Skip to main content

Hooglied 8:5-14

Die liefde is wederkerig en interafhanklik

Dit maak vir my sin om die gedeelte as vier gedigte te hanteer. Die eerste drie werk telkens met ‘n inleidende vraag of beskrywing waarop die vrou en man onderskeidelik reageer. Die laaste gedig is ‘n gesprek tussen die man en die vrou:

  • Die vroue vra na haar identiteit – die vrou antwoord met ‘n verklaring van haar liefde vir die man – Hooglied 8:5-7.
  • Haar broers wonder oor haar volwassenheid – die vrou gee hulle die versekering dat sy haar man kan gelukkig maak – Hooglied 8:8-10. (Vers 8-9 word interessant genoeg deur Peterson as ‘n terugblik van die vrou hanteer met die opskrif: “My brothers used to worry about me: …” en dan die teks soos ons dit in Bybel het. Dan maak haar opmerking in vers 10 baie sin, deurdat sy eintlik vir hulle sê, julle was bekommerd oor my, het eintlik gedink ek is nog klein en moet beskerm word, maar ek is nou groot en in die liefdevolle beskerming van die man wat ek liefhet. Bogenoemde indeling dra dieselfde gedagte oor.)
  • Die man wonder oor die harem van Salomo – die man verbly hom egter in sy keuse vir een vrou wat syne alleen kan wees – Hooglied 8:11-12.
  • Die man verlang na haar stem – die vrou verlang na sy teenwoordigheid – Hooglied 8:13-14.

Boodskap en betekenis

In hierdie perikoop kan ‘n mens die volgende interafhanklike en wederkerige aspekte van die liefde raaksien soos dit in die huwelik na vore kom:

  • Ondersteuning: Waar die vrou as bruid in 3:6 alleen uit die woestyn kom na die bruidegom toe, kom sy hier in die geselskap van haar man daarvandaan, en sy leun op die man wat sy liefhet (Hoogl 8:5a). Dit is ‘n pragtige beeld van die ondersteuning wat ‘n liefdesverbintenis onderling aan lewensmaats bied.
  • Hartstog: Die liefdesverbintenis maak hartstog vir mekaar “wakker” (Hoogl 8:5b) en word in seksualiteit uitgeleef (Hoogl 2:7; 3:5; 4:16; 8:4). Sulke liefde kan dus nie gekoop word nie. Mense wat dit dink, sal met reg uitgelag word. Sulke hartstogtelike liefde kom net tot sy reg in die geborge ruimte van ‘n familie (Hoogl 8:5b – verwysing na die [skoon]ma!).
  • Geborgenheid: Die vrou gee haarself om soos ‘n seëlring op sy bors of arm vasgehou en gedra te word (8:6a). Die seëlring was ‘n bewys van identiteit, ‘n kosbare besitting, wat ook in die sluit van kontrakte gebruik is (Gen 38:18; 41:42; Est 3:10). Haar oorgawe aan hom skep dus vir hulle ‘n nuwe identiteit. Sy word sy kosbare besitting. Sy vertroeteling van haar as ‘n seëlring op sy bors en aan sy arm sê eweneens dat sy vir hom kosbaar is. Sulke wedersydse liefde gee ‘n diep gevoel van geborgenheid in die lewe. Dit gee aan hulle albei ‘n vaste plek in die lewe, ‘n fondament vanwaar hulle regtig met oorgawe kan lewe.
  • Sekuriteit: Die liefde is “sterker as die dood”; die hartstog daarvan is “magtiger as die doderyk”; dit “brand en vlam soos vuur”, en kan nie deur strome water of riviere geblus of afgekoel word nie (Hoogl 8:6b-7). Die liefde gee ‘n sekuriteit en beskerming wat selfs – by wyse van spreke – die dood kan trotseer! Die liefde trotseer die bedreiging van negatiewe magte in die werklikheid van die lewe.
  • Selfstandigheid: Die liefde kan nie gekoop word nie (Hoogl 8:7b), en kan nie afgedwing word nie (Hoogl 8:12). Daarom is dit so belangrik dat die vrou (en man) self besluit aan wie sy (hy) wil behoort (nie haar broers of vriende nie – Hoogl 8:8-9), en wie sy (hy) gelukkig wil maak (Hoogl 8:10). Die liefde is daarom altyd ‘n selfstandige keuse wat kom uit eie oortuiging, iets waaraan jy jouself getrou en lojaal verbind hou.
  • Uniekheid: Die liefde beteken ook om uniek vir iemand ander wees, om net aan een ander te behoort. Een interpretasie van die wingerd van Salomo in Baäl-Hamon, is dat dit ‘n simbool was vir sy harem, waaruit hy ‘n opbrengs van kinders verwag het , en daarom wagte aangestel het om dit te beskerm (Hoogl 8:11). Die man kies egter teen die versameling van vroue in die harem (Hoogl 8:12) en vir persoonlike wedersydse liefde (Hoogl 8:13). Terloops, indien ‘n mens dít as die woorde van die vrou lees, geld dieselfde interpretasie natuurlik.
  • Interafhanklikheid: Die liefde het sy uitdagings en teleurstellings vanweë misverstande en behoeftes wat verskil, soos ons in Hooglied 5:1-6:3 kon sien. Die enigste manier om dit die hoof te bied, is om doelbewus te kies om interafhanklik te wees (Hoogl 8:13-14 met vers 13 as die stem van die man, en vers 14 as die stem van die vrou).

Om mee af te sluit gee ek vier perspektiewe oor die liefde vanuit die boek Hooglied:

  1. Hooglied besing die selfstandige waarde van die seksuele en erotiese kant van die liefde tussen man en vrou. Die behoefte aan seksuele intimiteit is ‘n universele deel van menswees. In Hooglied se onverbloemde verheerliking van die seksuele en erotiese kant van die liefde, word ‘n sterk saak uitgemaak vir die gelykwaardige betekenis van die seksuele liefde, sodat dit nie as ondergeskik beskou sal word aan die ander aspekte van die liefde nie, bv die geestelike, of kameraadskaplike, of lewensgemeenskaplike dimensies daarvan. Seksuele liefde is volgens Hooglied dus nie minderwaardig teenoor ander vorme van die liefde tussen man en vrou nie.
  2. Hooglied besing die waarde van die seksuele liefde in die konteks van die wedersydse, persoonlike en getroue verhouding tussen een man en een vrou. Die liefdesgedigte van Hooglied bevestig die privaatheid van seksuele intimiteit tussen man en vrou. Seksuele liefde moet dus nie oorhaastig aangeblaas word nie (Hoogl 2:7; 3:5; 8:4 – veral nie as dit jou deel van die harem maak nie!), dit moet nie publiek vertoon word nie (Hoogl 1:4; 3:1-4; 8:1-2), dit moet nie lei tot enige vorm van promiskuïteit met ander vroue/mans nie (Hoogl 6:3; 7:10; 8:8-10). Natuurlik mag dit ook nie lei tot uitbuiting of misbruik binne die verhouding nie, iets wat na alle waarskynlik binne ‘n harem sou kon gebeur. In die lig van die interpretasie van Hooglied as ‘n drie-karakter liefdesverhaal, kies die digter(es) dus vir persoonlike liefde, teenoor die praktyk van die harem van Salomo se tyd. En spel die boek uit hoe ‘n mens lief kan wees, sonder om jouself te verloor.
  3. Hooglied wys dat seksuele liefde die guns van God geniet. Die insluiting van Hooglied in die Bybel bevorder daarmee die gedagte dat die instelling van die huwelik sowel as die rol wat seksuele liefde daarin speel, iets is wat God se guns geniet. Tradisioneel het die Jode immers dié boek gelees op die 8ste dag van die Paasfees, waarin die belang van die seksuele liefde as deel van die feestelike herdenking van die Trek, Tora en Tabernakel van die Eksodus beskou is. Daarmee is die seksuele liefde tussen man en vrou as deel van die normale lewe voor God bevestig.
  4. Hooglied wys dus dat seksuele liefde vir die verhouding tussen man en vrou bedoel is, nie vir die verhouding met God en/of die gode soos in die vrugbaarheidsgodsdienste nie. Seksuele liefde het vir Hooglied geen godsdienstige funksie nie, en wys dat dit uitsluitlik bedoel is vir die intieme lewensgemeenskap tussen man en vrou. Daarmee word ‘n streep getrek deur die gebruik van tempelprostitusie wat in sommige godsdienste van dié tyd voorgekom het. Die seksuele liefde tussen man en vrou is doodgewoon deel van die lewe voor God, nie ‘n manier om Hom te aanbid nie.
View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar