Skip to main content

1 Konings 8:62-9:9; 2 Kronieke 7

My oë en my hart sal altyd daar wees

Ons lees vandag die verhaal van die inwyding van die tempel (1 Kon 8:62-66; 2 Kron 7:1-11) en die beloftes en dreigemente van die Here vir die gehoorsames en ongehoorsames onderskeidelik (1 Kon 9:1-9; 2 Kron 7:12-22).

Teks en konteks

Die inwyding van die tempel loop oor in ‘n fees met ’n geweldige hoeveelheid beeste en kleinvee – onthou die grootste deel van die maaltydoffer is deur die familie en vriende geëet. Trouens, die fees het nie die normale 7 dae geduur nie, maar is tot 14 dae verleng.

Kronieke voeg by dat die Here sy seël op die feesvieringe geplaas het met vuur uit die hemel en gee ook meer detail oor die liturgiese begeleiding. Almal het voor die Here se teenwoordigheid gekniel en sy goedheid en liefde waaraan daar geen einde is nie, geloof.

Kronieke beklemtoon dus met meer detail die wonder karakter van die inwyding van die tempel, sowel as die rol wat die Leviete gespeel het, waarskynlik omdat dit die teruggekeerde ballinge van God se seël op die tempel as simbool van sy teenwoordigheid sowel as die keuse van die Leviete vir die bediening binne die tempel sou oortuig.

Met die feestelike inwyding van die tempel het die Here die godsdiensbeoefening van Israel verenig waarmee die Intog in Kanaän uiteindelik afgehandel is. Alles wat Salomo onderneem het aan die huis van die Here en aan sy eie paleis, is voorspoedig afgehandel.

Die volk het na hulle woonplekke terug gegaan: “verheug en met opgeruimde harte oor al die goeie dinge wat die Here gedoen het aan sy dienskneg Dawid, en aan sy volk Israel.”

Die tempelwyding word afgesluit met ’n waarskuwing van die Here aan Salomo in ‘n verskyning een nag net hierna dat Hy gehoorsaamheid wil hê, anders sal Hy sy beskermende hand terugtrek van die volk.

Die Here spel sy verwagting van Salomo en die volk uit: “En jy, as jy soos jou vader Dawid leef volgens my wil en alles doen wat Ek jou beveel, en my voorskrifte en bepalings nakom, sal Ek jou heerskappy bestendig. So het Ek met jou vader Dawid ooreengekom: Nooit sal dit jou ontbreek aan iemand om oor Israel te regeer nie.”

Die gehalte van Salomo en die volk se Godsverhouding sal die gehalte van hulle lewens bepaal.

  • Luister hulle na God om Hom te gehoorsaam, sal daar reën en oeste wees en geen peste nie.
  • Luister hulle nie na Hom nie en dien ander gode, sal daar droogte en hongersnood wees en wag die ballingskap op hulle.

Die tempel sou dus nie as vanselfsprekend vir die volk en die koning voorspoed waarborg nie. God se gawe sou in gehoorsaamheid geniet word. En dit sou die verwagting wees regdeur die Koningstyd, ’n verwagting wat natuurlik teleurgestel is, en eers uiteindelik in die Messiaanse verwagting in Jesus vervul is.

Dit demp uiteraard ’n bietjie die uitbundige atmosfeer wat met die tempelwyding en die feesvieringe geskep is. Dit is ook ‘n aanduiding van wat gaan volg. Die hoogtepunt van Salomo se regering, die bou van die tempel, word net hierna gevolg deur sy laagtepunt, die dien van afgode en ‘n vertroue op sy eie mag eerder as op God s’n.

Boodskap en betekenis

God antwoord die gebede van sy volk. Dit is die wonderlike boodskap van die inwyding van die tempel sowel as die verskyning aan Salomo. Dit is ‘n belofte wat alreeds in Moses se laaste toespraak voor die volk die land Kanaän ingeval het, ingebed lê.

Moses het vir die volk van God seëninge en vervloekinge voorgehou. Sy boodskap was:

  • As hulle goed luister na die Here en sorgvuldig doen wat Hy van hulle vra, sal hulle die seëninge van die Here in oorvloed ervaar (Deut 28:1-14).
  • As hulle egter nie goed luister na die Here nie, en nie sorgvuldig doen wat Hy van hulle vra nie, sal al sy vloeke hulle inhaal. Hy sal die hemel toesluit sodat daar geen reën is nie. Hy sal die sprinkaan roep en beveel om die lande kaal te vreet. Hy sal pes onder die volk stuur soos Hy juis in die tyd van Dawid gedoen het.
  • Maar, as hulle tot inkeer kom en Hom vra, sal Hy hulle gebede verhoor en hulle lot verander.

Met die bou van die tempel het daar egter ‘n verdieping van hierdie boodskap gekom. Dit is uitgebrei na alle mense. Salomo het van die Here gevra dat Hy sal luister na enige gebedenige smekingenige mens, wat sy hande na hierdie huis toe uitbrei, ook die uitlander, die vreemdeling.

Dit is wat die Here in hierdie verskyning aan Salomo onderstreep:

“My oë sal nou oop wees en my ore sal aandagtig luister na die gebede uit hierdie plek. So het Ek dan nou hierdie tempel gekies en geheilig, sodat my Naam vir altyd daar sal wees. My oë en my hart sal altyd daar wees.” (2 Kron 7:15-16)

Die God van hemel en aarde onderstreep die belofte deur te sê, sy oë en sy hart sal altyd daar wees.

Daar word talle kere oor God se oë geskryf in die OT, maar van God se hart word daar min gepraat. In die verhaal van Noag word in ‘n negatiewe sin van God se hart gepraat. Dit het die Here berou dat Hy die mens op aarde gemaak het, en: “daar was smart in sy hart.” (Gen 6:6; vgl Gen 8:21; vgl Dawid, die man na God se hart: 1 Sam 13:14; Hand 13:22)

Hier word egter in ‘n positiewe sin oor God se hart gepraat. Sy oë en sy hart sal altyd daar wees. Hy sal luister na gebed – enige gebedenige smekingenige mens – want sy oë en sy hart sal altyd daar wees.

Hierdie belofte is dus geldig vir elke kind van God. Dit is geldig vir elke geloofsgemeenskap. Dit is selfs in beginsel waar vir elke nasie of mensegroep. Soos dit al deel van Salomo se gebed in die tempel was.

Maar, sê die Here, hierdie belofte word waar op die pad van terugkeer en bekering, op die pad van ‘n ware soeke na God. Lees ook weer vers 13-14:

AS … my volk, die mense oor wie my Naam uitgeroep is – en dan noem God vier dinge –

  1. hulle verootmoedig en
  2. bid en
  3. my aangesig soek, en
  4. hulle bekeer van hulle verkeerde weë …

DAN … sal Ék uit die hemel hoor, hulle sonde vergewe en hulle land genees.

Ons sien dieselfde boodskap telkemale in die NT.

Jesus sê:

“Soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” (Matt 6:33)

God se beloftes word waar vir dié wat na Hom soek, wat glo dat Hy bestaan en ‘n beloner is van dié wat Hom soek (Hebr 11:6).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar