Skip to main content

Eksodus 31

Hulle moet alles maak net soos Ek jou beveel het

Teks en konteks

Die instruksies vir die bou van die tabernakel word afgesluit met die aanwys van die vakmanne wat die Here uitgekies het vir die werk – Eks. 31:1-11 – sowel as die herhaling van die opdrag tot die hou van die Sabbat – Eks. 31:12-18. In die eerste geval word die werk van God se Gees direk betrek in die toerusting en bemagtiging van die vakmanne. In die tweede geval word God se keuse om op die sewende dag nie te werk nie, maar te rus, ‘n beginsel wat ook in die bou van die Tabernakel nagekom moes word. Die “werk vir die Here” kon nooit as ‘n verskoning gebruik word om die ritme tussen werk en rus te ignoreer nie. Dit was ook die dag waarop die Here juis by die tabernakel aanbid kon word.

Die vakmanne vir die bou van die tabernakel – Eks. 31:1-11

Uit die stam van Juda kies die Here ‘n kleinseun van Hur, Besaleël, om veral die voorwerpe van metaal te maak, maar ook die hele projek te bestuur. Die Gees van God vul hom met wysheid (ḥāḵ·mā), insig (teḇû·nā – praktiese vaardigheid) en kennis (dǎ·ʿǎṯ – tegniese of teoretiese kennis) om die ontwerp, verwerking en montering daarvan te kan behartig. Ook Oholiab uit die stam van Dan word vir dié werk afgesonder en geroep deur die Here saam met ‘n hele aantal ander vakmanne, om die res van die toebehore van die tabernakel te maak soos in die vorige hoofstukke uitgespel.

Daar is egter geen ruimte vir eie inisiatief, selfs nie kreatiewe inisiatief vir die manne wat hieraan moes werk nie. “Hulle moet alles maak net soos Ek jou beveel het”, sê die Here vir Moses. God se planne moet tot die laaste detail daarvan uitgevoer word, soos dit blyk uit die uitvoering daarvan wat in Eks. 35:30-36:1 vertel word. Die menslike element in die maak van die tabernakel was dus onteenseglik daar, maar in elke detail daarvan ‘n uitvoering van die Goddelike mandaat.

Dieselfde proses kan in die totstandkoming van die Bybel aangetoon word. Dit was menslike skrywers wat die boodskap wat hulle van God af ontvang het, opgeteken het, in hulle eie taal. Maar die uiteindelike resultaat was ‘n boek wat die Woord van God was, presies soos Hy dit aan ons wou oorlewer: Gods Woord in mensetaal.

Die herhaling van die opdrag tot die hou van die Sabbat – Eks. 31:12-18

Die heel laaste opdrag van God in verband met die Tabernakel is om die volk te herinner aan die onderhouding van die Sabbat. Dit word begrond in God se keuse om op die sewende dag ná die Skepping nie te werk nie, maar te rus, ‘n beginsel wat ook in die bou van die Tabernakel nagekom moes word. Die “werk vir die Here” kon daarom nooit as ‘n verskoning gebruik word om die ritme tussen werk en rus te ignoreer nie.

Dit was ook die dag waarop die Here juis by die tabernakel aanbid kon word. Daarom word die volk herinner aan die doel van die Tabernakel; dat God daar aanbid moet word; dat hulle toewyding aan die Here daar gewys moet word; dat hulle daar sy genade ontvang het deur die offers wat hulle self gebring het, maar wat ook namens hulle deur die Hoëpriester aan die Here geoffer is. Hulle sou dus deur hulle aanbidding hulle lidmaatskap van die Godsvolk kon bevestig en beleef.

Die Sabbatdag as ‘n dag van volkome rus word dus as ‘n teken van hulle verhouding met God uitgesonder, eintlik as ‘n verbond tussen God en sy mense. Hulle sou op die Sabbatdag die teenwoordigheid van die Here onder hulle kon vier. Hulle sou op die Sabbatdag ook hulle eie menswees kon waardeer saam met dié wat hulle liefhet. Geen wonder dat by die begin van die uitvoering van al hierdie instruksies in Eks. 35:2-3 Moses juis met hierdie gebod tot die hou van die Sabbatdag begin het nie. Daarmee is die grootse projek van die bou van die tabernakel ingelei.

Met dié beëindiging van die instruksies vir die bou van die tabernakel gee God vir Moses die twee plat klippe met die Tien Gebooie wat nou as die Getuienis in die verbondsark geplaas moet word. Dit sou ‘n besondere heilige deel van die Tabernakel wees, omdat dit in God se eie handskrif geskryf is.

View all posts in this series

Discover more from Bybelskool

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Kronologiese Bybelleesplan


Chris van Wyk

Ek is Direkteur van Bediening en Geestelike Vorming by Veritas College International. My passie in die lewe is om God bo alles te dien en gelowiges in geloofsvorming te begelei. I am Director of Ministry and Spiritual Formation at Veritas College International. My passion in life is to serve God above all and to lead believers in faith formation.

Maak 'n opmerking

Onlangse kommentaar

  • Hannes. on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Middag Dr. Chris, Baie dankie vir ‘n insiggewende reis deur Psalms. Dit het beslis gehelp om my persoonlike gebedslewe te verbeter, en ek glo sterk dat elke gebed beslis my verhouding met die Here verdiep op ‘n manier waar ek tans baie meer pligsgetrou is teenoor my persoonlike stiltetyd en gesprekk…
  • Kobus on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Dit was vir my 'n wonderlike ervaring, ek kyk met 'n ander insig nou na die Psalms
  • Chris van Zyl on Hoe het “Bid die Psalms” jou gehelp?Bid die Psalms het vir my baie beter insig verskaf, veral die kontektualisering en verklarings wat elke gedeelte belig het. Ek is so dankbaar dat ek kon deel in hierdie bid-gerigte ervaring. Menige dag het ek gevoel dat die Psalm van die dag spesiaal vir my bedoel was. Dankie Chris van Wyk vir hierd…
  • Chris van Wyk on Psalm 137Dit is my voorreg. Groete!
  • Doreen Snyders on Psalm 137Net om weer 'n slag dankie te sê vir al die wonderlike verklarings en verduidelikings van al die Bybelse waarhede. Ons dien 'n wonderbare en allerheilige God. Ek sien baie uit na die Matteusevangelie. Nogmaals baie dankie. Doreen Snyders
  • Chris van Wyk on Psalm 119:169-176Absoluut!
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:169-176Psalm 119 is voorwaar ñ baie Geseënde Psalm
  • Chris van Wyk on Psalm 119:145-152Dis self opnuut weer ‘n vreugde vir my.
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:145-152Ek was altyd baie langtand om Ps 119 aan te durf, nou wens ek dat dit nie ophou nie... Ps 119 is te kort!!! PDH
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 119:105-112Goeie middag, baie dankie vir die deel van die kosbare verhaal wat so gepas is met die Psalm
  • originalblizzard19aaa84c56 on Psalm 119:1-8Sien waarlik die nou verband tussen OT EN NT. waarlik verhelderend. אמן
  • Chris van Wyk on Psalm 118:19-29Ek gee maar net aan wat ek ontvang het. Dit bly egter 'n kosbare voorreg.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 118:19-29Goeie môre, baie dankie dat u met ons deel wie en waar die vertaaling van die Bybel sy oorsprong gekry het, dit is so kosbaar, baie dankie vir een en elkeen wat deel is en was om hierdie kosbare woord ook vir ons in ons Taal te kon uitlê
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 110Baie dankie vir hierdie kosbaarhede wat u met ons deel. Ek het Openbaring 22 gelees en dit klink baie soos die tuin van Eden, hy praat van die boom van lewe. Die sondeval gemaak dat die mens gesondig het en dat hul nie meer in die tuin kon woon nie asgevolg van die sonde.
  • sparklybc467b2e69 on Psalm 109:6-19Goeie middag, ek wil ook by las dat in Psalm 139:23 bid David;"Deurgrond my, O GOD, en ken my hart, toets my en ken my gedagtes" GOD ken die mens en HY deersoek die hart en die gedagtes. Ek het self al telkens gebid, HERE vergewe hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie en dan soos die woord sel…