Skip to main content

Job 6

Julle beskou medelye met ‘n vriend as ‘n las

Job begin die eerste rondte van sy antwoord aan Elifas in hoofstuk 6 met ‘n persoonlike worsteling met van die perspektiewe wat Elifas oopgemaak het (6:1-13).  Hy volg dit op met ‘n skerp kritiek op die gebrek aan simpatie wat hy by sy vriende opmerk, waarin hy hulle ook al hoe meer direk aanspreek en hulle optrede bevraagteken (6:14-30).

Hy sluit sy antwoord in hoofstuk 7 af met ‘n gesprek met God waarin hy worstel met sy verganklikheid (“Dink daaraan, o God, dat my lewe maar net ‘n asempie is.” – 7:1-10).  Hy sou dit waardeer as die Here hom nou net so ‘n bietjie laat asemskep en vergewe as hy dan gesondig het in die bittere beproewing wat hom getref het  (7:11-21).

Kan ek nog geduldig op my einde wag? – 6:1-13

Die saaklike selfversekerdheid waarmee Elifas Job probeer troos het in hfst. 4-5 stuit Job teen die bors.  Sy ellende is so groot dat as ‘n mens dit kon weeg, sou dit swaarder weeg as die sand van die see.  Dit is dié pyn wat agter die geweld van sy woorde lê.  Daaroor kan ‘n mens nie net koud en klinies praat nie.

Waar Elifas gepraat het van die Almagtige wie se teregwysing ‘n mens nie moet verontagsaam nie (5:17) in die hoop dat Hy die wonde weer sal verbind (5:18), dink Job daaroor na dat hy juis ‘n probleem met God se Almag het.  Dit is juis die Almagtige wat hom met sy giftige pyle deurboor: “Verskrikkinge van God bedreig my.

Daar is geen hoop om ‘n uitkoms nie, dink Job.  Omdat hy nie weet wat hy verkeerd gedoen het nie, kan die Here se aksies nie ‘n teregwysing wees nie.  Anders sou die Here hom tog ingelig het, dan nie?

Job sou dus liewer dat die Here hom heeltemal uitwis. Dit is sy gebed.  Dan sou sy troos wees dat hy ten minste in sy lewe nie die woorde van die Here geminag het nie.  Maar, het hy die krag om selfs só ver uit te hou?  “Kan ek nog geduldig op my einde wag?”  Daarvan is Job ernstig onseker, want sy krag is weg, en raad weet hy nie meer nie.

Julle beskou medelye met ‘n vriend as ‘n las – 6:14-30

In ‘n bytende sarkastiese toon wys Job sy vriende tereg dat hulle deernis so onbetroubaar is soos ‘n droë rivierloop.  Jy verwag dat daar ‘n slukkie lafenis sal wees as dit warm is, maar helaas, hulle deernis is beskamend: “daar is niks.”  Tema en Skeba was in die droë woestynagtige Arabië geleë wat die metafoor se trefkrag verhoog.

Trouens, hulle gebrek aan deernis, wys dat hulle geen eerbied het vir die Almagtige nie, dié Een wat in Elifas se perspektief weer wonde kan verbind: “Wie medelye met ‘n vriend beskou as ‘n las, het die eerbied vir die Almagtige verwerp.” Kragtige woorde wat skeur uit die bors van iemand wat verstik aan die onbarmhartigheid van sy vriende.

As ek dan êrens iets verkeerd gedoen het, wys dit dan vir my, vra Job van sy vriende: “Help my om te verstaan, dan sal ek stilbly.”  Nie dat hy regtig verwag dat hulle wysheid vir hom van hulp gaan wees nie, want hulle gebrek aan deernis het alreeds gewys uit die wyse waarop hulle weeskinders hanteer (6:27).  Hy het daarom ook nooit iets van hulle gevra nie, toe alles nog reg was met hom nie, maar het darem verwag dat hulle deernis sal hê in sy nood.

Job skets dus ‘n prentjie van sy vriende as mense wat geen eerbied het vir God nie, al bely hulle dit, want hy sien dit in die feit dat hulle geen deernis het met behoeftiges nie. Hulle wys hulle gebrek aan eerbied vir God deur hulle gebrek aan deernis met mense in die wyse waarop hulle Job troos.

Soos Johannes eeue later sou sê oor ons hulp aan ander: “Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie—hoe kan die liefde van God in hom wees?  Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word, en dan in opregtheid.” (1 Joh. 3:17-18; vgl. ook Jak. 2:14-17).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda