Skip to main content

1 Konings 13

‘n Man van God se gehoorsaamheid word getoets

Die gedeelte is vir my soos ’n skop in die maag. Dit ontbloot aan die een kant die eiegeregtigheid van Jerobeam wat nie net self offers bring op die altaar wat hy opgerig het nie, maar ook die godsdienskalender verander en enigeen aanstel wat priesters wou word. Dit is so tragies dat iemand wat gekies word om dinge reg te stel, die reg in eie hande begin neem en so ontrou raak aan die roeping wat aan hom gegee is.

Wat egter vir my nog erger is, aan die ander kant, is die man van God wat ’n groot risiko neem om met groot oortuiging, op bevel van die Here (6 keer word dit genoem: verse 1, 2, 5, 9, 15) uit Juda teen Jerobeam in Bel-El te kom getuig, wonderwerke in die proses aankondig, vir Jerobeam bid om genade, en dan val vir die misleiding van die óú profeet en die Here se bevel verontagsaam.

Teks en konteks

Die Here soek gehoorsaamheid bo alles, maak nie saak watter struikelblokke daar in jou pad gerol word nie, selfs nie eers as die struikelblok in die vorm van ’n óú profeet kom, wat aanspraak maak op ’n engelboodskap nie. Let ook op hoe dit klein persoonlike goed is, om te eet en te drink, waaraan die man van God se gehoorsaamheid getoets word.

Interessant dat die man van God die altaar aanspreek, en dat dit juis die altaar is wat uitmekaar geruk word dat die as op die grond val. Dié as van die offers het daarmee natuurlik onrein geword (Lev 6:11) waarmee God duidelik sê, die offers is nie vir Hom aanvaarbaar nie.

Sy profesie dat die latere koning Josia in Bet-El “operasie skoonmaak” hier sou uitvoer en mensbene op die altaar sou verbrand, het ’n paar eeue later waar geword (2 Kon 23:15–18).

’n Mens sou vandag dink dat Jerobeam se versoek dat die man van God bid tot SY God, nes Saul ’n paar geslagte gelede (1 Sam 15:15, 21) getuig van ’n afstand tussen hom en God. Dit was egter net ’n manier van praat, soos ons bv by Jakob (Gen 27:20) en Moses ook kry (Deut 11:1).

Ons moet ook raaksien dat die groot verskil tussen iemand soos Jerobeam en bv Dawid, ’n man na God se hart, nie lê in die feit dat die een meer sonde as die ander gedoen het nie. Die verskil lê in wat hulle doen as hulle besef hulle het iets verkeerds gedoen. Elke keer wat Dawid aangespreek is oor sy verkeerde dade, het hy die Here opgesoek en sake in die reine probeer bring. Jerobeam kry dit nie oor sy hart nie.

Die toets waarvoor die óú profeet die man van God stel, is natuurlik nie net gemik op die gehoorsaamheid van die man van God nie. Dit bevestig ook die geloofwaardigheid van die boodskap van God, deurdat die Here optree toe hy nie end-uit gehoorsaam is nie. Daarom kan die óú profeet verklaar dat die woord van die man van God sal uitkom, al het hy in die proses gesneuwel.

Die leeu tree ietwat vreemd op deur nie aan die liggaam van die man van God te eet nie, of die donkie en ander omstanders aan te val nie. Die skrywer beklemtoon daarmee God se ingrype in die situasie.

Die lot van die man van God was natuurlik ook ’n verdere waarskuwing aan Jerobeam en sy volk dat die Here van hulle gehoorsaamheid verlang, anders sou die lot van die man van God ook vir hulle tref.

Boodskap en betekenis

Wat my laat besef hoe vreeslik dit is wat ons aan mekaar doen wanneer ons ons eie interpretasies van wat God se wil vir iemand ander is as die waarheid vir ander voorhou. Ons moet te alle tye daarteen waak, want ons mag nie God se rol oorneem in iemand anders se lewe nie. Dit is wat die verhaal van die jonger profeet, die man van God uit Juda, ons in die eerste plek leer.

Die verhaal illustreer in die tweede plek ‘n baie belangrike ding, dat God totale gehoorsaamheid van sy mense vra, selfs in die kleinste en fynste detail. Wanneer Hy gesê het só, dan is dit só en nie anders nie. Die Here soek gehoorsaamheid bo alles, maak nie saak watter struikelblokke daar in jou pad gerol word nie, selfs nie eers as die struikelblok in die vorm van ’n óú profeet kom, wat valslik aanspraak maak op ’n engelboodskap nie.

Hoekom soek die Here dit? Want groot dinge was op die spel in dié geval, ‘n hele nasie se verhouding en pad met God. Jerobeam was besig om nie net self droog te maak as koning nie, maar sy volk weens sy afgodediens in die donkerte in te lei. Die waarskuwing aan hom was dus ernstig en die feit dat God die jonger profeet beveel om nie Jerobeam se uitnodiging te aanvaar nie, was om dié erns van God se woord te onderstreep. Daarom kon hy ook niemand anders se uitnodiging aanvaar nie, ook nie die ou profeet se uitnodiging nie, om die krag van God se woord in elke detail daarvan te illustreer.

Die Here wou ook onomwonde wys dat die kultus in Bet-El in sy oë verwerplik was, en dat sy gestuurde dus nie in die stad moes oorbly nie. Hy moes net God se boodskap bring en dan sonder om te eet of te drink onmiddellik met ’n ander pad langs terugkeer.

Sy houding moes te alle tyd ’n proteshouding wees. Hy het gekom om namens die Here vir Jerobeam te veroordeel en dié mag nie die indruk kry dat die woord van die Here sommer alledaags en ignoreerbaar is nie, wat die geval kon wees as die man van God by hom gaan oorbly het nie.

Jerobeam sou mileage kon kry uit die besoek van die profeet aan huis, en meer legitiem voorkom onder sy eie mense, en dan verder gaan om te doen wat hy wil. Dus – geen kontak met Jerobeam, behalwe die oordeelswoord aan hom nie. Vandaar ook die bevel dat daar ook geen kontak met enige ander persoon mag wees nie.

Helaas, die jong man van God luister vir die ou profeet en wyk af van die pad wat God vir hom uitgespel het. Dit is ‘n dubbele tragedie – die ou profeet tree verkeerd op deur God te probeer speel in die jonger profeet se lewe; die jonger profeet tree verkeerd op om God se woord aan hom te verontagsaam.

Die troos in die gedeelte is dat God se woord nie daardeur in diskrediet gekom het nie, en dat die profesieë waar geword het. Selfs die ou profeet het die betroubaarheid van die man van God se boodskap met trane erken. Daarby was die vreeslike lot van die man van God natuurlik ook ’n verdere waarskuwing aan Jerobeam en sy volk dat die Here van hulle gehoorsaamheid verlang, anders sou die lot van die man van God ook vir hulle tref.

As daar dus een finale les is wat ons ter harte moet neem uit die verhaal van die jong profeet:

  • Moenie dat ander mense die wil van God vir jou lewe bepaal nie. Gehoorsaam wat God vir jou sê volledig tot in die laaste detail daarvan. Dit kom jy agter deur geestelike dissiplines, waarin gebed en die Bybel ’n belangrike rol speel. En dit gebeur in die werklikheid van die lewe.
  • En die omgekeerde hiervan is net sowaar: Moenie God probeer speel in ander se lewens nie. Soms gee die Here vir jou ’n woord vir iemand anders en dan moet jy Hom gehoorsaam. Maar jy moet absoluut seker wees daarvan. En dan moet jy die uitwerking daarvan oorlaat aan God en sy werk in mense se lewens oor.

Die toets vir ons oortuiging is of ons sélf bereid is om te staan of val by ons oortuigings, radikaal gehoorsaam te wees – sonder om ander te probeer dwing om dieselfde te doen. En ons kan nie iemand se woord sommer net so neem as God se woord aan ons nie. Ons is vir ons eie luister na God verantwoordelik.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar