Skip to main content

Spreuke 30:1-33

God is daar vir dié wat by Hom skuil!

Spreuke 30:1-4

Hoofstuk 30 gee vir ons die wyshede van Agur. In vers 1 word iets oor hom meegedeel, waarna sy bydrae volg. Dit kan in drie dele opgedeel word.

  1. ‘n Belydenis oor God – vers 2-6;
  2. ‘n Gebed tot God – vers 7-9;
  3. ‘n Getuienis aan ons – vers 10-33.

Inleiding

Agur word as die seun van Jake aan ons bekend gestel. Sy identiteit is vir ons onbekend. Omdat die oorspronklike Hebreeus hāmǎśśāʾ – wat in die 1983-vertaling vertaal is met “belangrike uitspraak” – ook met “Massaïet” vertaal kan word, is dit moontlik dat hy van Massa in Arabië afkomstig is, soos trouens die geval met Lemuel is (Spr 31:1). Agur was dus moontlik ‘n buitelander.

Die laaste deel van vers 1 is moeilik om te verklaar. Sommige kies om dit te vertaal as persoonsname: “Die man het vir Itiël gesê, vir Itiël en vir Ukal” (1983-vertaling). Dit sou egter ook as volg vertaal kan word: “Die uitspraak van die man: Ek is nie God nie; Ek is nie God nie, dat ek die vermoë sou hê nie:” wat sin sou maak in die lig van die uitsprake wat volg (Murphy). Dit kan ook as volg vertaal word: “Ek is moeg, o God; ek is moeg, o God, en effentjies” (vgl die 1933/53-vertaling) wat ook sin maak van die inhoud van die res van die hoofstuk.

Belydenis oor God

Agur doen ‘n belydenis oor God (vers 2-6) waarna hy tot gebed sal oorgaan (vers 7-9).

God is onmeetlik groot.

Vers 2-3. Agur probeer die onmeetlike onderskeid tussen hom en God uitdruk deurdat hy in sy eie oë selfs minder as ‘n dier weet, as dit by sy kennis van God kom. Vers 4. Die onmeetlikheid van die heelal, die onbeheerbare karakter van die wind en die weer, en die kompleksiteit van die wisselwerking tussen die vastelande en die oseane bring Agur onder die besef van God se grootsheid (vgl Job 38-41).

Vers 4. Die verwysing na die “Seun” van God is ‘n verwysing na die Messias. Hy word hier op ‘n gelyke vlak met die Skeppergod beskryf wat die heelal in aanskyn geroep het (vgl Miga 5; Dan 7). In die NT is dit duidelik dat Jesus hierdie “Seun” van God is.

Spreuke 30:5-6

God is daar vir almal wat by Hom skuil.

Vers 5. Tóg, ten spyte van Agur se ontoereikende bewussyn, is dié God (Eloah is die naam vir God wat hy hier gebruik, soos in Job 3:4) daar vir almal wat by Hom skuil. Hy beskerm hulle, en elke belofte van God is (vir hulle) betroubaar. Voorwaar ‘n woord wat op jou spieël in die badkamer geskrywe moet word, sodat jy jouself hieraan kan herinner as jy in die oggend opstaan en dat dit die laaste ding kan wees wat jy sien voor jy gaan slaap.

Vers 6. Dit is waarom jy niks moet probeer byvoeg by wat Hy gesê het nie. Nie net is dit onnodig nie, maar gevaarlik. Hy sal van jou rekenskap vra. Hy sal jou as leuenaar ontbloot.

Spreuke 30:7-9

Gebed

Help my om altyd die waarheid te praat. Help my om nie te arm of ryk te wees nie.

Vers 7. Die belydenis van Agur oor God se woorde gaan naatloos oor in ‘n gebed waarin God vir twee dinge gevra word.

Vers 8-9. Hy vra vir God om:

  1. hom te help om altyd die waarheid te praat;
  2. hom net genoeg te gee om van te leef.

Dit is immers die probleem van armoede én rykdom, dat jy óf kan steel om aan die lewe te bly en só God se wet oortree, óf dat jy te veel kan hê en dink dat jy God nie meer nodig het nie en só Hom verloën en nie meer in jou lewe erken nie. Dit is ‘n gebed wat ek dink elkeen van ons elke dag van ons lewe moet bid!

Spreuke 30:10

Getuienis

Agur gaan vanuit sy belydenis en gebed oor tot ‘n aantal wyshede wat hy as getuienis aanbied (vers 10-33).

Moenie lasterlike stories oor ander versprei nie. Jy kan self aan die pen ry.

Vers 10. Peterson vertaal: “Don’t blow the whistle on your fellow workers behind their backs; They’ll accuse you of being underhanded, and then you’ll be the guilty one!”

Spreuke 30:11-14

Onreg, hoogmoed, eiewaan, wreedheid en hebsug vermenigvuldig in die geslagte.

Vers 11-14. Hierdie vier verse beskryf die ontstellende waarheid dat onreg, hoogmoed, eiewaan, wreedheid en hebsug in opeenvolgende geslagte vermeerder. Die Hebreeus wat hier in elke vers met “’n soort mens” vertaal word, dui op ‘n generasie (“‘n geslag” 1933/53-vertaling; 2020-vertaling), en word vier keer na mekaar aan die begin van die verse gebruik om die negatiewe effek van ‘n opeenstapeling van onreg deur generasies heen te verwoord:

  1. ‘n gebrek aan ouerliefde (Spr 30:11 – vs vyfde gebod) lei tot
  2. ‘n gebrek aan sondebesef (“van sy ontlasting nie skoon gewas is nie” – Spr 30:12) wat lei tot
  3. eiegeregtigheid (“sy wimpers vladder” – Spr 30:13) en wat uiteindelik lei tot
  4. die mees afgryslike koelbloedige en hartelose gedrag (“tande is swaarde, kake is messe” – Spr 30:14).

Dit laat ‘n mens terugdink aan die vermaning van die Here in die Tien Gebooie dat Hy onverdeelde trou aan Hom verwag. Waar dit nie gebeur nie, het dit ‘n effek op opeenvolgende geslagte: “tot in die derde en vierde geslag van dié wat My haat” (Eks 20:5).

Gelukkig is die teenoorgestelde effek nog méér waar dat die Here liefde (ḥesed) bewys: “tot aan die duisendste geslag van dié wat My liefhet en My gebooie gehoorsaam.” (Eks 20:6).

Spreuke 30:15-16

Die tragedie van onvervulde begeertes.

Vers 15-16. Vier tragedies word hier opgestapel, die een so erg soos die ander. Dit is die tragedie van die dood, van kinderloosheid, van ‘n droogte en van ‘n onbeheerde brand. Die gemene deler is dat die behoefte nooit ophou nie, en nooit volledig bevredig kan word nie.

Spreuke 30:17

Oneerbiedigheid teenoor ouers is wreed.

Vers 17. Die wreedheid van ‘n man wat spot met sy pa, en wat luister na sy ma as benede sy waardigheid beskou sal net getroef word deur die tipe wrede einde wat die Here vir hom voorspel: sy oneerbiedige oë sal deur kraaie uitgepik word, en deur roofvoëls opgevreet word. Kragtige metafore wat die totale weersin en minagting van die Here vir só ‘n manier van lewe uitdruk.

Spreuke 30:18-20

Selfs alledaagse dinge is vir ons onverklaarbaar. Tog werk dit!

Vers 18-19. Agur is ook verwonderd oor die onverklaarbaarhede van alledaagse dinge van sy tyd. Hy verwys na vier goed wat waarskynlik met die vier klassieke natuurelemente van lug, aarde, water en vuur (liefde) verbind kan word en spel dit uit as sy verwondering oor:

  1. die aërodinamika van voëls,
  2. die golwing van slangbewegings,
  3. die flotasie van skepe, en
  4. die hormone van mense.

Hy vra natuurlik nie regtig vir ‘n verklaring nie, al sou hy met die kennis van daardie tyd in elk geval moontlik daarmee gesukkel het. Hy probeer eintlik sy verwondering uitdruk dat dié goed so wonderlik werk, sonder dat hy dit noodwendig kan verklaar.

En sou ‘n mens kon byvoeg, sonder dat ‘n verklaring die waarde van sy waarneming of die wonder daarvan sou verdiep. Waar ons vandag die eerste drie voorbeelde kan verklaar, bly die vierde natuurlik steeds ‘n misterie.

En ons kan net goed doen om verby ons verklarings te beweeg om weer die wonder van die natuur en die verwondering daaroor te herontdek. Verklarings het die manier om jou verwondering te beperk, en jou die bewussyn van die misterie van die lewe te laat verloor.

Ontrouheid is veragtelik.

Vers 20. Teenoor dié verwondering vir misterie is daar die veragting vir ontrouheid tussen geliefdes, veral waar dit ontken word en soort van as ‘n alledaagse onbenulligheid hanteer word. Dit bly vir my verstommend dat ons in ‘n tyd waar ons só baie weet, en só baie kan verklaar, nie met meer passie getrou bly aan mekaar, en die liefde bo alles beskerm nie.

Spreuke 30:21-23

Moet nooit toelaat dat jou maniere jou in die steek laat nie.

Vers 21-23. Die lewe word regtig ondraaglik gemaak deur vier tipe mense wat ‘n onverwagse geluk smaak, maar dit nie met grasie kan hanteer nie. Hulle maniere laat hulle in die steek:

  1. ‘n slaaf wat koning word en die mag in die hande kry;
  2. ‘n ongemanierde sot wat hom onverwags vol geëet het;
  3. ‘n oujongnooi wat onverwags getroud kom;
  4. ‘n slavin wat trou met haar baas.

Spreuke 30:24-28

Leer by die diere hoe om jou potensiaal te verwesenlik!

Vers 24-28. Daarteenoor is daar vier tipe diere (!) wat oënskynlik onbeduidend lyk, maar groot potensiaal het en dit boonop verwesenlik. Die kontras met die vorige spreuk en die ooreenkoms met die volgende een verhoog die krag hiervan:

  1. Miere wat vir die toekoms voorsien;
  2. Dassies wat veilig teen die kranse woon;
  3. Sprinkane wat sonder ‘n leier in formasie kan vlieg;
  4. Geitjies wat hulle selfs in ‘n koning se paleis tuis maak.

Martin wys in sy kommentaar daarop dat dié vier voorbeelde wys dat grootte en krag nie alles is nie. En dat dié vier diere as metafore optree vir die praktiese wysheid en waarheid van voorsorg, sekuriteit, dissipline, en deursettingsvermoë.

Spreuke 30:29-31

Put inspirasie uit ander se vermoëns.

Vers 29-31. Hierdie diere inspireer jou alreeds met hulle onopsigtelike vermoëns. Hoeveel te meer nie die volgende drie statige en onbedreigde diere nie, met die vierde darem ‘n mens, die koning, hoewel hy sy leër daarvoor nodig het:

  1. ‘n Leeu stuit vir niks;
  2. ‘n Spoghaan dieselfde;
  3. ‘n Bokram net so;
  4. ‘n Koning met sy leër by hom.

Dit is implisiete kritiek op verwaandheid, wat in die volgende spreuk eksplisiet uitgespel sal word.

Spreuke 30:32

Hoogmoed kom egter tot ‘n val.

Vers 32. Of jy nou verwaand was of doodgewoon die intensie daartoe gehad het, bly net stil! Hoogmoed kom tot ‘n val.

Spreuke 30:33

Hoogmoed is dwaas.

Vers 33. Die duidelike boodskap van al die waarnemings oor die lewe is dat hoogmoed en verwaandheid net eenvoudig dwaas is, en dat ‘n mens onafwendbaar die gevolge daarvan sal moet dra:

  1. as jy melk karring, kom daar botter;
  2. as jy iemand op die neus slaan, kom daar bloed uit;
  3. as jy mense kwaad maak (met jou hoogmoed), kom daar rusie.

Wat ‘n kragtoer van ‘n groot wyse: Agur!

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…