Skip to main content

Sagaria 3:1-4:14

Sagaria se visie op die leiers wat God se plan uitvoer

Onthou wat op die spel is in die stad Jerusalem. Haggai het ‘n nuwe motivering gebring met sy vier profesieë ‘n skrale ses maande voor hierdie gesigte van Sagaria. Haggai het ook spesifiek met die leiers gepraat en hulle geïnspireer om voor te vat en leiding te neem om die tempel te herbou. Maar net die fondamente is al gelê, en dit sou nog 4 jaar neem om die projek af te handel. Die werk was nog baie en die pad na die einde nog lank en swaar.

Daarom gee die Here vir Sagaria hierdie twee volgende visioene, die een gemik op die geestelike leier in die tempel, Jesua die hoëpriester, en die ander gemik op die politieke leier, Serubbabel die goewerneur. Niks minder as God se teenwoordigheid in die tempel en in die aanbidding van Juda is op die spel. Sy teenwoordigheid in die gemeenskap en in die wyse waarop die volk teenoor mekaar en teenoor die ander nasies optree, hang tot ‘n groot mate af van dié twee leiers. Jesua en Serubbabel is dus van kardinale belang in die herbou van die geloofsgemeenskap sowel as die breër gemeenskap van Jerusalem en Juda.

Teks en konteks

Sagaria 3:1-10 – ‘n Gereinigde Jesua kry die verantwoordelikheid vir God se heiligdom

Die eerste gesig aan die leiers – die vierde gesig dié nag – is bedoel vir Jesua. Soos Aäron eenmaal met die inwyding van die tabernakel in die woestyn gereinig is (Eks. 29), só doen die Here dit hier ook met Jesua. Maar, soos die geval was ook met vorige priesters, is die reiniging nie net iets wat persoonlik is nie. Jesua word gereinig as teken daarvan dat die volk deur God vergewe en gereinig word.

Dié vergifnis is ‘n baie belangrike deel van die herstel van die teenwoordigheid van God in die midde van die volk, want hulle is immers weens hulle sonde uit die land gesit met die ballingskap. Die Satan se aanklag moet dus deur die reinigende handeling van God getroef word. Daarom word Jesua skoon klere aangetrek. Sagaria is só opgeneem in die visioen dat hy ook voorstel dat Jesua ‘n nuwe tulband op die kop kry.

Dié visioen lei dan tot ‘n profesie wat messiaanse trekke kry. Aan die een kant belowe die Here dat Jesua nou sy teenwoordigheid in die tempel kan fasiliteer vir die volk. Hy sal nie net die nodige gesag hê om sy verantwoordelikheid na te kom nie. Hy sal ook vrye toegang hê tot God om vir die volk in te tree. Voorwaar ‘n besondere belofte.

Aan die ander kant sien Sagaria ook verder. Hy gebruik twee metafore:

  • God gaan sy dienaar “Loot” (takkie) stuur wat as Messiaanse Koning sal optree (vgl. Jes. 11; Jer. 23).
  • God gaan ook ‘n “klip” (vgl. Ps. 118:22: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword.” wat deur Paulus met Christus en die kerk verbind word in Ef. 2:19-22 ) met sewe oë (prentjie van God se alwetendheid en universele heerskappy soos ook in Sag. 4:10) en ‘n graveersel waarop die boodskap aangebring word dat God die sonde van hierdie land “op een dag gaan wegneem”.

Daardie dag sal die vredesryk van God ‘n aanvang neem met die mense wat: “weer rustig oor en weer na mekaar roep onder die wingerdstokke en die vyebome.

Die boodskap hiervan moes Jesua inspireer om sy posisie in te neem as God se gesagsdraer en intersessor in die geestelike bediening in die geloofsgemeenskap. Let op dat dít ook ‘n getuienis vir die toekoms is: “van iets wat kom”. Nuwe Testamenties dui dit op die verlossingswerk van die Here Jesus Christus wat as “Loot” en “klip” die verlossing vir die hele geloofgemeenskap gebring het. In Sagaria 8 sal die betekenis van dié boodskap verder uitgespel word.

Sagaria 4:1-15 – ‘n Begeesterde Serubbabel kry die belofte dat hy die tempel sal kan klaarmaak

Die tweede gesig aan die leiers – die vyfde gesig dié nag – is bedoel vir Serubbabel. Dit lyk asof Sagaria ‘n bietjie geslaap het voor die engel hom weer wakker gemaak het om verder te sien-hoor wat die Here vir hom wou wys-sê. Hy was egter onseker of dit nie miskien ook deel van die visoen was nie.

Hy sien ‘n goue kandelaar (menora) met sewe arms – die klassieke prentjie van die geloofsgemeenskap (vgl. Openbaring 1-3) – en twee olyfbome – simbole van die twee leiers, godsdienstig en polities – regs en links.

Die boodskap van die visioen – veral die kandelaar deel – word in die eerste rondte deur die engel as volg uitgespel:

  • Eerstens sal Serubbabel nie met mag en krag slaag nie, maar deur God se Gees (vers 6). Soos die olie in die bak die lamppitte voed om lig te gee, só doen die Gees dit in sy mense.
  • Tweedens verseker die Here vir Serubbabel dat hy die werk sal klaar maak. Die werk wat, metafories, soos ‘n berg voor hulle staan, sal “voor Serubbabel ‘n gelykte word”. Trouens: “As Serubbabel die laaste klip van die tempel op sy plek sit, sal die mense roep: ‘Mooi, mooi!’” Soos dit inderdaad vier jaar later gebeur het in 516 v.C.
  • Derdens sal die herboude tempel ‘n teken wees dat God se woord deur Sagaria eg was. Die volk sal dan weet dat hulle die: “dag van klein dingetjies”, nie gering moet ag nie. Die blydskap sal toeneem soos die bouwerk vorder. Dat daar nou net fondamente lê, moet hulle op geen manier ontmoedig nie.

Sagaria gee ook tussen-in ‘n verklaring vir die vorige visioen van die sewe oë, waarskynlik om seker te maak mense verstaan dit reg. Dit dui op God se alomteenwoordigheid.

Die boodskap van die visioen – die twee olyfbome – word in die tweede rondte verder deur die engele verklaar. Daar kom ook ‘n bietjie meer detail van die visioen by met die beskrywing van twee bondels olyftakkies langs twee goue pype waaruit die goudkleurige olie stroom wat waarskynlik die oliebak voed.

Dié twee olyfbome dui op die twee gesalfdes wat: “in diens staan van Hom aan wie die hele aarde behoort.” ‘n Mens dink onmiddellik aan die twee gesalfdes wat ook in Openbaring 11 vermeld word, maar in die konteks dui dit hier eerstens op die twee leiers, Jesua en Serubbabel – letterlik “seuns van olie”, d.w.s. gesalfdes soos dit telkens met die bevestiging van die hoëpriester en die koning uitgevoer is. Jesua kom uit die priesterlike lyn en Serubbabel uit die koninklike lyn van Dawid. Hulle is die twee gesalfdes van die Here, die twee olyfbome, wat op politiese en godsdienstige vlak leiding (moet) neem. Saam verteenwoordig hulle die volk by God en God weer by die volk.

Sommige verklaarders interpreteer hulle daarom egter ook as simbole van die priesterlike getuienis (Jesua) en die koninklike getuienis (Serubbabel) van die kerk, soos dit inderdaad ook van die kerk in Openbaring gesê word (1:6; 5:10; 20:6). Ander verklaarders (bv. Du Rand) verbind die twee getuies van Openbaring 11 egter met die getuienis van Moses (wet) en dié van Elia (profete) omdat hulle die twee figure uit die OT bedeling was wat as getuies van Jesus se status as God se Seun op die Berg van Verheerliking opgetree het (Mark. 9:2-8; Matt. 17:1-8; Luk. 9:28-36). Daar het hulle die OT getuienis van die wet en die profete verteenwoordig.

Watter interpretasie ook al ‘n mens se voorkeur is, dit is duidelik dat met hierdie visioen die hand van die Here op Jesua en Serubbabel beklemtoon word, sowel as sy verkiesing van hulle om in sy diens te staan.

Boodskap en betekenis

Sagaria 3 het vir my persoonlik besondere betekenis. Vers 7 was een van my roepingstekste wat my oortuig het tot ‘n bediening in die NG Kerk. Die twee opdragte daarin – verantwoordelikheid neem vir die geloofgemeenskap en om getrou te bly in gebed – bly steed vir my hoekstene van my eie bediening.

Wat ek egter vandag beter verstaan daarvan is die konteks waarbinne dit vir Jesua gemotiveer het om sy verantwoordelikheid na te kom – beide in gesag dra en gebed – om vir die geestelike herlewing van die volk te beplan en te bid. Wat my egter vandag nog dieper tref, is hoe die visioen en die beloftes wat daaraan gekoppel is die bediening van Jesus voorafgaan en beskryf. Hy is werklik die diepste vervulling hiervan.

Sagaria 4 gee ons ‘n diep kykie in God se krag wat deur sy Gees in ons lewe aan die werk is. Dit is gemik op groot dinge – die herbou van die tempel wat soos ‘n berg voor hulle gelê het – maar word bewerk deur die klein dingetjies wat in gehoorsaamheid gedoen word. Sagaria leer ons dat deur te fokus op die stukkie vir stukkie vordering met die werk wat elke dag gedoen word, word alle berge uiteindelik gelyktes. Ook in jou lewe.


Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar