Skip to main content

Levitikus 2

Suurdeeg word verbied en sout gebied by die graanoffer

Teks en konteks

Die tweede hoofstuk vervolg met die tweede tipe offer aan die Here, die graanoffer van koring (nie van gars nie).  Weereens word nieseksistiese taal gebruik in die eerste vers: “Wanneer iemand vir die Here ’n graanoffer wil aanbied.”  Die vertaling “iemand” word in die vers gebruik vir die Hebreeuse něp̄ěš wat in hierdie konteks ook met “persoon” vertaal kan word.

Die graanoffer kon uit rou meel bestaan (met olie en wierook daarop), of in die vorm van gebakte broodringbrood in ‘n oond (keramiek pot), of roosterkoeke/platbrode van ‘n bakplaat of rooster af – of gebraaide vorm – diepgebraai, soos met oliebolle, of gerooster in ‘n bakpan, soos met gebraaide koring – aangebied word.

Die graanoffer moes sonder suurdeeg voorberei word, ook sonder heuning – hierdie heuning is waarskynlik eerder die “mos” van bv. druiwe wat gegis het.  Die suurdeeg was ‘n simbool vir die sonde soos ons uit die NT gebruik van hierdie metafoor aflei (vgl. hieronder).  Die suurdeeg van die sonde moes dus vermy word.

Dit kan ook wees dat die verbod op suurdeeg en heuning by die offers ‘n poging is om heidense rites te vermy, want die twee bestanddele was baie in die omringende volkere se rituele gebruik.  Die enigste uitsondering was vir die eerstelingoffer uit die eerste graan of vrugte van die oes waarby suurdeeg en heuning (“mos”) wel gevoeg kon word (Eks. 23:16).

Die graanoffer moes wel met sout voorgesit word. Die sout was weer die herinnering aan die krag van die verbond met God wat heeltemal beslag gelê het op hulle (vgl. ook Num. 18:19).

‘n Deel van die graanoffer is verbrand op die altaar as ‘n simbool van die hele offer.  Die res was vir die priesters om in ‘n gewyde deel van die tabernakel te eet.  Dit herinner aan die nagmaal waar gelowiges die brood van die lewe ontvang in hulle gemeenskap met die Here Jesus.

Later sou dié riglyn verder verfyn word, want ‘n graanoffer kon sonder die olie en wierook ook as ‘n sondeoffer gebring word deur die regtige arm persone, mense wat nie eers duiwe kon bekostig nie (Lev. 5:11-13).

Boodskap: suurdeeg, sout en brood word metafore vir ons lewe voor God

Drie aspekte van die graanoffer dra vandag nog vir ons ‘n boodskap, die suurdeeg, die sout en die brood.

SUURDEEG

Jesus gebruik die metafoor van suurdeeg op twee maniere.

  1. In die negatiewe gebruik daarvan waarsku Hy gelowiges in die NT teen die suurdeeg van die Fariseërs en lê dit uit as hulle skynheiligheid (Luk. 12:1) sowel as die leer van die Fariseërs wat dinge voorskryf vir mense, maar nie self daaraan gehoorsaam is nie (Matt. 16:12).
  2. In die positiewe gebruik daarvan moedig Hy gelowiges in die NT aan om deel te raak van die koninkryk wat soos suurdeeg hierdie wêreld verander sodat God se heerskappy oral gevestig kan word (Matt. 13:33).

Paulus gebruik die metafoor van suurdeeg op drie maniere.

  1. In die eerste plek waarsku hy gelowiges teen die suurdeeg van mense wat die besnydenis wil afdwing op gelowiges wat uit die heidene kom (Gal. 5:8). Hulle moet vasstaan in die vryheid wat Christus gebring het.
  2. In die tweede plek waarsku hy gelowiges wat die sonde van die “ou suurdeeg” toelaat, d.w.s. mense soos die man en sy stiefma wat in ‘n bloedskandelike verhouding saamleef met die goedkeuring van die geloofsgemeenskap. Dit is soos “ou suurdeeg” wat die geloofsgemeenskap deursuur en tot onsedelikheid verlei.  Hulle moet die “ou suurdeeg” verwyder sodat daar inkeer kan kom.
  3. In die derde plek beskryf hy ‘n hele aantal ander moreel-etiese sondes – onsedelikheid en “ander sondes” – wat in die gemeenskap van die gelowiges toegelaat word, as die “suurdeeg van onsedelikheid”. In die konteks verwys hy na gelowiges wat onsedelik of geldgierig of ’n afgodsdienaar of kwaadprater of dronkaard of bedrieër is, en nie deur die geloofsgemeenskap tot orde geroep word nie.  Daarom roep hy hulle almal op om fees te vier: “nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.” (1 Kor. 5:8).  Dit is duidelik dat Levitikus se riglyne vir reinheid sowel as die waarheid wat hulle in Jesus Christus leer ken het die begronding is vir sy lering.  Almal moet steeds in lyn kom met daardie riglyne, selfs in die nuwe verbond.

SOUT

Jesus gebruik die metafoor van sout op twee maniere wat telkens met hierdie “sout van die verbond” van Levitikus verbind kan word:

  1. Jesus gebruik dit in die eerste plek om die identiteit en roeping van gelowiges uit te spel as die “sout van die aarde” wat smaak gee en bederf teenwerk. Matteus haal Jesus hieroor soos volg in die Bergrede aan: “Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ’n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit.” (Matt. 5:13). Lukas verwys na dieselfde uitspraak van Jesus en haal Hom só aan: “Sout is ’n goeie ding. Maar as sout verslaan het, waarmee sal dit weer sout gemaak word? Dit is nie eers bruikbaar vir die grond of vir die mishoop nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ore het om te hoor, moet luister!” (Luk. 14:34-35).

Jesus moedig hiermee gelowiges aan om God deur hulle goeie dade sigbaar te maak vir ander veral in hulle stryd vir geregtigheid, die hooftema van die hele Bergrede.  Dit is God se bedoeling met hulle lewe.  Gelowiges moet hulle werk as sout doen, anders is hulle lewe as gelowiges niks werd vir God of hierdie wêreld nie.

Dié metafoor was baie gepas in die lig van die probleme wat mense in daardie tyd ervaar het met die sout wat van die Dooie See af kom. Dit was soms só onsuiwer dat niemand daarmee kon kook nie en dit buite gegooi is en deur die mense vertrap is.  Jesus sê dus, God se mense moet bruikbaar wees in die gemeenskap en doen wat sout doen: smaak gee en bederf teëwerk in hierdie wêreld.

  1. Jesus koppel die metafoor in die tweede plek aan die loutering deur die vuur van beproewing. Markus haal hom só aan: “Almal sal met die vuur van beproewing gelouter word.  Sout is goed, maar as sout sy krag verloor het, waarmee sal ’n mens dit weer sout maak?  Julle moet werklik sout wees en in vrede met mekaar lewe.” (Mark. 9:49-50).  Daarmee word bedoel dat die vuur van loutering – soos die offer op die altaar in die vuur verbrand is – hulle die krag sal gee om hulle roeping as die sout van die aarde na te kan kom. Dit sal hulle ook in staat stel om in die geloofsgemeenskap in vrede met mekaar te lewe, omdat hulle almal dieselfde lot deel.

Paulus gebruik die metafoor van sout uit Levitikus een maal en verbind dit aan die impak van ons woorde: “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoe julle iedereen moet antwoord.”(Kol. 4:6 – OAV).

BROOD

Jesus verklaar oor Homself dat Hy die Brood van die Lewe is, ‘n verwysing na die manna in die woestyn sowel as waarskynlik die graanoffer in Levitikus (Joh. 6:22-59): “Wie my liggaam eet en my bloed drink, het die ewige lewe, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan.” (6:54).  Daar is ‘n duidelike verband tussen die priesters wat in die Tabernakel die gewyde graanoffers geëet het en die gelowiges wat in die NT die nagmaal geniet.  Let ook op die “bloed” wat die verband met die offers van Levitikus verder versterk.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38Baie dankie vir hierdie verduideliking. Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vesti…
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:33-38GOD is so goeie GOD. HY gee vir ons die voorskrifte vanaf Deut. 28 en dan volg HY dit ook op in Psalm 107 en sê as ons net doen wat HY ons beveel sal dit met ons goed gaan en ons geseënd wees, nie oor ons nie, maar oor GOD en wie HY is.
  • Chris van Wyk on Psalm 106:43-48Ons lees die eerste keer van Baäl-Peor in Numeri 25. Baäl was die Kanaänitiese god van vrugbaarheid, terwyl Peor verwys na die berg in Moab waar hy onder andere aanbid is. Hy is ook in Kanaän aanbid en was 'n groot versoeking vir die Israeliete met hulle vestiging in die Beloofde Land.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 107:1-9Psalm 1:1 Stel dit so mooi hoe ons, ons pad moet hou en dat ons moet hou en bly by GOD se gebooie
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 106:43-48Goeie naand, Psalm 106: 28 Kan u asb vir my verduidelik wat Baâlpeor is ? Baie dankie Amanda