Skip to main content

1 Johannes 1

Die vleesgeworde Seun van God reinig ons van elke sonde

Die skrywer Johannes

Vyf boeke/briewe in die NT word aan Johannes toegeskryf: die evangelie van Johannes, die drie briewe van Johannes en die Openbaring aan Johannes.  Dié verbintenis aan Johannes is nie net omdat die historiese getuienis van die kerkvaders daarop dui nie (Irenaeus, Klemens), maar ook omdat daar groot onderlinge ooreenkomste in die vyf boeke se taal, styl en beelde aangetoon kan word.

Om die waarheid te sê, die drie briewe van Johannes kan die beste verklaar word wanneer dit saam met die evangelie van Johannes gelees word en uit daardie hoek verklaar word, bv. die klem op die Inkarnasie (vgl. Joh. 1 met 1 Joh. 1) en die liefde (vgl. Joh. 13 met 1 Joh. 3).  Dieselfde geld die Openbaring aan Johannes waar unieke Johannese beelde gebruik word: Jesus as die Woord (Logos – Joh 1:1; Open 19:13), die Lam (Joh 1:29, 36; Open 5:6-13 en nog verskeie ander plekke), en die Herder (Joh 10:1; Open 7:17).

Hoewel daar dus ook verskille is (in die evangelie van Johannes word die woord amnos en in die Openbaring die woord arnion vir Lam gebruik) is die ooreenkomste genoeg dat dit waarskynlik is dat al vyf boeke uit die pen van dieselfde skrywer of ten minste redaksie-skool afkomstig is (Du Rand).

Ek aanvaar dus dat die apostel Johannes, een van die seuns van Sebedeus (Mark 1:16-20), die sogenaamde “seuns van die donder” (Mark 3:17), die skrywer van dié drie briewe is, hoewel sy naam nie as skrywer genoem word nie.  Hy noem homself net die “oudste” of “ouderling”(presbuteros) in die tweede en derde brief.  Die eerste brief het nie eers dié verbintenis nie, hoewel dit tegnies natuurlik ook nie eintlik ’n brief was nie, vandaar die weglating.

Die eerste “brief” van Johannes het nie ’n aanhef of slot nie, soos dit gebruiklik in ’n brief was nie, waarskynlik omdat dit gerig is aan die gemeenskappe waar hy direk leiding gegee het en dit nie nodig was om dit as ’n brief te verwoord nie.  Die situasie was anders met die tweede en derde brief, omdat die tweede gerig was aan die leier (“uitverkore vrou”) van ’n gemeente of huiskerk en die derde aan Gaius, ’n vriend van Johannes.  Die eerste brief van Johannes was dus waarskynlik meer soos ’n geskrewe preek as ’n brief.

Die datering van die briewe is baie moeilik om te bepaal en kan eintlik in enige tydvak in die tweede helfte van die eerste eeu n.C. geplaas word.

Die boodskap van die eerste brief van Johannes

Die eerste brief van Johannes bemoedig die geloofsgemeenskap – waarskynlik in Efese, soos die tradisie dit aan ons voorhou – om getrou te bly aan die inhoud van hulle geloof, Jesus Christus, sowel as aan die tipe praktiese lewenstyl wat daaraan uitdrukking gee.  Die impak daarvan word verhoog deurdat dié boodskap deur ’n bejaarde en geliefde leermeester, Johannes, aan hulle oorgedra word, iemand wat nie net persoonlik die pad van die begin af met die Leermeester, Jesus, gestap het, maar regdeur sy lewe daaraan getrou gebly het en uiteindelik self verbanning na die eiland Patmos ter wille van sy geloof sou moes verduur.

Johannes se primêre lering lê in drie foci – die Goddelike geheim van die Inkarnasie, die belang van die praktiese liefde vir mekaar en die oproep tot ’n  volhardende nee-sê vir die sonde (gebaseer op Gordon Fee se ontleding):

  • Hy wil hulle verbeelding stimuleer met die klem op die vleesgeworde Woord, die Goddelike geheim van die Inkarnasie van die Woord in Jesus Christus – veral hfst. 1 in aansluiting by sy evangelie se proloog (Joh. 1), maar ook in hfst. 2:20 vv in terme van die leiding van die Heilige Gees, en die laaste twee hoofstukke, 4-5, se Trinitariese begronding daarvan in die liefde.
  • Hy wil hulle aanmoedig om hulle liefde vir God te laat oorspoel in ’n praktiese liefde vir mekaar as geloofsgemeenskap – veral hfst. 3-4 waar op reinheid, liefde vir mekaar en ’n goeie gewete voor God gefokus word, maar ook reeds in hfst. 2 waar die liefde vir mekaar aan die liefde vir God verbind word.
  • Hy wil hulle aanmoedig om as kinders van God in gemeenskap met Jesus Christus te lewe sodat sy bloed hulle van elke sonde kan reinig – reeds hfst. 1, maar ook in hfst. 2-3 met die klem op die Voorspraak in Christus en die praktiese kant van die geloofslewe, en hfst. 5 oor die volhardende nee-sê vir die sonde.

Daarmee wil Johannes hulle help om aan God verbind te bly.  Hy is na alles die geheim van die geestelike lewe.  Hy wil hulle ook help om op ’n baie praktiese vlak by mekaar betrokke te raak.  Dit is hoe die geestelike lewe ’n verskil maak in hierdie wêreld.  Hy wil hulle ook help om sterk te staan teen die verleiding van die sonde.  Deur die volhardende nee-sê vir die sonde word hulle van die houvas van die duiwel bewaar.

Dié boodskap was nodig weens die invloed van valse profete wat steeds ’n impak in die geloofsgemeenskap gehad het, al het hulle intussen die gemeente verlaat (“Hulle het wel uit ons geledere voortgekom, maar niemand van hulle was ooit werklik een van ons nie … dit moes duidelik word dat geeneen van hulle werklik een van ons is nie.” – 2:19).  Die vals profete het wel aanspraak gemaak op inspirasie deur die Gees (4:1), maar kon getroef word deurdat elke kind van God deur die Gees van God gelei word (2:20), en die valsheid van hulle leringe dus uitgewys kon word deur elkeen wat hulle indringend ondersoek het (4:1-6).

Ons weet nie regtig wat dié leringe was nie, maar kan aflei uit die boodskap van die brief self, dat dit dinge moes insluit soos:

  • die ontkenning van die Vleeswording van Jesus (Gnostiese dwaling),
  • die ontkenning dat daar op ’n praktiese vlak uitgereik moet word na dié in nood en
  • die ontkenning van die krag en invloed van sonde.

Teks en konteks

Jesus is mens en God – vers 1-4

Elke keer as ek hierdie eerste hoofstuk lees, roer dié boodskap my diep binne-in my. Johannes moet die geloofsgemeenskap help om die invloed van die valse profete die hoof te bied.  Waarskynlik sluit dit sy gemeente in Efese in, as dié brief eintlik een van sy preke aan hulle was.  Hy kies daarom om in die eerste vier verse van hierdie brief terug te gaan na die basis van nie net sy persoonlike geloof nie, maar dié geloof wat hy en sy gemeente met die hele Christelike geloofsgemeenskap deel.

Let op hoe hy aan die eenkant die fisiese kant van die vleeswording van Jesus beklemtoon – hoor, sien, bekyk, met die hande aangeraak.  Vier keer praat hy van sien, twee keer van hoor en een keer van aanraak (vgl. Thomas se behoefte om aan Jesus te raak). Johannes was ’n direkte ooggetuie van die vleesgeworde Jesus, dié Een wat saam met die ander dissipels deur die stofstrate van Jerusalem, Judea en Galilea geloop en die koninkryk van God verkondig het.  Die vleesgeworde Jesus het Johannes dus laat glo en daarvan getuig hy.

Maar, aan die ander kant, is dit vir hom net so belangrik om die geestelike kant van God self te beklemtoon, die kant van God wat in Jesus sigbaar geword het.  Daarom noem hy Jesus die Een wat van die begin af was, die Een wat die Woord van die Lewe is, die Een wat die ewige lewe wat by die Vader was aan ons kom verkondig het en wat ons aan God self, die Vader en sy Seun Jesus Christus verbind om met Hom gemeenskap te kan hê.  Die Woord van God, God self, het Johannes dus laat glo en daarvan getuig hy met net soveel gesag.  Dit is immers die basis van die geloof wat die Christelike kerk verkondig en waardeur elkeen wat dit glo aan dieselfde liggaam van Christus verbind word.

Die ooreenkomste met die proloog van Johannes se evangelie laat ’n mens onmiddellik besef dat dieselfde persoon besig is om dié dinge te verkondig. Jesus is waarlik mens.  Jesus is waarlik God.  Die ontkenning van enige een van dié twee stellings maak die ander ’n halwe waarheid.  Jesus is nie net ’n mens nie.  Jesus is nie net God nie.  Hy is albei.  Dit is in die twee nature van Jesus wat die krag van sy boodskap aan die wêreld geleë is, want Hy bring hemel en aarde, God en mense bymekaar uit.

Daaroor kan ’n mens net bly wees!

God is lig en suiwer ons deur die bloed van Jesus van elke sonde – vers 5-10

Die hart van die boodskap van hierdie vleesgeworde Seun van God is dat God lig is en dat daar in Hom geen duisternis is nie.  Dit is tegelyk die inhoud van die boodskap aan die geloofsgemeenskap asook die maatstaf wat aangelê kan word om die valse profete se boodskap te beoordeel.

Jy kan nie met God in gemeenskap leef en die duisternis lief hê nie, sê Johannes, anders bedrieg jy net jouself en ander.  Maar waar in verbondenheid met God en die geloofsgemeenskap geleef word, daar vergewe en reinig die Here Jesus ons van elke sonde.  Daarmee verbind Johannes heiligheid direk aan God se genade wat binne die geloofsgemeenskap werk.  Reinheid is dus nie iets wat ’n mens net êrens op jou eie beleef nie, maar iets wat binne die geloofsgemeenskap gestalte kry.

Dit beteken dat ’n mens déél van die geloofsgemeenskap moet bly, nie jouself moet mislei deur aan ander te verkondig dat jy sondeloos is nie en eerder eerlik jou sondes erken sodat die reinigende werk van die Here Jesus binne die geloofsgemeenskap ons van alle kwaad kan suiwer.  Dit is die belofte van die Here: “Hy is getrou en regverdig” en sal “ons ons sondes vergeef en ons van alle kwaad suiwer”, soos vers 9 direk vertaal kan word.

Waar ons egter ons sonde ontken, mislei ons onsself en maak ons God self tot leuenaar en is sy Woord nie meer aktief aan die werk in ons nie.

Boodskap en betekenis

Johannes bemoedig hier die geloofsgemeenskap om getrou te bly aan die kern van die geloof: Jesus Christus, die vleesgeworde Seun van God. Johannes, as ooggetuie van Jesus se lewe en bediening, beklemtoon dat Jesus tegelyk werklik mens en werklik God is. Die geheim van die inkarnasie is die fondament van die evangelie en die eenheid van die kerk.

Hy herinner gelowiges dat God lig is en dat ware gemeenskap met Hom onmoontlik is as ’n mens in duisternis en sonde volhard. Die goeie nuus is dat die bloed van Jesus ons rein maak van elke sonde en dat ons in sy lig kan leef, mits ons ons sondes eerlik bely. Dit is binne die geloofsgemeenskap dat God se genade en reiniging werklik beleef word.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…