Skip to main content

Spreuke 16:1-33

Die mens wik, maar God beskik

Spreuke 16:1-3

Vers 1 lees letterlik in Hebreeus: “Van die mens is die planne/voorbereiding van die hart (gedagtes), maar van die Here is die antwoord van die tong.” Die tweede deel van die vers kan die beste verstaan word as God se reaksie op wat die mens beplan, dws dit is die antwoord van Sy tong, by wyse van spreke. Peterson vertaal daarom: “Mortals make elaborate plans, but God has the last word,” soos inderdaad die 1983-vertaling dit ook het.

Met al die uitsprake in Salomo se eerste bundel oor mense se woorde en die impak daarvan op die gemeenskap en die lewe, is hierdie sintese van hom miskien die belangrikste spreuk. Ons woorde maak saak. Dit is duidelik, soos in hoofstuk 15 al gesien. God se woorde maak nog meer saak. Dit is ook duidelik, soos reeds in hoofstuk 15 gesien. Wat hoofstuk 16 egter nog helderder daaroor sê, is dat God se woorde lotsbepalend is. Want, Hy doen wat Hy sê.

Omdat God die laaste woord oor alles het, beteken dit vir my ook dat Hy die eerste woord oor alles moet hê, presies wat in Spreuke 1:1-7, en Spreuke 3:1-12 aangevoer is. Anders kan dit ‘n mens suur bekom. Dit is waarom ontsag vir Hom die begin van die wysheid is, trouens die begin selfs van kennis is, ten minste van dié kennis wat die moeite werd is, soos Spreuke nou al ‘n paar keer onderstreep het.

God kyk na gesindhede – vers 2. Peterson vertaal interessant genoeg “God probes for what is good” wat insiggewend is. Daarom, beplan en voer uit wat God wil hê, dan sal jou planne uitwerk – vers 3.

Spreuke 16:4-5

Vers 4 werk met die belofte dat God in beheer is van die eindbestemming en doel van alles. Onthou ook dat God nie van arrogansie en verwaandheid hou nie, mense wat voorgee dat hulle alles weet, terwyl hulle daarmee op God se terrein oortree – vers 5. Uit daardie hoek maak die twee opmerkings oor straf vir die goddelose en die verwaande in vers 4-5 sin, omdat hulle hulself aanmatig om die god van hulle eie lewe te word, en dit hulle buite die ruimte van God se sorg en seën plaas. Hartseer en hard, maar onvermydelik.

Spreuke 16:6-7

Vers 6. Let op die aanbod van versoening – klink heel Nuwe-Testamenties! – as ‘n keuse vir ontsag vir die Here en ‘n lewe van liefde en trou in die gemeenskap gemaak word. Vers 7. Dit ontsluit God se seën in jou lewe wat selfs jou vyande in vrede met jou laat lewe.

Spreuke 16:8-9

Vers 8. Salomo se gevolgtrekking in hierdie perikoop is dat só ‘n lewe – ’n regte lewe – beter is as baie inkomste en die verkeerde verhouding met God en die gemeenskap. Vers 9. En dan sluit Salomo af met die herhaling van vers 1 dat ons planne moet inpas in wat God wil. Dan kan ons verwag om sukses daarmee te behaal.

Geen wonder dat hierdie 9 verse aan die grondslag lê van vele idiome wat deur die eeue hieroor geformuleer is. Uit Eritrea kom dié een: “Man begins; God completes” (“Proverbs”, in Africa Bible Commentary). ‘n Engelse idioom sê: “Man proposes; God disposes.” soos in vele kommentare nagevolg. In Afrikaans is daar: “Die mens wik, maar God beskik.” Paulus sou in Filippense 2:12-13 dit as volg verwoord: “My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.”

Spreuke 16:10-11

Salomo vervolg sy waarnemings oor God se werk in gewone mense se lewe. Hy skryf verder oor hoe dit werk in die koning se lewe en regering. Hy teken die kenmerke van ’n ideale koning. Vers 10. Die koning praat met Goddelike gesag. Vers 11. Die koning gebruik God se maatstawwe in die regspraak. Waar dit die geval is, floreer ‘n volk. Waar dit nie die geval is nie, krepeer ‘n volk. In alle gevalle vorm hierdie hele gedeelte (vers 10-15) ons gebede vir leiers en regeerders.

Spreuke 16:12-13

Vers 12. ’n Goeie koning word gekenmerk deur ’n regverdige regering wat deur almal as billik en in ooreenstemming met God se morele wette ervaar word. Op die koop toe bevestig regverdigheid sy troon terwyl goddeloosheid ’n gruwel in die oë van die Here is. Vers 13. Om dit te kan doen, moet ’n koning lief wees vir die waarheid en die waarheid praat. Dit dien nie net sy eie belange nie, maar almal in sy koninkryk s’n.

Spreuke 16:14-15

Vers 14. Die koning se dodelike woede is onvoorspelbaar, maar word deur wysheid tot bedaring gebring. Vers 15. Sy vriendelikheid en goedgesindheid daarenteen beïnvloed alles. Sy goedgesindheid is soos ’n wolk wat lentereëns bring wat verseker dat daar ’n oes op die land is.

Spreuke 16:16-17

Die res van hoofstuk 16 het ’n hele aantal meer losstaande spreuke, wat tog oorhoofs kan inskakel by die tema wat in vers 16 ingelei word: wysheid is beter as welvaart.

Vers 16. Fokus op wysheid eerder as op welvaart. Wysheid is beter as goud. Insig is beter as silwer. Vers 17. Opregtheid en oplettendheid lei tot die lewe. Om die kwaad te vermy, is soos om op ‘n goed geboude pad te ry, eerder as op ‘n pad vol slaggate en dongas. Dit beskerm jou lewe.

Spreuke 16:18

Hierdie vers word op verskillende wyses in idiome gebruik. “Hoogmoed kom voor die val”, veral vir iemand met ’n groot ego. Om jou op ’n arrogante wyse aan te stel oor wat jy het of bereik het, maak jou blind vir jou eie foute wat jou kan laat struikel. “First pride, then the crash—the bigger the ego, the harder the fall.” (The Message).

Spreuke 16:19-20

Vers 19. Dit is beter om arm te wees weens jou nederigheid as om ryk te wees saam met die hoogmoediges wat ander beroof. Nederigheid beteken in wese om jou aan God se Woord te onderwerp, soos vers 20 uitspel. Vers 20. Wie ag gee op die Woord, sal die goeie vind wat God gee. Dié wat op die Here en sy beloftes vertrou, sal geluk vind. Die boosheid van hoogmoed lê in die oortreding van die eerste beginsel van wysheid – om die Here te vrees – sowel as die dubbele liefdesgebod – om God bó alles lief te hê en daarom jou naaste soos jouself. “The proud man is therefore at odds with himself, his neighbour, and the Lord.” (Kidner).

Spreuke 16:21-23

Vers 21 en 23 gaan oor die bekoring en sjarme van wysheid. Vers 21. Die wyse van hart (dit is die sentrum van jou gedagtes volgens die OT) raak bekend vir sy oordeelkundige waarneming. “Soetheid van lippe” (iemand wat sy woorde sorgvuldig kies) bevorder die oorredende impak van sy woorde. Vers 23. Dit is die hart van ‘n wyse wat wyse woorde voortbring en só ‘n impak op die hoorders het. Vers 22 gaan oor die impak van wysheid op die wyse self. 1983-vertaling vertaal uitstekend: “Insig is ‘n bron van lewe vir die wat dit besit. Onderrig deur dwase bly dwaasheid.”

Spreuke 16:24

Hierdie vers herinner ons aan hoe goed en geneeskragtig vriendelike woorde (aangenaam, genadig – kind, pleasant, gracious) is vir jou binnekant, selfs vir jou liggaam (letterlik “skelet” – vgl Spr 12:25). Woorde maak saak. Vriendelike woorde is soet soos die heuning van ’n heuningkoek. Dit is hoe die Woord van God beskryf word, trouens: “soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek.” (Ps 19:10)

Spreuke 16:25

Hierdie vers waarsku weer soos in Spreuke 3:6 en 14:12 dat jy nie jou eie oordeel moet gebruik of ’n pad reg of verkeerd is nie, maar om jou leiding van die Here en sy Woord te ontvang. Selfs al is dit direk in stryd met wat die samelewing goedkeur. “There’s a way that looks harmless enough; look again—it leads straight to hell.” (The Message).

Die Griekse vertaling van die OT vertaal “dood” (māwet) met Hades, dws doderyk of ewige dood. Die waarskuwing om nie jou eie oordeel te gebruik nie, maar God s’n, word op verskeie plekke in Spreuke verder toegelig (vgl Spr 12:15). Daar is die soortgelyke waarskuwing teen onsedelikheid en losbandigheid (vgl Spr 5:3-6; 7:25-27). Die waarskuwing teen kortpaaie (vgl Spr 15:19). Die waarskuwing om nie die onderrig van die wyses te ignoreer nie (vgl Spr 13:14). Die belangrike is nie wat jy self dink oor jou lewenswyse nie, maar hoe God daaroor oordeel.

Spreuke 16:26-27

Vers 26 stel die eeu-oue waarheid: honger is ’n groot motiveerder vir werk. ’n Werker se behoefte aan kos dryf hom aan. Vers 27 stel ’n ander groot waarheid: ’n kwaadwillige mens (deugniet, “wicked scoundrel”) grawe slegte goed oor ander op en versprei dit soos ’n verterende vuur.

Spreuke 16:28-30

Spreuke leer ons dat die waarheid kosbaar is. Vers 28. 1983-vertaling vertaal pragtig: “Iemand wat die waarheid verdraai, veroorsaak twis. Iemand wat skinder, bring verwydering tussen vriende.” The Message is ook in die kol: “Troublemakers start fights; gossips break up friendships.” Vers 29 waarsku jou teen iemand wat geweld lief het. Hy kan jou saamneem op ’n “nie-goeie pad.” Dit is ’n geval van onderbeklemtoning in Spreuke. Spreuke bedoel eintlik ’n allerverskriklike pad! Vers 30 waarsku jou om mense se gesigsuitdrukkings fyn dop te hou. ’n Gefladder met die oë (shifty eyes) kommunikeer oneerlike of perverse dade. Saamgeperste lippe kommunikeer moeilikheid – a clenched jaw signals trouble ahead.” (The Message).

Spreuke 16:31-33

Vers 31 beklemtoon dat ouderdom ’n geskenk is vir dié wat reg lewe. Vers 32 beklemtoon dat geduld en selfbeheersing noodsaaklik is, selfs in oorlog. Vers 33 rond die hoofstuk af en herhaal weer die sentrale boodskap van vers 1, pragtig vertaal in die 1983-vertaling: “Mense kan loot, maar die Here bepaal hoe dit uitkom.”

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar