Skip to main content

Psalm 75

Dis God wat verneder en verhef

Waar Psalm 73 gefokus het op die versoeking van ’n enkele gelowige om die goddeloses hul voorspoed te beny totdat sy hart tot rus gebring is toe hy oor die uitkoms van hulle lewe nagedink het, só fokus Psalm 75 op die versoeking van die gemeenskap van gelowiges om dieselfde te doen.

Ons almal kyk baie keer na die relatiewe sukses en mislukking van mense en wyt dit net te maklik aan sulke mense se eie toedoen, hetsy aan hulle vermoëns of aan hulle gebreke. Soos die Psalmis in Psalm 73 in die heiligdom egter tot ander insigte gekom het oor die goddelose se uiteinde, so gebeur dit in Psalm 75 met die gemeenskap van gelowiges ook in terme van die lewe self. Hulle word hiermee gerusgestel dat dit God is wat verneder en dat dit God is wat verhef in hierdie lewe (vers 8). Daarvoor kan ’n mens God vertrou.

Dit is waarom ’n mens dié Psalm waarskynlik kan beskou as ’n “liturgiese preek” wat gelewer is om gelowiges in die heiligdom te help om God se bepalende werk in die wel en weë van die lewe raak te sien. Die voorganger (profeet of priester) begelei hulle soos volg:

Loof God vir sy teenwoordigheid by en wonderwerke onder ons – vers 2

Let op hoe die Psalmis-prediker op twee goed fokus:

  • God se teenwoordigheid by ons (“U Naam is na aan ons“ – 2014 vertaling)
  • en die wonderwerke waarvan mense vertel (“Mense vertel van u wonderwerke” – 2014 vertaling).

Dit is immers waaroor ’n erediens gaan: om God se teenwoordigheid te ervaar, mekaar opgewonde te maak oor wat Hy in die (ons) lewe doen en Hom daarvoor te loof!

Hou rekening met God se beheer van alles en almal – vers 3-4

Die Psalmis herinner die geloofsgemeenskap aan twee van God se beloftes:

  • dat Hy regverdig sal oordeel as die tyd wat HY bepaal het, aanbreek en,
  • dat Hy orde sal bring in die chaos wat gemeenskappe op aarde kan tref (moontlik word daar ook aan natuurrampe gedink), uitgedruk met die metafoor dat Hy die aarde sal bevestig op sy pilare. Onthou dit is ’n metafoor vir die stabiliteit van die aarde, nie ’n fisiese beskrywing van hoe die aarde gemaak is nie!

Dit is dié tipe gerusstellings wat gereeld deur die gemeenskap van gelowiges omarm moet word en hulle tot gebed moet aanmoedig vir plekke en gemeenskappe wat aan onreg en onrus blootgestel word.

Moenie verwaand wees en jouself verhef nie – vers 5-9

Saam met die belofte kom egter ook die waarskuwing vir dié wat verwaand is (hooghartig sê die 1983 vertaling) en goddeloos lewe en hulle eie beuel blaas. In die oorspronklike Hebreeus word gepraat van “die horing oplig of verhef” (horing = simbool van mag) wat op die verheerliking van hulle eie mag dui. Sulke mense moet veral hulleself nie verhef teenoor die hemel wat God se woonplek is nie, want Hy lewer uiteindelik die beslissende oordeel oor wie verhef word en wie verneder word.

Om die waarheid te sê, God se oordeel lê nie net in die vernedering van dié wat hulleself verhef nie, maar in die onnoembare leed wat hulle kan tref in die oordeelsbeker wat hulle sal moet drink.

Loof God vir sy regverdige oordeel oor goddelose mense en regverdiges – vers 10-11

Die Psalmis-prediker sluit af deur weer te fokus op die geloofsgemeenskap self deur hulle te bemoedig dat God die mag van die goddeloses sal verpletter en die regverdiges sal verhef.

Dit laat my dink aan die baie belangrike nadenke van Paulus oor die lewe van Jesus in sy brief aan die gemeente in Filippi, hfst. 2. Dit is omdat Jesus God vertrou het – soos Psalm 75 dit ook onderstreep – dat Hy nie sy gelykheid aan God beskou het as iets waaraan Hy moes vashou nie en ten alle koste moes beskerm nie, maar Homself prysgegee het tot in die dood aan die kruis. Dié daad van selfontlediging (kenosis) is deur God opgevolg met ’n uitermate verhoging van Jesus as Here voor wie elke knie sal buig van diegene in die hemel en op die aarde en onder die aarde waar elke tong sal bely: “Jesus Christus is Here!” (Fil. 2:5-11).

Boodskap en betekenis

Dat God in beheer is van die uitkomste van hierdie lewe is ’n ongelooflike belangrike insig, want dit leer ons om in ons reaksies op wat om ons aangaan te alle tye rekening te hou met God se werk. Die oënskynlike sukses en mislukking van mense is te wyte aan God se werk. Dit is ook waar van jou eie suksesse en mislukkings. Jy misken dít tot jou eie skade. Daarmee moet ons mekaar bemoedig.

Ek hou vandag vas aan die gedagte in vers 8: “Nee, God is regter: Die een verneder Hy, die ander verhef Hy” (2014 vertaling). Hy is billik en regverdig. Dit is dié God wat die moeite werd is om te vertrou al gebeur wat ook al met jou in die lewe.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda