Skip to main content

Psalm 63

Ek bly altyd naby U

Hierdie Psalm is vir baie van ons bekend deur die lied van Rhe Janse soos onder andere opgeneem deur Willie Joubert en Louis Britzz (FLAM 22). Ek gee die woorde aan die einde as jy dit wil sing.

Die Psalm word in die eerste vers geassosieer met ‘n tyd waarin Dawid in die Judawoestyn was, die onherbergsame lae reënvalgebied tussen Jerusalem in die middel van die land en die Dooie See aan die oostekant. Hy was waarskynlik op vlug van Absalom eerder as van Saul, omdat hy oor homself as koning praat in vers 12. Daarom hanteer ek dit hier.

Teks en konteks

Die Psalm is in twee dele geskryf, met vers 1 soos gewoonlik die inleiding:

  • Ek bly altyd naby U – vers 2-9.  Let op die diep behoefte wat Dawid aan God het wat hy uitdruk met werkwoorde soos soek¸ dors, en  smag.  Die woestyngebied waar hy is, raak vir hom ’n metafoor van sy lewe – sonder God is die lewe sonder enige fut en genot.  Hy wil eerder die hele lewe beleef in die teenwoordigheid van die Here, uitgedruk met die metafoor van die heiligdom.  Hy wil God se mag en grootheid ondervind, want God se troue liefde (gêsêd) is meer werd as enigiets anders wat die lewe kan bied.  Sy hele lewe moet ’n verheerliking van die Here wees, uitgedruk met die metafoor van sy hande wat saam met die geloofsgemeenskap opgehef word om God se naam te prys.  Hy wil van dié God sing wat sy goeie gawes met almal deel.  Dié gedagtes bring ’n groot berusting by hom in die verlatenheid van die woestyn, selfs as hy in die nag op sy bed aan God en Sy plan vir sy lewe nadink.  Want, selfs daar, ondervind hy dat God vir hom ’n hulp en beskerming is, uitgedruk met die metafoor van die vleuels van die gerubs wat in die heiligdom beskerming bied.  Daarom bly Dawid altyd naby God, onder die vleuels van sy teenwoordigheid, waar hy niks anders as God nodig het nie.
  • Laat elkeen Hom prys – vers 10-12.  Vanuit die ondersteuning wat Dawid beleef in sy meditasie oor God se liefde, hulp en beskerming, bid hy dat die mense wat sy ondergang soek sal wegsink in die dieptes van die aarde, dat hulle aan die swaard oorgegee en aas vir die jakkalse sal word.  Daarteenoor bid hy dat die Here hom as koning sal toelaat om hom in God te verbly, trouens dat almal hierdie voorreg om God te prys, sal kan beleef.  “Elkeen wat hom op die Here verlaat” moet God kan prys – dit is sy gebed.  Dawid herinner God dus aan die belofte dat die Here hom as koning sal ondersteun, maar dit gaan nie vir hom soseer oor die koningskap as sodanig nie.  Dit gaan oor die diep behoefte om in vryheid God se naam saam met ander te mag prys.  Na alles is dít immers die hoofdoel van die mens, “om God te verheerlik en vir ewig te geniet”, soos die Westminster Kategismus dit in sy eerste vraag en antwoord so diepsinnig stel.  Dit gee ons ook ’n perspektief op Dawid se gebed vir die dood van sy teëstanders.  Dit is nie dat hy per se wraakgierig is en hulle uit die weg wil ruim omdat hulle hom bedreig nie, maar omdat hulle die vrye aanbidding van die Here bedreig en niks in die pad daarvan mag staan nie.  Nogal iets om oor na te dink!

Boodskap en betekenis

Die Psalm herinner ons daaraan dat daar ’n verhouding met God moontlik is wat só diep is, só bevredigend, só vervullend, dat dit die beste wat jy in die lewe kan ervaar, oortref en dat selfs die slegste wat met jou kan gebeur, dié verhouding met God nie kan versteur nie.

Hier is die woorde van Rhe Janse se lied:

  1. Ek soek U, o God, my God,

ek dors na U, God.

Soos ‘n land sonder water,

wil ek tot u nader

om by U te wees,

om by U te wees.

  1. As ek saans aan U dink, my God,

oor U peins in die nag,

dan weet ek U help my,

U hand ondersteun my.

Ek wil naby U bly,

ek wil naby U bly.

Refrein: 

Want U liefde is meer werd as die lewe,

daarom sal ek U vir altyd prys;

my hande ophef om u Naam te eer,

want U is die Heer vir wie ons lewe, lewe, lewe

As jy die lied ken, kan jy dit sing, of as jy dit op CD het, dit speel terwyl jy die Psalm lees, sodat dié Psalm jou die hele dag kan dra.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda