Skip to main content

2 Korintiërs 6:14-7:1

Toegewy aan God alleen

Paulus eindig sy beskrywing van ons roeping as gelowiges om as ambassadeurs van die versoening met God op te tree deur ons weer te beskryf met die metafoor van die tempel van God wat daarom nie ‘n vennootskap met die ryk van die duisternis kan aangaan nie.

Teks en konteks

Paulus se opdrag aan die Korintiërs is: “Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie.” Die beste manier om hierdie opdrag verstaan, is dat niks die gemeenskap met Christus en mekaar in die gedrang mag bring nie, want gelowiges is nie net individueel nie, maar ook as ‘n liggaam van gelowiges God se tempel.

Paulus haal hierdie frase aan uit Deuteronomium 22:10 wat ‘n verbod plaas daarop om ‘n os en donkie saam in te span om te ploeg. Hoewel sommige daaruit aflei dat gelowiges alle bande met ongelowiges moet verbreek, maak dit nie sin in die lig van Paulus se lering in 1 Korintiërs 5:9-13 en sy verstaan van sy roeping in 1 Korintiërs 9:19-23 nie waar hy juis kontak met ongelowiges aanmoedig ter wille van die bediening van die evangelie. Dit is immers hoe die evangelie werk – dit is die goeie nuus van God wat bedoel is vir mense wat vasgevang sit in duisternis en hulle sondige lewenswyse.

Nog ander dink dat Paulus – soos juis uit 1 Korintiërs 5 afgelei kan word – hier eerder van mense binne die kerk praat, wat nie volledig met hulle sondige lewenswyse breek nie, en eintlik soos ongelowiges lewe, en dat gelowiges nie met hulle in ‘n vennootskap moet leef nie.

Hulle verwys dan na Paulus se raad aan gelowiges op verskeie plekke in 1 en 2 Korintiërs (bv. 1 Kor. 5; 2 Kor. 2) om sulke mense te vermaan en te tugtig deur onder andere die gemeenskap met hulle te verbreek, maar om die gemeenskap dan weer te hervat, indien daar inkeer en berou sou wees (soos Jesus ook in Matt. 18 leer),.

Hoewel dit nader aan die waarheid is, lyk dit beter om uit die vyf kort retoriese teenstellende vrae wat Paulus hier gebruik, af te lei dat hy praat van enigiets wat ‘n kompromie sou beteken tussen die gelowiges se Christelike waardes en standaarde en dié van die ongelowiges.

Hy praat van mense wat jou tot onreg kan verlei; mense wat jou tot duisternis kan verlei; mense wat jou tot aanbidding van Belial (duiwel) kan verlei; mense wat ongelowig bly; mense wat afgode aanbid.

Dit kan dus mense wees, binne of buite die gemeenskap van die gelowiges, wat jou tot duisternis sou kon verlei. Jy moet nie met hulle in enigiets in ‘n vennootskap wees nie.

En let op dat dit eintlik gaan oor wat die effek op die gelowige gaan wees, nie soseer as maar net ‘n algemene reël dat ongelowiges vermy moet word nie. Dit sou dwaas wees om ongelowiges te vermy in die lig van die evangelie wat juis by alle mense moet uitkom. Maar, jy kan nie met hulle saamwerk nie.

Met drie aanhalings wat in 10 OT tekste voorkom word sy punt onderstreep: Niks mag die gemeenskap met God in gevaar stel nie:

  • Vers 16: “Ek sal onder hulle woon en saam met hulle wandel; Ek sal hulle God wees, en hulle sal my volk wees.” (vgl. Lev. 26:12; Jer. 32:38; Eseg. 37:27)
  • Vers 17: “Gaan uit hulle midde uit en sonder julle af… moenie aanraak wat onrein is nie… en Ek sal julle aanneem.” (Jes. 52:11; Jer. 51:45; Eseg. 20:34; vgl ook Openb. 18:4)
  • Vers 18: “Ek sal vir julle ‘n Vader wees, en julle sal my seuns en dogters wees.” (Vgl. 2 Sam. 7:8; 7:14; Jes. 43:6; Jer. 31:9)

Daarby is dit nie net iets waarop jy moet fokus in jou verhouding met ander nie. Dit is ook waar van jou eie persoonlike lewe: jou liggaam en gees moet gereinig word van alles wat jou gehoorsaamheid aan God in die gedrang kan bring, sodat jy in volkome toewyding aan Hom kan lewe.

Boodskap en betekenis

Paulus roep die gelowiges op tot geestelike onderskeiding veral in terme van ‘n heilige lewe en die effek wat vennootskappe in hierdie lewe daarop kan hê. Hulle mag nie in ‘n noue verhouding met ongelowiges leef nie.

Paulus gebruik ‘n hele aantal Ou-Testamentiese aanhalings om hierdie waarheid te beklemtoon dat gelowiges as God se kinders geheilig, afgesonder en rein moet lewe – persoonlik en in hulle verhouding met mekaar en met God.

Dit beteken nie dat ongelowiges heeltemal vermy moet word nie, maar wel dat gelowiges geen kompromie met sonde of onheiligheid mag aangaan wat hulle identiteit as God se tempel kan bedreig nie. Hulle moet uiteraard hulle ook van ongelowiges binne die geloofsgemeenskap afskei, iets waaroor Paulus verder sal skryf in sy brief aan die Romeine (Rom. 16).

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…