Skip to main content

Handelinge 20:3b-38

Om te gee, maak ’n mens gelukkiger as om te ontvang

Ons het vroeër in Handelinge 20:1-3a gelees hoe Lukas vir ons van die verdere reis van Paulus van Efese na Masedonië vertel (waar hy 2 Korintiërs geskryf het). Daarna het Paulus vir drie maande in Korinte in die suide bedien (waar hy Romeine geskryf het).

Ons hervat nou in Handelinge 20:3b die verhaal van Paulus met sy reis terug na Macedonië in die noorde en vandaar na Troas in Turkye, waar hulle sewe dae gebly het, tot by Milete verder suid aan die kus, waar hulle die ouderlinge van Efese bemoedig en toe van hulle afskeid geneem het (op pad na Jerusalem).

Teks en konteks

Paulus in Griekeland – Handelinge 20:3b-6

Net toe Paulus na drie maande in Korinte sou vertrek op die laaste been van hierdie derde sendingreis na Antiogië in Sirië toe, het hy van ’n Joodse komplot teen hom te hore gekom en besluit om eers weer noord te reis en deur Macedonië terug te gaan.

Hier lees ons direk van sewe van die mense wat deur Paulus opgelei is in Efese wat nou saam met hom gereis het: Pirrus se seun Sopater van Berea, Aristargos en Sekundus, albei van Tessalonika, Gaius van Derbe, en Timoteus, asook Tigikus en Trofimus, albei van die provinsie Asië in Turkye. Moontlik was Erastus ook daar (vgl. Hand. 19:22).

Paulus het die sewe vooruit gestuur om in Troas (Turkye) vir die res van die reisgeselskap te wag, terwyl Erastus vroeër al na Macedonië toe gestuur is. Paulus het self eers in Filippi, in Macedonië, die fees van die ongesuurde brood (Paasfees) gevier voor hulle – let op dat Lukas nou saam reis – van die noorde af met ’n skip vertrek en vyf dae later by die ander in Troas aangekom het. Daar het hulle sewe dae gebly.

Paulus in Troas – Handelinge 20:7-12

Aan die einde van die week het hulle op die Sondag, die “eerste dag van die week”, byeengekom om brood te breek. Paulus wou die Maandag vertrek, en het gepreek tot om middernag.

Die klomp lampe in die bovertrek waar hulle byeengekom het, het waarskynlik die suurstof ‘n bietjie min gemaak, wat die jongeling Eutigus in die venster laat sit het. Hy is egter daar tydens die lang preek deur ‘n diep slaap oorval en het van die derde verdieping na onder geval, waar hy dood opgetel is.

Paulus het homself onderbreek, ondertoe gegaan, op Eutigus gaan lê (soos Elia [1 Kon. 17:17-24] en Elisa [2 Kon. 4:34]in die OT, en Petrus in die NT [Hand. 9:36-42], dit ook met dooies gedoen het), hom in sy arms geneem en gesê: “Moet julle nie ontstel nie, want daar is nog lewe in hom!”

Let op dat die wonderwerk nie die fokus word vir hulle nie, maar steeds die boodskap van die Here, want Paulus gaan doodgewoon weer boontoe, breek nog brood, en nadat hulle geëet het, het Paulus verder tot dagbreek toe gepreek. Die seun het inderdaad gelewe en almal is baie deur die gebeure sowel as die prediking bemoedig.

Paulus se afskeidsboodskap in Milete – Handelinge 20:17-38

Die Maandag het Lukas-hulle per skip na Assos vertrek, terwyl Paulus die ongeveer 32 km reis daarheen te voet en alleen aangepak het. Dit was waarskynlik ‘n tyd van gebed in voorbereiding wat vir hom in Jerusalem gewag het. Sommige geleerdes noem dit Paulus se “Getsemane”.

Van Assos af het hulle saam die laaste been van die derde sendingreis per skip na Jerusalem toe aangepak, omdat Paulus op die Pinksterdag in Jerusalem wou wees. Onderweg het hulle Milete aangedoen waarheen hy die ouderlinge van die gemeente ontbied het vir ‘n afskeidsboodskap.

In ‘n roerende boodskap sluit Paulus in sy inleiding by sy uitgebreide bediening aan hulle in Efese aan waarin hulle kon sien dat hy ten spyte van baie beproewinge die volle evangelie gebring het.

  1. Hy verklaar in die eerste deel van die boodskap dat hy op pad is Jerusalem toe, gebind deur die Gees, met die bevestiging dat gevangenskap en swaarkry op hom wag. Dit sit hom egter nie af nie, want hy fokus onwrikbaar daarop om sy lewenstaak en bedieningsopdrag te voltooi wat hy van die Here Jesus self ontvang het: “om kragtig te getuig van die evangelie van die genade van God.”
  2. Dan fokus hy in die tweede plek op hulle taak as opsieners van die gelowiges in Efese oor wie die Heilige Gees hulle aangestel het. Paulus het aan hulle die volle heilsplan van God verkondig en dring by hulle aan om die gemeente nie net te versorg nie, maar te beskerm teen die dwaalleraars wat soos “wrede wolwe” hulle geledere sal binnedring om mense agter hulle verkeerde leerstellings aan weg te lok.
  3. Hy roep hulle in die derde plek op tot waaksaamheid, en vertrou hulle toe aan God en sy woord van genade. Hy het die mag om hulle op te bou en aan hulle die erfenis te gee wat bedoel is vir almal wat geheilig is.

Hy sluit in die slot met ‘n terugblik op sy voorbeeld om selfvoorsienend te wees af, en moedig hulle aan om dieselfde te doen met die aanhaling van woorde van die Here Jesus self: “Dit maak ‘n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.”

Dit is een van die aanhalings van Jesus wat nie in die Evangelies opgeteken is nie (vgl. Matt. 10:8 vir ‘n soortgelyke gesegde).

Nadat hulle saam gekniel en gebid het, het Paulus-hulle van die ouderlinge afskeid geneem.

Boodskap en betekenis

Dit is wonderlik om Paulus se briewe te lees en daarin die waarheid van die evangelie op ‘n genuanseerde wyse te kan waarneem en omarm. Maar, dit is net so wonderlik om die evangelie in aksie te sien in sy lewe.

  • Die versameling van ‘n span medewerkers vir die volgende fase van die uitbreiding van die koninkryk.
  • Die passie waarmee hy in Troas preek, gekoppel aan sy vertroue in die Here om Eutigus uit die dood terug te gee, waarna hy net weer aangaan met die boodskap wat hy bring.
  • Die keuse om ‘n stuk alleentyd met die Here deur te bring, weg van mense, in voorbereiding vir die uitdagings wat vir hom wag.
  • Die boodskap aan die ouderlinge vanuit die voorbeeld van sy eie lewe en bediening: “Dit maak ’n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.”

Dit is die hart van die bediening waartoe ons ook geroep word. ‘n Bediening wat nie net uit woorde bestaan nie, maar uit dade van gehoorsaamheid.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar