Skip to main content

Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12

Ons lees vervolgens Matteus se vyf verhale van Jesus se kinderjare of meer korrek, sy peuter jare (0-3).

Matteus fokus op die reaksies van ’n wye reeks mense op die bekendstelling van God se herderleier, Jesus, in vervulling van die OT beloftes. Hy vertel vir ons van die besoek van die sterrekundiges, die reaksies in Jerusalem, die ontmoeting in Betlehem, die vlug na Egipte, die kindermoord deur Herodes, die terugkoms uit Egipte, en die uiteindelike verblyf in Nasaret.

Die gebeure van hoofstuk 2 vind duidelik ‘n tyd ná die geboorte van Jesus plaas. Die sterrekundiges gaan “in die huis” in om voor Jesus neer te kniel en Hom te aanbid. Hulle is dus nie meer in die stal nie. Josef-hulle het dus ‘n geruime tyd in Betlehem gebly vóór hulle eers na Egipte toe uitgewyk het, en daarna in Nasaret gaan bly het.

MATTEUS 2:1-12

1 Toe Jesus gebore is in Betlehem in Judea in die dae van koning Herodes, het daar sterrekundiges van die ooste in Jerusalem aangekom

2 en gevra: “Waar is die koning van die Jode wat gebore is? Want ons het sy ster in die ooste gesien en het gekom om Hom te aanbid.”

3 Toe koning Herodes dit hoor, was hy ontsteld, en die hele Jerusalem saam met hom.

4 En hy het al die priesterhoofde en skrifkenners van die volk byeengebring en by hulle navraag gedoen waar die Christus gebore sou word.

5 En hulle het vir hom gesê: “In Betlehem in Judea, want so is dit deur die profeet geskryf:

6 ‘En jy, Betlehem, gebied van Juda,

jy is beslis nie die geringste

onder die leiers van Juda nie,

want uit jou sal ’n leier voortkom,

wat ’n herder vir my volk Israel sal wees.’ (Miga 5:1; 2 Sam 5:2)”

7 Herodes het toe in die geheim die sterrekundiges geroep en noukeurig by hulle uitgevind wanneer die ster verskyn het.

8 En hy het hulle na Betlehem gestuur en gesê: “Gaan doen noukeurig navraag oor die Kind; en wanneer julle Hom kry, vertel dit vir my sodat ek ook kan gaan en Hom aanbid.”

9 Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek, en kyk, die ster wat hulle in die ooste gesien het, het voor hulle uitgegaan totdat dit reg bo waar die Kind was, gaan staan het.

10 Toe hulle die ster sien, was hulle geweldig bly.

11 Hulle het in die huis ingegaan en die Kind saam met Maria, sy moeder, gesien, en het neergeval en Hom aanbid, en hulle het hulle houers met kosbaarhede oopgemaak en geskenke vir Hom aangebied, goud en wierook en mirre.

12 Omdat hulle in ’n droom gewaarsku is om nie na Herodes terug te keer nie, het hulle met ’n ander pad na hulle land teruggekeer.

Teks en konteks

Die reaksies op Jesus in hierdie perikoop is merkwaardig. Dit sluit in die eerste plek verteenwoordigers van die nasies in (sterrekundiges) en slegs in die tweede plek verteenwoordigers van die Joodse volk (koning Herodes die Grote, die hele Jerusalem, die priesterhoofde en skrifkenners). Dit is ironies dat die nasies hier heel eerste eer aan Jesus bring en Hom met geskenke oorlaai. Die volk, daarenteen, is ontsteld oor die nuus en Herodes is só briesend dat hy hierna ’n tragiese kindermoord pleeg in ’n poging om Jesus uit die weg te ruim.

2:1-2 Ons weet min van hierdie sterrekundiges af. In die oorlewering van die geskiedenis het hulle name gekry, Caspar, Melchior en Balthasar, maar daar is geen ander historiese getuienis wat dit bevestig nie. Dit is nie eers seker of hulle wel drie mans was nie. Dit is afgelei uit die drie geskenke wat hulle aan die voete van Jesus neergelê het. Sommige noem hulle ook konings op voetspoor van Jes. 60:3: “Nasies kom na jou lig toe en konings na die glans van die nuwe dag wat vir jou aangebreek het.”

Daar is ’n moontlikheid dat hulle volgelinge van Zoroaster was, ‘n priester van ‘n monoteïstiese godsdiens in Persië. Die gebied staan vandag bekend as Iran. Zoroaster het nogal op ‘n unieke wyse oor God se Eenheid gepraat – een van die min monoteïstiese godsdienste van daardie tyd benewens die Joodse godsdiens – en oor die stryd tussen goed en kwaad. Koning Kores, wat toestemming verleen het dat die Jode terugkeer na hul land, se seun Darius was ‘n volgeling van Zoroaster. Dié godsdiens het dus ‘n groot invloed in die Persiese Ryk uitgeoefen.

Indien hierdie “wyse manne” (na aanleiding van die Latynse vertaling van die Grieks met die woord magi) dus Persiese priesters was, verklaar dit hulle goeie kennis van die sterrekunde, omdat Zoroasters bekend was daarvoor. Die Grieke het bv hulle sterrekunde by die Zoroasters geleer. Griekse filosowe soos Plato en Plini verwys met waardering na hulle, en vermeld hul vermoë om tekens te ontsyfer en die toekoms te voorspel.

Hoe dit ook al sy, hierdie sterrekundiges het met passie hulle doelwit nagestreef, om die koning van die Jode op te spoor en aan Hom eer te bewys. En hulle het dit reggekry, ten spyte van Herodes.

Terloops, ons weet nie baie van die ster af nie. Dit kon ‘n supernova of ‘n samekoms van ‘n paar planete (Jupiter en Saturnus het in 7 v.C. in die Pisces sterrebeeld oorvleuel) of doodgewoon ‘n natuurwonder gewees het. En hoe hulle die ster se pad bereken het en dit gevolg het – dit weet ons ook nie. Die feit is dat die sterrekundiges daardeur gelei is tot by ’n ontmoeting met Jesus. Die nasies kom dus eerste tot insig oor Jesus, nie die Jode nie, benewens die klompie mense wat vergader het rondom Josef en Maria.

2:3-4 Let op dat Herodes nie die vraag van die sterrekundiges bestry nie. Trouens, dis ironies dat Herodes self verwys na die geboorte van “die Christus” (Messias). Hiermee word hy die eerste persoon in hierdie Evangelie (behalwe Matteus self) wat na Jesus as die Christus verwys. Hy laat die skrifkundiges roep om die sterrekundiges te help.

2:5-6 Die priesterhoofde en skrifkenners verskaf vanuit die OT waardevolle inligting oor Jesus se geboorte: dat die Christus in Betlehem gebore sou word soos Miga 5:1 voorspel het; dat Hy die herder van Israel sou wees, die rol wat God vir konings bepaal het (2 Sam 5:2).

Hulle is egter interessant genoeg tevrede om net die regte antwoord uit die Skrif te haal, en dan terug te sit en niks te doen nie. Hulle gaan kyk nie eers of daar iemand in Betlehem is nie. Hulle mis die kairos, die beslissende moment van die wêreldgeskiedenis. En onthou, Betlehem was maar 8 km suid van Jerusalem.

2:7-8 Herodes konkel in die geheim om die presiese plek van die geboorte uit te vind. Kwansuis om die Koning te aanbid. Soos die kindermoord uitwys was sy bedoeling egter om alle moontlike teenstand uit te wis.

2:9-11 Die sterrekundiges ervaar ‘n onbeskryflike groot vreugde (hulle was “geweldig bly”), kniel voor Jesus neer om Hom te aanbid en eer, en gee vir Hom geskenke uit hulle skatte. En Jesus is nog maar net ’n paar dae oud!

Let op hoe God regdeur betrokke is in hierdie verhaal. In die algemene openbaring van die ster, sowel die besondere openbaring waar Jesus gebore sou word in die Skrif. Hy lei die wyse manne uiteindelik in ‘n droom ter wille van die beskerming van Jesus, en sal dit nog ‘n paar keer doen in die drome wat Josef ontvang.

Betekenis en boodskap

Dit is insiggewend dat die sterrekundiges uiteindelik by die huis in Betlehem die Here Jesus self ontmoet. Dit gebeur duidelik, aan die een kant, omdat God self hulle begelei het daarheen: deur die ster; deur hulle vaardighede as sterrekundiges; deur hulle gesamentlike reis; deur die Skrif; deur skrifkenners. Maar, dit is ook duidelik aan die ander kant, dat sonder hulle besluit om nougeset te luister daarna en sonder huiwering op te tree volgens die lig wat hulle het, hulle nooit daar sou uitgekom het nie. Jesus word vir hulle ‘n werklikheid deur te hoor en te doen.

Dit is anders met die skrifkenners en ander ingeligtes in Jerusalem. Hulle mis die betekenis van die gebeure, al het hulle ongeveer dieselfde inligting as die sterrekundiges gehad. Hoekom? Want hulle hoor sonder om iets daaraan te doen. Trouens, Herodes besluit om Jesus dood te maak, omdat hy in die jong kind ‘n bedreiging vir sy koningskap sien. Apatie en antipatie kos jou die belewenis van God se werklikheid.

Dink na oor hoe God jou al in die verlede begelei het om sy werklikheid te beleef. Deur alledaagse gebeure. Deur die Skrif. Deur ander se invloed. Jy sal saamstem dat dit was wanneer jy gekies het om te reageer, om sy leiding ter harte te neem, om daarvolgens op te tree, dat Hy ‘n al hoe groter werklikheid geword het.

Laat die verhaal jou motiveer om met meer aandag te luister na wat die Here tans vir jou sê en begin tree vir tree, volgens die lig wat jy het, stap op die pad wat die Here aandui. Hy wil jou intrek in die werklikheid van ‘n lewe saam met Jesus.

‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25

18 Die geboorte van Jesus Christus was só: Toe Maria, sy moeder, aan Josef verloof was, voor hulle intiem verkeer het, het dit geblyk dat sy swanger is deur die Heilige Gees.

19 Josef, haar man, was wetsgehoorsaam, maar wou haar nie in die openbaar verneder nie, en het besluit om in die geheim die verlowing met haar te verbreek.

20 Terwyl hy dit oorweeg het, het daar ’n engel van die Here in ’n droom aan hom verskyn en gesê: “Josef seun van Dawid, moenie bang wees om Maria as jou vrou by jou te neem nie, want wat in haar verwek is, is deur die Heilige Gees.

21 Sy sal geboorte gee aan ’n Seun, en jy moet Hom Jesus noem, want Hy sal sy volk van hulle sondes verlos.”

22 Dit alles het gebeur sodat vervul sou word wat deur die Here deur middel van die profeet gesê is:

23 “Kyk, die maagd sal swanger word

en geboorte gee aan ’n Seun,

en hulle sal Hom Immanuel noem,” (Jes. 7:14)

wat vertaal word: “God is met ons.”

24 Toe Josef uit sy slaap wakker word, het hy gemaak soos die engel van die Here hom beveel het, en hy het haar by hom as vrou geneem.

25 En hy het nie met haar intiem verkeer totdat sy geboorte gegee het aan ’n seun nie. En hy het Hom Jesus genoem.

Teks en konteks

1:18-23 Jesus se geboorte word beskrywe in terme van die verhouding tussen Josef en Maria, soos die geslagsregister dit sal aandui, sowel as in terme van die werking tussen God en hulle.

Vyf rolspelers is betrokke:

  • die Heilige Gees uit wie Maria swanger geraak het (vers 18, 20);
  • Maria, die moeder van Jesus en verloofde van Josef, wat deur God gekies word om aan Jesus geboorte te gee en beskerm word teen egskeiding en verwerping;
  • Josef, Maria se man, wat beide regverdig (hy wil die wet gehoorsaam) as barmhartig was (hy wil haar nie in die openbaar verneder nie, maar in die geheim skei), word gekies en oortuig om Jesus se aardse pa en Maria se beskermer en lewensmaat te wees;
  • ‘n Engel van die Here wat in ’n droom aan Josef verskyn en hom intrek in God se plan met Jesus en duidelik die band met die vervulling van die OT beloftes (Jes. 7:14) lê, sowel as aan Josef opdragte gee aan die hand van die openbaring oor nie net die afkoms van Jesus nie (“deur die Heilige Gees”), maar ook sy toekoms (“Hy sal sy volk van hulle sondes verlos”);
  • Jesus, die seun waaroor dit ten diepste in dié gedeelte gaan en as Verlosser (die naam Jesus beteken Verlosser) en Immanuel (God-met-ons – vgl. Jes. 8:8,10) gebore word.

1:24-25 Let op hoe dit baie duidelik gestel word dat Josef nie met Maria gemeenskap gehad het vóór haar swangerskap nie, sowel as nie ná die tyd tot en met Jesus se geboorte nie (vers 18, 25). Dit word ook geïmpliseer met die aanhaling uit Jesaja 7:14 dat die “maagd sal swanger word”.

Die Goddelikheid van Jesus se geboorte word daarmee geaksentueer (die swangerskap is uit die Heilige Gees, nie uit Josef nie) sowel as die menslikheid daarvan (Jesus is uit Maria gebore, nie uit ’n engel of een of ander geestelike of goddelike wese nie). Dié getuienis het tot die belydenis van die “maagdelike geboorte” gelei, hoewel dit duidelik ook ’n “goddelike geboorte” is, iets wat vir my nog meer gewig dra en die wonder van die gebeure verhoog.

Dit is ook wonderlik hoe sentraal die idee van ’n familie in hierdie gedeelte staan, die konteks wat God kies om die grootste transformasie van die menslike geskiedenis in werking te stel. Dit is dan ook Josef wat Jesus sy naam gee binne die familie-konteks. Hy gee daarmee aan Jesus ’n menslike tuiste.

Betekenis en boodskap

Ontgin die betekenis en boodskap van hierdie gedeelte deur te fokus op Josef (of enige ander van die karakters). Dink aan sy regverdigheid wat deur gehoorsaamheid aan die wet uitgeleef word. Dink aan sy barmhartigheid deur te kies om Maria nie in die openbaar te verneder nie. Dink oor sy gereedheid om die Here te gehoorsaam toe God hom in ‘n droom oortuig, veral toe hy agterkom dat God se beloftes uit die verlede oor die Messias hier in vervulling gaan. Dink oor sy selfbeheersing om nie met Maria gemeenskap te hê nie vóór sy geboorte aan Jesus gegee het.

Elke enkele een van dié eienskappe kan met geestelike volwassenheid verbind word, ‘n bereidheid om God te vertrou en te volg, al beteken dit jy moet jou “regte” in die proses opskort, sodat God se wil deur jou lewe kan seëvier.

Wat beteken dit prakties vir jou?

Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17

Jesus word as Messias en Koning vir Israel en die nasies gebore

Die Evangelie volgens Matteus word nie om dowe neute aan die begin van die NT geplaas nie. Dit is die Evangelie wat die verhaal van Jesus Christus op die mees direkte wyse aan die OT verbind.

Jesus is volgens Matteus die hoogtepunt en vervulling van die Messiaanse verwagting van die hele OT verhaal. Dit sien ‘n mens in die baie moeite wat Matteus regdeur sy Evangelie doen om Jesus se lewe en bediening aan die vervulling van OT beloftes en profesieë te koppel (meer as 60 aanhalings en toespelings).

Jesus se lewensveranderende woorde (aangebied in vyf toesprake), sy magtige werke (geïllustreer onder andere deur agtien wonderwerke) en sy simboolryke dade (bv. die reiniging van die tempel en die vervloeking van die vyeboom) wys onomwonde dat Hy die langverwagte Messias van die profetiese tradisie is.

Jesus is ook die “Seun van Dawid” (Matt. 1:1 en nog agt ander kere só genoem) en die “Seun van God” (Matt. 14:33 en nog sewe ander kere só genoem, onder andere deur die duiwel, die dissipels en die Romeinse offisier en sy soldate by die kruisiging). Dit is titels wat beide sy menslike as sy Goddelike kant beklemtoon. Hy is beide die nakomeling van Dawid as nakomeling van God.

Hierdie Jesus, sê Matteus, se geboorte kondig sy Koningskap vir Israel en die nasies aan. Sy Koninkryk word veral openbaar deur sy wonderwerke en woordbediening totdat hy sy Koninkryk gevestig het met sy lyding, kruisdood en opstanding aan die einde van die Evangelie.

Geen wonder dus dat dié Evangelie die mees-gebruikte Evangelie van die vroeë kerk was nie, soos ons aflei uit die feit dat die vroeë kerkvaders twee keer meer keer uit dié Evangelie aanhaal in hulle geskrifte as uit die ander drie Evangelies saam.

Continue reading

Inleiding

Matteus

Matteus, die skrywer van hierdie Evangelie, is die dissipel en apostel Matteus in die Evangelies (Matt. 9:9; 10:3) soos deur talle kerkvaders bevestig. Markus en Lukas beskryf hom as Levi in hulle Evangelies (Mrk. 2:14; Luk. 5:27), hoewel hulle hom slegs as Matteus in die lys van apostels insluit (Mrk. 3:18; Luk. 6:15).

Dit is egter waarskynlik dieselfde persoon, omdat al drie Evangelieskrywers dieselfde gebeure met Matteus/Levi se roeping beskryf. Matteus en Levi is beide Hebreeuse name, maar die naam Matteus het ook ‘n Griekse ekwivalent gehad wat “dissipel” beteken. Dit kan die gebruik van die twee name vir Matteus verklaar, die een ‘n Griekse (Matteus), en die ander ‘n Hebreeuse naam (Levi).

Hoewel Matteus/Levi – soos Jakobus, die “Kleinere” – as die “seun van Alfeus” beskrywe word (Mrk. 2:14; vgl. Matt. 10:3; Mrk. 3:18; 15:40; Hand. 1:13), is daar is geen ander historiese getuienis wat hulle as broers aan mekaar koppel nie. Hulle was dus waarskynlik uit verskillende huise afkomstig.

Continue reading

Psalm 150

Die fokus van hierdie Leesplan is gemeenskap met God. Ons begin telkens met die bid van die Ons Vader, bid dan die Psalm met ‘n tyd van nadenke, en sluit ons gebedstyd af met ‘n kort Lofprysing. Die idee is dat jy na die Ons Vader die kort gedeelte oor die teks en konteks van die Psalm lees, daarna die Psalm met aandag deurlees, en dan vers vir vers in jou eie woorde (hardop as dit kan) bid. Daarna kan jy die kort bydrae oor die boodskap en betekenis lees vir nadenke. Sluit met die bid van die Lofprysing. Die middag en aand bid jy net die Ons Vader, die Psalm, en die Lofprysing.

Ons Vader

“Ons Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde. Gee ons vandag ons daaglikse brood. En vergeef ons ons sondes, soos ons ook ons skuldenaars vergeef. En laat ons nie in versoeking kom nie, maar verlos ons van die Bose. Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.” (Matt. 6:9-13)

Teks en konteks

Psalm 150 roep alles wat asem het op om God te loof: “na die omvang van sy grootheid.” Dit is die laaste van die Psalms wat ingesluit is in die kanon en sluit die vyfde Psalmboek met lof af. Waar elkeen van die ander vier Psalmboeke egter afgesluit is met ‘n vers van lof (Ps. 41:14; 72:18-19; 89:53 en 106:48), word die hele Psalmboek hiermee met ‘n volle loflied afgesluit. Die Psalm bevat tien reëls wat op dieselfde patroon die lof van God besing, amper soos ‘n Tien Gebooie van lof, wat afsluit met ‘n elfde oproep: “Alles wat asem het, moet die Here loof”.

Bid die Psalm

“Loof die Here! Loof God in sy heiligdom! Loof Hom onder sy magtige uitspansel! Loof Hom vir sy magtige dade. Loof Hom vir sy eindelose grootheid. Loof Hom met die ramshoring. Loof Hom met lier en harp! Loof Hom met tamboeryn en koordanse. Loof Hom met snaarinstrumente en fluite! Loof Hom met die klank van simbale. Loof Hom met galmende simbale. Laat alles wat lewe, die Here loof! Loof die Here!” NLV

Boodskap en betekenis

Die Psalm is eintlik baie eenvoudig saamgestel. Die eerste twee verse verklaar dat God oral geloof moet word, in die heiligdom op aarde sowel as in die hemel. Twee redes word gegee:

  1. God se kragtige dade waarmee die geskiedenis waarskynlik betrek word.
  2. God se omvangryke grootheid waarmee die skepping waarskynlik betrek word.

Die laaste vier verse dien as aanmoediging om jou eie stem by dié van die Psalm te voeg en die Here ook waar jy is, te loof met wat ook al tot jou beskikking is. Tien opsies word gegee: ramshorings, harpe, liere, tamboeryne, koordanse, snaarinstrumente, fluite, simbale (2 keer genoem, wat ‘n mens by tien uitbring!), of jou eie stem. Die punt is natuurlik nie dat dié lys van instrumente jou moet beperk nie. Dit moet jou juis vrystel om jou eie stem van lof te vind voor die Here. En sy kragtige dade sowel as sy omvangryke grootheid moet in jou lof ‘n getuienis aan hierdie wêreld word: “Alles wat asem het, moet inderdaad die Here oral loof!

Dit is die doel van jou bestaan en die hart van jou bestemming as mens.

Lofprysing

“Weet vandag en verstaan dat die Here God is; Hy alleen is God in die hemel en op die aarde.” (Deut. 4:39)

Dankie vir die saamreis met die Psalms! Môre val ons weg aan die Evangelie van Matteus. Geniet dit!

Onlangse kommentaar

  • originalblizzard19aaa84c56 on Sterrekundiges besoek Jesus in die huis in Betlehem MATTEUS 2:1-12Prys die Here vir sy Heilige Woord en Gees.
  • sparklybc467b2e69 on ‘n Engel van die Here oortuig Josef dat Maria se Kind van die Heilige Gees is MATTEUS 1:18-25Dit is vir my opsig self so groot bewys van GOD se grootheid, Sy Heilige Gees wat Maria bevrug. Ek het altyd gedink dat Maria baie besonders was onder die vroue, maar as ñ mens lees van Josef en sy karakter, was hulle albei uitverkies as JESUS, GOD se seun.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Jesus se geslagsregister in Matteus verbind Hom aan Abraham, Dawid en die volk na die ballingskap MATTEUS 1:1-17Matteus. Amazing, om my te verwonder aan die Heilige Skrif. Dankie vir navorsing.
  • Chris van Wyk on Psalm 150Hi, jy sal steeds die Matteus bydraes kry as jy ingeteken is. Die skakel is daar vir nuwe mense. Die opmerkings moet eers goedgekeur word deur my, vandaar die verposing. Hoop jy het steeds Matteus gekry?
  • perfectly57edc75df4 on Psalm 150Naand Chris. Ek dink daar is iets met die website verkeerd. Psalms was op Bybelskool beskikbaar, maar vir Mattteus vra dit jou om weer in te teken op Bybelskool. Ek is op Bybelskool. Dan stuur die opmerkings ook nie elke keer nie. Die inskrywing vir Matteus vat jou na 'n snaakse vorm. Is dit reg so,…
  • Doreen Snyders on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Baie baie dankie vir die Psalms. Dit was só insiggewend en het baie gehelp om om die Skrif te bid. Nogmaals dankie. Ek sien baie uit na Matteus. Doreen Snyders
  • johannes buhrmann on Psalm 150Die God aan wie die Psalm digters hul lof en dankbaarheid betuig het , en teenoor wie hulle hul klagtes en swaarkry en onsekerhede kon bekendmaak is dieselfde God teenoor wie gelowiges hulle in die huidige tydsgewrig gewrig hul kan wend om geloof en lewensrigting te verkry Dankie
  • originalblizzard19aaa84c56 on Inleiding'n Mondvol oor Matteus. Sien uit na die reis. Dankie
  • Francois Du Toit on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was n wonderlike reis deur die psalms, teen n pas wat genoeg tyd vir nadenke toegelaat het. En die diep nuanses vd Onse Vader laat deurskemer het. Baie dankie vd leiding en verklari gs.
  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!