Skip to main content

Jesaja 28

‘n Oor vir God bring voorspoed

Die oordeelsboodskap teen die nasies word opgevolg met ‘n boodskap aan die verdeelde ryk, Samaria en Jerusalem, sowel as teen Egipte, temas wat in die vorige hoofstukke ook aangeraak is. Tussendeur is daar boodskappe van hoop wat in hoofstukke 32-35 breër uitgespel en gefokus word op die belofte van ‘n koning.

Jesaja fokus hier op:

  1. die ellende wat Samaria in Israel getref het – Jesaja 28:1-6;
  2. die val van die priesters en profete in Jerusalem – Jesaja 28:7-13;
  3. die hoop vir Sion van ‘n nuwe fondament, ‘n hoekklip – Jesaja 28:14-22; en
  4. die kennis van God wat alles voorspoedig kan laat loop – Jesaja 28:23-29.

Hoewel die gedeelte dus met oordeel begin, eindig dit met ‘n wonderlike woord oor God se voorsiening, en ‘n uiters waardevolle les in geestelike onderskeiding.

Teks en konteks

Jesaja 28:1-6

Met die metafoor van iemand wat ‘n vy wegsluk, word na die val van Samaria, die hoofstad van die noordryk, Israel, verwys. Let op dat dit weens hulle dronkenskap en hoogmoed was (dronk van hoogmoed?). Let ook op hoe die negatiewe beskrywing van Samaria as ‘n kroon of blommekrans op ‘n positiewe manier op die Here van toepassing gemaak word. Hý wil die trots wees van sy mense, wat dan aan hulle ‘n sin vir reg sal verleen en in staat sal stel om alle aanvalle die hoof te bied.

Jesaja 28:7-13

Jerusalem se priesters en profete is nie beter as die leiers in Samaria nie. Hulle waggel ook oor hulle voete en kan nie gesigte uitlê (profete) of reguit beslissings maak (priesters) nie. Hulle uitsprake word met braaksel vergelyk. Die opstand teen Jesaja – hulle sê, ons hoor net ‘n bietjie brabbeltaal van hom – sal met God se oordeel oor hulle begroet word – God sê, hulle uitsprake sal net ‘n bietjie brabbeltaal word. Let op hoe Jesaja (die hy in vers 12) die priesters en profete se taak as rusbring uitspel, in dié sin dat hulle 1) God se woorde (gesigte) moet uitlê en 2) reguit beslissings moet maak. ‘n Mens kom tot rus as jy God se woord reg hoor en reg uit leef.

Jesaja 28:14-22

Jesaja vat die leiers van Jerusalem aan oor hulle arrogante doodsveragtende, leuenagtige lewenshouding. Hulle lieg oor hulle pro-Assiriese houding, en smee eintlik bande met Egipte teen Assirië en dink dat hulle daarmee sal wegkom. Teenoor hierdie valsheid sal God geregtigheid bring wat die leuens aan die kaak sal stel en uitwis. Hulle sal die ongemak – bed te kort, kombers te smal – van geen beskerming teen natuurrampe en die dood beleef.

Die gebeure by Perasimberg verwys waarskynlik terug na Dawid se oorwinning oor die Filistyne by Grootkloof, waar die Here ‘n wonderoorwinning vir hulle behaal het (2 Sam 5:17–25). Grootkloof heet ook Baäl-Perisim, en kan waarskynlik met Perasimberg verbind word. Die verwysing na die laagte by Gibeon kan na dieselfde oorwinning verwys (hulle het daar verby beweeg) of ook na die oorwinning wat die Here vir Josua laat behaal het met die son wat in Gibeon stilgestaan het (Jos 10).

Die boodskap van die hoekklip vind op ‘n besondere manier in die NT weerklank in Paulus (Rom 9:33; 10:11) en Petrus (1 Pet 2:6) se onderrig oor Jesus as die fondament, die hoekklip, van die Christelike kerk. Onthou ook die ander kant, die klip waarteen ‘n mens jou voet stamp, soos Jesaja 8:14 op die tafel gesit het en ook deur Paulus en Petrus gebruik word.

Jesaja 28:23-29

In ‘n besondere metafoor geleen by die saaiboere, word God se onderrig van sy mense met die strategie en metodiek in die saai en oes van verskillende sade verduidelik. Daar is duidelike ooreenkomste (voorberei, saai, oes, dors), maar ook duidelike verskille (elke saad het sy plek en word verskillend geoes). Net so is geestelike onderskeiding nodig om met oorleg die kompleksiteit van God se wil prakties te kan uitvoer. Daar is algemene beginsels wat geld (reg, afhanklikheid) maar ook uiteenlopende strategieë en metodes.

Wanneer ‘n mens se oor egter so ingestel is op Sy detail onderrig, verloop dinge nie net voorspoedig nie, maar beleef ‘n mens die wonder van Goddelike kommunikasie. Let ook op hoe hierdie beskrywings ‘n mens leer dat daar ‘n seisoen is van strategiese voorbereiding en werk, gevolg deur ‘n seisoen van geduldige wag en versorging in die rypwordingsproses (veronderstel in die teks), en uiteindelik ‘n seisoen vir die versigtige en sorgvuldige oes en dors van die vrug van die oes. Alles het sy plek en tyd en moet stap vir stap ten uitvoer gebring word.

Boodskap en betekenis

Die gedeelte spreek my regtig aan: geestelike leiers moet geestelike insig bring oor wie God is en wat Hy sê en doen, sowel as om geestelike onderskeiding te gee oor wat dit in die praktyk beteken.  Nogal iets wat ek ter harte neem.

Wat my net diep onder die indruk bring van hoe belangrik hierdie reis met God se Woord vir my eie praktiese geestelike lewe is! Daar is strategieë wat ‘n mens volg in die lees van God se Woord, daar is geduld en vertroue in die wag op God wat groei bring, en daar is nougesette en sorgvuldige uitvoering van wat jy by God hoor. Hoop dit is ook so vir jou!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…