Skip to main content

Eksodus 23

Sorg vir geregtigheid en die geloofsgemeenskap met God se hulp

Teks en konteks

Die klem op die verhouding tussen mense en diere, en mense en hulle besittings word in hoofstuk 23 uitgebrei om eerstens aan die hand van die negende gebod (valse getuienis) die wyse waarop geregtigheid in die gemeenskap moet werk, uit te spel – Eks. 23:1-9. Daarna word tweedens die positiewe funksie wat die Sabbat – wat verband hou met die vierde gebod (Sabbat) – en die drie hoof feeste vir die geloofsgemeenskap inhou, onderstreep – Eks. 23:10-19. Die hoofstuk word derdens afgesluit met die belofte dat die engel van die Here voor die volk sal uittrek wat onder andere verband hou met die nakom van die eerste (geen afgode) en tweede gebod (geen afgodsbeelde) – Eks. 23:20-33.

Oor geregtigheid – Eks. 23:1-9

Geregtigheid in hierdie verse hou veral verband met die keuse vir die waarheid in lyn met die negende gebod (valse getuienis). Die geloofsgemeenskap mag hulle nie ophou met die versprei van skinderstories of die lewering van valse getuienis vir misdadigers in ‘n regskonteks wat jou met korrupte omkoopgeskenke kan probeer beïnvloed nie. Selfs wanneer ‘n mens in die minderheid is in die bevordering van die waarheid moet jy daarin volhard: “Jy mag nie agter die meerderheid aan doen wat verkeerd is nie.” Die waarheid moet bó die leuen gekies word. Dit is hoe die Here self in sy verhouding met mense optree.

Dit sluit die billike hantering van vyande en vreemdelinge in. Jy moet selfs vir jou vyand se besittings omgee as dit wegraak of swaarkry, en nie toelaat dat ‘n vreemdeling verdruk word nie. Die beginsel is steeds ‘n geregtigheid wat op ‘n diep deernis vir die naaste gebaseer is.

Oor die Sabbat en drie feeste – Eks. 23:10-19

Om die geloofsgemeenskap in hierdie geregtigheid en deernisvolle hantering van die vyand en die vreemdeling te help, word die ondersteunende strukture van die Sabbat – wat natuurlik direk verband hou met die vierde gebod (Sabbatdag) – en die drie hoof “oes”-feeste van die geloofsgemeenskap uitgespel. Dit is die fees van die ongesuurde brood wat met die Paasfees gehou is in die lente met die eerste oes van gars, die fees van die begin van die oes van koring (vgl. Eks. 34:22 wat dit ook die “fees van die weke” genoem het) wat in die somer gehou is, sowel as die fees van die laaste deel van die insameling van die res van die oes in die herfs (vgl. Eks. 34:18-26; Lev. 23:1-44).

Trouens, die Sabbat word as motivering gebruik vir ‘n Sabbatsjaar vir hulle boerderybedrywighede waarin die normale bewerking van graan, druiwe en olywe vir ‘n jaar gestaak word, sodat die land braak kan lê en tot rus kan kom, en daar ook vir die armes en wilde diere kos kan wees om te eet. Almal het ‘n ruimte van asemskep nodig, selfs die aarde!

Dié gedeelte word afgesluit met ‘n lering oor gebed waarin hulle in lyn met die eerste (geen afgode) en derde gebod (Naam) verbied word om op enige manier met ander gode as die lewende God self in gesprek te gaan. Hy is die Een wat vir hulle sal sorg en dit selfs sal doen as hulle elke sewende dag sou rus van hulle handewerk, sowel as in dié jaar waarin hulle hulle normale ekonomiese aktiwiteite sou inkort.

Dit is dan ook die doel van die drie groot feeste wat later met nog ander uitgebrei sou word. Dit is om aan die een kant tot rus te kom en asem te skep. Maar aan die ander kant is dit om in die verering van die Here só van sy teenwoordigheid bewus te word dat dié ervaring in die normale sleur van elke dag se harde werk ingedra kan word. Daarom word die Here met die beste opbrengs van hulle oes vereer.

Die verbod op die kook van ‘n boklam in sy ma se melk word op baie verskillende maniere uitgelê. Sommige dink dat dit met Kanaänitiese magiese vrugbaarheidspraktyke verband hou. Ander dink dat dit met die lewegewende krag van die melk te make het wat nie met die verydeling van die dood geassosieer moet word nie. Ek dink dat dit met ‘n deernis vir die ma-kind verhouding te make het. Hoe dit ook al sy, hieruit het die Joodse kosjer wette waarin vleis – en melk produkte altyd apart hanteer is, voortgevloei.

Oor die engel van die Here wat voor hulle uit sal trek – Eks. 23:20-33

Die lys van wette wat die Here vir die volk voorskrywe as rigtinggewende beginsels word afgesluit met ‘n aanspraak op die volk se absolute onverdeelde lojaliteit wat onder andere verband hou met die eerste (geen afgode) en tweede gebod (geen afgodsbeelde). Daaraan word die belofte van die engel van die Here wat voor hulle uit sal trek, gekoppel.

Die belofte van God se teenwoordigheid sluit in dat Hy hulle sal beskerm, selfs van siektes (plae), miskrame en onvrugbaarheid, en in die land van die belofte sal inbring. Daar sal Hy die nasies voor hulle uitdryf en vernietig, al sal dit nie eensklaps gebeur nie, maar met verdrag, sodat die land nie verwaarloos word, omdat hulle nog nie groot genoeg as volk gegroei het nie. Hierdie engel moet egter absoluut gehoorsaam word, want God het sy volmag aan die engel oorgedra.

Die belofte van die Here is dus omvattend en lewegewend, maar word terselfdertyd ook voorwaardelik afhanklik gemaak van hulle onwrikbare gehoorsaamheid. Dan sal Hy hulle ‘n gebied gee só groot dat dit van die Rietsee af sal strek tot by die Filistynse See (Middellandse See) en van die woestyn tot by die Eufraatrivier in Mesopotamië.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…