Skip to main content

1 Timoteus 5

Gelowiges moet mekaar met oorleg onderskraag

Paulus vervolg om vir Timoteus spesifieke werkswyse uit te spel wat hy kan volg ten opsigte van die gemeente, met spesiale aandag aan sy hantering van die geestelike leiers.

Teks en konteks

Onderlinge onderskraging – 1 Timoteus 5:1

Die woord parakaleoo  wat hier met vermaan vertaal word, kan ook met bemoedig of vertroos vertaal word, of selfs met die woord onderskraging.  Dit is die woord wat ook vir die Heilige Gees se werk gebruik word (Johannes noem Hom die Paraklêtos wat met Voorspraak of Trooster vertaal word Joh. 15:26, 16:7).  Dit is ook die woord wat vir Jesus Christus se bemoedigende en vertroostende werk in ons lewe gebruik word (Fil. 2:1 – “troos in Christus” – paraklêsis).

Om mense te parakaleoo beteken dus om nie soos ‘n ton bakstene op hulle af te kom oor iets wat verkeerd gaan of waaroor verskil van mening bestaan nie.  Dit is om langs iemand te gaan staan, as’t ware jou arm om haar of sy lyf te slaan, en saam die pad na die heelheid wat God bring, te bewandel.

Daarom beklemtoon Paulus dat ‘n mens optree soos jy dit in jou eie familie sou gedoen het.  Hy vra van Timoteus dat hy sy eie pa, ma, susters en broers in gedagte moet hou, as hy moet vermaan, bemoedig of vertroos.  Veral teenoor jonger vroue kon sy naam in diskrediet kom, vandaar die opdrag om hulle soos sy susters, in alle eerbaarheid te hanteer.

Weduwees – 1 Timoteus 5:2-16

Weduwees was meesal afhanklik van die gemeenskap vir versorging, en het daarom spesiale aandag geverg.  Trouens, dit was een van die eerste dinge wat die gemeente in Jerusalem gedoen het, om deeglik te voorsien in die daaglikse voorsiening van die Griekssprekende sowel as die Hebreeuse weduwees (Hand. 6).  Timoteus moes dus spesifiek omsien na dié wat werklik alleen was, en nie ander hulp gehad het nie, as’t ware die barmhartigheidsdiens goed laat funksioneer.

Dit lyk of sommige van dié weduwees ‘n besondere plek in die gemeente gehad het, en op ‘n lys van dienende weduwees gekom het, ‘n soort “orde van weduwees”.  Daar is twee maniere om oor hierdie lys te dink.  Dit kan wees dat hulle werk soortgelyk aan die ouderlinge gedoen het, met ‘n spesifiek fokus op gebed, versorging en barmhartigheid. Dit kan ook wees dat hulle doodgewoon gekwalifiseer het om deur die gemeente versorg te word, en só onderskei is van bv. jonger weduwees wat nie dieselfde hulp kon geniet nie.

Let op die verwysing na voete was, waarin dit duidelik is dat die voorbeeld van Jesus as model voorgehou en nagestreef is in die vroeë kerk.

Ouderlinge – 1 Timoteus 5:17-20

Hier spel Paulus ‘n bietjie meer uit van die werk van die ouderlinge.  Let op dat dit prediking insluit, nie net onderrig en leierskap nie.  Gerus iets wat ons in ons hantering van die ampte in ons onderskeie kerke kan navolg!  En hulle is as arbeiders hulle loon werd, eintlik dubbeld, as hulle goeie leiding gee, wat waarskynlik beteken dat hulle ook vergoed is op een of ander manier, as ‘n mens die metafoor van die bees wat graan dors ernstig neem.

Timoteus moet homself ook hier instel om dié ouderlinge met eerbied en waardering te hanteer, maar tog ook reg te help waar dit nodig sou wees.

Terloops, die twee verwysings na die Skrif in vers 18 kom uit die OT en die NT. Die eerste is ‘n aanhaling van Moses se voorskrifte in Deuteronomium  25:4 (“Jy mag ‘n bees wat graan trap, nie muilband nie”). Die tweede is ‘n aanhaling van Jesus wat uiteindelik in Lukas 10:7 ‘n neerslag vind (“’n Arbeider is sy loon werd”). Paulus het dus die woorde van Jesus op dieselfde vlak as die OT beskou.

Ander opdragte – 1 Timoteus 5:21-25

Timoteus se eie karakter en lewe bly egter sentraal in die uitvoering van sy roeping.  En dit moet wys in sy hantering van mense: sonder vooroordeel en onpartydig.  En soos hy oorleg moet toon in sy hantering van mense wat te oorhaastig tot die bediening wil toetree, moet hy dit ook toon in die manier waarop hy leef, om gesondheid na te streef.  Die voorskrif vir wyn was ter wille van herhaalde ongesteldhede, moontlik as gevolg van ‘n te asketiese lewenstyl van Timoteus.

Dit is tog interessant hoe Paulus eintlik hier vir Timoteus sê: haas jou langsaam.  Moenie te gou bevestig nie – wag tot iemand se verbintenis aan sy roeping baie duidelik is.  Moet ook nie te gou oordeel nie – wag tot die persoon se eie lewe wys wat in sy hart aan die gang is, voordat jy optree.

Boodskap en betekenis

Paulus leer dat die gemeente soos ’n familie moet wees waar gelowiges mekaar met oorleg en respek onderskraag. Verhoudings moet met bemoediging en eerbaarheid hanteer word, soos binne ’n huisgesin. Weduwees moet met sorg en onderskeiding versorg word, sodat die werklik behoeftiges ondersteun kan word. Ouderlinge verdien besondere agting, veral dié wat goed leiding gee in prediking en onderrig, maar ook regstelling waar nodig. Timoteus self moet hierdie opdragte uitvoer met onpartydigheid, wysheid en ’n voorbeeldige lewe, sonder ‘ haastige oordeel oor of bevestiging van mense in die bediening.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…