Skip to main content

Miga 4:1-5:14

Die Here bring verlossing vir die hele wêreld onder sy heerskappy

Hierdie twee hoofstukke vorm die hart van die boek se boodskap as ‘n noodsaaklike kontrapunt met die oordeelsuitsprake van hoofstuk 1-3, al was daar darem reeds ‘n klein sprankie van hoop in hoofstuk 2:12-13 rondom die beloofde Messiaanse Koning wat as Herder sal optree.

Teks en konteks

Miga 4:1-8 – Aan die einde van die dae sal Jerusalem ‘n blywende ontmoetingsplek vir die nasies wees

Miga se visier skuif na ‘n verre toekoms, letterlik: “aan die einde van die dae,” waar die oordeel in verlossing sal verander, en die herstelde tempel stewig sal staan in Jerusalem as ‘n blywende ontmoetingsplek met die nasies.

Miga was ’n tydgenoot van Jesaja en dit is interessant dat vers 1-4 van Miga grootliks ooreenkom met ’n profesie van Jesaja in Jesaja 2:2-5. Miga brei op punte uit op wat Jesaja sê:

  • In vers 3 praat Miga van die volke as “sterk nasies wat ver weg woon”;
  • Miga voeg vers 4 – oor die sekuriteit wat God vir die boere in dié tyd sal gee – by dít wat Jesaja gesê het;
  • Miga kontrasteer die lewe in die Godstad met dié van ander nasies en gee Jesaja se woorde: “laat ons lewe in die lig wat van die Here af kom,” weer as: “ons sal vir altyd in die Naam van die Here ons God lewe.”

Die visie wat God dus vir sy volk het, is om ’n blywende ontmoetingsplek vir die nasies met God te wees – iets wat alreeds aan Abraham beloof is (Gen 12:1-3). Dit sal insluit dat sy wil hulle lewens sal struktureer en inspireer om in vrede met mekaar te lewe – swaarde word ploegskare en spiese snoeiskêre – en dit in blywende sekuriteit – elkeen onder sy eie wingerd en ongesteurd onder sy vyeboom.

Dit sal selfs vir die kreupeles en verstrooides verandering inhou. Die siekes sal sterk word en die Here se teenwoordigheid sal alles deursuur: “Ek die Here, sal op Sionsberg oor hulle heers, nou en vir altyd.” Die verlatenheid sal verander in die vervulling van die beloftes van vroeër en Jerusalem sal weer die hoofstad wees.

Miga 4:9-13 – Die Here sal die vermorseling van die ballingskap verander en sy volk die oorhand oor die nasies gee

Die pyn van die ballingskap kan egter nie meer vermy word nie. Daarom roep Miga die volk nie op tot bekering nie, maar troos hulle dat hulle die pyn van ballingskap sal moet aanvaar voordat hulle sal ervaar: “Daar sal jy gered word.” Die nasies is wel nie ingelig oor dié besluit van die Here nie, maar sal uiteindelik moet ervaar dat die Here die Godsvolk die oorhand oor die nasies sal gee.

Miga 4:14-5:8 – Die Here sal ‘n sterk leier gee om hulle te red tot seën van die nasies

In direkte kontras met hulle beleëring en ballingskap sal die Here iemand stuur wat tot hulle redding sal verskyn. Hy kom uit Bethlehem-Efrata en sal bekend wees as iemand wat aan die Here behoort. Trouens: “Sy begin lê ver terug, in die gryse verlede.” (NAV).

Daarmee verwys Miga waarskynlik na die begin van die Dawid geslagslyn ‘n paar eeue terug in Bethlehem, hoewel dit uit die NT toepassing in Matteus 2:6 op die geboorte van Jesus as die Messias ook op Jesus se pre-eksistensie kan dui, ‘n waarheid wat ook in Johannes verkondig word (Joh 1:1-14).

Miga verkondig dat hierdie Messias, wat van ouds af bestaan, die Herder van die volk van Israel sal wees en mense en nasies sal oordeel.

Miga het natuurlik verwag dat dit in sy tyd al ‘n effek sal hê en dit uitgelê in terme van die Assiriërs wat die loef afgesteek sal word (Hos 5:4). Maar, dit is ook duidelik dat die profesie ‘n verdere vervulling het, soos nie net die soortgelyke profesie van Jesaja 7 op beide Hiskia as eietydse teken aan Agas gedien het as op Jesus as ‘n teken van God se redding nie, maar erken is deur die Skrifgeleerdes in hulle uitleg van die gedeelte aan Herodes agt eeue later.

Hoe dit ook al sy, hierdie Herder sal die volk lei deur die krag wat die Here hom gee, en in aansluiting by die verbintenis van Miga 2:5: “ons sal vir altyd in die Naam van die Here ons God lewe,” dit vir die volk moontlik maak om te doen: “deur die sterkte van die Naam van die Here sy God.”

Vers 6 is uiters belangrik in die verwoording van die doel van dié verlossing. Miga sê: “Dié van Jakob wat oorbly, sal tussen baie volke wees, hulle sal daar wees soos dou wat van die Here af kom, soos stortreëns op groen gras wat nie vir ‘n mens wag nie.” Dit beteken vir my dat hulle tot seën van die nasies sal wees, presies wat God met hulle van die begin af wou doen.

Dit sou ook ‘n metafoor van oordeel oor die nasies kan wees, waar die eerste metafoor van dou en reën die stille, onkeerbare en deurdringende kant daarvan kan simboliseer en die tweede metafoor van die leeu die harde, gewelddadige en oorrompelende kant daarvan kan simboliseer. Ek verkies die metafoor van seën in die lig van die positiewe boodskap van hoofstuk 4, maar die keuse is joune.

Dit sluit dus ook in, indien ‘n mens die dou en reën as metafore van seën interpreteer, dat hulle nie meer in vrees vir die nasies sal lewe nie. Hulle is ook soos ‘n leeu tussen wild of tussen ‘n trop skape wat oor hulle beheer kan uitoefen.

Miga 5:9-14 – Die Here sal alle afvalligheid van Hom beëindig ook onder die nasies

Die Here gebruik hulle egter nie net tot ‘n seën nie en stel hulle nie net in staat om selfstandig en onafhanklik te bestaan tussen die nasies nie. Hy herstel hulle ook na binne. Hy neem hulle oorlogstuig weg, verwyder die noodsaak van vestingstede, omdat Hy hulle beskerming is. Hy verwoes en vernietig ook hulle toorgoed, waarsêery, afgodsbeelde, klippilare en gewyde pale sodat hulle na Hom alleen kan luister. Hy beëindig dus alle afvalligheid van Hom, selfs die moontlikheid om afvallig te word, ook onder die nasies.

Boodskap en betekenis

God se droom vir sy mense is van altyd af dat Hy só ‘n werklikheid vir hulle sal wees dat hulle ‘n ontmoetingsplek sal wees vir die nasies met Hom. Die patroon is en was nog altyd: God seën ons om tot ‘n seën te wees.

  • Die hele skeppingsverhaal kan uit daardie hoek verstaan word. Die aarde word bewoon, bewerk en bewaar sodat God se mense tot ‘n seën kan wees vir alles en almal wat daarop is (Gen 2:15).
  • Die hele sondvloed verhaal kan uit daardie hoek verstaan word. Noag word ‘n belangrike oorgang tussen die verloregaande wêreld en die nuutgemaakte wêreld vir mens en dier met dieselfde opdrag as aan Adam en Eva om tot ‘n seën te wees: “God het vir Noag en sy seuns geseën en vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar, word baie en bewoon die aarde.” (Gen 9:1).
  • Die hele roepingsverhaal van Abraham kan uit daardie hoek verstaan word. “Ek sal jou seën en jou ‘n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ‘n seën wees.” (Gen 12:2).

En só kan ‘n mens aangaan regdeur die Skrif. Dit is ook uit daardie hoek wat ‘n mens die hele bediening van die Here Jesus Christus moet verstaan. Hy is die Regeerder-Herder-Leier wat na vore gekom het en sy volk lei deur die krag wat God Hom gegee het. Hy is die een wat vrede gebring het en besig is om dit te vestig in sy koninkryk.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar