Skip to main content

2 Kronieke 32:1-19; 2 Konings 18:13-37; Jesaja 36

Sanherib beleër Jerusalem en daag die Here uit

Die verhaal van Sanherib se veldtog teen Juda (701 vC) begin in 2 Konings 18:13–37 en gaan voort in 2 Konings 19. Parallelle weergawes kom voor in 2 Kronieke 32 en Jesaja 36–37. Ons lees dit in twee sarsies.

  • Ons begin met 2 Kronieke 32:1-19 en 2 Konings 18:13-37 wat fokus op Sanherib se bedreiging vanuit verskillende perspektiewe. Jesaja 36 kom grootliks met die 2 Konings 18 gedeelte ooreen. Jy kan dit dus laat as jou tyd beperk is.
  • Daarna lees ons Hiskia se reaksie in 2 Kronieke 32:20-23 (kort opsomming) en 2 Konings 19 (uitgebreide weergawe). Weereens kom Jesaja 37 grootliks met die 2 Konings 19 gedeelte ooreen. Jy kan dit dus ook laat as jou tyd beperk is.

Onthou, ons het die verhale van Hiskia se genesing en die ontvangs van gesante van Babel hanteer (2 Konings 20; Jes 38-39), omdat dit ongeveer in 705-703 vC plaasgevind het, en ek dit dus eerste hanteer het ter wille van die kronologie.

Teks en konteks

Met die vorige bedreiging van Assirië deur Salmaneser (725-722 vC) het Juda die konflik vrygespring (vgl 2 Konings 17; 2 Konings 18:1-12). Nou in die 14de jaar van Hiskia se regeringstyd, (701 vC), het Sanherib van Assirië (705-681 vC) – sy oom was Salmaneser – opgetrek teen Juda en Jerusalem om hulle in te neem en in ballingskap weg te voer.

Lakis lê so 40 km suid van Jerusalem. Opgrawings bevestig die verwoesting van Lakis deur die Assiriërs. Assirië val hulle dus vanuit hulle eie grondgebied aan. Hiskia is 39 jaar oud.

Hiskia het, volgens Konings (Jesaja laat dit uit), eers probeer om die bedreiging af te weer deur ‘n groot hoeveelheid silwer en goud as boete te betaal. Maar, dit het nie geslaag nie. Sanherib het ‘n groot mag gestuur om hulle tot oorgawe te dwing.

Maar, soos Kronieke ons vertel, Hiskia gaan in oorleg met sy amptenare en offisiere, besluit om die vyand se watervoorraad te beperk, herbou afgebreekte mure, bou die forte hoër, bou nog ’n verdere muur buite-om die stad, versterk die terras, laat maak ’n groot klomp spiese en skilde, en gee ’n geestelike motiveringspraatjie van formaat waarin hy wys dat God by hulle is en die oorlog vir hulle sal veg:

“Wees dapper en sterk. Moenie bang wees nie, en moet julle nie laat afskrik deur die koning van Assirië en die hele menigte saam met hom nie, want by ons is meer as by hom: By hom is ‘n menslike mag, maar by ons is die Here ons God om ons te help en ons oorlog te voer.” (2 Kron 32:7-8)

Dit laat my dink aan die gesegde: “Werk asof alles van jou afhang, bid asof alles van God afhang.”

Die vraag is egter of hyself in vertroue sal volhard, want let op dat die konfrontasie tussen die twee konings se gesante by die Bleikveld plaasvind, presies die plek waar Jesaja jare tevore vir Hiskia se pa, Agas, die belofte van oorwinning oor die Arameërs en Israel gegee het (Jes 7).

Dit laat ‘n mens onmiddellik besef dat Hiskia nou getoets gaan word of hy, anders as sy pa, die Here gaan vertrou in die konflik met die Assiriërs. Hy het sy manne moed ingepraat. Gaan hyself in daardie vertroue volhard?

‘n Groot bekgeveg ontstaan tussen Sanherib se leiers en die Judeërs, hoewel Hiskia eintlik sy mense opdrag gegee het om niks te sê nie.

Sebna en Eljakim  tref ‘n mens ook in Jesaja 22:15-25 aan. Jesaja het daar ‘n oordeel uitgespreek oor Sebna omdat hy hom as “koning” verhef het, en voorspel dat Eljakim hom sal opvolg. Hier word Sebna tweede genoem (as sekretaris, sê Jesaja 36) waaruit dit blyk dat Sebna reeds van sy gesag ontneem is en Eljakim (as die hoof van die hofhouding, sê Jesaja 36), die sleuteldraer geword het, die een wat besluit wie die koning sien en wie nie (vgl Jesus in Openb 3:7-14 wat Homself as die sleuteldraer beskryf wat die deur vir die evangelie vir Filadelfia oopsluit).

Let op met hoeveel finesse die hoofadjudant (rabsakee) van Sanherib die Joodse afvaardiging bang praat.

  • Oor Egipte: Hy vat hulle aan oor hulle poging om met Egipte ‘n alliansie aan te gaan, en wys uit hoe vrugteloos dit is. Woorde is nie genoeg nie!
  • Oor Hiskia: Hy verdraai die betekenis van die hervormings wat Hiskia aangebring het, en sê dat dit die Here se altare is wat Hiskia verwoes het – dit terwyl dit juis nie so was nie; Hiskia het die wet se voorskrifte nagekom om die Joodse volk te lei om net in Jerusalem te aanbid. Die hoofadjudant vry daarmee natuurlik ook na die Joodse teëstanders van Hiskia se hervormings – slim!
  • Oor God: En Hy maak aanspraak daarop dat dit God se wil is dat hulle Juda onderwerp: “ek het nie sonder die Here opgetrek teen hierdie plek nie” (2 Kon 18:25). Let op hoe hy God se persoonsnaam Jahwe (Here) vir sy doel inspan! Maar dan gaan hy voort om juis dié God te relativeer as Een wat hulle nie uit Assirië se hand sal kan red nie.

Geen wonder die Joodse afvaardiging wil nie hê die manskappe moet hoor wat gesê word nie! Die hoofadjudant spreek dan egter juis die manskappe toe en raai hulle aan om nie op die koning of sy God te vertrou nie. Anders sal dit hulle suur bekom. Onderwerping bring vir hulle vrede, al is dit nie in hulle eie land nie. Maar teëstand sal tot groot verdrukking lei.

Let op hoe die koning die manskappe beveel om nie te antwoord nie, en hulle stilbly. Die eerste tekens van ‘n gehoorsaamheid aan die opdrag van die Here in Jesaja 30 dat hulle krag lê in stil wees en vertroue, saam met gebed, soos ons in die volgende hoofstuk gaan sien.

Boodskap en betekenis

Dit is maklik om oor geloof en vertroue te gesels wanneer daar geen bedreiging of konflik is nie. Dit is baie moeiliker as jy uitgedaag word soos dit hier met Hiskia gebeur. Hy moes alreeds van sy besittings gebruik om die bedreiging van Sanherib af te weer. Hy het talle voorbereidings getref, maar die bekgeveg is so pas deur die Assiriërs gewen. Hulle mag was oorweldigend.

Gaan hy volhard in die vertroue waarmee hy sy manne moed ingepraat het – in stilbly en vertroue lê julle krag? Dit sal ons hoor in die volgende hoofstuk.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…