle immers met God versoen sodat Hy hulle heilig, sonder foute en onberispelik voor God kan stel, mits hulle in die geloof bly, stewig gevestig en standvastig, sonder om weg te beweeg van die hoop wat die evangelie bring.

Boodskap en betekenis

Paulus herinner die Kolossense dat Jesus Christus die eerste posisie in die skepping en die herskepping inneem. Hy is nie deel van die skepping nie, maar heers daaroor en hou dit in stand, ook nou, en ‘n mens kan selfs sê, veral nou, ná sy opstanding, waarin die versoening met God sy hoofdoel is. Gelowiges in Kolosse is deel van hierdie versoening; hulle is uit vyandskap tot vrede gebring en word nou as heilig, sonder skuld en onberispelik voor God gestel. Daarom moet hulle vasstaan in die geloof en nie wegbeweeg van die hoop van die evangelie nie.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar