Skip to main content

Handelinge 15:1-35

Gesamentlike geloofsonderskeiding oorbrug dreigende verskille

Ons kom by die uiters belangrike vergadering in Jerusalem waar die universele aard van die evangelie bevestig is. Dit het ‘n belangrike koers aangedui vir die kerk se aanvaarding en insluiting van gelowiges uit die heidense nasies. Die mees aanvaarde datering vir die vergadering in Handelinge 15 is tussen ongeveer 48-50 n.C., met die meeste geleerdes wat 49 n.C. voorstel.

Teks en konteks

Om die konflik in hierdie hoofstuk te verstaan, is dit nodig om die konteks te skets.

Farisese gelowiges bring konflik in Antiogië rondom die besnydenis – Handelinge 15:1-5

Voor die ontstaan van die gemeente in Antiogië was verreweg die meeste van Jesus se volgelinge mense uit die Jodedom. Vir baie van hulle was die Christus-beweging eintlik maar net ’n Joodse beweging. Toe groot getalle mense uit die heidendom egter tot bekering begin kom, was die vraag of hierdie mense ook die Joodse gebruike moet nakom.

Veral gelowiges wat vroeër Fariseërs was (Hand. 15:5) het sterk gevoel dat alle nuwe gelowiges Jode moet word. Hulle moes besny word en die hele wet van Moses onderhou.

’n Ander siening was egter besig om veld te wen, en deur niemand minder as Petrus verkondig nie. Dit is dat die besnydenis nie nodig was nie. Reeds met die bekering van Kornelius het Petrus tot hierdie insig gekom en dit duidelik vir die gemeente in Jerusalem onderstreep dat die Here aan hom gewys het dat die besnydenis nie belangrik was vir gelowiges uit die heidene nie (Hand 10:46).

Trouens, die gemeente in Jerusalem het daarmee saamgestem (Hand. 11:15-18).

Maar nou was daar Joodse Christene uit Judea in Antiogië wat anders daaroor gedink en geleer het, en Paulus en Barnabas sterk teengestaan het.

Die gemeente in Antiogië het dus besluit om Barnabas en Paulus, tesame met ’n paar ander gelowiges, Jerusalem toe te stuur om die waarheid van hierdie meningsverskil by die apostels en ouderlinge saam met die ander gelowiges te gaan onderskei.

Let op dat hulle deur Fenisië en Samaria gereis het en reeds daar uitvoerig oor die bekering van die heidene berig het, en sodoende groot vreugde aan al die broers verskaf het wat reeds tot geloof gekom het.

In Jerusalem aangekom, blyk duidelik dat die hele gemeente, die apostels en die ouderlinge partye in die gesprek is (vers 4-5). Beide die gewone gelowiges en die leierskap gesels saam. Die aandrang op die besnydenis kom immers spesifiek uit gelowiges wat vroeër Fariseërs was se geledere.

Die vraagstuk van die besnydenis word deeglik bespreek – Handelinge 15:6-21

Dit is duidelik dat baie menings en perspektiewe verreken word. Die proses word nie afgejaag of met die hantering deur ’n magskliek vinnig in ’n rigting gedwing nie.

Let op dat die aanvanklike gesprek in die gemeente van Jerusalem handel oor alles wat God gedoen het. Die tema is die lewe van geloof, en die wyse waarop gelowiges beleef dat God handel. Verhale word vertel om op die spoor van God se aksie te kom.

Petrus

Wanneer die apostels en ouderlinge bymekaar kom, praat Petrus ook eers oor wat God doen en gedoen het. Hy is geroep om die evangelie aan die heidennasies te bring. Trouens, hy het so pas van ’n eie sendingreis teruggekom. En hy het self beleef hoedat God sy Gees aan heidense gelowiges gee net soos aan Joodse gelowiges. En hy het gesien dat hulle harte deur geloof gereinig is, nie deur die nakoming van die Joodse wet nie.

Barnabas en Paulus

Hierna vertel Barnabas (hy word eerste genoem, waarskynlik omdat hy meer gesag in dié vergadering gedra het) en Paulus wat God onder die heidennasies gedoen het.

Hierdie benadering gee doelbewus ruimte aan getuienisse oor God se werk. Die vraag is wat God doen, en hoe God deur die gemeente se bediening nagevolg moet word. Dis nie ’n strategiese gesprek wat voor- en nadele opweeg, of takties korrek wil wees nie. Hier is ’n diepe soeke na God se handelinge ter sprake, en die vertel van verhale wat dit op die agenda plaas, is die benadering wat gevolg word.

Wat ‘n mens laat besef, dit is in die verhale van God se werk wat sy wil duidelik word!

Jakobus

Nadat die vertelling van God se handelinge in die hede en verlede afgehandel is, word dié verhale aan die Skrif getoets. Jakobus speel die belangrike rol om die Skrif, die gebeure en die gelowiges se interpretasie daarvan bymekaar te bring.

Hy haal uit Amos 9:11-12 aan om die boodskap, wat deur Petrus (en die ander apostels) verkondig is, te onderstreep dat God van die begin af uit die heidene ‘n volk vir sy Naam sou verkry:

16‘Daarna sal Ek terugkom en Ek sal die vervalle huis van Dawid weer opbou, en Ek sal die bouvalle daarvan herbou en dit herstel, 17sodat die res van die mensdom die Here kan soek, ja, al die nasies oor wie my Naam uitgeroep is. So sê die Here, wat hierdie dinge doen’ 18wat van lank gelede bekend is.”

Die besluit van die vergadering word per brief gestuur – Handelinge 15:22-29

Uiteindelik is dit die vergadering wat aandui dat die verbintenis tussen die verhale wat vertel word en die interpretasie van die Skrif vir hulle sin maak en dan ’n besluit daaroor neem.

Die verhaal het ’n goeie afloop: die apostels en ouderlinge besluit saam met die hele gemeente om ’n afvaardiging na Antiogië en die omliggende streke van Sirië en Silisië te stuur om die besluit van die vergadering bekend te maak.

Die brief wat hulle saamstuur, sluit aan by die onenigheid wat deur hierdie gelowiges uit die Fariseërs – wat geen opdrag van Jerusalem gehad het nie! – veroorsaak is. Barnabas en Paulus word as “geliefdes” beskryf en die besluit as komende van “die Heilige Gees en ons”.

Net vier voorskrifte word uitgestippel:

  1. Bly weg van afgodsoffers,
  2. van bloed,
  3. van wat verwurg is
  4. en van hoerery.

Die eerste drie het eintlik almal te make met afgodery en die laaste met immoraliteit (enige seks buite die huwelik).

Vleis wat aan afgode geoffer is in die tempels en dan op markte verkoop is, sowel as die drink van bloed, en die eet van verwurgte diere, was vir die gelowiges verbode, omdat dit hulle met afgode en demone sou assosieer. Trouens, die verbod op die drink van bloed is al sedert Noag verbied (Gen. 9:4). Dit is in die wet uitgespel (Lev 17:10-14; Deut. 12:23) en in die geloofsgemeenskap deur Dawid geleer (Ps 16:4). Selfs in die profete is dit verbied en aan ‘n goddelose lewe verbind (Eseg 33:25; vgl ook 18:6).

Soos Paulus ook die Korintiërs sou leer oor afgodsoffers waarin hy dit ook met die drink van bloed assosieer: “Julle kan nie die beker van die Here drink en ook die beker van bose geeste nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van die Here en ook aan die tafel van bose geeste nie.” (1 Kor. 10:21)

Jesus verwys ook na hierdie besluit van die kerk in Jerusalem in sy briewe aan Pergamum en Tiatira waar Hy die afgodsoffers en immoraliteit as die leer van Bileam en Isebel verbied (Openb. 2:14; 2:20) op voetspoor van die OT verhaal van Bileam se verderflike invloed onder die Israeliete in die woestyn (Num. 25:2).

Die besnydenis is daarmee beslissend uitgesluit van enige voorskrif aan die gelowiges uit die heidene. Maar, vir gelowiges wat uit die Jodedom tot bekering sou kom na die Christelike geloof, sou dit steeds ‘n kwessie bly soos ons in later in hierdie hoofstuk sal sien.

Die gemeente van Antiogië is bly oor die goeie nuus – Handelinge 15:30-35

Interessant is dat twee mense saam met Paulus en Barnabas teruggaan om die goeie nuus te gaan oordra oor die besluite, Judas Barsabbas (verder onbekend, en moet onderskei word van Josef Justus Barsabbas in Hand. 1:23 wat een van die kandidate vir apostelskap was) en Silas (in Latyn Silvanus – 1 Tes 1:1; 2 Tes 1:1; 2 Kor 1:19 – moontlik ook die skrywer wat Petrus met sy briewe gehelp het – 1 Pet 5:12), beide lerende profete.

Almal was uiteraard bly oor die bemoedigende boodskap en die gemeente in Antiogië reageer ook met ’n groeteboodskap terug aan die gemeente in Jerusalem – ’n gebaar wat waarskynlik die agtergrond vorm van die gebruik van sinodale vergaderings om groeteboodskappe aan mekaar te stuur. Gemeentes kan dit gerus ook meer gereeld teenoor mekaar doen.

Dit wil voorkom asof Silas ná sy besoek aan Antiogië besluit het om terug te keer na Jerusalem saam met Judas (vers 33), maar uiteindelik nie sy besluit deurgevoer het nie (sommige manuskripte verwys hierna met ‘n stukkie kommentaar in ‘n vers 34 soos in die 1933-vertaling ingesluit, maar dit kom nie in die beste manuskripte voor nie) sodat hy beskikbaar was om saam met Paulus op sy tweede sendingreis te vertrek toe Paulus en Barnabas stry gekry het oor Johannes Markus.

Boodskap en betekenis

Dit tref my net weereens hoe groot die teenstand teen die evangelie van Jesus Christus is. Wat wel nuut was van die teenstand wat nou opgebou het, was dat dit uit eie geledere ontwikkel het. En dit gaan oor die lewenstyl op grond van die evangelie van die Here Jesus Christus sowel as respek vir die tradisie waarop die evangelie gebou is, in hierdie geval die rol wat die wet van Moses en die besnydenis speel.

Wat dit uiters problematies gemaak het, was dat die voorstanders van die besnydenis dit aan gelowiges se redding verbind het. Paulus en Barnabas het hulle onmiddellik daarteen verset, omdat enigiets wat as noodsaaklik verkondig word, naas geloof in Jesus Christus, per definisie eintlik verkeerd is en enige gemeenskap tussen gelowiges uit die heidendom en gelowiges uit die Jodedom onmoontlik maak.

Maar, teenstand het ook altyd ’n positiewe gevolg, in hierdie geval, dat die geloofsgemeenskap fundamenteel moes dink oor wat kan hulle van mekaar verwag in die uitleef van hulle geloof, en dat in die proses van geloofsonderskeiding, hulle ons ook wys hoe ’n mens besluitneming in die geloofsgemeenskap moet hanteer sodat dreigende verskille oorbrug kan word.

Ons moet onthou dat konflik baie keer ’n katalisator is vir die onderskeiding van God se wil. En die hantering van hierdie konflik het vir ons ’n model gegee wat die toets van die tye deurstaan het.

Die besluit van die kerk in Handelinge 15 sou die belangrike patroon vestig wat oor al die eeue steeds geld: mense kan na die Here kom soos hulle is. Jy hoef nie eers te verander, bv. deur ʼn Jood te word nie. Nooit sou die kerk beperk kon word tot ’n enkele groep of kultuur nie. Nooit sal een spesifieke kultuur hul insig in die Christelike geloof tot die absolute waarheid kon verklaar nie.

Maar dit het ons ook geleer hoe om geloofsonderskeidend op te tree. En dit is so noodsaaklik dat ons dié proses volg. Te veel kerklike besluite word geneem deur geslote debatte of pogings om die meeste stemme te werf. En te veel persoonlike besluite word geneem sonder om jou verhale en insigte aan die toets van die Skrif en ander gelowiges se mening te toets.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Chris van Wyk on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ja Gerhard, ek sal eerder sê dat 'n mens jouself kan verafgod, as jou geloof as sodanig. Die Bybel praat nie so nie so ver ek kan agterkom. Die Bybel wys uiteraard afgode af, en dinge soos gierigheid wat 'n afgod kan raak. Daaruit kan 'n mens aflei dat enigiets wat in die plek van God gestel word, o…
  • Gerhard on Wat is afgodery? – Romeine 1:21-25Ds ek is besig om afgodery na te slaan. Ek het 'n ds gehoor met die opmerking dat jy jou geloof kan verafgod? Afgodery is tog weg van God af soos wat ek verstaan. Groete Gerhard
  • Chris van Wyk on DaniëlHi Elma, ek het so 15 verwysings na Daniël in die komende bydraes van Openbaring by die kronologiese lees van die Bybel. Ek het ook 'n paar verwysings na Openbaring in die vorige bydraes van Daniël. Maar, ek het dit nie pertinent êrens hanteer nie.
  • Elma Bosch on DaniëlDs Chris, daar is sekere ooreenkomste in Daniel en Openbaring - Het jy dit al in die verlede behandel en indien wel, waar kan ek dit vind? Of gaan ons dit behandel wanneer ons Openbaring later doen met die kronologiese leesplan? Baie dankie Elma
  • Chris van Wyk on JESAJA 6:1-8God praat hier met almal in sy teenwoordigheid in die hemel, ook met Jesaja wat die voorreg van hierdie openbaring kry. Hy wil iemand stuur om sy boodskap aan die volk te gaan lewer. Jesaja reageer positief en word dan gestuur om God se boodskapper te wees.
  • Miche Africa on JESAJA 6:1-8Wat is die betekenis van Jesiah 6 vers 8
  • Chris van Wyk on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus geeWanneer Jesus in Matteus 11:6 sê: “Geseënd is hy wat nie aan My aanstoot neem nie,” bedoel Hy dat ons gelukkig is as ons nie ophou glo omdat God dinge anders doen as wat ons verwag het nie. Johannes die Doper het gedink die Messias sou oordeel bring, maar Jesus bring eers genesing en redding. Dit wa…
  • optimistica231f5e58a on Matteus 11 – Kom na My toe en Ek sal julle rus gee"Vers 6 is dan ’n baie spesifieke oproep aan Johannes om nie aan Jesus aanstoot te neem, omdat hy in die tronk is en nie wonders ervaar nie. Dit is mense wat leer om met die paradoks van onvervulde beloftes te lewe en nie aan Jesus aanstoot neem in die proses nie, wat geseënd is. Mense wat hulle lew…
  • Chris van Wyk on Efesiërs 6:10-24Dankie Carel!
  • cupcakevaliantlye36950698b on Efesiërs 6:10-24Uitstekende uitleg van die teks, baie dankie Chris! Ons stryd is wel teen die bose, maar ons fokus is nie op hulle nie, ons fokus op ons Here, op ons herstelde verhouding met Hom en op mense wat die goeie nuus nodig het. Kosbaar! Groetnis en seën Carel Smith
  • Chris van Wyk on Boek oor OpenbaringLekker om te hoor!
  • Emmarentia Vermeulen on Boek oor OpenbaringOns dames Bybelstudie groep is besig om die boek te behandel, ons trek na 8 maande by hoofstuk 7. Ons doen dit baie stadig en deeglik en ons leer baie. Baie dankie. Vanuit Perth, Wes Australië.
  • runawayjoyous2427b27b07 on Boek oor OpenbaringBaie baie dankie!!
  • inventive3b503adfaf on Boek oor OpenbaringVreeslik dankie! God's seën!
  • Chris van Wyk on Psalm 121 – God, jou Beskermer, slaap nieDie Here, die Beskermer, is soos die skaduwee aan jou regterhand, d.w.s. as jy jou skild in jou linkerhand hou, soos soldate dit gewoonlik gedoen het, sal Hy aan jou onbeskermde kant die wag hou. Hy is daar waar jy nie kan bykom nie. GOD SORG VIR JOU TEEN ONVOORSIENE AANVALLE.