Skip to main content

2 Konings 15:1-7; 2 Kronieke 26

Ussia se voorspoed maak hom te ingenome met homself

Na die fokus op koning Jerobeam II van Israel en die profeet Jona se sending na Nineve fokus ons weer op die Suidryk, koning Asarja, ook Ussia genoem. Daarna gaan ons verder lees aan die boodskap van die profete wat in hierdie tyd opgetree het: Amos, Jesaja, Hosea, en Miga.

Teks en konteks

Volgens Kronieke val Ussia se lewe in twee dele uiteen soos trouens in mindere of meerdere mate van die meeste konings in Kronieke gesê word:

  • ‘n Tyd van voorspoed waarin hy die Here dien en doen wat reg is;
  • ‘n Tyd van afvalligheid waarin hy die Here minag en in sy geval met melaatsheid gestraf word.

Ussia se noemnaam was waarskynlik Asarja, soos hy op ’n hele paar plekke genoem word (2 Kon 15). Ussia was waarskynlik sy koningsnaam. Kronieke vermy sy noemnaam, omdat daar ook ’n hoëpriester Asarja in dié tyd opgetree het, en hy verwarring met die hoëpriester wou voorkom.

Ussia dien die Here en doen alles wat reg is, veral deur na die wil van die Here te vra. Weereens speel ’n profeet ’n belangrike rol, Sagaria, “wat insig in die openbaring van God gehad het”.

Terwyl die verhouding tussen koning en profeet in stand gehou is, het dit goed gegaan met hom in alles wat hy onderneem het. Hy beleef voorspoed teen die Filistyne, onderneem uitgebreide bouwerk van stede en forte en word deur die Here gehelp nie net teen die Filistyne nie, maar ook teen die Arabiere en die Meüniete (van die Seïrberge). Sy naam het tot in Egipte bekend geword en die Ammoniete het hom met geskenke vereer. Sy roem het wyd gestrek omdat hy op, “wonderbaarlike wyse hulp ontvang het”.

Ussia se weermag was goed toegerus met onder andere uitvindsels wat deur “slim mense ontwerp is”! Hierdie uitvindsels was waarskynlik ’n plaat of instrument waaragter die soldate kon wegkruip asook pyle kon afskiet en klippe kon gooi na hulle aanvallers. Katapulte of lanseerders kom waarskynlik eers uit die Griekse tyd van ongeveer die 5de eeu vC af, hoewel daar ook sommige geleerdes is wat dit met die vroeëre Assiriese tyd verbind.

Wat verder kostelik is van Ussia is dat hy ook in murg en been ’n boer was: “Hy was lief vir die grond.” Hy was veeboer, groenteboer en wingerdboer!

Ussia se selfvoldaanheid lei egter tot sy aanmatigende houding teenoor die Here deur sy naamgenoot Asarja te probeer troef en self offers probeer bring het aan die Here. Niks kon hom keer nie. Hy het net briesend geraak teenoor Asarja toe dié hom probeer waarsku.

Die Here tref hom met melaatsheid wat hom uit die kollig neem. Sy laaste dae slyt hy in ’n plek van afsondering met sy seun Jotam wat begin regeer het.

Interessant genoeg, Ussia se verhale word deur Jesaja, die groot profeet en seun van Amos, neergeskryf (2 Kron 26:22).

In die sterfjaar van Ussia sien Jesaja ook sy beroemde visie van God soos ons dit het in Jesaja 6.

Boodskap en betekenis

Die kontras tussen koning Ussia wat hom vergryp aan God se heerlikheid en gestraf word daarvoor, en Jesaja wat met ontsag vervul word deur God se heerlikheid en daardeur as profeet geroep word, is treffend.

Die boodskap raak egter al hoe meer duidelik: al die konings faal die Here, in ‘n mindere of meerdere mate, maar gelukkig doen Hy sy werk deur die profete en het Hy ‘n plan nie net met sy oordeel nie, maar veral met die hoop op ‘n toekoms wat verandering sal bring!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…